|
Uittreksels uit toespraak deur oud-pres. Thabo Mbeki
by die onthulling van die landswapen, Kwaggafontein, 27 April 2000
Bron: Kantoor van die Presidentskap
"VANDAG, op ons Vryheidsdag, is ons ook
hier byeen om nogmaals ’n simbool van ons nasionale identiteit te
onthul, ons nuwe landswapen wat nou vir die heel eerste keer voor ons
staan.
"Dit is sowel Suid-Afrikaans as van Afrika. Dit
is sowel van Afrika as universeel.
"Ons verre verlede, ons huidige bestaan en ons
toekoms word daarin vergestalt terwyl dit voor ons ontvou. Dit
verteenwoordig die blywende en tog ontwikkelende identiteit van
Suid-Afrika se mense waar dit deur die tyd en ruimte sy eie vorm
aanneem..."
Sekretarisvoël... beskerming
" ’n Sentrale afbeelding in ons nuwe wapen is
die legendariese sekretarisvoël met sy vlerke omhoog. Hierdie
oorwelwende beskermer is ’n voël wat slange doodmaak en ons sodoende
beskerm teen diegene wat ons kwaad sou aandoen." (Op
die foto REGS
is ’n sekretarisvoël soos hy in die natuur lyk.
Foto: Gary M
Stolz / USFWS )
Die son... lig en lewe
"Bokant die voël is die opkomende son,
’n lewegewende krag wat ook ’n voorstelling is van die vlug van die
duisternis en die triomf van ontdekking, kennis, die begrip van dinge
wat verborge was, wat ook die nuwe ontluikende lewe verlig—ons
nuwe nasie waar dit gebore word en ontwikkel."
Die protea... skoonheid en bloei
"Onder die voël is die protea, ’n
inheemse
blom van ons land wat skoonheid voorstel, die estetiese harmonie van ons
kulture, ons opbloei as ’n nasie terwyl dit in die rigting van die son
groei."
Koringare... vrugbaarheid
"Die koringare is embleme van die
vrugbaarheid van ons land wat reeds duisende jare lank ons mense van
lewensmiddele voorsien het soos dit altyd sal bly doen."
Olifantstande ... wysheid, standvastigheid, krag
"Die ivoortande van die Afrika-olifant, wat in pare geplaas is om
mans en vroue voor te stel, simboliseer wysheid, standvastigheid en
krag."
Skild en neergelegde spies en knopkierie... die
verdediging van vrede... beskerming... kultuurbewustheid
" In die middel staan ’n skild wat dui op die beskerming van ons
bestaan van geslag tot geslag. Daarbo-op lê ’n spies en ’n knopkierie.
Saam verkondig hierdie ensemble die verdediging van vrede eerder as ’n
staat van oorlog.
"Hierdie skild van vrede, wat ’n
mens ook aan ’n Afrika-trom laat dink, dra dus terselfdertyd die boodskap oor van
’n nasie wat besiel is met ’n liefde vir kultuur, waar die protea
verbeeldingryk in die bo-deel van die skild afgebeeld word."
Mensfigure... die heel eerste Suid-Afrikaners
versinnebeeld die saak van die mens
"Binne-in die skild is sekere van die
vroegste voorstellings van die mens op aarde. Die heel eerste bewoners
van ons land word uitgebeeld, mense van die Khoisan, wat spreek van ons
verpligting om die mensheid te roem en die vervulling van die saak van
alle mense in ons land en regdeur die wêreld te bevorder.
"Hierdie figure is oorgeneem van beelde op
die Linton-steen, ’n wêreldberoemde voorbeeld van Suid-Afrikaanse
rotskuns.
"Hulle word in ’n groetende houding
uitgebeeld, wat die transformasie demonstreer van die individu na ’n sosiale wese wat tot
’n kollektiewe en onderling afhanklike mensheid
behoort."
Die leuse... eenheid in verskeidenheid
"Die leuse op ons nuwe wapen, geskryf in die
Khoisan-taal van die /Xam-volk, beteken: Uiteenlopende mense verenig, of:
Mense wat verskillend is, kom saam.
"Ons het ’n antieke taal van ons land gekies.
Hierdie taal is nou ’n uitgestorwe taal, want daar is niemand wat lewe wat dit as sy of haar moedertaal praat nie. Dit benadruk die tragedie
van miljoene mense wat deur die eeue gesterf of selfs as volkere opgehou
bestaan het weens mense se onmenslikheid teenoor andere.
"Dit sê ook dat ons van ons kant af nooit
ten volle menslik kan wees as enige mense van die aangesig van die aarde
gevee word nie, want elkeen van ons is ’n deeltjie van die volledige
geheel..
"Deur hierdie woorde op ons landswapen te graveer—!ke e: /xarra //ke—verbind ons ons daartoe om waarde te heg aan die lewe, om alle tale en
kulture te respekteer en om ons teen rassisme, seksisme, chauvisme en
menseslagtings te verset...."
"Hier, in die taal van ons antieke verlede,
praat ons tot die teenswoordige geslagte en diegene wat nog moet kom oor
die belangrikheid van menslike solidariteit en eenheid..."
"Ons bedank die Ministerie en Departement van Kuns, Kultuur,
Wetenskap en Tegnologie dat hulle ons gelei het in die strewe na ’n nuwe wapen. Ons rig ’n spesiale dank aan mnr. Iaan Bekker, die
ontwerper van hierdie wapen, wie se kreatiwiteit en patriotisme ons
almal hierdie kosbare en ewigdurende geskenk gegee het.
"Terwyl ons vlag trots aan sy mas
wapper as die intense inspirasie tot ’n inklusiewe nasionale identiteit
, so moet ons wapen, wat die buitengewone skeppingskrag van ons mense
deur die eeue heen beliggaam, ook ons verenigde en ongelyksoortige nasie
inspireer tot ’n strewe om te straal soos die son."
|
Embleem van Suid-Afrikaanse parlement

NADAT
verskillende ontwerpe oorweeg
is, is die ontwerp HIERBO in Maart 2007 in gebruik
geneem as die amptelike embleem van die
Suid-Afrikaanse parlement in Kaapstad.
In die
gees van openbare deelname aan ons demokrasie,
het die parlement ’n beroep op die publiek
gedoen om ontwerpe vir die nuwe embleem in te
stuur. Die embleem moes die parlement se visie,
missie en waardes beliggaam.
Twintig deelnemers is uiteindelik genooi om ’n
ontwerpswerkwinkel in Kaapstad by te woon. Hul
ontwerpe is verder deur die Buro vir Heraldiek
verfyn om seker te maak dat aan heraldiese
spesifikasies en vereistes vir ontwerp voldoen
word. Op die ou end is die embleem dus ’n
ontwerp deur die mense van Suid-Afrika vir hul
verteenwoordigers op die hoogste politieke vlak.
Die nuwe embleem sentreer om vier
sleutel-elemente, te wete Ons Grondwet, Ons
Mense, Ons Parlement en Ons Suid-Afrika. Hierdie
elemente word deur die boek, mensefigure, trom
(met sy protea en sigsag-patroon) en son
gesimboliseer.
Ons Grondwet
(die boek):
Ons grondwet lê die grondslag vir ’n dekokrasie
en oop gemeenskap wat op demokratiese waardes,
maatskaplike geregtigheid en fundamentele
menseregte gebaseer is. Die is die hoofwet van
ons land en verseker, ooreenkomstig sy
bepalings, dat dit die mense is wat regeer.
Ons Mense
(die mensefigure
weerskante van die trom):
As ’n nasionale parlement van vry verkose
verteenwoordigers, dien die parlement as ’n stem
van die mense en bied dit ’n nasionale forum vir
die openbare oorweging van aangeleenthede.
Ons Parlement
(die trom):
Die trom roep die Nasionale Vergadering en
Nasionale Raad vir Provinsies op tot die
oorweging van nasionale en provinsiale kwessies,
wat ’n regering deur die mense ingevolge die
grondwet verseker.
Ons Suid-Afrika
(die son):
Die son verteenwoordig die heling van die
skeidings van die verlede, die verbetering van
die lewenskwaliteit van alle Suid-Afrikaners,
die vrymaking van die potensiaal van elke mens
en die opbou van ’n demokratiese Suid-Afrika wat
sy plek as ’n soewereine staat onder die lande
van die wêreld kan inneem.
Die leuse,
“WE, THE PEOPLE”,
benadruk dat dit die mense, die
Suid-Afrikaanse nasie, is wat die heerskappy in
Suid-Afrika voer. |
|
Nog ’n
vertolking van die simbole op ons landswapen
Die opkomende
son... 'n simbool van energie
• 'N KRAGBRON van
die eerste rang is die son inderdaad. Hy is so ver
van ons af dat sy lig agt minute nodig het om ons te
bereik, al trek lig met die ontsaglike snelheid van
nagenoeg 300 000 km per sekonde. Nogtans koester hy
gedurig die aarde in sy hitte -- en verwarm hy
eweneens die wêrelddeel waarin ons woon. Sonder die
krag van die son kan ons plante, die eerste skakel
in ons voedselketting, ook nie groei nie. Die son is
werklik die bron van alle stoflike lewe. Die
opkomende son op die nuwe landswapen simboliseer
onder meer ook hergeboorte.
Die
sekretarisvoël met sy uitgespreide vlerke... 'n
beskermende vegter
• SOOS die kuikens
wat deur 'n ma-voël onder haar vlerk geneem word,
moet elke Suid-Afrikaner voel dat hy deur die
landsowerheid beskerm word en in geborgenheid kan
lewe. Die sekretarisvoël pas nog verder uitstekend
in die rol van 'n beskermer deurdat hy so rats met
slange kan klaarspeel. Hy is een van die grootste
voëls in die Suid-Afrikaanse veld, baie opvallend
waar hy met sy lang bene stadig op die vlaktes
rondstap en ook insekte en ander klein diertjies
vreet. Wanneer hy 'n slang aanval, trap hy sy
slagoffer net agter die kop om sy rugstring te
breek. Partykeer trap hy so kwaai dat hy die slang
se vel letterlik afstroop terwyl hy nog leef. Geen
wonder boere beskou hierdie roofvoëls as hul vriende
nie. Die ongewone naam van die sekretarisvoël kom
van die bossie swartpunt-penvere aan sy agterkop wat
'n mens glo herinner aan die veerpenne wat
agttiende-eeuse regsekretarisse en klerke agter hul
ore gedra of in hul pruike gesteek het.
Die protea...
verteenwoordig ons land se pragtige plante en dui op
die potensiaal van die land wat moet blom
• DIE koningsprotea
(Protea cynnaroides),
Suid-Afrika se nasionale blom, is nie net tipies
Suid-Afrikaans nie, maar ook een van die mooiste
blomme ter wêreld. Hy word die ``koning'' genoem
omdat hy die grootste blom in die genus Protea is,
en daar is talle ander poteasoorte in sy koninkryk.
Maar in 'n breër sin is hy ook die keiser van die
veelledige planteryk van ons land... wat die
ontluikende groeikrag moet versinnebeeld van ons
nasie met sy verskillende bevolkingsgroepe. Die
gewildste kleure van Afrika is aan die protea op die
landswapen toegeken: groen, goud, rooi en swart.
Die spies en
knopkierie... simbole van die owerheid en
staatsgesag, maar ook van vrede omdat die wapens nie
in iemand se hande gehou word nie maar neergelê is
• DIE werpspies met
sy steel en plat metaalpunt en die knopkierie, 'n
stok met 'n groot knop aan die een end, is
tradisionele wapens. In Europa sou iets soos die
swaard stellig eerder as die versinnebeelding van
staatsgesag beskou word, maar 'n assegaai en
knopkierie dra beslis 'n wesenselement van die
vasteland van Afrika oor. Maar dié wapens op ons
landswapen is nie opgeneem om te veg nie -- hulle lê
gekruis en plat op die skild. Daarmee word gesê dat
ons 'n land is wat vrede nastreef... iets wat
baiemaal op ander wapens eerder deur 'n vredesduif
verbeeld sou word.
Die skild met
sy twee Khoisan-figure... 'n erfenis wat gedeel word
• DIE heel vroeë
geskiedenis van Suid-Afrika is nie opgeteken in
hiërogliewe of neergeskryf op papier wat in
stowwerige argiefbewaarplekke lê nie. Dit pryk op
die mure van spelonke en die rotswande onder hol
kranse -- in die verhalende tekeninge van jagters
wat hier agter die wild aan geswerf het. As van die
vroegste "Suid-Afrikaners" spreek hulle kennelik
namens ons almal op die skild wat die middelpunt van
ons nuwe landswapen vorm. Maar daar is twee van
hulle. En twee saam is nooit eensaam nie! Waar twee
of meer mense vredig bymekaar is, kan hulle van
verskillende agtergronde of belewenisse getuig, maar
die blote feit dat hulle saam verkeer, dui op
saamhorigheid. En in hierdie eendrag van die
verskillendes deel hulle ook dinge... soos die goeie
wat elkeen uit die verlede met hom saamgebring het.
Die vier
olifanttande... verteenwoordig wysheid, krag,
matigheid en ewigheid
• HOE kan 'n mens al
hierdie eienskappe met iets soos ivoor in verband
bring? Olifanttande bestaan immers bloot uit 'n
duursame, fyndradige, roomwit stof, en boonop het
die handel daarin reeds 'n groot internasionale
herrie veroorsaak. Maar 'n mens sou tog die
allegorieë soos volg kan verklaar: Ivoor kom van
olifante en die wysheid van die olifant word nie
betwyfel nie. In sekere wêrelddele word hulle selfs
as getroue diere gebruik om vir die mens te werk.
Die krag van die olifant hoef nie eens verduidelik
te word nie. Matigheid is ook 'n eienskap van dié
reuse-dier. Hy is plantetend, maar verwoes in
normale omstandighede nie sy omgewing nie. En wat
ewigheid aanbetref: ivoor is blywend en steeds baie
kosbaar, die wit goud van die diereryk...
Die twee
koringerwe... hulle dui op vrugbaarheid en groei
• KORING is die mens
se vernaamste voedsel, dit word reeds sedert die
Steentyd verbou en was 3000 jaar vC in China bekend.
Met die Onse Vader bid ons boonop vir ons "daaglikse
brood''. Koring word oral in Suid-Afrika verbou, dog
die oudste en bestendigste produksiegebied is die
Wes-Kaap, waar dit tydens die winterreëns gesaai
word. Maar koring groei ook nie net nie... dit help
uiteraard dat ons, die bewoners van hierdie mooi
land, self groei en vermeerder!
Die leuse in
/Xam... 'eenheid in verskeidenheid'
• 'N UITGESTORWE
taal soos Latyn kom dikwels op verskillende wapens
voor, maar vir Afrika deug Latyn welbeskou eintlik
nie. Hoe, sou 'n mens tereg kon vra, kan jy die ou
Romeine nou regstreeks met die verre Suid-Afrika
verbind? Daarom dat 'n uitgestorwe Khoisan-taal vir
die leuse op ons landswapen gekies is. Boonop sou
dit nie gedeug het om een van ons elf amptelike tale
te gebruik nie, omdat gebruikers van die ander tien
afgeskeep kon gevoel het. Die /Xam-taal het 1860 en
1900 uitgesterf, nadat dit oor 'n uitgestrekte
gebied in die Noord-Kaap gepraat is. Gelukkig het 'n
omvattende geskrewe rekord daarvan behoue gebly, wat
by die Universiteit van Kaapstad bewaar word. Ons
leuse --!ke e: /xarra //ke
-- beteken, sover as wat dit moontlik is om dit te
vertaal, iets soos "eenheid in verskeidenheid".
|
|
|
Die
wapens van ons nege provinsies |
|
Gauteng

Leuse: UNITY IN
DIVERSITY |
Limpopo

Leuse: PEACE, UNITY AND
PROSPERITY
|
Mpumalanga

Leuse: OMNIA LABOR VINCIT |
|
KwaZulu-Natal

Leuse:
MASISIKUME SAKHE
|
Oos-Kaap

Leuse:
DEVELOPMENT THROUGH UNITY |
Wes-Kaap

Leuse:
SPES BONA |
|
Noord-Kaap

Leuse: SA K//?A: !ALSI ?ULSI
( "Ons gaan goed lewe", in
Auni, ’n San-taal van die Kalahari Gemsbokpark-streek van
Gordonia) |
Vrystaat

Leuse:
KATLEHO KA KOPANO |
Noordwes

Leuse: KAGISO LE
TSWELELOPELE |
|
ONS
VOLKSLIED: woorde van die amptelike weergawe (samevoeging van
Nkosi sikelel' iAfrika en Die Stem/The Call of South Africa)
|
Nkosi sikelel' iAfrika
Maluphakanyisw' uphondo lwayo,
Yizwa imithandazo yethu,
Nkosi sikelela, thina lusapho lwayo.
Morena boloka setjhaba sa heso,
O fedise dintwa la matshwenyeho,
O se boloke, O se boloke setjhaba sa heso,
Setjhaba sa South Afrika - South Afrika.
Uit die blou van onse hemel,
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes,
Waar die kranse antwoord gee,
Sounds the call to come together,
And united we shall stand,
Let us live and strive for freedom,
In South Africa our land.
|