|
||||
|
PRAAT
van ’n veelsydige mens! Hy’t
in sy lewe nie waffers baie skilderye gemaak nie, en boonop heelparty
daarvan nooit eens voltooi nie. Maar as merkwaardige innoveerder en
briljante denker het die kunstenaar Leonardo da Vinci in meer as een
opsig bokant sy tydgenote uitgetroon. Soos hy met
sy artistieke vernuwings gedoen het, het hierdie groot gees van die
Renaissance sy wetenskaplike teorieë op versigtige waarneming en
presiese dokumentasie gegrond. Leonardo het selfs as’t ware vooruit
gesien hoe baie van die ontdekkings van die moderne
tyd sou lyk.
Op talle
gebiede buite die kuns het hierdie buitengewoon begaafde man sy merk
gemaak: die krygskunde, vestingbou, dreineringsprojekte, die menslike
anatomie, weerkunde, geologie, stoomkrag, die sterrekunde, noem maar op. Sy vliegtoestelle, ofskoon nie prakties nie, is op vaste
beginsels van die aërodinamika gegrond. Die
Italiaanse stede Florence en Milaan was die volwasse Leonardo se wêreld.
Sy kindermilieu was egter die klein dorpie Vinci. (Dis dan ook hoekom da
Vinci by sy naam gevoeg is.) Vinci lê
teen die suidelike hange van Monte Albano, sowat 50 km wes van Florence.
Leonardo is 14 April 1452 daar gebore. Sy pa, Ser
Piero, was ’n bekende Florentynse regsgeleerde en sy ma, Katharina,
’n arm boeremeisie. Sy was nooit met Ser Piero getroud nie, en
gevolglik is Leonardo volgens die gebruike van sy tyd van haar weggeneem
en deur sy pa se familie aangeneem. Hy het sy
kinderdae op sy pa se landgoed naby Vinci deurgebring saam met sy
grootouers en stiefma, Albiera Amadori, die vrou met wie Ser Piero kort
ná Leonardo se geboorte getroud is. Vir
die Florentyne van die vyftiende eeu was opvoeding baie belangrik en sy
pa het gesorg dat hy leer lees en skryf en ook ’n basiese kennis
opdoen van Latyn en wiskunde. Hy het boonop musieklesse ontvang. Dis
nie seker wanneer sy merkwaardige kunstenaarstalent duidelik geword het
nie, maar toe hy veertien was, het sy pa hom as vakleerling laat inskryf
by Andrea Verrocchio, een van die mees gerespekteerde kunstenaars in
Florence. Florence,
waar die beroemde Medici-familie geregeer het, was toe juis op die
toppunt van sy roem. In hierdie jare het Leonardo se eerste beroemde
skilderye ontstaan. In
1482, toe hy sowat dertig jaar oud was, het hy na Milaan verhuis waar hy
sewentien jaar lank aan die hof van Ludovico Sforza, die hertog van
Milaan, gewerk het. ’n
Groot deel van Leonardo se tyd in Milaan is aan die ontwerp van
krygstuig bestee. Boonop het hy ook sy ingenieurstalent ingespan om
byvoorbeeld sentrale verhitting te ontwerp. Leonardo self het sy werk as
ingenieur veel belangriker as sy kuns geag, en benewens die groot fresko
van Die Laaste Avondmaal het hy slegs enkele skilderye in Milaan gemaak.
Die
bronsperd het egter nooit tot stand gekom nie. In
Desember 1499 is die Sforza-gesin deur Franse magte uit Milaan verdryf,
en Leonardo het die standbeeld onvoltooi gelaat en in 1500 na Florence
teruggekeer. Franse sodate het die terracotta-model van die beeld
verwoes deur dit as ’n skyfskietteiken te gebruik. Om alles te kroon
is die brons wat vir die beeld bedoel was, gebruik om ’n kanon van te
maak. In sy tweede Florentynse tydperk het Leonardo, benewens ander uitmuntende skilderye, sy beroemdste portret, die Mona Lisa, geskilder. Hy het vier jaar daaraan gewerk en dit oral met hom saamgedra. Ná etlike eeue het die model se misterieuse glimlag, waarmee Leonardo glo lank gesukkel het, steeds ’n onweerstaanbare bekoring vir die mense van ons tyd. Kunsliefhebbers en sommer byna elke nuuskierige toeris trap die paaie snuif na waar sy in die Louvre in Parys uitgestal word (al is baie van hulle bra teleurgesteld wanneer hulle besef dat die werk maar net 53 cm by 76 cm groot is nadat hulle duidelik iets baie meer grandioos verwag het). Die ouderdom was egter besig om die raaiselvrou in te haal, want die populierhout waarop sy geskilder is, het in die jongste tyd kommerwekkende tekens begin toon dat dit besig is om krom te trek. Maar die grootste trekpleister in die Louvre het nou ’n ereplek in ’n nuwe saal -- waar sy des te meer beskermd is. Trouens, mense skerts dat sy nou straks rede het om te glimlag! Maar
wie was hierdie Mona Lisa in die werklike lewe? Daar was al
ernstige bespiegelings dat sy eintlik Leonardo self in vroueklere was.
En die tonge was ook al behoorlik los oor ’n webblad waarop met
animasie aangetoon word watter merkwaardige ooreenkomste daar tussen
haar gesig se proporsies en dié van Leonardo was Na wat by die Louvre vertel het, het navorsers vasgestel dat die model ene Lisa Gherar-dini was, die vrou van ’n onbekende Florentynse handelaar, Francesco del Giocond. Die Parysenaars noem dan ook die portret La Joconde, die Franse weergawe van Lisa se getroude van. Mona Lisa beteken doodeenvoudig mevrou Lisa. MAAR
terug by Leonardo: Die onvermoeide uitvinder het ook planne
opgestel vir die wysiging van die loop van die Arnorivier van Florence
en die bou van kanale wat dié rivier tot by die see bevaarbaar moes
maak. Hierdie grootse projek kon egter eers eeue later, met die middele
van die moderne ingenieurswese, aangepak word. Mettertyd
het Leonardo, wat ook tye in Venesië en Rome deurgebring het, se roem
tot ver buite Italië versprei. In 1516 is hy deur koning Francis I van
Frankryk genooi om hom in Frankryk te kom vestig. Die koning het hom die
landgoed van die Château de Cloux, naby Amboise, gegee waar hy tot met
sy dood in 1519 rustig gewoon het. ’n Ryker en voller lewe as wat Leonardo gehad het, is min mense beskore. Vandag beskou ons hom as een van die veelsydigste genieë van alle tye wat bes moontlik berge sou kon versit het as hy in ons moderne tydvak gelewe het.
|
||||