|
N
die ysige Noordpoolgebied speel twee ysbere warmpies neusie-neusie.
In die snikhete Afrika bespuit twee olifante mekaar ewe koeltjies
met modder en water. En in die Atlantiese Oseaan baljaar twee
dolfyne in die golwe.
REGS:
Dolfyne kerjakker in die see.
Foto: Lori Mazzuca /
NOAA
Jy dink miskien dat hierdie diere se doen en late niks gemeen
het nie, maar eintlik is hulle almal met dieselfde ding besig. Dit
is die spel van die liefde in die natuur.
Hofmakery onder diere is nie so eenvoudig soos dit dalk lyk nie.
Nadat ’n mannetjie ’n moontlike wyfiemaat gevind het, moet die kêrel
boonop seker maak dat sy hom darem as waardig genoeg vir haar
beskou. Verskillende diere het dan ook hul eie unieke liefdesblyke
en minnetale om met paartyd die spel van die liefde te speel.
Om ’n geskikte maat te vind is nie altyd so eenvoudig nie, veral nie
vir die alleenlopers in die diereryk nie. ’n Wesp het dalk in sy
hele lewe nog nooit ’n ander wesp gesien nie, maar nou soek hy
freneties na ’n skoonheid met ’n perdebylyfie. Sowel die mannetjie as
die wyfie moet vrugbaar wees en gereed wees om te paar. Die wyfie is
gewoonlik lugtig en die mannetjie aggressief.
Om hierdie probleme te bowe te kom het die onderskeie spesies
verskillende maniere van doen om hul luime soos vrees te onderdruk
en die paringsdrang te versterk. Dit kan wissel van ingewikkelde
rituele en ’n pronkerige seksuele vertoon tot eenvoudige sintuiglike
seine.
Die hofmakery van die voëls is die skouspelagtigste van dié van al
die diere. Baie eendsoorte maak byvoorbeeld drinkgebare en stryk hul
vere glad, alles dramaties beklemtoon deur hul kleurryke en elegante
kopvere en opgehewe vlerke. Die volstruiswyfie sal met ’n teatrale
hoogtrap-dans by die mannetjie kom vlerksleep.
|
O, moe-oe-oe-oe-oet my nie verlaat nie...

BO: Laysan-albatrosse (Phoebastria
immutabilis)
wat wyd verspreid oor die noordelike Stille Oseaan
voorkom, het ’n baie interessante paringsritueel. Die
“dans” word veral gekenmerk deur die snawels hemelwaarts
te lig, terwyl die mannetjie en wyfie saam-saam roep.
Die roepgeluid klink soos “moe”.
Foto: Jill
Awkerman, The Albatross Project, Wake Forest University
/ via U.S. National Science Foundation
|
Daarteenoor sal motwyfies bloot ’n sterk reuk genaamd feromoon
afskei om motmannetjies binne ’n straal van drie tot vier kilometer
aan te lok. Die mannetjies onder die vuurvliegies gebruik weer ’n
reeks ligflitse om wyfies na hulle toe te trek.
Die mannetjies van die spinnekoppe en hottentotsgotte loop gedurig
gevaar dat die wyfies hulle kan opvreet. Selfs gedurende die paring
kan die wyfie die mannetjie bydam en sy kop summier afbyt. Daarom
gebeur dit dat die mannetjies soms die wyfies se aptyt probeer demp.
Een soort spinnekop,
Pisaura mirabilis, nader byvoorbeeld die wyfie
met ’n geskenk: hy bied haar ewe romanties ’n vlieg aan wat in sy
toegedraai is.
Baiekeer gaan die hofmakery met ’n magstryd gepaard. Die mannetjie,
wat sy gebied opgeëis het, is vyandig teenoor indringers. Hy kan
verwoed vir sy wyfie veg, maar die stryd duur nooit lank nie, omdat
dit nle vir die sterkste dier moeilik is om homself te bewys nie.
Die uiteinde is selde noodlottig omdat die geveg om die liefde ’n
sportiewe ritueel eerder as ’n saak van lewe en dood is.
Baie dikwels, in ’n trop, sal die mannetjie wat gewen het met al die
wyfies paar. ’n Leeu-gesin bestaan uit een mannetjie met ’n harem
van leeuinne en hul welpies.

BO:
Die mandril van Guinee, ook die woudduiwel genoem, is ’n neef van die
bobbejaan. Min mense sal egter stry dat hy ’n goeie entjie leliker as
ons bekende sekelstert is. Maar al sou jy jou ’n aap skrik as jy ’n
mandril-mannetjie soos hierdie een êrens in die vrye natuur raakloop, is
hy in sy rooineus-mondering vir die wyfies van sy soort die aantreklikste
kêrel op aarde. Hy is gewoonlik maar ’n valerige kalant (REGS), maar
wanneer die liefdesgogga hom gebyt het, verander Adoons vir die wyfies in ’n
Adonis. Dan raak sy neus ál rooier en sy wange ál blouer, en rooi
kolle slaan op sy gewrigte en enkels uit. Praat van ’n flambojante
vryer!
Foto bo: U.S. National Institutes of
Health
Foto regs:
Malene Thyssen,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5-lisensie en die volgende skakel versoek:
http://commons.wikimedia.org/wiki/User:Malene
Die gompou-mannetjies op die grasvlaktes van Afrika voer ’n
indrukwekkende dans met trillende krete uit wanneer hulle kom vry.
Die wyfies staan by om te kyk en te beoordeel. Wanneer hulle die
beste danser gekies het, gaan sit hulle voor hom. Net hy sal ’n pa
wees.
Baie diere reël instinktief hul paring só dat die kleintjies vroeg
in die lente in die wêreld sal kom wanneer daar oorgenoeg kos is en
hulle die beste kans het om te oorleef. ’n Verandering in die weer
kan ook tot ’n hofmakery lei. Visse sal reageer as die water warmer
word. Paddas lê hul eiers wanneer die reën begin val.
Só sien ons in die groot verskeidenheid van die skepping ’n
vervulling van byvoorbeeld die seën in Genesis 1: "Wees vrugbaar,
word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls
baie word op die land..."
Die spel van die liefde verseker ook die voortbestaan van ons
natuur. |