|
'n
Ster-artikelreeks in sewe aflewerings |
|
|
| AS
'n spesie het ons uitmuntend gevaar. Homo sapiens is nie juis alte sterk nie,
ook nie besonder vinnig of rats of goed aangepas by hitte of koue nie. Maar die 5,8 duisend
miljoen menslike wesens op hierdie planeet bewoon 'n groter deel van die aarde
se landoppervlak as elke ander spesie.
Dit is die 1,4 kg van ons brein wat ons gebring het waar ons vandag is, nou bloot menslik gesproke. Saam met 'n behendige hand en die vermoë om te praat, wat in elke geval 'n goeie brein verg, is dit die mensdom se ''grysstof'' wat hierdie enkele lewensoort die gemaklikste, mees wydverspreide, intelligentste, uitbundigste, skeppendste en potensieel verwoestendste aardse spesie gemaak het wat daar nog ooit was. Die brein is in afsonderlike strukture verdeel, almal met verskilllende rolle. Die brein is uniek in dié opsig dat die linkerkant en die regterkant verskillend funksioneer, soseer dat die linkerkant as dominant beskou word, selfs by linkshandiges. Slagoffers van 'n beroerte wat die dominante kant vernietig, sal sterf, terwyl soortgelyke skade aan die ander kant nie noodwendig noodlottig is nie. Skade aan die regterkant by 'n regshandige lei selde tot gebrekkige spraak. Byna al sulke gebreke word deur skade aan die linkerkant veroorsaak, omdat die linkerkant in beheer van 'n mens se taalgebruik is. Verskille tussen die twee breinhelftes bestaan selfs by pasgebore babas. Suigelinge draai in die reël vier keer meer regs om as links om. Waar sowel die spraak as handigheid gewoonlik deur die brein se dominante linkerhelfte gereguleer word, is die regterkant vry vir verskillende take, asook om die liggaam se linkerkant te beheer. Dit is meer ingestel op ruimtelike aktiwiteite, die uitdrukking en erkenning van emosie en op die herkenning van gesigte. Die linkerkant is die kant vir woorde en die regterkant vir nie- woorde. Jy kan dit toets met 'n vriend wat bereid is om saam te werk. Staan reg voor hierdie persoon en vra 'n verbale (woordelike) of rekenkundige vraag. Hy sal waarskynlik na die regterkant toe wegkyk. Ná 'n ruimtelike vraag - byvoorbeeld: wat is direk onderkant die toilet op die boonste verdieping? - behoort sy oë na links te draai. Die oë beweeg om die visuele insette te verminder na daardie helfte van die brein wat op die vraag moet ag gee - na regs vir verbale vrae en na links vir ruimtelike vrae. Maar hoe stel hierdie aansturing van 'n impuls ons in staat om gesigte te onthou, bewustelik te dink, ons verstand te gebruik en daarvolgens op te tree? Hoe inderdaad! Ons het rekenaars uitgevind, wat met baie take veel vinniger as die brein is, maar hulle werk totaal anders as ons neurone en help ons dus nie om die werkinge van die brein te begryp nie. Dis beter om die btrein met die bedrywighede van termiete te vergelyk. Hierdie skepseltjies is immers ontsettend georganiseerd, van die saamhorige manier waarop hulle kos versamel en selfs oorlog voer tot die bou van enorme termiethope, volledig met suile en ventilasieskagte. Hoewel elke aanduiding bestaan dat 'n intelligensie hier aan die werk is, is daar geen aardse meesterbrein agter die kolonie se doenighede nie. Die koningin is nie die argitek nie -- haar brein is in der waarheid kleiner as dié van haar werkers. Die individuele werkers, vlytig soos hulle is, kan weinig uitrig. Dit is net die kolonie as 'n gemeenskaplike eenheid wat die buitengewoon georganiseerde dade kan vermag. Die kolonie is meer as die som van sy dele, 'n kompleksiteit wat niemand sou kon verwag het deur bloot 'n enkele insek te bestudeer nie. So is dit ook met die brein, wie se vermoë om te redeneer, te onthou, emosioneel en wat nog alles te wees, hoegenaamd nie te voorspel is deur die eenvoudige eienskappe van 'n enkele senuweesel waar te neem nie. Dit is verstommend dat eenvoudige diertjies, met baie minder neorone as ons met ons 50 duisend miljoen, steeds betreklik ingewikkelde lewens kan lei. Die parasitiese wurm
Ascaris het maar net 162 breinselle. Hiermee kan hy leer, reageer op inligting wat hy ontvang en feite in sy geheue bêre.
Apis mellifera, die Ons 1,4 kilogram senuweefsel - die setel van ons eie aard - is duidelik verreweg die moeilikste deel van ons liggaam om te begryp. Ons weet nie hoekom hy so groot is en hoe dit gebeur dat hy so slim is nie. Op die een of ander manier is sy duisende miljoene selle en sy miljoene der miljoene konneksies só aan die werk dat ons nie slegs onsself homo sapiens (''wyse man'') noem nie, maar inderdaad hierdie besondere naam verdien. Klik hier vir die volgende aflewering: 6. Veroudering |