|
'n
Ster-artikelreeks in sewe aflewerings |
|
|
Fantastiese feite:
|
| ONS
is die produkte van sukses, elkeen van ons wat vandag leef. Ons ouers het daarin geslaag om ons te verwek, hul ouers
was suksesvol om hulle te genereer, en so kan 'n mens die suksesverhaal terugvoer tot in die begin.
Voordat ons sulke gedagtes kop toe vat, moet ons egter onthou dat dieselfde van elke lewende ding gesê kan word. Om te leef is 'n triomf, die eindresultaat van 'n ontsaglike poging van ongetelde voorgeslagte. Hulle het almal hul gene nagelaat om hul eie soort voort te dra en daardie gene, wat weliswaar deur onmeetlike tye verander het, het tot die ontstaan van elke liewe een van ons gelei. Namate ons deur die vroeë lewenstadiums beweeg, verander ons liggame en ontwikkel hulle om die uitdagings van elke nuwe ouderdom die hoof te bied. En wat gebeur dan? Soos ons elkeen vroeër of later agterkom, word ons oud. Van ons kruin van fisieke prestasie loop die pad geleidelik afdraand. Ons raak in feitlik elke opsig ál minder bekwaam, veral daar teen die einde rond. Ons voorkoms verander. Ons gaan waarskynlik korter word, krommer, stywer as voorheen, grys, meer bles, meer geplooi, met 'n droër, dunner en verkleurde vel, met 'n dubbele ken of 'n uitstaanken, 'n ander stem, slegte gehoor, swak sig, spatare, ondoeltreffende geheue, groter oorlelle en 'n breër, langer neus. Die dood kom nie oombliklik nie, maar haal ons in terwyl ons ál vatbaarder daarvoor raak. Ná veertig verdubbel die sterftesyfer met elke agt jaar wat die ouderdom aanstap, totdat ons almal op die ou end daardeur gevang word. Ons weet almal dit is ons lot, maar hoekom is dit so? Die mens probeer al lank om veroudering te verklaar en daar was al baie verskillende teorieë daaroor. Die ''lewenstempo-teorie'', wat in die begin van die twintigste eeu gewild was, het veronderstel dat elke skepsel met 'n bepaalde aantal hartkloppe in die wêreld kom. As die hart vinnig klop, soos by muise, sou die lewe kort wees - iets soos ''gou lewe, gou dood''. Waar die hartklop stadig is, soos dié van skilpaaie, sou 'n lang lewe voorlê. Ongelukkig het dit geblyk dat daar te veel uitsonderings is en dié reël is dus weerlê. Die wetenskap het nog nie met 'n universeel aanvaarde teorie oor veroudering vorendag gekom nie, maar met ons steeds groter kennis van die molekulêre biologie, is dit nie verbasend dat die navorsing op die binnewerkinge van selle toegespits is nie. Dit kan een van die neteligste vrae oor veroudering help beantwoord. Ons weet die meeste weefsels in die liggaam is gedurig aan die kom en gaan: die voering van die ingewande word elke drie dae vervang, die vel is aanhoudend besig om dooie selle af te werp terwyl nuwes na die oppervlak opstoot, selfs jou geraamte sal elke sewe jaar al die selle vervang het waarvan hy gemaak is. Daar is weinig dinge in ons liggame wat meer as tien jaar oud is. Hoekom lyk (en funksioneer) ons dan nie voortdurend asof ons bloedjonk is nie? Waarom lewe ons aardse liggaam nie vir ewig nie? Elke sel bevat die liggaam se volledige genetiese kode in die DNS wat in sy kern bewaar word, en hierdie DNS beheer die sel se aksies en reaksies. In chemiese terme is DNS 'n reusagtige, uiters komplekse molekule. Tog moet die DNS 'n volmaakte weergawe van homself skep elke keer wanneer die sel verdeel. Probleme ontstaan wanneer dit nie gebeur nie. Een van die belangrikste oorsake van skade aan die DNS is die teenwoordigheid van die sogenaamde vrye radikale, hoogs reagerende molekules wat ontstaan tydens normale metaboliese reaksies waarby suurstof betrokke is. Radikale sal enige ander molekule beskadig waarmee hulle in aanraking kom en sou verwoesting in die sel kon aanrig as hulle nie gestuit word nie. Om hulle te vernietig bevat die sel verskillende verbindings wat anti-oksidante genoem word, waaronder die vitamiene C en E en verskeie chemikalieë wat in vrugte en groente voorkom. Desnieteenstaande kom skade weens vrye radikale nog voor en daar word gereken dat hulle een van die meganismes is wat veroudering veroorsaak. Daar is gevind dat die mens, die spesie wat die langste leef, veel hoër vlakke van anti-oksidante het as diere wat nie so lank lewe nie. Een wetenskaplike het 'n stam rondewurms geteel met 'n mutante (veranderde) geen wat 'n abnormaal hoë produksie van anti-oksidante tot gevolg het. Hulle lewe tot sewentig persent langer as die oorspronklike wurms. Mense wat baie vrugte en groente (en dus anti- oksidante) in hul dieet het, het 'n verlaagde risiko om kanker te kry. Skade weens vrye radikale en ophopende foute in die DNS is egter nie die volle verhaal van veroudering nie. 'n Magtige faktor is eenvoudige slytasie weens die voortdurende affrontasies wat ons liggame bombardeer, sowel uitwendig as inwendig. Besoedelende stowwe, gifstowwe, natuurlike bestraling, virusse, bakterieë en die ultraviolet strale van die son is almal besig om ons vanuit die eksterne omgewing aan te val, terwyl ons selle intern te kampe het met skadelike afvalprodukte en die hormonale gevolge van fisieke en sielkundige spanning. Omdat die liggaam so 'n komplekse en fyn ingestelde masjien is, laat
degenerasie in een sisteem sy gevolge ook elders voel. Die oor degenereer. Die Bene breek makliker wanneer die persoon val, en bedlêendheid het blywender uitwerkings op die spierstelsel, balans en beensterkte. Wat as subtiele veranderings begin, lei met die jare tot swakheid en broosheid by eens gesonde volwassenes, tot verminderde vermoëns in die meeste fisiologiese sisteme en 'n ál groter kwetsbaarheid vir siektes en die dood, waaroor in die volgende aflewering vertel word. Klik hier vir die volgende aflewering: 7. Die dood |
REGS:
’n Makrofaag beweeg oor ’n oppervlak. Makrofage is bewegende selle en
die vlytige skoonmakers van die liggaam. Hulle verwyder stukkies weefsel
ná ’n besering, raak ontslae van vreemde deeltjies wat in die
liggaamsvloeistowwe beland en werp bakterieë en dooie selle uit die
sisteem. Ons
hele lewe deur is hulle besig om ons te beskerm teen allerhande
indringers wat ons liggame vanuit
die eksterne omgewing aanval. Uitendelik sal hulle egter ook boedel
oorgee. Die brose aardse liggaam kan nie vir ewig lewe nie.
Krediet: © Whitehead Institute for Biomedical Research / Met vergunning US National Science Foundation |
|
Ietsie
ekstra vir
senior swewers:
|