David Livingstone
Afrika-
ontdekker en verspreider van die Lig
Eeue lank was die hartland van Afrika vir die
Europeërs ’n donker plek, waar tropiese siektes ’n witman binne ’n
dag kon doodmaak of wilde roofdiere hom in ’n ommesientjie kon
verslind. Min was gevolglik bekend omtrent die binneland van die
kontinent. Totdat onvermoeide pioniers soos David Livingstone
hierheen gekom het...
DIE jong Skot luister
aandagtig na die passievolle Skotse sendeling met die vloeiende wit
baard. Die godsman het onlangs uit Afrika na Brittanje teruggekeer
en is besig om ’n belangstellende gehoor toe te spreek oor sy werk
doer in die suide. "Partykeer in die oggendson.'' vertel hy, "het ek
die rook van duisend statte gesien waar geen sendeling nog ooit was
nie.'' Dit is woorde wat die jong man, wat hom pas as medikus bekwaam het,
aan die hart gryp.
Dan sal hy na Afrika gaan! Hy sal ’n voorvegter vir Christus op die
donker vasteland word. Hy sal die duisend statte, en nog ander
duisende, gaan soek en die evangelie verkondig om die Lig te
versprei!
Só begin die sending- en ontdekkersloopbaan van dr. David
Livingstone(1813-1873), wat deur baie as een van die grootste Europese
ontdekkingsreisigers van ons kontinent beskou word, indien nie die
heel grootste nie.
Livingstone is in 1813 in Lanarkshire in Skotland
gebore en het in ’n katoentekstielfabriek begin werk toe hy maar net
tien jaar oud was. Hy het nietemin aandklasse geloop en hom só
onderskei dat hy hom mettertyd in Glasgow in die geneeskunde kon
bekwaam. Tydens sy studies in die medisyne het hy ook klas in die
teologie geloop.
Hy het hom by die Londense Sendinggenootskap aangesluit en is in
1840 as ’n mediese sendeling na Suid-Afrika gestuur, van waar hy met
verloop van tyd noordwaarts in Afrika inbeweeg het.
In die tweede helfte van die negentiende eeu sou verskillende
Europese (veral Britse) ontdekkingsreisigers met uiteenlopende
motiewe hulle op Oos- en Midde-Afrika toespits. David Livingstone is
veral gedryf deur sy begeerte om die Christelike evangelie te
verkondig en om die verfoeilike slawehandel in dié wêrelddeel te
beveg. In die uitvoering van sy roeping het egter baie gely en moes
hy meermale op sy reise ontsettende ontberings verduur -- wat hom
dan ook uiteindelik sy lewe gekos het.
VAN sy hoofpos op Kuruman het Livingstone
aanvanklik sendingwerk onder die Betsjoeanas gedoen. Hy het ook baie
rondgetrek noord van Kuruman en telkens van standplaas verander. Dit
was in dié tyd dat hy op ’n dag aangeval is deur ’n leeu wat sy
linkerarm vermorsel het. Gelukkig vir hom het ’n swartman die
roofdier geskiet, maar Livingstone se arm het nooit weer mooi reg
aangegroei nie en dit het hom die res van sy lewe gepla.
Tog was dit juis hierdie leeu wat hom sy vrou besorg het, want
terwyl sy arm op Kuruman aan die genees was, het hy verlief geraak
op Mary Moffat. Sy was die dogter van die Skotse sendeling Robert
Moffat, die stigter van die Kurumanse nedersetting en die einste man
wat Livingstone geïnspireer het om na Afrika te kom. David en Mary
het in 1845 getrou.
 |
 |
 |
 |
Robert Moffat |
Mary Moffat, gebore Smith,
vrou van Robert Moffat |
David
Livingstone |
Mary Livingstone, dogter van die Moffats en vrou
van David |
Saam-saam het die egpaar Livingstone na gebiede gereis waar geen
Europeër nog ooit was nie. Maar die roepstem van 'n ongekerstende
Afrika het ook veroorsaak dat die egpaar ’n groot deel van hul
getroude lewe van mekaar geskei was. Onbedagte en onvriendelike
opmerkings van andere oor hul skeiding het hulle baie hartseer
besorg.
In 1849 het Livingstone, vergesel deur twee grootwildjagters, sy
eerste ontdekkingsreis na die Ngamimeer onderneem. (Die Ngami is ’n
meer in die noorde van die Kalahariwoestyn, ’n watermassa wat daarna
aansielik kleiner geword het om uiteindelik feitlik net in moerasse
te ontaard.)
Livingstone was tydens sy verblyf op Kuruman betrokke by ’n
grensgeskil tussen die Boere en swart stamme en moes toesien hoe sy
sendingstasie verwoes word.
Hy het weer die binneland in begin reis en die bolope van die
Zambezi bereik, maar die gevreesde tsetsevlieë (wat slaapsiekte by
mense veroorsaak) het sy plan verongeluk om ’n nuwe sendingstasie te
vestig. Op ’n trek van twee en ’n halwe jaar het hy in 1855 op die
Victoria-waterval afgekom.
Livingstone is in 1856 terug na Engeland, waar hy as ’n groot
ontdekkingsreisiger verwelkom is en hy die volgende jaar sy beroemde
werk "Missionary Travels and Researches in South Africa" die lig
laat sien het. Daarin kon Europeërs vir die eerste keer lees hoe dit
werklik in die binneland van "donker Afrika" lyk.
HY het die later jare van sy loopbaan meestal
in Midde-Afrika verwyl. In 1858 was hy Britse konsul in Quilimane,
’n hawe aan die noordkus van Mosambiek, terwyl hy ook ’n ekspedisie
gelei het wat die Njassameer gevind het.
Livingstone wou die oorsprong vind van die Nyl, Afrika se magtigste
rivier, en het sodoende die Mwerumeer en die Bangweoumeer bereik.
Intussen het Mary Livingstone na Engeland teruggekeer waar sy hul
kinders laat skoolgaan het. In 1862 het sy haar weer by haar man in
Afrika aangesluit, maar sy is slegs sowat drie maande later aan
malaria oorlede aan die oewer van die rivier Shire, wat uit die
Njassameer ontspring. Livingstone was verpletter. Al sy ander
swaarkry in Afrika het die verbete ontdekkingsreisiger nooit woorde
soos dié laat uiter nie: "Vir die eerste keer in my lewe wil ek
sterf."
Hoe bitter naby aan moed verloor hy egter daarna ook nog sou kom,
sou hy ondervind in die twee jaar van Julie 1869 tot Oktober 1871 op
’n heen-en-weer-reis tussen Ujiji, in die teenswoordige Tanzanië, en
die rivier Lealaba. Hy het die duisend statte aanskou waarvan Moffat
vertel het. Self het hy vir duisende der duisende Afrikane gepreek.
Maar in 1871 het sy kragte hom verlaat.
LINKS:
“In die oggendson... die rook van duisend statte...”
Met oop sere aan sy voete, tande wat uitval weens siekte en
doodvermoeid na liggaam en gees het hy tagtig dae in sy hut gelê en
na sy verre, onbereikbare vaderland verlang. Sy enigste troos en
bystand was die Bybel, wat hy in dié tyd vier keer deurgelees het.
Op die skutblad het hy hy hierdie betekenisvolle woorde geskryf: "Drie
jaar lank geen briewe nie. Ek verlang pynlik om klaar te maak en
huis toe te gaan, as God wil."
Voorrade en briewe is wel na hom gestuur, maar dit het hom nooit
bereik nie. Uit Engeland is ’n soektog na hom gelas, maar die
soekgeselskap het hom nie gevind nie.
INTUSSEN het Livingstone se verdwyning
internasionale belangstelling gewek. Dit was aan die einde van dié
tyd, in November 1871, dat die
geskiedkundige ontmoeting tussen hom
en die joernalis en ontdekkingsreisiger Henry Morton Stanley in Ujiji plaasgevind het.
REGS: Henry
Morton Stanley.
Stanley is in 1869 deur die Amerikaanse koerant die New York Herald
gestuur om Livingstone "tot elke prys" te vind.
Toe die twee ontdekkers bymekaar uitkom, het Stanley vir Livingstone
gegroet met die nou beroemde woorde: "Dr. Livingstone, I presume?"
Livingstone het sy pet gelig en met ’n enkele "Ja" geantwoord. Hulle
het dadelik groot vriende geword.
LINKS:
’n Voorstelling van die geskiedkundige ontmoeting.
Stanley wou hê hulle moes saam teruggaan na die beskawing sodat hy
kon herstel, maar Livingstone wou eers vasstel waar die oorsprong
van die Nyl is. Stanley en Livingstone het daarna saam die wêreld
noord van die Tanganjikameer verken. Later het Livingstone op eie
houtjie voortgetrek om verder na die oorsprong van die Nyl te soek.
Maar koorsaanvalle en ander ontberings het hom al hoe meer uitgeput.
Livingstone is waarskynlik op 30 April 1973 in Chitambo in die
teenswoordige Zambië oorlede. Een van sy swart volgelinge het hom
dood aangetref waar hy by sy bed gekniel het.
Sy getroue volgelinge het sy hart begrawe aan die voet van die boom
waaronder hy gesterf het en het sy liggaam nege maande lank nagenoeg
3000 km ver na Zanzibar aan die ooskus van Afrika gedra.
Die stoflike oorskot is per skip terug na Engeland geneem, en in
April 1874 is die "Koning van die Afrika-pioniers", wat in sy eie
leeftyd ’n legende geword het, in die Westminster-abdy in Londen
begrawe.
Die gedenkskrif in die abdy lees: "Dertig jaar van sy lewe is bestee
aan ’n onvermoeide poging om die inheemse rasse te evangeliseer, om
die onontdekte geheime van Midde-Afrika te verken en die gebied se
bedroewende slawehandel afgeskaf te kry."
"Vrees God en werk hard," het hy eenkeer aan ’n klompie Skotse
skoolkinders gesê.
’n Gekerstende Afrika sal David Livingstone nooit kan vergeet nie. |