|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
LEMURS:
DIS
pikdonker en byna grafstil in die groot woud. Groot, blink oë deurpriem
die swart Malgassiese nag. Vreemde vorms skarrel ligweg van tak tot tak. Skielik
verbreek ’n verontrustende kreet die nagstilte. Aje-aje! Aje-aje! Dit is
die spookagtige geroep van ’n vingerdier, ’n lemur wat op Engels
aye-aye heet. Lemurs
word as primate geklassifiseer, net soos ape en die mens. Hulle word slegs
aangetref op Madagaskar en op die Comore-eilande aan die ooskus van
Afrika.
Foto deur Ancheta Wis, by die Wikipedia-ensiklopedie gelisensieer kragtens die Creative Commons Attribution 2.0-lisensie (detail)
Daar
is meer as twintig lemurspesies, wat grootliks in grootte, kleur en
voorkoms van mekaar verskil. Die dwergmaki, een van die kleinste primate
ter węreld, is nie veel groter as ’n muis nie. Die indri is weer amper ’n
meter lank. Sommige lyk soos hul aap-neefs, ander soos eekhorinkies. Die
vingerdier met sy beitelvormige hoektande is as ’n knaagdier
geklassifiseer toe hy ontdek is. ’n
Nuwe spesie, die goue bamboeslemur, is in 1987 beskryf, terwyl die
haaroor-dwerglemur, wat as uitgesterf beskou is, in 1989 weer in die
natuur opgespoor is. Die
meeste lemurs hou in bome. Verreaux se sifaka is so goed tegerus vir sy
bestaan bo die grond dat hy baie onvas op sy voete is wanneer hy die dag
afkom aarde toe. Hy hop rond soos ’n nar terwyl hy sy arms uitgestrek
hou na ’n denkbeeldige tak. Foto's van hierdie soort diere het al vir
groot vermaak gesorg omdat dit kompleet lyk asof hulle dans wanneer hulle
só op die grond skoffel.
Foto deur Thierry Hitier, by die Wikipedia-ensiklopedie gelisensieer kragtens die Creative Commons Attribution ShareAlike-lisensie, weergawes 2.5, 2.0 en 1.0 (detail) Die
ringstert-maki miaau weer byna soos ’n kat—en as jy hom streel, spin
hy. Ander soorte maak ’n reeks weergalmende brulgeluide gevolg deur
harde kloekgeluide. Elke
spesie het sy eie eetgewoontes. Party is vegetariërs en vreet net vrugte,
blare, boombas en botsels.
Ander vreet insekte, voëls, voëleiers en klein diertjies. Party
lemurs is bedags aktief, ander snags. Baie het reukkliere waarmee hulle
hul gebied afsper, ander gebruik hul urine en ontlasting
hiervoor. Die
vreemde,
grootogige voorkoms van lemurs, die verontrustende geluide wat party maak
en die nagtelike bedrywighede van ander het tot verskeie legendes onder
die bewoners van Madagaskar gelei. Die woord lemur het egter uit die
Romeinse mitologie ontstaan. Die ronddwalende siele van gestorwenes—lemure
genoem—sou na die aarde teruggekeer het om die lewendes te treiter. Baie
boorlinge van Madagaskar wat hul voorouers met groot oortuiging aanbid,
glo die siele van hul voorvaders woon in hierdie spookagtige en
bonatuurlike diertjies. Maar
Madagaskar se unieke natuur en wildlewe verkeer in groot gevaar weens die
mens se inbreuk op die reënwoude. Ontbossing en erosie, wat vererger word
weens die gebruik van vuurmaakhout as die hoofbron van brandstof, wek
ernstige kommer. Die
owerheid het hom al tot bewaring verbind, maar in ’n land wat so arm is
en waar die bevolking (18 595 469, volgens ’n
raming vir Julie 2006) steeds bly aanwas, bly die gevare vir die eiland se
diere groot. Neem
nou maar byvoorbeeld die lot van die vingerdier. Dié is die eerste keer
in 1780 deur ’n Franse ontdekker gesien. Van hierdie snaakse diertjie is
gesę dat hy "die tande van ’n konyn, die hande van ’n aap en die
stert van ’n jakkals" het. Dit was eers ’n volle eeu later dat
iemand die moeite gedoen het om deeglik na hom te kyk. Hy is toe as
primaat geklassifiseer. Die vingerdier is een van die seldsaamste diere ter węreld. In 1966 is gedink dat daar nog net sowat tien van hulle in Madagaskar oor is. Die regering het toe die eiland Nosy Mangabe as ’n beskermde gebied verklaar en al die vingerdiere wat gevind kon word, daarheen gestuur. In die vroeë jare negentig is gereken dat daar dalk nie meer as vyftig in die natuur oor is nie. Vandag word hul getalle op minder as 2500 geraam. Die
heksagtige hande van die vingerdier het lang vingers. Die middelvinger is
besonder dun en benerig, en kan in enige rigting draai. Dit stel die dier
in staat om die laaste bietjie vleis uit ’n kokosneut te kry, maar ook
om te krap waar dit jeuk, sy hare netjies te hou, insekte van boomstamme
af te krap en krieseltjies kos tussen sy tande uit te grawe. Op sommige dorpies is inwoners so bang vir hom dat hulle hom oombliklik doodmaak—voordat hy met sy lang, krom vinger kan wys na die een by wie die dood konsuis sy volgende besoek gaan aflę. |