|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
LODEWYK
XIV (die Sonkoning)
Kopiereg verstreke vanweë ouderdom
LODEWYK
XIV, seun van Anna van Oostenryk en Lodewyk XIII, bestyg die Franse troon
in 1643 op ’n baie jeugdige vyf jaar. Die land word namens hom deur sy
ma regeer, met die hulp van die troonadviseur kardinaal Jules Mazarin, wat
die grondslag vir Lodewyk XIV se bewind lê. Toe die kardinaal in 1661
sterf, neem Lodewyk alle magte oor. Die begin van sy bewind word deur verskeie gebiedsverowerings gekenmerk. Aan die einde van die Spaanse Suksessie-oorlog (1701-1714) was Frankryk egter geruïneer en verkry Engeland die beheer oor Europa. Lodewyk
XIV was ook bekend as Le Roi Soleil (die Sonkoning).
Geskiedkundiges verskil egter of sy bewind werklik so roemryk was as wat
dikwels gesê word. In 1682 verskuif Lodewyk XIV die koninklike hof na Versailles, die manifieke nuwe paleis buite Parys. Die koninklike paleis is deur pragtige tuine, fonteine, watervalle en weerkaatsende poele omring. Die lewe aan die hof was rojaal, met baie danspartye en opelug-feestelikhede.
Kopiereg verstreke vanweë ouderdom Belangrike
jaartalle in die lewe van Lodewyk XIV en sy sterfjaar: 1638—Gebore
vir Lodewyk XIII en Anna van Oostenryk. 1643—Volg
sy pa as koning op, met sy ma as die regentes. 1661—Mazarin
sterf en Lodewyk neem alle magte oor. 1682—Die
koninklike hof verskuif na Versailles. 1701—Spaanse
Suksessie-oorlog. 1715—Lodewyk sterf in Versailles.
Foto: BIGFOTO. COM / Free pic Absolutisme
(onbeperkte alleenheerskappy):
Toe
Lodewyk XIV koning word, beset hy sy troon met absolute mag. Daarna is hy
l'etat, c'est moi (''die staat, dit is ek''), die alleenheerser in
Frankryk, hoewel dit te betwyfel is of hy ooit self daardie woorde gebruik
het wat nou algemeen aan hom toegedig word. Party bronne sê hy het as ’n
groot koning geregeer, ander dat sy swak bestuur en spandabelrigheid ’n
finansiële krisis veroorsaak het—dat die skatkis van Frankryk leeg was
toe hy dood is. Die ontevredenheid van die mense sou aan die einde van
daardie eeu tot die Franse Revolusie lei. |