’n Laslappie van Mieliestronk

LONGVIS:

Die vis wat lug soos ’n landdier inasem

 

Longvis

 

Die meeste visse lewe in suurstofryke water en haal deur middel van hul kieue asem. As hul op droë grond kom, versmoor hulle. Maar by die verstommende longvis is dit net mooi andersom...

 

N VIS wat lug inasem? En verdrink as jy hom onder die water hou sodat hy nie boontoe kan swem om lug te skep nie? Klink mos na een van die rare kreature van die sprokies. Of na nog ’n liegstorie van ’n hengelaar! Maar hy bestaan rêrig.

 

Die longvis het—soos sy naam aandui—’n long-agtige orgaan wat hom in staat stel om buite die water asem te haal. Hy leef in varswater-moerasse, vleie en riviere, maar moet elke af en toe boontoe swem om deur sy mond lug te kry. Omdat hy lug inasem, kan hy in stilstaande water oorleef waarin daar nie meer suurstof is nie.

 

LongvisREGS: Boontoe om lug te skep...

 

En dis nie al nie. As dit so warm en droog raak dat hul water opdroog, rus die meeste van die visse in die modder totdat die toestande verbeter.

 

Daar is drie hoofsoorte longvisse: die longvisse van Afrika met vier spesies, en die Suid-Amerikaanse en Australiese longvisse met net een spesie elk. Die Australiese longvis (familie Ceratodontidae) is die "primitiefste" van die ses spesies. Hoewel hy tog soms na die oppervlak kom om lug te skep, het hy net een long en haal hy hoofsaaklik met sy kieue asem. En, anders as sy neefs, kan hy nie droogtes oorleef nie.

 

Die spesies van Afrika en Suid-Amerika (die families Protopteridae en Lepidosirenidae) oorleef egter verbasend in ongunstige klimaatstoestande. Die Suid-Amerikaners wikkel hulle eenvoudig in hul moddergate in en bly rustend totdat dit weer reën.

 

Maar twee spesies van Afrika gaan nog ’n stap verder: hulle skei ’n slym af wat tot ’n beskermende kokon om hul liggame verhard. Hier vertoef hulle in hul onaktiewe staat en lewe van die proteïen wat in hul spiere geberg is, terwyl hulle stadiger asemhaal deur ’n klein openinkie bo-aan die kokon. Dit staan bekend as die somerslaap—anders as die winterslaap van verskeie ander diere.

 

Sodra die droogte verby is—ná ’n paar maande of self jare—kom die visse uit hul gate te voorskyn. Hulle is uitgeteer, maar die verlore tyd word gou weer ingehaal wanneer hulle op die baie vissies, paddas, slakke, inseklarwes en skaaldiere feesvier wat hul tuiste met hulle deel.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad