Ligte leesstof vir ’n ledige tydjie
  

Beantwoord ons vyf kopkrap-vrae oor logiese denke

 

Hoe hanteer jy ’n krisis?
 

Illustrasiefoto

Foto van “Three Stooges”: History of Motion Pictures / U.S. Library of Congress

 

Om in ’n krisissituasie histeries te raak en die hande in die lug te gooi, sal niks help nie. Die enigste raad is om nugter en logies denkend na ’n oplossing te soek. En partykeer is die oplossing so maklik dat dit byna lagwekkend is, maar die probleem is net dat ons nie altyd aan die eenvoudigste oplossing dink nie. Kyk ondertoe in hierdie bydrae of jy ’n beredeneerde en logiese mens is deur te sê wat jy self in vyf probleem­situasies sou gedoen het...


   

V

RAAG: Hoe hanteer ’n mens ’n krisis?

 

Antwoord: Kom ons begin om hierdie vraag te beantwoord deur ’n ander vraag te stel: Wat sal jy doen wanneer daar ’n kortsluiting in die stoof in jul kombuis is en jy ontdek dat die vlamme versprei het na die houtkassie langs die stoof?

 

Sal jy—soos baie mense—gillend uit die huis storm en histeries uitroep: “Brand! Brand! Bel die brandweer, iemand! Asseblief tog, sal iemand net die brandweer vir my bel!”? Só sal jy wel aan almal binne hoorafstand verkondig dat jy verward en geskok is, maar dit is glad nie soos ’n ware leier sal reageer nie.

 

’n Ware leier sal die meeste krisissituasies met nugterheid hanteer en met soveel kalmte as wat hy of sy in die betrokke omstandighede kan monster. Die leier sal die toedrag van sake blitsvinnig opsom, vlymskerp beplan hoe om die krisis die hoof te bied en op te los, en so gou as moontlik die daad by die denke voeg.

 

Dit kan beteken dat hy of sy nie net self inspring om die vure (letterlik soos in die geval hierbo, maar ook figuurlik) dood te slaan nie, maar dat almal in die nabyheid summier aangesê word om te help.

 

Om te kyk hoe bereneerd jy self is wanneer jy voor probleemsituasies te staan kom, skets ons hieronder ’n vyftal gevalle—waarop jy moet probeer sê wat jy self in elk van die spesifieke omstandighede sou gedoen het.

 

’n Mens moet darem bysê dat die antwoorde op ons vrae nie soseer met leierseienskappe te doen het nie, maar eerder met die vermoë om analisties en verstandig te dink. Partykeer dink ’n mens—en selfs die verstandigste leier—mos nie altyd aan die voor-die-hand-liggende oplossing wanneer ’n krisis opduik nie

 

Hoe ook al, wat sou jy gedoen het as jy gekonfronteer was met die volgende situasies? Die antwoorde verskyn onderaan die vrae, maar moenie daar loer voordat jy eers die vrae gelees het nie!

 

Wat sou jy gedoen het?

 (1)    Op ’n sekere dorpie waarop daar geen dokter is, jaag ’n ma freneties met haar jong seun in ’n motor na die naaste verpleegkundige. Haar onhebbelike negejarige erfgenaampie het sy vinger in ’n klipharde staalring (metaalmoer of waster) ingesteek en hulle kon dit om die dood nie weer afkry nie.

 

Die ma het dit selfs met seep en water probeer verwyder, maar verniet. Die seun se vinger is erg opgeswel en raak al hoe rooier. Trouens, dis reeds persblou wanneer hulle by die verpleegkundige aankom. Die verpleegkundige, nog jonk en onervare, gee die vinger een kyk en draf toe saam met die seun na die motorhawe net oorkant die straat.

 

Maar die garage se baas is nie daar nie en sy werkers sê hy het die gereedskap toegesluit waarmee hulle miskien die sterk metaalring sal kan deursaag. En al kry hulle die saag in die hande, sê nou net hulle saag die vinger ook af?

 

Net daar kom die verpleegkudige egter tot verhaal en besef dat hy self mos die ring maklik binne enkele minute sal kan afhaal. Dit doen hy toe ook. Kan jy raai wat hy gedoen het?

 

 (2)   ’n Sakeman ry op ’n sekere dag die werf binne van iemand wat hy tuis wil besoek. Hy parkeer sy motor in die skaduwee van ’n groot boom met die doel om van daar af na die voordeur te loop. Maar hy is skaars uit sy motor toe ’n groot en verwoede hond hom bespring. Hy moet hardloop om nie verskeur te word nie.

 

Gelukkig vir hom is die hond aan ’n ketting aan die boom vasgemaak en kan hy hom nie bykom nie. Ongelukkig is niemand egter tuis nie en staan die motor so naby aan die hond dat die dier met sy lang ketting maklik by elk van motordeure kan uitkom. Die man probeer keer op keer terugloop na sy motor, maar elke slag bestorm die hond hom met skuimbolle om sy bek.

 

Kan jy raai hoe die man in sy motor kon inklim sonder dat die kwaai hond ’n tand op hom kon lê?

 

 (3)   Eendag ry ’n vrou wat lief is vir perdry op haar perd in ’n pad. Skielik raak die toom egter los, die perd skud sy kop en daar val die stang en teuels heeltemal van sy kop af. Die dier raak toomloos aan die galop en is heeltemal doof vir die uitroepe van sy meesteres wat hom beveel om stil te staan.

 

Sy laat hom nietemin maar begaan omdat dit tog ’n stil pad met min verkeer is. Maar skielik verskyn ’n motor om ’n draai voor hulle. Die vrou besef dat sy iets moet doen om die perd te laat stilstaan. Kan jy raai wat sy gedoen het?

 

 (4)   ’n Ongenooide insek vlieg in iemand se oor in—te diep om dit van buitekant af by te kom. Die insek kriewel en gons, maar vir die arme slagoffer voel dit of al die motore van ’n groot vliegtuig in sy kop aangeskakel is.

 

Anders as die breinlose drie swape (“Three Stooges”) op ons illustrasiefoto, weet die slagoffer dat sy kop nie hol is sodat die insek miskien by die ander oor kan uitvlieg nie!

 

Sy eerste gedagte is om die een of ander vloeistof in sy oor te gooi om die verpestelike gogga te laat verdrink, maar ’n mens gooi nie sommer enigiets in ’n oor nie en, buitendien, hoe sal die karkassie van die dooie drenkeling daarbinne daarna ooit weer uit sy oor kom?

 

Maar die man kry vinnig ’n plan en binne oomblikke is hy ontslae van die indringer. Kan jy dink wat sy plan was?

 

 (5)   ’n Vakansieganger by die see vaar op ’n dag met sy bootjie op die kalm golwe toe die wind skielik opsteek. Toe hy hom weer kom kry, bars ’n hewige storm los en groot branders keer sy bootjie om. Hy spartel rond in die onstuimige water en slaag uiteindelik daarin om ’n klein rotsagtige eilandjie te bereik wat sowat ’n kilometer van sy strandhuis aan die kus is. Die storm bedaar, maar hy is hulpeloos gestrand.

 

Op die eilandjie vind hy egter ’n verlate hut, met ’n ou paraffienlamp en ’n paar vuurhoutjies daarbinne. Dit raak donker en die “skipbreukeling” besef dat hy hulp sal kan ontbied deur die lamp aan te steek en daarmee seine na die strand te stuur.

 

Maar daar is slegs ’n lagie paraffien van sowat 2,5 cm dik heel onder in die lamp en dit is te min om die kort lamppit te bereik.

 

Kan jy raai hoe hy tog die lamp aan die brand gekry en hulp ontbied het?

 

Antwoorde:

 (1)   Met die seun se vinger wat in die lug op wys, het die verpleegkundige ’n stuk lyn (wat hy in die motorhawe gekry het) styf om en om die vinger gedraai net bokant die gewraakte metaalring. Daarmee het hy die swelsel afgedruk. Nadat hy dit iets meer as ’n sentimeter ver om die vinger gedraai het in die rigting van die vingerpunt, het hy die lyn weer begin afwen van die ring se kant af, terwyl iemand anders die ring boontoe getrek het. Deur herhaaldelik die lyn op- en af te wen om die vinger, het die ring die lyn opwaarts gevolg totdat die ring uiteindelik af was.

 

 (2)   Die sakeman het stadig om en om die boom beweeg, net buite bereik van die hond. Terwyl die rasende dier die man gevolg het, is sy ketting ook om en om die boom gedraai totdat dit so kort was dat die man ongedeerd by sy motor kon uitkom.

 

 (3)   Die vrou te perd het doodeenvoudig haar hande styf voor die perd se oë gehou. Die dier kon nie sien waarheen hy gaan nie en het dadelik in sy spore vasgesteek.

 

 (4)   Die persoon met die lastige indringertjie in sy kop het sy oor by ’n helder lig gehou. Die insek is deur die lig aangelok en het dadelik uitgevlieg.

 

 (2)   Die man op die eiland het die lamp in die seewater gedruk en genoeg water geskep om dit vol te maak. Die paraffien het bo-op die water gedryf, want lampolie is ligter as water. Die man kon dus hulp met die lamp ontbied en is spoedig daarna met behulp van ’n motorboot gered.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad