|
Swierige Zeppelins
en nie-rigiede ballonskepe—die
romantiek en die drama in nog ’n belangrike hoofstuk in
die geskiedenis van lugvaart |
Die Hindenburg
“O, o, o! Hy bars in vlamme
uit!”
(geskokte
radio-omroeper)
Die
hewige ontploffing van die Hindenburg op 6 Mei 1937 het die
doodsklok vir die era van die lugskip gelui. Hierdie veel geroemde,
bestuurbare lugballon van die
Duitsers was besig om by Lakehurst in die Amerikaanse staat New
Jersey te land, toe dit dramaties deur vlamme verteer is en 36 mense
gesterf het. In hierdie artikel herlewe ons daardie verskriklike
halfminuut van ’n aantal dekades gelede—en word die verhaal van
lugskepe vertel...

BO: Die toeskouers
het ’n dowwe slag soos ’n geweerskoot gehoor, gevolg deur ’n
verskriklike knal. Die agterkant van die lugskip het in ’n
vuurbal uitgebars... en binne slegs 32 sekondes het die vlamme
die hele Zeppelin vernietig...
Historiese foto deur van Murray Becker / Amerikaanse vloot (U.S.
Navy)

BO: Die
Hindenburg (Zeppelin LZ-129), wat in 1936 in bedryf gestel
is, was ’n verstommende 241 m lank. Hier is die gevierde
Duitse lugskip nog ongeskonde tydens ’n vorige besoek aan
Lakehurst, in die Amerikaanse staat New Jersey, waar hy so
vurig aan sy einde sou kom.
Foto:
U.S. National Archives & Records Administration
Hoofteks uit Ons
Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
“Hier kom hy, dames en here, en wat ’n skouspel
is dit, aangrypend, ’n wonderlike gesig... Die sonstrale tref
die vensters van die observasiedek aan die westekant en dit
glinster soos vonkelende juwele teen die agtergrond van swart
fluweel... O, o, o! Hy het in vlamme uitgebars... Gee asseblief
pad voor my, o my wêreld, dit is verskriklik, o my wêreld, gee
asseblief pad! Hy brand, bars in vlamme uit en val... O, dié een
is die ergste... O! Dis ’n verskriklike gesig... O! En al die
mense...”
—Radio-omroeper wat die Hindenburg-ramp beskryf.
IE radio-omroeper Herb Morrison van WLS
Chicago het sy uitsending met heel gepaste geesdrif begin. Die
landing van die gevierde Duitse lugskip op 6 Mei 1937 by Lakehurst,
New Jersey, het immers beloof om ’n indrukwekkende geleentheid te
wees.
Ná ’n vertraging van verskeie ure weens gure weer sou die
Hindenburg, een van die grootste en weelderigste lugskepe wat ooit
gebou is, in Amerika neerstryk. Die vlug oor die Atlantiese Oseaan
het in Frankfurt, Duitsland, begin. Lakehurst is self deur
donderstorms geteister en die vlieënier, Max Pruss, moes die landing
uitstel. Maar oplaas het die wind gaan lê en Pruss kon die tuig na
die landingsmas stuur. Die lugskip het gelyk gelê en was volmaak
gebalanseer. Niks kon nou mos verkeerd loop nie.
Maar toe gebeur die ondenkbare. ’n Ontsettende ramp. Honderde van
die grondbemanning, mediamense en toeskouers het ’n dowwe slag soos
’n geweerskoot gehoor, gevolg deur ’n verskriklike knal. Die
agterkant van die lugskip het in ’n vuurbal uitgebars en die tuig
het stadig neergestort, die stertkant eerste.
REGS:
Die brandende Hindenburg stort stertkant eerste neer.
Historiese foto deur van Murray Becker / Amerikaanse vloot (U.S.
Navy)
Brandende puin het op die
toeskouers neergereën. Skreeuende passasiers en bemanningslede het
uit die lugskip gespring in ’n poging om lewend uit die inferno te
kom. Verskrikte radio-omroepers en die fotograwe van nuusfilms het
begin stotter en snik en die Here se naam aangeroep terwyl die
onnoemlike voor hul oë afgespeel het.
Binne slegs 32 sekondes het die vlamme die hele lugskip vernietig.
Feitlik niks buiten die verdraaide aluminiumraam en ’n deeltjie van
die stert het oorgebly nie. Van die 36 passasiers en 61
lugbemanningslede is 35 gedood. Een grondbemanningslid het ook
omgekom.
Die Hindenburg was eintlik ontwerp om met nie-brandbare heliumgas te
sweef. Amerika was die enigste land met groot en bekostigbare
heliumvoorrade, maar uit vrees dat die Nazi-leier Adolf Hitler
heliumlugskepe sou gebruik indien ’n oorlog uitbreek, het die
Amerikaners geweier om die gas aan die Duitsers te verskaf. Pleks
daarvan is die uiters brandbare gas waterstof toe deur die Duitsers
gebruik.
Maar wat het die waterstof aan die brand laat slaan? Die amptelike
verklaring was dat die gas aan die brand gesteek is deur ’n egalige
ontlading van elektrisiteit (wat hom in die donker manifesteer as ’n
gloed wat St. Elmo se vuur genoem word). Party mense glo die lugskip
is dalk deur weerlig getref. Die geringste skeurtjie in die
gasballon sou die waterstof met die lug laat meng en, indien daar ’n
vlam was, die hewige ontploffing veroorsaak het.
Nog ’n teorie is dat die vlieënier gefouteer het. Miskien was Max
Pruss moeg en het hy hom met die weerstoestande misreken of beheer
verloor. Daarteenoor was hy ’n uiters ervare vlieënier en is hy deur
’n tweede lugskipper vergesel wat verskeie kere vantevore self in
beheer van die Hindenburg was.
Dan is daar nog ’n teorie wat meer sinister is: dat die ramp deur
sabotasie veroorsaak is. Het iemand dalk ’n skoot in die ballon
ingeskiet en dit laat ontplof? Of het iemand ’n bom aan boord van
die tuig geplant? Mense regoor die wêreld was baie bekommerd oor die
toenemende steun wat die Nazi-party in dié tyd in Duitsland geniet
het, en dit gee beslis steun aan hierdie teorie.
Hoe ook al, die Hindenburg-ramp, saam met verskeie ander
lugskipongelukke, het die era van lugskepe wat passasiers vervoer
het skielik beëindig. ’n Alternatiewe manier van lugvervoer was in
elk geval besig om vinnig veld te wen.
Ná ’n reeks vlugte deur dapper vlieëniers in die 1920’s en 1930’s
was die vliegtuig, wat voorheen beskou
is as te swak om dit baie ver te bring, uiteindelik besig om die
vernaamste vervoerder van lugpassasiers te word. Vandag is hy dit
steeds.
Die eerste lugskepe was buigsaam of nie-rigied, dit wil sê daar was
geen binneraam nie en die ballon het sy vorm slegs deur die drukking
van die gas binne-in hom behou. Groter lugskepe—die Zeppelins—was
egter onbuigsaam of rigied. Hul ballonne is deur ’n raamwerk van
hout of metaal gestut.
Die ontwikkeling van rigiede lugskepe is ná die Hindenburg-ramp
gestaak, hoewel nie-rigiede lugskepe in die 1940’s en 1950’s steeds
gebruik is, veral op militêre gebied. Hier in ons tyd is daar ’n
hernieude belangstelling in nie-rigiede lugskepe, meestal vir
advertensies en om TV-kameras in die lug op te neem.

BO: Twee
verskillende beheerbare lugskepe, die nie-rigiede “blimp”, soos
ons dit vandag nog ken, en die rigiede Zeppelin van weleer. Soos
warmlug-, helium- en waterstofballonne bly lugskepe in die lug
deur middel van sakke wat met ’n gas gevul is wat ligter as lug
is.
Illustrasies:
U.S. Centennial of
Flight Commission (public domain)

BO: Amerikaanse
nie-rigiede ballonskepe (“blimps”) wat nog in die Tweede
Wêreldoorlog as nuttig vir oorlogvoering beskou is.
Foto: World War 11
History Properties / NASA
Nog
lugskip-inligting
• Die wêreld se eerste
lugskip is deur die briljante Franse ingenieur Henri Giffard gebou
en gevlieg. Anders as die ballon, waaruit dit ontwikkel het, is die
43 meter lange lugskip aangedryf deur ’n stoommasjien van 3 pk wat
’n skroef laat draai het. Dit is met ’n seilagtige rigtingsroer
gestuur wat aan die gondel vas was. In September 1852 het Giffard sy
met waterstof gevulde lugskip sowat 27 km ver van Parys af na ’n
plek naby Versailles geloods. Sy snelheid was 8 km/h.

BO:
’n Model van Henri Giffard se lugskip in die Londense
Wetenskapmuseum.
Foto:
Mike
Young (verklaar tot openbare besit; “released into the public domain”)
• Graaf Ferdinand von
Zeppelin (1838-1917) was ’n Duitse leëroffisier wat, ná sy aftrede,
baanbrekerswerk gedoen het met die rigiede lugskip wat na hom genoem
is. Die eerste, die Zeppelin LZ-1, wat in 1900 gebou is, was 128 m
lank en het ’n maksimum-snelheid van 27 km/h gehaal.
• Ná die Eerste Wêreldoorlog het militêre lugskepe groter,
vinniger en beweegliker geword. Lugskepe wat passasiers vervoer het,
was so gemaklik en luuks dat hulle, heel gepas, vlieënde hotelle
genoem is.

BO:
Zeppelins is in ’n stadium deur die Amerikaanse vloot
van Duitsland aangekoop. Hier hang ’n vegvliegtuigie aan
’n hangmeganisme onderaan die USS Macon ten tyde van
vlugoefeninge in 1933.
Foto:
U.S. Navy / USDod |