|
Nagte
van die ’n Maansverduistering gaan gewoonlik nie met soveel opspraak gepaard as ’n algehele sonsverduistering nie, maar bly dit steeds ’n skouspelagtige natuurverskynsel. Hier word vertel wat in der waarheid gedurende só ’n verduistering gebeur... |
|
''VERDUISTERINGS is soos sneeuvlokkies," het iemand al gesê. "Almal is verskillend, maar almal is pragtig." En baie van ons wat al verwonderd na sons-
en maansverduisterings gestaar het, sal dit sekerlik beaam. Waar die
volkere van ouds met vrees en ontsag gestaar het na verskynsels wat
hulle nie reg kon begryp nie, kyk ons vandag met bewondering en
waardering na sulke fantastiese fenomene in die skepping. ’n Verduistering, of eklips, is ’n sterrekundige term wat die verdonkering van een hemelliggaam deur ’n ander beskryf. Die aarde is betrokke by twee soorte verduisterings: dié van die son en die maan. ’n Sonsverduistering vind plaas wanneer die maan tussen die son en aarde inbeweeg en die maan se skaduwee oor die aardoppervlak beweeg. (Kyk ook bladsy oor sonsverduisterings.)
Alle maansverduisterings vind plaas wanneer die maan vol is, want dit is die enigste tyd wanneer ons natuurlike satelliet in die aarde se skaduwee kan beland. Daar is egter nie ’n algehele maansverduistering met elke volmaan nie, omdat die effense helling van die maan se wentelbaan om die aarde dit gewoonlik onderkant of bokant ons skaduwee laat beweeg. Die aarde, wat deur die son verlig word, werp ’n lang, kegelvormige skadu in die ruimte uit. Op enige plek binne-in daardie kegel is die lig van die son totaal afgesluit. Rondom die skadu-kegel, wat ook die umbra of kernskaduwee genoem word, is ’n gebied van gedeeltelike skaduwee wat die penumbra of halfskaduwee heet. Die benaderde gemiddelde lengte van die umbra is 1.379.200 km. Op ’n afstand van 384.600 km, die gemiddelde afstand tussen die maan en die aarde, het dit ’n deursnee van sowat 9.170 km.
’n
Algehele maansverduistering vind plaas wanneer die maan heeltemal tot
binne-in die umbra inbeweeg. As dit direk deur die middelpunt beweeg, is
dit sowat twee uur lank verduister. Indien dit nie deur die middelpunt
beweeg nie, is die tydperk van totale verduistering minder. Dit kan
selfs net ’n oomblik lank duur as die maan deur die heel buintenste
rand van die umbra beweeg. ’n
Gedeeltelike verduistering vind plaas wanneer slegs ’n deel van die
maan in die umbra inbeweeg en verdonker word. ’n Gedeeltelike
verduistering kan wissel van ’n byna totale verduistering tot slegs
’n klein verdonkering waar net ’n gedeeltetjie van die aarde se
skaduwee op die verbygaande maan waargeneem word. Só ’n reisende
ronde skaduwee van die aarde oor die maanoppervlak was vir die mense van
die ou tyd die eerste aanduiding dat die aarde rond moet wees. Voordat
die maan die umbra binnegaan ten tyde van óf ’n algehele óf ’n
gedeeltelike maansverduistering, lê dit binne-in die penumbra en die
oppervlak raak sigbaar donkerder. Die deel wat in die umbra inbeweeg,
lyk byna swart. Maar
ten tyde van ’n algehele maansverduistering is die skyf van die maan
nie heeltemal donker nie. Dit word dofweg verlig deur rooi lig wat deur
die aarde se atmosfeer gerefrakteer word, wat die blou strale
uitfiltreer. Af en toe is daar wel ’n maansverduistering wanneer die
aarde met ’n swaar wolkelaag bedek is wat ligbreking verhinder. Dan is
die maanoppervlak onsigbaar gedurende die tydperk van algehele
verduistering. Die kleur van ’n maansverduistering hang dus af van die toestande in die aarde se atmosfeer. Die gemiddelde atmosferiese toestande lei tot ’n oranje of rooi maan. In Junie 1991 het die vulkaan Pinatubo in die Filippyne so geweldig uitgebars en soveel stof en as in die atmosfeer vrygelaat dat die verduisterde maan in Desember 1992, meer as anderhalwe jaar later, byna onsigbaar was. Let op hoe lyk die res van die naghemel
terwyl die maan verduister word. ’n Helder volmaan maak normaalweg al
die sterre buiten die helderstes onsigbaar, maar namate die lig van die
maan verdof, begin al hoe meer sterre verskyn. |