|
Hoofbron vir teks hieronder, met dank: Dr. Jan van Elfen: DOKTER IN DIE HUIS,
volledig hersien deur dr. Don du Toit. (c) Tafelberg-Uitgewers 2001.
ISBN 0 624 039 633.
IE mens het dit baie eeue gelede al geken—die gevreesde koorssiekte wat
hy malaria genoem het. Die naam beteken egter “slegte lug”, wat duidelik
daarop dui dat die onkundige mense van die Oudheid nie werklik geweet
het wat dit veroorsaak nie.
Die Griekse baasgeneesheer Hippokrates (ca. 460-ca. 377 v.C.) het
weliswaar in die vyfde eeu v.C. besondere kenmerke van die siekte
geïdentifiseer en selfs—korrek—gereken dat stilstaande water iets
daarmee te doen moet hê. Maar daar is vermoed dat die ongesonde lug van
moerasagtige gebiede vir malaria verantwoordelik is. Dat dit eintlik
gewyt moet word aan muskiete wat in die einste kalm waters uitbroei, het
niemand klaarblyklik kon raai nie.
Die duistere geheim sou baie lank bly bestaan. Dit was eers in 1880 dat
die Franse dokter Charles Louis Alphonse Laveran (1845-1922) die
malaria-parasiet in rooibloedselle van die mens ontdek het. En in 1898,
nie veel meer as ’n skamele honderd jaar gelede nie, het die Britse
geleerde sir Ronald Ross (1857-1932) uiteindelik bewys dat die
Anopheles-muskiet as tussengasheer van die parasiet dien.
LINKS:
Anopheles-muskiete, die malaria-verwekkers, verskil
in belangrike opsigte van ander soorte. Een verskil is die
lengte van die voelers. By Anopheles is hulle lank,
omtrent net so lank as die proboskis of steeksnuit. By
Aedes- sowel as Culex-muskiete is die voelers
kort. |
|
Illustrasie:
US Centers for Disease Control and
Prevention |
Dodelike bedreiging
MALARIA word vandag beskryf as ’n parasitiese
siekte wat deur ’n protosoön (eensellige diertjie) van die genus
Plasmodium veroorsaak word. Dit word deur die byt van die wyfie van
die Anopheles-muskiet van mens tot mens oorgedra, ’n genus van
verskillende muskietspesies wat
endemies in subtropiese en tropiese gebiede van die wêreld voorkom.
Ons stry vandag nog verbete teen hierdie siekte. Trouens, waar die
muskiet vroeër in groot dele van die wêreld met groot welslae deur die
insekdoder DDT uitgewis is, het die insek al hoe meer bestand teen
hierdie gif begin raak.
Op die koop toe het die parasiet weer weerstandig begin word teen
kinien, ’n middel wat uit die bas van die kinaboom verkry word en wat
teen malaria ingespan word.
Teen die jongste eeuwisseling was die statistiek dus steeds
skrikwekkend: wêreldwyd het meer as 500 miljoen mense jaarliks malaria
opgedoen met meer as ’n miljoen sterftes per jaar—twee sterftes per
minuut. Dit is verantwoordelik vir een uit elke tien sterfgevalle in
ontwikkelende lande, waar die meeste gesinne nie die kennis, medisyne of
muskietnette het om hulself te beskerm nie.

Dis des te meer onrusbarend dat byna alle mense wat van malaria
omkom—meestal swanger vroue en baie jong kinders—mense van Afrika is.
Slegs vigs is op ons vasteland ’n groter mensemoordenaar. Ekonome sê
malaria kos Afrika nagenoeg R77 miljard (R77 duisend miljoen) per jaar.
In Suid-Afrika is die toename ewe sorgwekkend. Hier het die aangemelde
gevalle van 364 (met 5 sterftes) in 1971 toegeneem tot 2345 gevalle en 9
sterftes in 1981, 4698 gevalle en 19 sterftes in 1991, 26 449 gevalle en
198 sterftes in 1998 en 50 292 gevalle en 386 sterftes in 1999.
Die siektes malaria, tuberkulose en vigs het die afgelope vyftig jaar of
wat meer lewens geëis as al die oorloë in dié tydperk saam, maar tog is
die geld om dié siektes te bestry gelyk aan slegs twee persent van die
weermagbegrotings vir dieselfde tyd.
Die meeste Afrika-lande het doodeenvoudig nie genoeg malaria-medikasie
nie en het ook nie die geld om vir selfs die basiese insekbestrydende
programme teen die dodelike muskiete te betaal nie.

BO: Siklus van die malaria-parasiet.
Illustrasie: L.A. Department of Public Health,
met dank
oorgeneem en deur ons verafikaans
Lewensiklus van die parasiet in die mens
WANNEER ’n besmette muskiet ’n menslike slagoffer
se bloed suig, word die parasiet wat in die muskiet voorkom in die vorm
van sogenaamde sporosoïete (geïnfesteerde selle) in die mens ingespuit.
Hierdie sporosoïete ontwikkel dan ses tot twaalf dae lank verder in die
menslike lewer. Uiteindelik is daar in die lewer duisende jong
plasmodia, oftewel merosoïete, wat dan die slagoffer se rooibloedselle
binnedring.
Die plasmodium groei tot eritrositêre skisonte en verdeel vervolgens in
15-40 merosoïete wat in die bloedstroom vrygestel word wanneer die
bloedsel oopbars. Hulle dring opnuut ander bloedselle binne, waarna die
siklus herhaal word. Telkens wanneer ’n generasie van skisonte in die
bloed vrykom, styg die gasheer se koors.
Daar
is twee soorte Anopheles-muskiete wat malaria in Suid-Afrikaanse gebiede
verwek, naamlik Anopheles gambiae en Anopheles funestus.
Die gewone huismuskiet se wyfie (foto REGS) is ook
’n
bloedsuier, soos almal weet, maar sy veroorsaak nie malaria nie. Die
huismuskiet se “geleerde” naam is Culex pipiens.
Voorts is daar vier vorms van malaria wat by die mens voorkom, te wete
benigne tersiêre malaria, kwartane malaria, maligne subtersiêre malaria
en
minder bekende malaria.
-
Benigne tersiêre malaria
word deur Plasmodium vivax
verwek en word deur koorsaanvalle met tussenposes van 24 uur
gekenmerk.
-
Kwartane malaria word deur
Plasmodium malariae veroorsaak en word gekenmerk deur
koorsaanvalle met tussenposes van 72 uur.
-
Maligne subtersiêre malaria
se aanstigter is Plasmodium falaparum
en die kenmerk is afwisselende, aanhoudende of onreëlmatige
koorsaanvalle.
-
Minder bekende malaria word deur
Plasmodium ovale veroorsaak.
|
Mens het dalk malaria
van die gorillas gekry
DIS
al erg genoeg dat die mens bes moontlik die vigsvirus MIV
van die ape gekry het deur sjimpanseevleis te eet. Nou reken
sekere geleerdes boonop dat ons straks malaria van die
gorillas geërf het.
Beatrice Hahn en kollegas van die Universiteit van Alabama
in Amerika het tot hierdie slotsom gekom nadat hulle byna
3000 monsters van die mis van wilde Afrika-ape ondersoek
het. Die naaste verwante van die mees voorkomende
malaria-parasiet by die mens, Plasmodium falciparum,
is by lewende westelike gorillas gevind. Die bevinding is in
September 2010 in die navorsingspublikasie Nature
gepubliseer.
Volgens Hahn kon die oordrag van malaria van gorillas na die mens so
onlangs as 5000 jaar gelede gebeur het, maar dit kon ook
derduisende jare gelede gewees het.
Die
uitwerking wat die gorillas se virus op hulle het, is steeds
onbekend.
REGS:
Die moontlike oorsprong van malaria by die mens, volgens
nuwe navorsing. Hierdie westelike laagland-gorilla
(Gorilla
gorilla gorilla)
is in ’n
dieretuin afgeneem. Dié soort is een van twee ondersoorte
van die westelike gorillas wat in Wes-Afrika voorkom en is
die volopste van die twee subspesies. Die ander westelike
subspesie, die Cross-River-gorilla
(Gorilla
gorilla diehli),
is uiters skaars en op die rand van uitwissing. Westelike
gorillas is effens kleiner en daarby slanker as hul oostelike
neef
(Gorilla beringei),
wat ook weer sy eie subspesies het.
Foto:
Fred Hsu
/
GNU Free Documentation License,
waarkragtens hergebruik op sekere voorwaardes vergun word /
Wikimedia Commons (rande deur ons weggesny)
|
Simptome
IN die inkubasietydperk van ses tot twaalf dae kom
die pasiënt niks agter nie. Maar sodra en elke keer wanneer duisende
parasiete in die bloed vrygelaat word omdat rooibloedselle oopbars, word
hy koorsig.
Benewens koue rillings, ’n hoë koors en sweterigheid het die pasiënt ’n
verskriklike hoofpyn. Ernstige komplikasies kan ook voorkom, soos
anemie, geelsug, miltvergroting, stuwing van bloedvate van die brein
(serebrale malaria genoem), hematurie (bekend as bloedwaterkoors) en
nierversaking. Iemand met serebrale malaria voel suf voordat hy sy
bewussyn verloor, en hy kan sterf as hy nie gou mediese hulp kry nie.
Diagnose
DIAGNOSE word op die dokter se waarneming van die
simptome en die uitslag van bloedsmere gegrond. Selfs as ’n eerste
bloedtoets negatief is, sal die dokter nie sonder meer kan sê dat die
pasiënt nie malaria het nie. Trouens, dokters moet twee keer per dag
bloedsmere van ’n pasiënt neem totdat dit positief vir malaria word, ’n
ander siekte gediagnoseer word of die pasiënt beter word.
Kenners sê baie pasiënte en selfs dokters besef nie hoe uiters belangrik
dit is dat malaria vinnig gediagnoseer en behandel moet word nie.
Komplikasies kan baie gou intree en die pasiënt kan sterf.
Voorts is dit gebiedend noodsaaklik dat mense wat grieperig voel nadat
hulle ’n malariagebied besoek het, hul dokter sal inlig dat hulle in ’n
só ’n gebied was.
Voorkoming
ELKEEN wat ’n malariagebied besoek, moet
antimalaria-pille sluk. Volg die aanwysings getrou en onthou: as jy ’n
swanger vrou is, flikker die gevaarligte. Van die middels kan naamlik
toksies vir jou en jou ongebore baba wees.
Onthou ook dat die voorkomende medikasie wat beskikbaar is, nie as ’n
algehele waarborg beskou kan word dat jy nie malaria sal kry nie. Tog
kan jy die risiko daarmee drasties verminder. Die beste middel
(byvoorbeeld
meflokien)
verleen sowat 90 persent
beskerming, terwyl dit effens minder is by die antibiotikum
doksisiklien.
Om slegs
chlorokien
in Afrika-lande te gebruik, kan ’n mens duur te staan kom.
Chlorokien-weerstandigheid in groot dele van byna alle Afrika-lande is
reeds ’n yslike probleem.
In die malaria-gebied
kan
slaapnette en muskietverdrywers gebruik word, terwyl jy ook
muskietspirale kan brand. Dra veral tussen sononder en sonop
langmouhemde en lang broeke.
Behandeling
MALARIA is potensieel noodlottig omdat dodelike
komplikasies kan intree binne 48 uur ná die verskyning van die eerste
simptome. Elke geval moet dus met met die uiterste sorg gehanteer word.
Die behandeling hang af van waar die pasiënt malaria opgedoen het en hoe
siek hy is. Kinien vorm steeds die grondslag van malaria-behandeling vir
mense in KwaZulu-Natal en Mpumalanga, terwyl die antibiotikum
sulfadoksien-pirametarmen ook gebruik word, maar slegs vir minder
ernstige gevalle. Dit is omdat die malariaparasiet nou ook
middel-weerstandigheid teen dié antibiotikum begin ontwikkel.
Dit is belangrik dat die pasiënt met ’n akute aanval in die hospitaal
opgeneem word. Nog slegte nuus is dat die siekte nog lank in ’n mens se
spoor kan bly trap soos ’n getroue hond. Jare ná ’n akute aanval kan
insinkings steeds voorkom, waarvoor die dokter moontlik weer geraadpleeg
sal moet word.
Verpestelike muskiet! Verfoeilike parasiet!
|