|
|
||
Nelson Mandela se epiese reis van ’n veroordeelde vryheidsvegter tot triomferende staatshoof van ’n nie-rassige Suid-Afrika—regdeur sy 27 jaar in die tronk as ’n politieke gevangene—sou maak dat hy deur geskiedskrywers gehuldig word as een van grootste internasionaal-erkende ringkoppe van die twintigste eeu. Hy sou hom ewe tuis voel in ’n hut as in die weelderigste paleis. Boonop was hy vir baie mense "maklik om lief te hê", soos sy vrou Graca op ’n keer van haar verstommende man gesê het. Wat
die meeste van Mandela onthou sal word, is dat hy in sy lewe die krag
van vergifnis ontdek het. Of het hy werklik? Die Britse TV-aanbieder David
Frost, wat op ’n keer ’n onderhoud met hom gevoer het, het
later gesê: "Wat elkeen in Mandela bewonder, is hoe hy soveel jare
verkeerdelik opgesluit is sonder om daarna bitter te wees. Wat ’n
triomf van die menslike gees! Toe ek hom vra hoe hy dit kon regkry, het
hy eenvoudig gesê: 'David, ek sal graag bitter wil wees, maar daar is
geen tyd om bitter te wees nie. Daar is werk om te doen.' ''
Hoewel prostaatkanker in 2001 by hom gediagnoseer is, was hy ook al aktief betrokke by vredesonderhandelinge in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Burundi en ander Afrika-lande. Hy het boonop pogings tot vrede in ander wêrelddele ondersteun. In 2007 het Mandela 89 jaar oud geword. Toe hy ’n tyd gelede sy besluit aangekondig het om hom uit die openbare lewe te onttrek, het hy gesê hy doen dit omdat hy meer tyd met sy familielede en vriende wil deurbring en om hom aan "stille oordenking" te wy.
NELSON
MANDELA het die eerste lewenslig as ’n lid van die Madiba-clan—’n
deel van die Temboe-bevolkingsgroep—in daardie klein statjie in die
Oos-Kaap aanskou. Baie mense dink dat sy erenaam, Madiba, iets
soos “Ou Man” moet beteken, maar dit is eenvoudig die naam van
sy clan en word as teken van respek vir sy voorvaders gebruik. Die
Madiba-clan is genoem is na ’n Temboe-hoofman wat in die agttiende eeu
in Transkei geheers het. Mandela
is as Rolihlahla
Dalibhunga Mandela gebore, die
laaste naam dié van sy oupa Mandela. Sy
Engelse naam, Nelson, sou hy eers later van ’n Brits-opgeleide swart
onderwyseres by sy skool ontvang. Bes moontlik het sy aan die groot
Britse vlootheld van die Napoleontiese Oorloë, burggraaf Horatio
Nelson, gedink toe sy hom Nelson begin noem het, maar sy kon nie
voorsien het dat haar skrander leerling nog eendag self ’n held van wêreldfaam
sou word nie. Sy
pa was Gadla
Henry Mphakanyiswa en sy ma, Nosekeni
(Fanny), was die
derde van sy pa se vier vroue.
Sy pa was ’n plaaslike
hoofman en
talentvolle spreker, en
hoofraadgewer van die waarnemende opperhoof van Temboeland. Hy is egter
van sy hoofmanskap gestroop toe hy geweier het om in verband met ’n
klagte oor ’n os voor ’n blanke landdros te verskyn. Hy
het gevoel dat hy as hoofman deur Temboe-gebruike gebind word en nie
deur die wette van die koning van Engeland nie. Dit
het die gesin in armoede gedompel en Nelson se ma het ’n kort entjie
na die groter stat en Metodiste-sendingstasie Qunu verhuis, waar sy
familielede gehad het wat haar kon ondersteun. Mandela sou sulke mooi
herinneringe aan Qunu koester dat hy baie jare later vir hom 'n
aftreehuis daar sou laat bou. Sy pa is oorlede toe hy slegs nege jaar oud was en hy is in die sorg van die waarnemende opperhoof van die Temboes, Jongintaba Dalindyebo, geplaas. Hierdie voog sou hom skool en universiteit toe stuur. Van 1934 tot 1938
ontvang hy opleiding aan die Metodistekolleges Clarkebury en Healdtown
en in 1939 en 1940 studeer hy
aan die Universiteit van Fort Hare, ’n sentrum van die swart
intellektuele elite. In 1941 verhuis hy na
Johannesburg, werk ’n tyd lank in die
goudmyne en maak kennis met Walter Sisulu, deur wie se bemiddeling hy deur die liberale blanke
regspraktisyn Lazar Sidelsky as ’n leerling-prokureur aangestel word. In 1943 tot 1949
studeer hy in die regte aan die destyds hoofsaaklik blanke Universiteit van die
Witwatersrand. Dit bly nogtans nie maklik om die lewe van Mandela in ’n aantal paragrawe op te som nie. ’n Beknopte verslag soos dié hieronder kan immers nooit reg laat geskied aan al die intense dramas wat hierdie wêreld-ikoon omgewe het nie. |
||
|
Die begin van die verset
1943 Sluit hom by
die African National Congress (ANC) aan, aanvanklik as ’n aktivis.
REGS: Wyle
Evelyn Mase-Mandela,
1955 Die Freedom
Charter word aanvaar op die Congress of the People. Gelyke regte word
gevra, asook ’n gelyke verdeling van rykdom tussen die swartmense en
die land se blanke bevolking.
1956 Mandela en
nog 155 politieke aktiviste word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer
het om die Suid-Afrikaanse staat met geweld omver te werp en word van
hoogverraad aangekla. Die aanklagte word egter ná ’n verhoor van vier
jaar teruggetrek. 1958 Mandela trou met Winnie Madikizela. (Nelson se elektriese verhouding met Winnie sou uiteindelik ’n liefdesverhaal word wat tragies getemper sou word deur die politieke ambisies van twee kampvegters wat groter as lewensgroot was.)
1960 Die polisie
brand los op mans, vroue en kinders wat in Sharpeville betoog teen die
nuwe paswette wat die bewegings van swartmense beperk. Altesaam 69
betogers word doodgeskiet. Die ANC word op 8 April verbied, en Mandela
vorm ’n ondergrondse militêre vleuel.
1961 In ’n
persverklaring verklaar ’n uitdagende Mandela: "The struggle is my
life." Lewenslank
tronk toe
1964 Gevang deur die
polisie ná meer as ’n jaar op vrye voet, word Mandela (wat onder die naam The Black Pimpernel bekend geword het) in Junie in
die sogenaamde Rivonia-verhoor aan sabotasie en verraad skuldig bevind en
tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Daar was agt beskuldigdes in die saak—ses swartes en twee blankes. Mandela word aanvanklik op Robbeneiland
aangehou, waar hy klippe moet kap in ’n kalkmyn. Sy vrou Winnie staan aan
die spits van ’n veldtog om hom vrygelaat te kry. 1968 en 1969 Sy ma sterf en sy seun Thembekile word in ’n motorongeluk gedood. Mandela word nie toegelaat om hul begrafnisse by te woon nie.
1980 Sy vriend
Oliver Tambo, ’n uitgewekene, loods ’n internasionale veldtog vir sy
vrylating.
1982 Mandela
word van Robbeneiland na die Pollsmoor-gevangenis oorgeplaas.
1986 Die wêreld
verskerp sy sanksies teen Suid-Afrika. Daar is bereken dat hierdie
ekonomiese wurggreep die skatkis van die land tussen 1988 en 1990 meer as
vier miljard dollar aan inkomste gekos het. Die koms van
die nuwe Suid-Afrika
1990 Pres. F.W. de Klerk
ontban die ANC en Mandela word ná 27 jaar op 11 Februarie uit die tronk
vrygelaat. Die ANC en die blanke Nasionale Party begin spoedig met
samesprekings oor die stigting van ’n veelrassige demokrasie in
Suid-Afrika.
1991 Winnie Mandela word
’n opgeskorte vonnis opgelê vir haar aandeel in die ontvoering van ene
Stompie Seipei wat in 1988 dood is.
1992 Nelson
Mandela skei van Winnie. Die besluit kon nie vir hom maklik gewees het
nie, maar die huwelik het klaarblyklik onherstelbaar verbrokkel. In sy
aankondiging van hul skeiding sê hy: "Ek
gaan sonder verwyte weg van my vrou. Ek omhels haar met al die liefde en
toegeneentheid wat ek binne en buite die gevangenis vir haar gekoester het
van die oomblik toe ek haar die eerste keer ontmoet het."
1993 Mandela en De Klerk
ontvang saam die Nobelprys vir vrede vir hul pogings om Suid-Afrika te
verander.
1994 In die eerste
veelrassige verkiesing in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wen die ANC 252
van die 400 parlementêre setels. Nelson Mandela word as die land se
eerste swart president ingehuldig.
1995 Suid-Afrika se
rugbytrots wen die Wêreldbeker toe die toernooi in ons land aangebied
word. Mandela ontvang in die openbaar ’n spantrui van die kaptein,
Francois Pienaar. Dit word as ’n hoogs simboliese gebaar van eenheid
tussen swart en wit gesien.
REGS: Graca
Machel, derde
1999 Hy tree as
president af en word deur Thabo Mbeki opgevolg. 2000 Word as bemiddelaar in die burgeroorlog in Burundi aangestel.
|
||