|
Demokratiese leierskapstyl:
Foto: US Gov / PD DIE
manne van die volk praat vandag weer kopstukke in die “Groot Plek”
van hoofman. Elkeen moet sy hart leegpraat teenoor Jongintaba
Dalindyebo, die waarnemende opperhoof van die Temboes. Maar
Jongintaba praat glad nie, hy luister net aandagtig. En só duur dit
nou al dae lank voort. Dis slegs die manne wat die woord voer. Die
hoofman sit hulle net en aanhoor in die waardige stilte wat so eie
aan hom is.
N die politiek het hy sy teenstanders gehad. As mens en leier het hy egter oral respek afgedwing, soseer dat hy ’n ikoniese status bereik het. Wat meer sê, hy word lank reeds deur baie waarnemers uit uiteenlopende oorde bestempel as een van die heel grootste geeste van die afgelope eeu. Nelson Mandela sal immers allereers onthou word as die veroordeelde vryheidsvegter wat 27 jaar lank as ’n politieke gevangene in die tronk deurgebring het—net om uiteindelik die triomferende staatshoof van ’n nie-rassige Suid-Afrika te word. Maar, as die geskiedenis hom moet beoordeel, wat se soort leier wat hy eintlik? Nelson Mandela se leierskapstyl DAAR is ’n algemene eenstemmigheid dat Mandela demokraties in sy handel was... al sou sommige ’n sweem van outokrasie en koppigheid wil inlees in sekere van sy handelinge. Maar elke leier is vanselfsprekend op sy eie manier uniek en baie leiers sal in verskillende kategorieë van leierskap kon inpas. Ook die stoere demokraat sal natuurlik soms sy stem wil dik maak en wil neig om stroom op te trek teen die eksplisiete wense van die meerderheid. In ’n sekere sin was Mandela dan ook die vader van die nasie (lede van sy personeel het hom inderdaad “Tata” genoem), en tog was hy ’n streng vader, nie ’n vertroetelende een nie, word van hom gesê. Vir sy eie kinders was hy selfs ’n hardvogtige tugmeester.
Hoe Mandela sy leierskapstyl toegepas het
NELSON MANDELA was president van Suid-Afrika... in die onbenydenswaardige tyd van oorgang van ’n apartheidstaat tot ’n land met algemene stemreg vir volwassenes van alle rasse.
Sy leierskapstyl was gewortel in sy jeugervaringe, want hy het vroeg in sy lewe met die dinamiek van demokratiese leierskap kennis gemaak. In sy outobiografie, Long Walk to Freedom, beskryf hy die stamvergaderings in die “Groot Plek”, in die dorpie waar hy grootgeword het. Sy voog, hoofman Jongintaba, die heerser van die Temboe-stam, sou verskeie kere per jaar voorsit by vergaderings waar hy doodeenvoudig sou luister na wat talle van sy onderdane te sê gehad het.
Sulke vergaderings het dae lank geduur en sou nie eindig voordat elke spreker die kans gehad het om sy hart uit te praat nie. Die jong Mandela het op die agtergrond gesit en kyk hoe sy voog almal se betoë in aandagtige stilte aanhoor. Eers aan die einde sou hoofman Jongintaba praat, en dan was dit om ’n konsensus te bewerkstellig.
’n Leier, het Mandela geleer, dwing nie sy besluit op sy ondergeskiktes af nie. Hy vorm dit, knee dit, giet dit deur na hul begeertes te luister.
Foto verskaf deur die African National Congress as ’n promosie-foto sonder eksplisiete beperkings op die gebruik daarvan
Die lesse wat hy in die Groot Plek geleer het, sou Mandela toepas toe hy die voorsitter was van vergaderings van die A.N.C. se bestuursliggaam, die Nasionale Uitvoerende Komitee. Daar is al vertel hoe sy gesig ’n masker sou word terwyl hy van elke spreker se standpunte kennis neem en kyk in watter rigting die bespreking vloei.
Hy het geweet hoeveel gewig sy eie mening sou dra en sou dit slegs gee wanneer hy dit nodig geag het. As daar ’n dooie punt was, sou hy probeer om die tweespalt uit die weg te ruim. Andersins sou hy probeer om die argument na konsensus te lei—’n minlike ooreenstemming van menings te midde van die verskille.
Want vir Mandela was konsensus belangrik, selfs wanneer hy by tye gedwing was om toegewings te maak wanneer hy nie sy eie sin kon kry nie. Terwyl hy ’n gevangene op Robbeneiland was, wou hy eenmaal ’n staking organiseer om die bewaarders te forseer om die gevangenes as “meneer” aan te spreek. Maar sy kamerade het hom van die plan laat afsien. Op ’n keer, ná sy vrylating, wou hy weer hê dat A.N.C. die ouderdom waarop mense kan stem tot veertien jaar verlaag, maar sy kollegas het geweier.
As hy sou verloor, sou hy hom selfs in die openbaar uitspreek ten gunste van die standpunt wat hy vantevore teengestaan het. “Soms kom ek met ’n idee na die Nasionale Uitvoerende Komitee en dan oorstem hulle my,” het hy op ’n keer vertel. “En ek gehoorsaam hulle, selfs al is hulle verkeerd,” het hy met ’n glimlag bygevoeg. “Dit is demokrasie."
Foto: US Gov / PD
Die voor- en nadele van die demokratiese leierskapstyl VOLGENS die demokratiese styl betrek die leier sy ondergeskiktes in besluitneming, hoewel die finale besluit kan wissel van die leier wat die finale sê het tot die bevordering van konsensus in die groep. Demokratiese besluitneming word gewoonlik deur die ondergeskiktes verwelkom, veral as hulle voorheen te doen gehad het met outokratiese beslissings waarmee hulle nie saamgestem het nie. Onder die onteenseglike voordele wat demokratiese leierskap kan hê, is dat die onderhoriges—hetsy in die sake- of politieke wêreld of waar ook al—oor ’n lang tydperk besonder goeie werk lewer en op die koop toe merkwaardig baie gedoen kry. Baie ondergeskiktes hou van die vertroue wat in hulle gestel word en reageer met samewerking, ’n uitmuntende spangees en ’n hoë moraal. En tog kan demokratiese leierskap sy nadele hê. Dit kan byvoorbeeld problematies raak as daar so ’n wye reeks van opinies is dat daar geen kennelike manier is om tot ’n billike finale besluit te kom nie.
Hierdie leierskapstyl sou ook in ander gevalle nadelig wees, soos
wanneer: Hoekom soveel kenners die demokratiese leierskapstyl as die beste beskou BAIE kundiges is dit roerend eens dat die demokratiese leierskapstyl in die reël die doeltreffendste leierskapstyl is. Dit werk meer effektief as dinge gedoen moet word, sê hulle, veral as ’n leier nie altyd teenwoordig kan wees om te hiet en gebied, soos die outokratiese leier alewig wil doen nie. Mense wat net uitvoer wat hulle gesê word om te doen, sonder dat hul eie wense, insette of kreatiwiteit enigsins in ag geneem word, is weinig meer as willose slawe. En van ’n slaaf kan jy nie naastenby soveel produktiwiteit verwag as van ’n gelukkige werker wat voel dat hy en die ander saam met hul baas in ’n span saamtrek nie. Die dons-maar-op-leier (laissez-faire-leier) wat weer alles wil oorlaat aan sy onderskiktes om te doen soos hulle wil, kan spoedig vind dat te veel van die onderhoriges hulself as base gaan beskou. En soos die ou spreekwoord lui: Ek meneer en jy meneer, wie gaan dan die wa moet smeer? Onafhanklike opnames het ook al getoon dat die demokratiese roete die grootste welslae beteken. Buitensporige outokratiese style lei tot opstand, terwyl die onderhoriges van ’n leier met ’n laissez-faire-benadering nie in ’n span saamtrek nie en nie so flink werk soos wanneer hulle aktief deur iemand gelei word nie. Uiteensetting van ’n leerder oor waarom hy die demokratiese leierskapstyl sou verkies as hy ’n leier was DIE jong leser wat vir ’n skooltaak gevra sou word waarom hy of sy die demokratiese styl sou verkies as hy of sy ’n leier was (indien dié soort styl wel die leerder se keuse is) kan stellig nuttige wenke kry uit die volgende uiteensetting deur ’n medeleerder (ietwat deur ons gewysig): “Vir my is die demokratiese leierskapstyl die beste, want ek is van nature ’n spanmens. Ek hou nie daarvan om dinge op my eie te doen nie en neem graag die opinies van ander mense in ag. “Boonop maak dit vir my sin, want twee koppe is mos beter as een... en hoe meer koppe daar is, des te beter. As ’n mens ook nog mense kan inspireer om hul eie ideale te verwesenlik, sodat alles inpas binne die groot ideaal van die saak waarvoor daar gewerk word, het jy die resep vir ’n dubbele sukses. “Ek sal as leier dus die demokratiese weg wil volg om geleenthede vir my mense te skep om ’n hoë mate van persoonlike groei te ervaar, asook die bevrediging dat niemand slegs ’n rat in die masjien is nie. “Ek sal wil maak soos byvoorbeeld Nelson Mandela gemaak het. Om bloot aan die stuur van sake te wees, is om dinge reg probeer te doen, maar ware leierskap is om die regte dinge te doen. Leierskap beteken vir my die vermoë om ander mense te oorreed, nie om hulle te oorheers nie.
“Mandela het eenmaal die volgende vertel van hoe hy as jong
beeswagter ’n les in bestuurstyl geleer het: ‘Wanneer jy wil hê dat
die trop in ’n sekere rigting moet beweeg,’ het hy gesê, ‘staan jy
agter hulle met ’n stok. Dan beweeg ’n paar van die meer energieke
beeste vorentoe en die res van die beeste volg hulle. Jy is in der
waarheid besig om hulle van agter te lei.’ Hy het stilgebly voordat
hy met ’n glimlag vervolg het: ‘Dis hoe ’n leier sy werk moet doen.’
” |
|