IN DIE
Donker Middeleeue van die Christelike jaartelling, terwyl die Europeërs in
sielige onkunde rondploeter en gewaande
hekse verbrand, werk ’n jong goudsmid in
Suidelike Afrika ywerig aan ’n stuk
bladgoud.
By hom op ’n heuwel in die swoelte van
die Limpopo-vallei wag ’n ander swartman
geduldig op die vergulde beeldjie wat hy
vir hom maak. Die wagtende man is ’n afgevaardigde van
’n verafgeleë Oos-Afrikaanse
koninkryk. Hy kom koop goudware en -juwele
van die goudsmid in opdrag van sy koning.
Hierdie gesant is maar net een van baie
klante wat hier aandoen—en lank nie
slegs koopmanne uit Afrika nie. Trouens,
handelaars kom van so ver as Persië,
Arabië, Indië en China hierheen om
later weer hul aankope op die Oos-Indiese
handelsroete te verkwansel.
En so word die antieke Afrika-koninkryk
van Mapungubwe, met sy mense uit die
Ystertyd, ten volle deel van die wêreld-ekonomie.
Want nie net goud word hier geruil nie.
Ook koper, yster, ivoor, diervelle en
ander eksotiese artikels word van die
hand gesit, dikwels in ruil vir krale,
wat in Afrika groot waarde as versiersels
en rituele voorwerpe het...
DIE STORIE van Mapungubwe is een van die
boeiendste geskiedenisverhale van ons eie
wêrelddeel.
Opgrawings toon dat die "heuwel van
goud" [REGS]
met sy vyftig meter hoë
sandsteen-kranse—naby die plek waar
die Shashe-rivier in die Limpopo vloei en
die grense van Suid-Afrika, Botswana en
Zimbabwe bymekaarkom—in sy bloeityd
die sentrum van ’n florende
handelsnetwerk was. Foto: SASOL
Goue voorwerpe, baie soos dié van die
Zimbabwe-ruïnes, is daar gevind, terwyl
verskeie opgrawings ook klipmure,
erdewerk en geraamtes opgelewer het. En
natuurlik krale.
Duisende verskillende soorte krale,
vervaardig in plekke soos Indië, is in
feitlik elke laag van die nedersettings
by die Mapungubwe-kompleks gekry.
Die plek is duidelik op verskillende tye
deur verskillende groepe mense bewoon.
Die ekonomieë was op groot troppe beeste
gegrond, maar die mense het by handel met
die buitewêreld betrokke begin raak en
eksotiese en kosbare goedere verhandel.
Duisende tonne waardevolle metale—yster, koper en goud—is immers
honderde jare lank deur swartmense in
Suidelike Afrika gesmelt en bewerk.
REGS:
Getrou
aan die Afrika-kultuur was beesboerdery
die spil waarom die lewens van die mense
van Mapungubwe gedraai het. Daarbenewens
het die handel in kosbare voorwerpe
ook ’n kardinale plek ingeneem.
MAPUNGUBWE is in die twaalfde eeu ontruim
en later hervestig deur ’n groep wat die
Baleya genoem is. Hul leier was
Mapungubwe, of Mhungubwe (die Jakkals),
en dis na hom dat die plek genoem is.
Hierdie groep het geslagte lank op die
heuwel gewoon en ’n houtleer deur die
spleet in die kruin gebou.
Maar voor die ontruiming—in die
glorietyd van die handelstaat—het die
mense van die onderste nedersetting aan
die voet van die heuwel bes moontlik ’n adellike klas onderhou wat hoër op in
die heuwel gewoon het.
Dis steeds nie seker waarom, van al die
nedersettings in die Limpopo-bekken, dit
slegs Mapungubwe was wat ’n magstaat
geword en daardie mag honderde jare lank
behou het nie. Navorsers is ook onseker
hoekom dit teen die einde van die
twaalfde eeu ontruim is.
Argeoloë spekuleer dat die mag van die
mense van Mapungubwe gelê het in hul
heersers se vermoë om op ’n hoogs
geslaagde manier met die koopmanne aan
die Ooskus handel te dryf.
Maar toe, sê hulle, was daar ’n verskuiwing in die handelspatroon. Dit
het groepe ooswaarts op die Zimbabwe-plato
in staat gestel om die internasionale
handelswerk te benut. Die gevolg was dat
die Ryk van Groot Zimbabwe tot stand
gekom en van omstreeks 1250 tot 1450 n.C.
bestaan het.
Hoewel dit ’n verduideliking bied van
waarom Mapungubwe verswak sou gewees het,
verklaar dit egter nog nie waarom die
plek dan heeltemal ontruim is nie. Die
teorie is al geopper dat daar ’n ekologiese krisis kon gewees het. Miskien
het dit, saam met die verswakking in die
mag, die inwoners gedwing om pad te gee.
MAAR hoe is die glorieryke verlede van
Mapungubwe uiteindelik ontbloot en
daardeur aan die vergetelheid ontruk? Ook
dit is ’n interessante storie.
Die giftige tsetsevlieg in die omringende
Laeveld het in die negentiende eeu
beesboerdery baie moeilik gemaak vir die
plaaslike Ystertyd-gemeenskappe.
Gevolglik is die sogenaamde Greefswald-streek
in die verre noorde van omstreeks 1900
tot na die 1920's hoofsaaklik vir jag
gebruik.
Teen hierdie tyd het die ontdekking van
goud in klipruïnes noord van die Limpopo-rivier
prospekteerders en fortuinsoekers gelok,
wat ook na soortgelyke plekke suid van
die Limpopo gesoek het.
So is Mapungubwe in 1932 herontdek en het
die Greefswald- Argeologiese Projek van
die Universiteit van Pretoria tot stand
gekom. Vandag staan Mapungubwe daar as ’n nasionale erfenis en die bewys van
’n groot ondernemingsgees wat daar vroeg-vroeg
ook in Afrika geheers het.
Dit is opgerig deur die voorouers van
mense wat vandag lewe—’n baie spesiale
getuigskrif van vernuf en tradisie soos
ons dit ook op baie plekke in die
ontwikkelde wêreld vind.