|
IT
sal wonderlik wees,” het die skrander Franse romantikus aan sy geniale Poolse beminde geskryf,
“om saam deur lewe te gaan, gehipnotiseer deur ons
drome; jou droom vir jou land, ons droom vir die wetenskap. Saam kan ons
die mensdom dien.”
Profetiese
woorde. Trouens, die huwelik van die siels- en werksgenote Pierre en Marie
Curie sal nie net onthou word as een van die mooiste liefdesverhale van
die laat negentiende en vroeë twintigste eeu nie, maar deur hul
baanbrekerswerk sou hulle ook onskatbaar waardevolle kennis vir die
mensegeslag nalaat.
Maar
wie was hierdie baie besonderse egpaar? Laat ons veral konsentreer op die
merkwaardige lewe van die vrou in hierdie verhaal. Uiteindelik was dit
immers sy wat aan alle latere geslagte van navorsers gewys het hoe ’n
mens met kundigheid, maar bowenal entoesiasme en deursettingsvermoë,
werklik berge kan versit as jy net wil uithou en aanhou...
Marie
Curie,
née Maria Sklodowska, is
op 7 November 1867 gebore in Warschau, Pole, wat destyds ’n onvrye deel
van die tsaristiese Rusland was. Geen mens kon toe voorsien het dat
hierdie Pools-gebore bondeltjie nederigheid eendag as Franse fisikus wêreldroem
sou verwerf vir haar werk oor
radioaktiwiteit en dat die Nobelprys twee
keer aan haar toegeken sou word nie.
|
|
|
BO:
Nobel-medalje vir Fisika en Chemie.
Die
gesogte
Nobelprys—só
word dit toegeken
OBELPRYSE
is toekennings wat jaarliks gedoen word aan mense of instansies
vanweë uitmuntende bydraes in die loop van die voorafgaande
jaar op die terreine van die fisika, chemie, fisiologie of die
geneeskunde, die letterkunde, wêreldvrede en ekonomiese
wetenskappe.
Die pryse is die eerste keer op 10 Desember 1901 toegeken en
word befonds uit die rente van ’n trustfonds wat die Sweedse
skeikundige, uitvinder en filantroop Alfred
Bernhard Nobel (1833-1896) [REGS]
ingevolge sy testament vir die wêreld
se grootste presteerders nagelaat het. Ironies genoeg was
hierdie groot mensevriend ook die uitvinder van die dodelike
plofstof dinamiet en het hy ten tyde van sy dood baie
plofstoffabrieke oor die wêreld heen bestuur.
In sy testament het hy die grootste deel van sy boedel van nege
miljoen Amerikaanse dollar aan die trustfonds bemaak waarvan die
rente vir die jaarlikse Nobelpryse gebruik moes word.
Die tersaaklike deel uit Nobel se testament lees:
“Alles
uit die res van my vaste eiendom moet as volg toegedeel word:
die kapitaal, wat deur my eksekuteurs in veilige effekte belê
word, moet ’n fonds vorm waarvan die rente jaarliks uitgekeer
moet word in die vorm van pryse aan diegene wat in die vorige
jaar die grootste weldaad aan die mensdom bewys het. Die
genoemde rente moet in vyf gelyke dele verdeel word wat as volg
toegewys moet word:
•
een
deel aan die persoon wat verantwoordelik was vir die
belangrikste ontdekking of uitvinding op die terrein van die
fisika;
•
een
deel aan die persoon wat vir die belangrikste skeikundige
ontdekking of verbetering gesorg het;
•
een
deel aan die persoon wat die grootste ontdekking in die
domein van die fisiologie of geneeskunde gedoen het;
•
een
deel aan die persoon wat op die terrein van die letterkunde
die uitmuntendste werk van ’n idealistiese tendens gelewer
het;
•
en
een deel aan die persoon wat die meeste of die beste werk
gedoen het ter bevordering van broederskap tussen nasies,
vir die afskaffing of verkleining van staande leërs en vir
die hou en bevordering van vredeskongresse.
Die
pryse vir fisika en chemie moet deur die Sweedse Akademie vir
Wetenskappe toegeken word;
dié vir fisiologiese en mediese werke deur die
Karolinska-instituut in Stockholm;
dié vir letterkunde deur die Akademie in Stockholm;
en dié vir kampvegters van vrede deur ’n komitee van vyf
mense wat deur die Noorwse Storting (parlement van Noorweë)
gekies moet word.
Dit is my uitdruklike wens dat die nasionaliteit van die
kandidate hoegenaamd nie in ag geneem moet met die toekenning
van die pryse nie, maar dat die mees verdienstelikste een
die prys moet kry, of hy ’n Skandinawiër is of nie.”
Tot sover Nobel se
testament.
Benewens ’n bedrag geld ontvang elke Nobelpryswenner ook ’n
goue medalje en ’n diploma waarop die wenner se naam verskyn,
asook die veld waarin die persoon hom of haar onderskei
het.
Die fonds word deur ’n bestuursraad van ses lede van die
Nobel-Stigting beheer. Lede dien elk twee jaar lank in die raad.
Vyf van die ses lede word gekies deur die trustees van die
toekenningsliggame wat in Nobel se testament genoem word, en die
sesde word die Sweedse regering aangestel. Die ses lede is óf
Sweedse óf Noorse burgers.
In 1968, ter herdeking van sy driehonderdste bestaansjaar, het
die nasionale bank van Swede Die Bank van Swede-prys vir
Ekonomiese Wetenskappe ter Nagedagtenis aan Alfred Nobel
ingestel. Hierdie prys sou deur die Koninklike Sweedse Akademie
vir Wetenskappe toegeken word, wat ook die pryse vir fisika en
skeikunde toeken. |
|
|
Saam
met Henri Becquerel en haar man, Pierre Curie, sou sy naamlik in 1903 die
Nobelprys vir Fisika verower, terwyl sy in 1911 die alleenwenner van die
Nobelprys vir Chemie sou wees. (Lees
toeligtende artikel oor Nobelprys op die liggeel paneel langsaan.)
Marie
het van kleins af ’n wonderbaarlike geheue gehad. As sestienjarige jong
meisie het sy aan die einde van haar sekondêre opleiding aan ’n
Russiese staatskool ’n goue medalje verwerf. Omdat haar pa, ’n
onderwyser in wiskunde en fisika, sy spaargeld weens swak belegging
verloor het, moes sy uitspring en as onderwyseres gaan werk.
Terselfdertyd het sy
vrouewerkers heimlik aan die nasionalistiese “vrye universiteit”
in Pools onderrig, lynreg teen die wense van die Russiese besetters van
daardie tyd wat die Poolse taal en kultuur wou inkort en die Russiese taal
en kultuur wou bevorder.
Toe Marie agttien was,
het sy as goewernante (private onderwyseres) begin werk en in dié tyd in
’n ongelukkige liefdesverhouding betrokke geraak. Haar verdienstes het
haar in staat gestel om vir haar suster Bronia se mediese studies in
Parys, Frankryk, te betaal, met die veronderstelling dat Bronia agterna
weer vir háár sou help om geleerd te kom.
In 1891 het Marie haar
by haar suster in Parys aangesluit, waar sy aan die Sorbonne-universiteit
onder Paul Appel, Gabriel Lippmann en Edmond Bouty begin studeer het. Daar
het sy kennis gemaak
met sulke toe reeds bekende fisici soos Jean Perrin,
Charles Maurain en Aimé Cotton.
In haar solderkamer in
die studentekwartier het Marie tot diep in die nagte gewerk en feitlik van
brood-en-botter en tee gelewe. Sy was in 1893 die top-student in die
fakulteit vir fisiese wetenskappe. Marie het in Lippmann se
navorsingslaboratorium begin werk en was in 1894 die naasbeste student in
die fakulteit vir wiskundige wetenskappe.
REGS:
Pierre Curie.
Dit was in die eerste
helfte van hierdie jaar, in die Europese lente, dat sy Pierre Curie ontmoet het.
Die
“chemie” tussen haar en Pierre was net reg. In meer as een
opsig...
PIERRE CURIE was ’n
gebore Parysenaar en ’n briljante fisikus uit eie reg. Met sy eie
entoesiasme vir die natuurwetenskappe, was hy beslis ’n geestesvriend vir
die begeesterde meisie uit Pole. Pierre, wat sy skoling tuis van sy ouers
ontvang het, het daarna fisika aan die Sorbonne studeer.
Hy het hom in die
kristalkunde verdiep en in 1877 piësoëlektrisiteit saam met sy broer
Jacques ontdek. Die piësoëelektriese effek is die opwekking van ’n
elektriese potensiaal in sekere kristalle, soos byvoorbeeld kwarts,
wanneer hulle aan meganiese druk onderwerp word. Omgekeerd behels dit dat,
wanneer ’n elektriese veld op sekere vlakke van die kristal aangewend
word, die kristal meganiese distorsie ondergaan. Piësoëlektriese
kristalle word in byvoorbeeld platespelers en mikrofone gebruik.
Curie het fisika aan
’n aantal inrigtings doseer voordat hy in 1904 as professor aan die
Sorbonne aangestel is.
Pierre en Marie se troue
’n jaar ná hul ontmoeting (hulle is op 25 Julie 1895 in ’n eenvoudige
burgerlike seremonie in die eg verbind) was die begin van ’n huwelik van
intense liefde en intens gedeelde belangstellings. Dit het ook die begin
gekenmerk van ’n wonderlike vennootskap wat spoedig resultate van
internasionale betekenis sou oplewer, veral die ontdekking van die element
polonium—só deur Marie genoem ter ere van haar vaderland—in die
(noordelike) somer van 1898, en van die element radium ’n paar maande
later.
Ná Henri Becquerel se
ontdekking in 1896 van ’n nuwe verskynsel—wat sy later
“radioaktiwiteit” genoem het—het Marie Curie, wat na ’n
onderwerp vir ’n tesis gesoek het, besluit om uit te vind of die
eienskap wat in uraan gevind is, ook in ander stowwe aanwesig is. Sy het
vasgestel dat dit ook vir torium geld, teen dieselfde tyd toe G.C. Schmidt
dit gedoen het.
Marie het haar tot
minerale gewend en haar belangstelling is deur die uraanerts pikblende
geprikkel. Sy het agtergekom dat pikblende (ook pikglans of uraanpikerts
genoem) ’n besonder aktiewe mineraal
is en besef dat die aktiwiteit slegs verklaar kon word deur die aanname
dat klein hoeveelhede van ’n uiters aktiewe, ander onbekende
“iets” in die uraanerts aanwesig moes wees.
Pierre Curie het hom by
Marie aangesluit om die geheim te probeer ontrafel—en dit het tot die
ontdekking van die nuwe elemente polonium en radium gelei. Terwyl Pierre
hom hoofsaaklik tot die fisiese studie van die nuut ontdekte uitstralings
beperk het, het Marie behoorlik geworstel om suiwer radium in sy
metaal-toestand uit die uraanerts te onttrek. Dit is gedoen met die hulp
van die skeikundige A. Debierne, een van Pierre se studente.
Met die resultate van
hierdie navorsing het Marie Curie in Junie 1903 haar doktorsgraad in die
wetenskap verwerf en is sy en Pierre saam deur die bekende Britse
natuurwetenskaplike liggaam die Royal Society met die Davy-medalje vereer.
In dieselfde jaar het hulle saam met Becquerel die Nobelprys vir Fisika vir die ontdekking van
radioaktiwiteit ontvang.
Die geboorte van
haar en Pierre se twee dogters, Irène en Ève, in 1897 en 1904, kon nie
Marie se onverdrote wetenskaplike werkywer blus nie. Sy is in 1900 as
dosent in fisika aan die École Normale Supérieure vir meisies in Sèvres
aangestel en in Desember 1904 as hoofassistent in die laboratorium waarvan
Pierre Curie die hoof was.
DIE skielike dood van Pierre op 19
April 1906—hy is op straat deur een voertuig omgery waarna ’n ander
een oor sy kop gery het— was ’n bitter slag vir Marie. Toe sy die nuus
ontvang, het sy nie histeries ineengestort nie, nie eens in trane
uitgebars nie, maar asof in ’n dwaal oor en oor bly sê: “Pierre is
dood, Pierre is dood.” Haar sagte, uitdrukkingsvolle, ligblou oë was
nou vol verdriet.
Tog was Pierre se dood ook ’n
besliste keerpunt in Marie se loopbaan: voortaan sou sy al haar kragte
daaraan wy om vrou-alleen die wetenskaplike werk te voltooi wat sy en haar
man onderneem het.
REGS:
Nog ’n fotostudie van Marie Curie.
Op
13 Mei 1906 is Marie aangestel in die professoraat wat deur haar man se
dood vakant gelaat is. Sy was die eerste vrou wat aan die Sorbonne doseer
het. In 1908 het sy titulêre professor geword (’n professor wat die
titel het, maar nie die amp beklee nie), en in 1910 is haar fundamentele
verhandeling oor radioaktiwiteit gepubliseer.
LINKS:
Marie Curie toe sy in 1911 met die Nobelprys vir Chemie vereer is.
In1911 is die Nobelprys vir
Chemie aan haar toegeken, vir die isolasie van suiwer radium. In 1914 het
sy die voltooiing aanskou van die bouwerk aan die laboratoriums van die
Radium-Instituut (Institut du Radium) aan die Universiteit van Parys.
Regdeur die Eerste Wêreldoorlog
het Marie Curie, met die hulp van haar dogter Irène, haar aan die
ontwikkeling van die gebruik van X-radiografie gewy. In 1918 het die
Radium-Instituut, waar Irène haar by die personeel aangesluit het, in
erns met sy werksaamhede begin waarna dit mettertyd ’n universele
sentrum vir kernfisika en chemie sou word.
REGS:
’n Illustrasie van Marie Curie wat met proewe in die laboratorium besig is.
Marie,
nou op die toppunt van haar roem, en van 1922 af ’n lid van die Akademie
vir Geneeskunde, het haar navorsing aan die chemie van radioaktiewe stowwe
en die mediese aanwending van hierdie stowwe gewy.
In 1921, vergesel deur haar twee
dogters, het sy ’n triomfantelike reis na die VSA onderneem, waar pres.
Warren G. Harding, die Amerikaanse president van 1921 tot 1923,’n gram
radium aan haar oorhandig het wat gekoop is met geld wat onder Amerikaanse
vroue gekollekteer is.
Marie het ook lesings aangebied,
veral in België, Brasilië, Spanje en Tsjeggo-Slowakye. Sy is deur die
Raad van die Volkerebond (die voorloper van vandag se Verenigde Nasies)
tot lid van die Internasionale Kommissie oor Intellektuele Samewerking
benoem. Op die koop toe kon sy met genoeë toekyk hoe die Curie-Stigting
in Parys ontwikkel, asook in 1932 die opening beleef van die
Radium-Instituut in Warschau, Pole, waarvan haar suster Bronia die hoof
geword het.
Een van Marie Curie se uitstaande
prestasies was dat sy die behoefte begryp het om genoeg radioaktiewe
materiaal vir sowel geneeskundige behandeling as navorsing in die
kernfisika te akkumuleer. Die opgehoopte voorraad van ’n skamele maar
geweldig kosbare 1,5 gram radium in
die Radium-Instituut in Parys het ’n beslissende rol gespeel in die
sukses van proefnemings wat omstreeks 1930 gedoen is, veral dié van die
Currie-dogter Irène en haar man Frédéric Joliot, met wie sy in 1926
getroud is.
Hierdie werk het die weg gebaan
vir die ontdekking van die atoomdeeltjie die neutron deur sir James
Chadwick en bowenal die ontdekking in 1934 van kunsmatige radioaktiwiteit
deur Irène Currie en Frédéric Joliot.
’n Paar maande ná hierdie ontdekking, op 4 Julie 1934, is Marie Curie
in Sallanches, Frankryk, oorlede aan leukemie wat deur bestraling
veroorsaak is. Haar bydrae tot die fisika was enorm, nie net in haar eie
werk nie, maar ook vanweë haar invloed op geslagte van kernfisici en
skeikundiges.
Dekades later, in 1995, is Marie
Curie se as vir bewaring in die klassieke monument die Panthéon in Paris
weggesluit (vroeër die Kerk van Sainte Geneviève en nie te verwar met
die Pantheon in Rome nie). Marie was die eerste vrou wat vir haar eie
prestasies op dié wyse vereer is.
En vandag wonder die wêreld
steeds wat nou eintlik die grootste was—haar epog-makende wetenskaplike
verowerings of die edelheid van haar besonder beskeie lewe wat vervulling
in die avontuurlikheid van die wetenskap gevind het.

In die spoor van ma en pa...
REGS: Irène
Joliot-Curie (1897–1956), befaamde dogter van Marie en Pierre Curie en
vrou van Frédéric Joliot-Curie (ná hul huwelik in 1926 het hulle albei
hul van na Joliot-Curie verander). In navolging van Irène se besonder
beroemde ouers, is die egpaar Joliot-Curie self in 1935 gesamentlik met
die Nobelprys vereer, en wel met die Nobelprys vir Chemie vir hul
ontdekking van kunsmatige radioaktiwiteit. Dit maak van die Curies die
familie met die meeste Nobelpryswenners tot op hede. Altwee die kinders
van Irène en Frédéric Joliot-Curie, naamlik Hélène and Pierre, is boonop
ook gesiene wetenskaplikes.
•
Ève
Denise Curie Labouisse (gebore 6 Desember 1904, oorlede 22 Oktober
2007). die ander dogter van Marie en Pierre Curie, het byna-byna 103
jaar oud geword. Sy was ’n joernalis wat ’n trefferboek oor die lewe van
haar ma geskryf het.
|