|
Foto's: NASA en ESA |
|
IT
is al die laaste grens van die menslike ondernemingsgees genoem: die
droom om eendag mense op Mars te laat land. Ons poolstreke is lankal
oormeester, ook ons hoogste berg, Everest, en reeds in 1969 het die mens seëvierend
sy vlag op ons natuurlike satelliet, die Maan, geplant.
Dit
het dekades gelede reeds begin toe die Mariner-snuffeltuie (1964-1971)
die oppervlak van Mars gefotografeer het. Hulle het ook die atmosfeer bestudeer, die yslike
berg Olympus Mons daar ontdek en die teorie die nek ingeslaan dat daar
kunsmatige kanale is. Boonop is getuienis teruggesein van oppervlakwater op
die planeet. In die middel van die jare sewentig het die Viking-sendings Mars met sowel onbemande wentel- as landingstuie verken. Beelde van die Mars-oppervlak is aarde toe gesein en daar is na tekens van lewe in die grond gesoek. Ofskoon daar geen sulke tekens gevind is nie, bly sekere wetenskaplikes nog altyd optimisties dat dié getuienis uiteindelik gekry sal word—moontlik selfs diep verskuil in die skeure van Mars. Eers
in 1997, ná ’n baie lang afwesigheid, het die Amerikaners deur
middel van hul robot-tuie na Mars teruggekeer. Die Pathfinder-sending
met sy klein karretjie wat van rots tot rots gery en die gesteentes
“bevoel” het, het ook weer die belangstelling van gewone mense in die
verkenning van die ruimte laat opvlam. Toe kom daar egter ’n terugslag: twee nuwe verkenningstuie, wat in 1999 onder meer die atmosfeer, oppervlak en ysdekke by die pole van Mars moes gaan monitor en selfs die grond daar moes gaan omdolwe om daaraan te “proe”, het kennelik albei vergaan sonder om hul take te verrig. Die twee snuffeltuie sou ook antwoorde moes probeer vind op die tergende vrae oor die oseaan of oseane van Mars. Hierdie watermassas het volgens alle aanduidings in die verre verlede bestaan, maar toe geheimsinnig verdwyn. Gelukkig vir die navorsers is die snuffeltuig Phoenix in November 2008 met volle eer uit die diens op Mars ontslaan nadat hy die heel eerste “boorling” van planeet Aarde geword wat nog ooit van ons buurplaneet se vrieskoue water “gedrink” het. Hy moes onder meer gaan vasstel of die noordpoolgebied van Mars enigsins lewe kan onderhou. Hy het van die Marsgrond opgeskep, dit ontleed en die resultate na die Aarde gesein. Wat Phoenix alles gevind het, sou oor ’n lang tyd verder ontleed moes word—maar uiteindelik moet dit vir talle geleerdes baie duideliker wees dat ons slegs deur middel van menselandings baie van die vrae oor Mars sal kan beantwoord. Ook daarom leef die mens se droom steeds voort om Mars persoonlik te gaan verower. Goed, vanweë die geweldige koste van só ’n projek—sekerlik honderdduisende miljoene Amerikaanse dollars—word die datum steeds uitgestel, maar daar is nou sprake van 2035 of daar iewers. Die groen mannetjies wag darem nou al bitter lank op ’n ontmoeting met ons... Dis nie dat baie mense nog dink dat daar rêrig iets soos groen mannetjies op die Rooi Planeet kan wees nie. Dit kon fiksieskrywers straks die liggelowiges ’n geslag of twee gelede nog wysmaak, maar nie meer nie! Selfs groen mannetjies, weet ons vandag, sal baie meer as net die blouapiestuipe kry as hulle in die ongure temperature van Mars probeer oorleef. Daardie planeet is mos ’n onherbergsame, ysige wildernis, waar die gehardste Eskimo binne oomblikke tot ’n klipharde yspilaar sal stol. En die atmosferiese druk op die oppervlak is baie min—slegs gelyk aan dié op ’n hoogte van 35 km in die aarde se atmosfeer.
Tog kan daar net miskien-miskien iewers verskuilde mikrobes of sulke goetertjies diep in die canyons wees. Dié sal egter waarskynlik slegs deur vindingryke menslike ruimtevaarders in die haas onbereikbare skeure opgespoor kan word. Robotte, wat verskeie minute sal moet wag op radio-opdragte om hulle van die Aarde af te bereik, sal eenvoudig nie blitsig genoeg kan reageer waar dit nodig is nie en bes moontlik hopeloos in só ’n oefening faal. Daarom dat die Amerikaanse ruimteagentskap NASA hom steeds knaend beywer vir die eerste menslike besoek aan Mars, miskien teen 2035 of so. Om
dit te kan bewaarheid, het ’n groep NASA-ruimtevaarders, wetenskaplikes
en navorsers hulle reeds begin voorberei vir toekomstige
verkenningstogte na die planeet.
’n
Tyd gelede
het die eerste span, onder aanvoering van dr. Pascal Lee, ’n
planetêre wetenskaplike, daar aangekom en met gesimuleerde
ontdekkingstogte van Mars begin. Daar is toe beoog om spanne op ’n
rotasiegrondslag soontoe te stuur. Só
sou ses mense op ’n keer tot agt weke lank in beknopte toestande lewe op
die verlate rand van ’n krater wat merkwaardig met die
kraters op Mars ooreenstem.
Die
manne gaan in hul ruimtepakke uit om te verken en rotsmonsters te
versamel—alles baie naby aan soos dit op Mars sal wees. Maar tog ook nie rêrig nie. Geen plek op aarde, hoe ongenaakbaar ook al, kan werklik die klimaat ewenaar van ons buurplaneet waar ’n verskriklike, superkoue —275 grade C feitlik die norm in die winter is nie. Soos ’n vindingryke woordespeler dit beskryf: "Voordat jy nog kan dink om te bibber, boetie, is jy bokveld toe. En dis ’n bokveld wat jy nie eens naastenby met ons Koue Bokkeveld kan vergelyk nie..."
|
|
|
|
|
|
|