Thabo Mbeki

Lewensverhaal van die SA president
 

 Pres. Thabo Mbeki

BO: Mnr. Mbeki tydens ’n besoek aan die Wit Huis, ampswoning van die Amerikaanse president.

Foto: Paul Morse / White House, U.S. Gov. (geretoesjeer en gewysig)
  

Pa Govan Mbeki was so ’n stoere aktivis dat hy selfs sy gesin aangemoedig het om die African National Congress as hul familie te beskou. Van die vier Mbeki-kinders was dit Thabo wat sy pa se wens tot op die letter sou uitvoer...


 LET WEL:
Mieliestronk-artikel op web uitgepos op 11 Oktober 2007. Dit is geskryf met die doel om feitelike inligting oor die lewe van die president van Suid-Afrika te verskaf, veral vir leerders wat dit as skoolprojek-materiaal kan benut, en moet nie gelees word as steun vir of die teendeel rakende enige organisasie of politieke party of enige persoon wat polities daarby betrokke was of is nie.


 

 

Pres. Thabo MbekiLINKS: Pres. Thabo Mbeki (18 Junie 1942 -    ).

 

Foto: Antonio Milena / ABr

  

 

D

IT is midde-in die Tweede Wêreldoorlog. Juniemaand. Winter in Idutywa, ’n dorpie in die middel van nêrens tussen Bisho en Umtata in die Oostelike Provinsie (die latere Oos-Kaap).

 

Klein Thabo Mvuyelwa Mbeki gee sy eerste skril skreeutjie in die kil Suid-Afrikaanse lug van onvryheid, soos dit deur sy ouers belewe word.

 

Niemand is nog bewus van die belangrike rol wat hierdie suigeling later in die politiek van die hele Afrika sal speel nie. Sy pa en ma, soos alle ouers van welgeskape pasgeborenes, is maar net verheug dat hul nuwe bondeltjie vreugde klaarblyklik gesond is.

 

Van die verwoestende bombardemente en geskal van die groot oorlog waarby lande regoor die aardbol betrokke is, is daar weinig eggo’s hier op die afgeleë platteland.

 

Van die opwellende verset in Thabo se ouerhuis teen die “onregverdige oorheersing deur ’n blanke minderheid” is daar wel kennelike aanduidings. Iewers in Thabo se kindertyd hang daar selfs ’n portret van die Indiese stryder vir menseregte Mohandas Gandhi aan die muur. Dit alleen spreek al boekdele.

 

Dis duidelik ’n huis van opgevoede mense. Pa Govan Archibald Mvuyelwa Mbeki is immers ’n oud-student van die Universiteit van Fort Hare, wat hy ná 1936 verlaat het met ’n B.A.-graad in staatsleer en sielkunde sowel as ’n onderwysdiploma in sy portefeulje. Ook ma Epainette Mbeki is ’n onderwyseres.

 

Dis nietemin Govan se politieke aktivisme wat sy doen en late oorheers. Hy glo so sterk in sy oortuigings dat hy sy gesin aanmoedig om die African National Congress as hul familie te beskou. Van die vier Mbeki-kinders is dit Thabo wat sy pa se wens tot op die letter sal uitvoer. Hy sluit hom op veertienjarige ouderdom reeds by die organisasie aan en wy daarna sy hele lewe aan die ANC.

 

REGS: Wyle pa Govan Mbeki (1910-2001) ... hy sou in sy lewe ’n duur prys betaal vir sy verset. Ná die sogenaamde Rivonia-verhoor is hy in 1964 weens beweerde hoogverraad vir 24 jaar opgesluit, saam met Nelson Mandela, Walter Sisulu en ander ANC-leiers.

Govan Mbeki

 

Seun Thabo is ’n skrander leerling. Hy is ook die enigste lid van die gesin—sal later vertel word—wat dit kan regkry om hul steeks muil met die naam Bles te beheer wat vir hulle proviand van die winkel af moet dra. En tuis lees hy al die boeke waarop hy sy hande kan lê. Trouens, as tienjarige is hy reeds besonder belese vir sy ouderdom.

 

Hy besoek die laerskole van Idutywa en Butterworth en is op Lovedale, Alice, in die hoërskool. Maar hy maak soos sy pa hom geleer het. Hy sal nooit net geduldig kan verdra wat hy as ’n onreg beskou nie.

 

Weens sy leidende rol in ’n staking van leerders word hy in 1959 uit die skool geskors en is hy dus verplig om sy studies tuis voort te sit. In dieselfde jaar skryf hy matriek aan die St John’s High School in Umtata.

 

In 1960 word die ANC as ’n organisasie deur die Nasionale Party-regering verbied. Thabo Mbeki raak in die latere Gauteng-provinsie betrokke by verskillende ondergrondse bedrywighede, en in 1961 help hy om leerders en die jeug te mobiliseer vir ’n wegbly-aksie uit protes teen die republiekwording van Suid-Afrika. Hy word in Desember 1961 tot sekretaris van die African Students’ Association verkies.

 

Nadat hy die Britse A-vlak-eksamen met welslae aflê het, skryf hom oor die pos in aan die Universiteit van Londen om as eksterne student in die ekonomie te studeer.

 

Maar die ANC voel in hierdie stadium dat hy en ander jong mense liewer die land moet verlaat om opleiding in die buiteland te ontvang. In 1962, ’n jaar voor die inhegtenisneming van sy pa, gaan hy eers kortliks na die Afrika-state Suid-Rhodesië en Tanganjika (tans Zimbabwe en Tanzanië onderskeidelik) voordat hy hom na Brittanje wend. In 1966 verwerf hy sy meestersgraad in die ekonomie aan die Universiteit van Sussex.

 

Mbeki werk van 1967 tot 1970 in die Londense kantoor van die ANC en in hierdie tyd ontvang hy ook militêre opleiding in die destydse Sowjet-unie. Van 1971 tot 1978 word hy vir verskillende inisiatiewe van die ANC in Afrika gebruik en bevind hy hom in Zambië, Mosambiek, Nigerië, Botswana en Swaziland. Een van sy take is die skepping van ondergrondse strukture van die in Suid-Afrika verbode organisasie.

 

Tydens sy verblyf in Swaziland om daardie land se ANC-hoofkwartier te organiseer, maak hy kennis met Zanele Dlamini van die Women’s Development Bank. Hulle voel sterk aangetrokke tot mekaar. In 1974 trou hulle. Zanele, die dogter van ’n pastoor, het in Alexandra grootgeword, die geboorteplek van heelparty van Suid-Afrika se aktiviste. Sy het die graad B.Sc. aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf en haar meestersgraad aan die Universiteit van Londen. (Kwanda Mpahlwa, Mbeki se seun uit ’n vorige verhouding, sou as uitgewekene in 1980 vermis raak en sy lot is steeds nie bekend nie.)

 

Mev. Zanele MbekiLINKS: Mev. Zanele Mbeki.

 

Foto: White House / U.S. Gov. (gewysig)

 

In 1978 word Mbeki as politieke sekretaris in die kantoor van die president van die ANC aangestel. Hy word in 1984 bevorder tot  direkteur van die departement van inligting en publisiteit, 'n pos wat hy tot en met 1989 hou.

 

Intussen is denkende blanke Suid-Afrikaners aan alle kante van die politieke spektrum, selfs aan heeltemal die ander kant as Mbeki-hulle, met ernstige introspeksie besig. Die besef raak naamlik ál sterker dat die blanke in alle billikheid, maar ook vir sy eie oorlewing, nie veel langer aan sy bevoorregte posisie in Suid-Afrika durf vasklou nie.

 

Mbeki is ’n lid van die afvaardiging wat in 1985 lede van die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap in Mfuwe, Zambië, te woord staan. In 1987 lei hy weer ’n ANC-delegasie na Dakar, Senegal, vir samesprekings met ’n afvaardiging van die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (IDASA).

 

Met sy kameraadskaplikheid en intellek oortuig hy enersyds Westerse regerings om sanksies teen Suid-Afrika in te stel in die isolasie-jare, maar haal hy andersyds ook Afrikanerleiers oor om die onvolhoudbaarheid van apartheid te aanvaar.

 

Van 1989 af staan hy aan die spits van die ANC-afvaardiging wat geheime samesprekings met die Suid-Afrikaanse regering voer—hoogs belangrike beraadslagings wat op ooreenkomste uitloop oor die ontbanning van die ANC en die vrylating van politieke gevangenes. Mbeki neem deel aan alle daaropvolgende onderhandelings wat tot die aanvaarding van die tussentydse grondwet van die nuwe Suid-Afrika lei.

 

Die nuwe Suid-Afrika word in 1994 met groot fanfare deur die hele wêreldgemeenskap ontvang. F.W. de Klerk, gewese president in die tyd van apartheid, en Mbeki beklee altwee die amp van adjunk-president onder pres. Nelson Mandela. Mbeki bly adjunk-president tot 1999, toe die mantel van Mandela op hom val en hy die nuwe Suid-Afrikaanse president word.

 

In 1999 ontvang hy ’n ere-doktorsgraad van die Randse Afrikaanse Universiteit en in 2000 ’n ere-doktorsgraad in die regte van die Glasgow Caledonian University.

 

Mbeki is ’n groot verkondiger van die idee van die sogenaamde Afrika-Renaissance, soos hy dit ook uitspel in sy boek Africa: Your Time Has Come. In sy hoedanigheid as onvermoeide vredemaker in Afrika, moeilik soos dit is, het hy hom eweneeens nie onbetuig gelaat nie. Oor sy hantering van krisisse soos die vigs-pandemie, die Zimbabwe-fiasko en die misdaadsituasie in ons land is hy egter al uit verskillende oorde erg geroskam.

 

Maar toe hy destyds by Mandela moes oorneem, moet Mbeki geweet het dat daar meer as ’n formidabele taak op hom wag. Hy sou mos nooit in die skoene van die geliefde Madiba-figuur pas nie. Dog waarin hy hom wel onderskei het, was om die respek van vriend en vyand af te dwing. En Suid-Afrikaners hou angstig asem op oor wie Thabo Mbeki kan opvolg wanneer sy tweede termyn as president van die land in 2009 verstryk.

 

•  Die verkiesing in Desember 2007 van mnr. Jacob Zuma, gewese adjunk-president van Suid-Afrika, tot president van die ANC, kan nuwe verwikkelinge tot gevolg hê. Zuma het Mbeki oortuigend verslaan in ’n stemming op die ANC-kongres in Polokwane.

 

Mnr. Jacob ZumaLINKS: Mnr. Jacob Gedleyihlekisa Zuma, populistiese nuut verkose president van die ANC, wat aspireer om mnr. Mbeki as president van die land op te volg, maar wie se drome dalk verydel kan word deur die swaard van hoogs omstrede bewerings wat oor sy kop hang.

 

Foto: Kopiereg © Government Communication and Information System, www.gcis.gov.za. Gebruik van foto word vir enige doel vergun mits die kopiereghouer duidelik aangedui word.


 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad