|
Vroeë
mense en antieke beskawings (1)
|
||
|
Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
IE
man met die wilde bosgasie-baard hurk in die skaduwee van ’n boom.
Skielik—dalk weens verveling, dalk weens frustrasie—gryp hy ’n
klip. Hy moker ’n ander klip daarmee dat die gruis en vonke so spat. Maar
kyk net wat het daar afgesplinter. Dis mos ’n plat klip met ’n
vlymskerp kant. Opgewonde neem hy dié skerp klip na sy stamgroep, waar
hulle agterkom hoe nuttig dit is om kos mee te sny. Hulle maak nog sulke
snyklippe. En
hulle besef dat hulle nóg bruikbare gereedskap kan maak deur klippe te
bewerk. Vir
hierdie mense het die Steentyd van hul ontwikkeling begin...
Foto: U.S. National Park Service Stadiums
van beskawing
•
IN hul vroegste tye, só sê die wetenskaplikes, het mense
nog
in ruwe onbeskaafdheid rondgeswerf en primitiewe gereedskap gemaak. Vandag
lanseer ons satelliete in wentelbane, kan ons met kernwapens veg as ons
so onbesonne wil wees en los ons ingewikkelde probleme binne oomblikke
met gesofistikeerde rekenaars op. Om slegs te sê dinge het verander
laat ’n mens amper lag. Die
term wat ons gebruik om die verfyndheid van gemeenskappe in ’n
verwikkelde kulturele, maatskaplike en politieke samestelling te
beskryf, is beskawing. Maar hoe loop die ontwikkelingspad tot by beskawing? Geleerdes onderskei verskillende stadiums van menslike ontwikkeling. Eerstens is daar die Steentyd, met sy onderafdelings, en dan die Bronstyd en die Ystertyd. Dit het alles te doen met die soort materiaal waarmee die mens sy gereedskap gemaak het.
Foto: U.S. National Park Service. Die
Steentyd word in die volgende tydperke ingedeel: (1)
Die Vroeë Steentyd, wat die hele voorgeskiedenis tot omstreeks 8000 vC
dek. Mense van hierdie tydperk was jagter-versamelaars. (2)
Die Middelsteentyd, toe mense diere begin aanhou en, benewens gejag, ook
self gesaai het. (3)
Die Laat Steentyd, toe boerdery in erns begin en mense in permanente
nedersettings begin woon het. Die
Bronstyd het op verskillende tye in verskillende gebiede begin. Die
eerste bronsgereedskap het, sover bekend, omstreeks 3 500 vC hul
verskyning gemaak. Die
wydverspreide gebruik van yster het nagenoeg 1000 vC begin, duur steeds
voort, en die Ystertyd oorvleuel dus tans met die Atoomtydperk. Dit
is belangrik om daarop te let dat die veranderings van die een tydperk
in die volgende nie skielik of oral gelyktydig gebeur het nie.
Steengereedskap is byvoorbeeld regdeur die Bronstyd gebruik, terwyl die
Bronstyd en die Ystertyd in ’n sekere stadium oorvleuel het. Op
sekere plekke, soos Suider-Afrika, was daar weer glad geen Bronstyd nie. Ystye
•
IN die Steentyd was daar twee en moontlik
vier
ystye, en die voorwêreldlike mense het op ’n planeet gewoon wat baie,
baie koud geword het. Groot
dele van die aarde was met enorme ysvlaktes of gletsers bedek. Slegs
Afrika, Suidoos-Asië en die grootste deel van Suid- en Sentraal-Amerika
het die wrede omhelsing van die verskillende
ystye
vrygespring.
Foto: USGS / NASA Wetenskaplikes
reken die eerste mense was in Afrika. Die landskap hier het maar baie
gelyk soos dit vandag is, met grasvlaktes en verspreide bome. Mettertyd
het mense na ander dele van die wêreld begin uitwyk. Dit was heeltemal
moontlik, want die meeste van die wêreld se water was in ysdekke en
gletsers vasgevang, met die gevolg dat die seevlak baie laer was as wat
dit vandag is. Ontsaglike landbrûe het vastelande verbind wat vandag
deur
oseane geskei word. Mense
in Europa kon na Brittanje loop. Indiane kon Noord-Amerika vanuit Asië
bereik deur die Beringstraat oor te steek. Teen
omstreeks 11 000 jaar gelede, nadat die aarde warmer geword het, was
elke vasteland buiten Antartika bewoon. Gereedskap
•
HOEWEL stowwe soos hout en been gebruik is om gereedskap te maak,
was klip natuurlik die volopste. Omdat dit nie gou verslyt nie, kry ons
die meeste van ons kennis omtrent die voorwêreldlikse lewenswyse uit
nagelate klipgereedskap. Die
maak van gereedskap het die grondslag gelê vir die ontwikkeling van die
tegnologie. Intelligensie en abstrakte denke is nodig om ’n stuk
gereedskap te vervaardig en daarby het die mens kennelik gewys dat hy hom by sy omgewing kan aanpas. Die
eerste gereedskap was eenvoudige werktuie met ’n skerpgemaakte
kant—gebruik om vleis te sny en bene oop te kraak om by die murg uit
te kom. ’n Baie lang ruk in die mensegeskiedenis was daar geen ander
gereedskap nie. Tog
word die gereedskap geleidelik fyner
afgewerk,
en in
Oos-Asië en Oos-Europa
raak kapgereedskap
gewild.
Dié is klein,
plat klippe wat aan
weerskante
skerp gemaak is
en
partykeer ’n ruwe punt vorm. In
Afrika, Wes-Europa en Wes-Asië word handbyle gemaak. Dié is baie net
soos die kapgereedskap, maar meer verfynd.
BO:
’n Byl van klip met ’n houtsteel wat met riem Foto: U.S. National Park Service Eindelik
raak die gereedskap meer gespesialiseerd. Mense kom agter dat
afsplinterings van die bewerkte klippe as ander nuttige instrumente
gebruik kan word. Nog
millenniums verstryk en lang, dun kliplemme verskyn op die toneel. Dié
word as messe en pylpunte gebruik. Baie klein gereedskap, mikroliete
genoem, word later gemaak. Dit word
as snykante vir pyle, sekels, spiese en ander wapens gebruik. Wapens
•
AANVANKLIK is die meeste gereedskap vir verdediging gebruik en om
kos te sny, maar klippe is selde vir jag gebruik. (Mettertyd verander
dit egter ook.) Onder die bekendste wapens is ’n spies met ’n punt van klip of been, die pyl en boog (wat vandag nog deur die San gebruik word) en die spieswerper, ’n instrument wat die gebruiker in staat gestel het om ’n spies met meer krag en presisie te rig. Teen omtrent dieselfde tyd het been-vishoeke en harpoene hul verskyning gemaak.
Jagters
en versamelaars
•
REGDEUR feitlik die hele
Steentyd
het die mense geleef
van
wilde plante en die wilde diere
wat
hulle gejag het. Aanvanklik
moes
hulle tevrede wees met ’n
spyskaart
van voëls, klein reptiele
en
soogdiere en van verlate karkasse. Toe
spiese hul verskyning maak en metodes ontwikkel word om diere
met
strikke te vang, word grootwild die teiken: olifante, sebras, elande,
wildebeeste en buffels in Suider-Afrika en die wolhaar-mammoet,
grotbeer, oeros en hert in Europa.
Foto: U.S. National Parl Service Beenoorblyfsels
dui daarop dat mense die vleis van diere geëet en dikwels die bene
oopgebreek het om by die murg te kom. Daar
is getuienis dat mense wat aan die Suid-Afrikaanse kus gewoon het,
skulpvis, walvisse, robbe en pikkewyne geëet het en binnelandse
oewerbewoners ’n menigte waterdiere. Dis
nie so maklik om vas te stel presies watter plantkosse die
vroeë
mense geëet
het nie, omdat die
oorblyfsels
nie so goed behoue
gebly
het soos die dierebene nie.
Hulle
het waarskynlik vrugte, neute, wortels, knolle, sade en blare
geëet. Vuur
•
VUUR moet in die vroegste tye vir mense ’n skrikwekkende
natuurkrag gewees het. Maar nadat hulle ontdek het dat vuur hulle warm
kan maak, dat hulle roofdiere daarmee kon afskrik en dat hulle hul kos
daarmee kon "kook", het hulle lustig die vure aangeblaas. Hulle
het besef dat ’n vonk gemaak kon word deur twee klippe teen mekaar te
skuur. Later is ook stokke hiervoor gebruik.
REGS: Vuur is gemaak deur ’n stokkie vinnig tussen die hande heen en weer te vryf bo-op ’n ander stukkie hout. Op dié manier is vuurkooltjies gemaak waarmee ’n vuur aangeblaas kon word. Hierdie metode van vuurmaak word vandag nog gebruik deur byvoorbeeld nomade soos die San (Boesmans). Foto: U.S. National Park Service |
||
|
Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf |