|
Vroeë
mense en antieke beskawings (5) Egipte
|
|||||
|
Die sfinks-foto is ’n historiese foto wat vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom as openbare besit (“in the public domain”) beskou word; die oorspronklike is ’n swart-wit foto wat hier digitaal verkleur is
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com
N
Egipte gaan die vroue mark toe en verkoop die produkte, terwyl die
mans tuis bly en weef. Egiptiese mans dra vragte op hul koppe, die
vroue op hul skouers. Die vroue urineer staan-staan, die mans terwyl
hulle sit..." Só
het die Griekse geskiedkundige Herodotus in die laaste helfte van die
vyfde eeu voor Christus oor ’n besoek aan Egipte geskryf. Oor
hoe noukeurig sy waarnemings was, kan ’n mens nog redeneer en straks
glimlag, maar nie oor Egipte se enorme plek in die wêreldgeskiedenis
nie. Die
land van die farao’s was trouens die bakermat van een van die wêreld
se heel grootste beskawings, waarvan nie net die geskrifte van
waarnemers soos Herodotus getuig nie, maar ook ’n duisternis van
argeologiese monumente en artefakte. In hierdie aflewering, die eerste oor Ou Egipte, word die hooffaktore wat tot die land se beskawingsontwikkeling gelei het, en sy geskiedenis bespreek.
Foto:
New York State Archives / PD Die
vorming van ’n nasie
•
TALLE faktore het tot die ontstaan van die Egiptiese beskawing
en die land se welvaart bygedra. Die meeste geskiedkundiges benadruk
egter twee belangrike invloede: die besonderse geografie van die land
en die ou Egiptenare se onwrikbare geloof in die hiernamaals. Egipte
is ’n baie groot woestynland met die Nyl wat regdeur die land
keep. Vanweë swaar reëns in sy opvanggebied het die rivier een keer
per jaar sy walle oorstroom. (Sedert die bou van die Aswan-hoogdam
gebeur dit nie meer nie.)
Nadat
die water weggesink het, is ’n strook ryk, vrugbare grond van sowat
10 km breed weerskante van die rivier agtergelaat. Die Egiptenare het
van die Swart Land gepraat omdat die grond so donker was. Die land
anderkant dit is die Rooi Land genoem. Waar
hulle die rivier behoorlik benut het deur dyke te bou, kanale te grawe
en ander bewaringspraktyke toe te pas, was die boere feitlik elke jaar
verseker van ’n vet oes. Maar
die Nyl was meer as net ’n bron van vrugbare grond en
besproeiingswater. Goedere is ook daarlangs vervoer—in groot maat en
baie doeltreffender as wat dit met kamele gedoen kon word. Dit het
selfs die Egiptenare aangespoor om ’n kanaal tussen die Nyl-delta en
die Golf van Suez aan te lê en seewaardige skepe te ontwikkel. Alles het
die handel bevoordeel. Vername
stede soos Memphis en Thebes en ander vooruitstrewende nedersettings
het aan die rivieroewers verrys, en hawens soos Rosetta en Alexandrië
het tot stand
gekom. Die
tweede belangrike dryfveer in die Egiptiese beskawingsontwikkeling was
die geloof dat die lewe anderkant die graf ’n voortsetting van die
aardse lewe is. Dit het tot talle praktyke rondom die dood en
begrafnisse gelei. Die
mummifikasie van die liggaam is as waarborg vir ’n lewe hierna
beskou. Die lyk is gebalsem, gedroog en in linne toegedraai. Hierna is
dit gekis en die doodkis in ’n grafkelder geplaas. Die
studie van mummies het ons kennis van die ou Egiptenare baie verryk.
Ons weet byvoorbeeld wat hulle geëet en aan watter siektes hulle gely
het. Die
Egiptenare het ook geglo dat waardevolle aardse besittings in die
hiernamaals gebruik kon word en verskeie dinge—van kos, drank,
juwele en klere tot wapens en gereedskap—is in die grafkelders
gelaat. In die rykes se kelders
was
daar selfs standbeelde van knegte wat hulle kwansuis kon bedien. ’n
Ingewikkelde stel gebede en towerspreuke is ontwikkel en op papirus
neergeskryf met aanwysings aan die oorledene wat om te doen wanneer hy
voor die laaste oordeel te staan kom.
Die
Egiptenare se godsdienstige oortuigings het hulle ook aangespoor om
tempels en monumente te bou. Die tempel by Karnak, byvoorbeeld, wat
ter ere van die songod Amun-Ra gebou is, is die grootste tempel in
die land met meer as 130 suile van sowat 24 m hoog. Die
bou van die piramides was waarskynlik so geslaag omdat die mense hul
harde werk as toegewydheid aan die farao’s beskou het. In ’n
piramide was daar ’n geheime kamer vol skatte waar die lyk van die
koning was.
Die
beroemde Piramides van Giza, naby Kaïro, bestaan uit tien
afsonderlike piramides waarvan drie die grootste in Egipte is. Die
farao’s is reeds baie vroeg as gode beskou, maar die ou Egiptenare
het ook nog baie ander gode en godinne gehad.
Foto: U.S. National Endowment for Humanities Geskiedenis •
DIE groot beskawing van antieke Egipte het sowat vyfduisend
jaar gelede in die vallei van die Nylrivier ontstaan, omstreeks 3100
v.C.. Meer as
tweeduisend jaar lank het dit gefloreer tot 1070 v.C. en teen
omstreeks 30 geëindig. Dit was een van die langdurigste
beskawings in die mensegeskiedenis. Die
eerste Egiptenare was jagters en herders wat naastenby seweduisend
jaar gelede van die hooglande na die Nylvallei afgetrek het. Hulle het
naderhand agtergekom dat hulle saad kon saai nadat die rivier sy walle
oorstroom het. Skape en bokke is ook getem, dekkings van klei en riete
gebou, potte gemaak en vlas geweef. Mettertyd
het hulle in gevestigde en geordende gemeenskappe begin woon. Dit
was eers net in gehuggies, maar gaandeweg het dié tot stede,
distrikte en uiteindelik koninkryke aangegroei. Die lewe het
ingewikkelder begin raak en die ambagte en ander nerings meer geskoold
en gespesialiseerd. Teen
omstreeks 3400 v.C. het Egipte twee hoofkoninkryke gehad: Opper- en
Benede-Egipte. Dié toedrag van sake het sowat driehonderd jaar geduur
totdat ’n koning, wat volgens die oorlewering Menes genoem is,
Benede-Egipte verower en die twee koninkryke verenig het. Menes
was die eerste in ’n lang reeks farao’s wat oor Egipte regeer het.
Hy het ook die eerste dinastie (voorstehuis of regerende
familie)
hier gevestig. Meer as dertig dinastieë sou hierna volg. Die geskiedenis van ou Egipte word in vier hooftydperke ingedeel. Die eerste, die VROEË PERIODE, het sowat vierhonderd jaar geduur. In hierdie tyd is tempels en paleise gebou en besproeiingstelsels, ploeë wat deur osse getrek is en hiërogliewe (beeldskrif) ontwikkel.
Die
tweede tydperk, die OU RYK, is ingelui deur die oprigting van die
piramides en word ook die Piramidetyd genoem. Dit het ’n stuk of
vyfhonderd jaar geduur. Die
derde, die MIDDELRYK, het twee eeue geduur en is gekenmerk deur die
ontwikkeling van die kunste, veral die argitektuur en letterkunde. In
die NUWE RYK het Egipte tot die wêreld se magtigste moondheid verrys.
Hierdie Nuwe Ryk het sowat vyfhonderd jaar geduur, waarna Egipte se lotgevalle begin verander het. Magstryde tussen mededingende families, korrupsie en ondoeltreffendheid het die gesag afgetakel. Die land het in kleiner state verbrokkel en die buitelandse grondgebiede is prysgegee. In
die volgende sewehonderd jaar het die land ál vinniger verval met die
gevolglike oorheersing deur vreemde dinastieë, waaronder Nubië,
Assirië en Persië. In
die jaar 332 v.C. is Egipte deur Alexander die Grote van Macedonië
verower. Toe hy dood is, is die beheer van Egipte deur een van sy
generaals, Ptolemaeus, oorgeneem, en in die volgende driehonderd jaar
het die Ptolomeë, wat Macedonies van oorsprong was, die Griekse
kultuur in Egipte uitgedra. Teen dié tyd was Egipte se geskiedenis
nie meer sy eie nie, maar dié van sy veroweraars. Dit
was die koms van die Christendom wat oplaas die Egiptiese kultuur laat
verdwyn het. Antieke tempels het ineengestort, grafkelders is
verwaarloos, gode is versaak en hul beelde op geboue is geskend.
Uiteindelik het die eiesoortige beskawing van die Nyl opgehou bestaan.
Foto: U.S. Geological Survey
|
|||||
|
HoeRA vir RA! Ya-amen wat in Memphis sit het spoke opgeja: "Elkeen wat so die son aanbid, is met die maan gepla."
Die volk skree: "Nee, hoeRa vir Ra! Ag mummie, jou moroon!" "Jou ketter!" só trompetter, ja, selfs Farao op sy troon.
Sy lyk, gebalsem, uitgelê, dryf nou nog in die Nyl, want geen wou ya en amen sê op wat Ya-amen yl...
IE gediggie hierbo, stuitig soos dit is, bevat tog interessante inligting oor die godsdiensbeoefening in die Egipte van weleer. Ra (of Re en later onder meer Amun-Ra of Re-Harakhte ) was die songod van die antieke Egiptenare—en daar was waarskynlik nie baie mense van destyds wat dit sou durf waag om die geloof in Ra openlik te veroordeel nie.
Teen die vyfde dinastie van die Egiptiese konings van die Oudheid is hy al as ’n baie vername godheid vereer. Hy is hoofsaaklik met die middagson vereenselwig, en die belangrikste kultussentrum van Ra was heel eerste in Heliopolis, wat dan ook “Stad van die Son” beteken. Tydens latere dinastieë is Ra vereenselwig met die god Horus, wat toe Re-Harakhte—Horus van die twee horisonne—genoem is. (Re-Harakhte is net een van verskillende spellings van die naam.) Die Egiptenare het gereken dat hy oor die lug, aarde en onderwêreld heers, en hulle het hom met ’n voël, die valk, geassosieer. Ra het, volgens sekere kenners, so ’n sentrale plek ingeneem dat die ander “gode” nie soseer as wesens uit eie reg beskou is nie, maar bloot as sekere vorms van Ra. In behoue geblewe kunswerke
word hy meestal in ’n menslike vorm uitgebeeld met die kroon van ’n
farao—as teken van sy koningskap oor die gode—en die skyf van die son op
sy kop. Dikwels het hy die kop van ’n valk, soos Horus. Geleerders weet nie meer definitief wat die naam Ra beteken nie, maar dit is bes moontlik iets soos “skeppend”, indien dit nie ’n ou Egiptiese woord vir “son” was nie. Die mens sou uit Ra se trane of sweet geskep gewees het, met die gevolg dat die ou Egiptenare hulself die “Beeste van Ra” genoem het. ___________________________ *) In Mesopotamië was die songod Sjamasj ’n belangike godheid wat gelyk gestel is met geregtigheid. In Griekeland was daar twee songode, te wete Apollo en Helios. Die invloed van die son word ook in ander godsdienste gesien, byvoorbeeld in die Zoroastrianisme, die Romeinse religie, Hindoeïsme en Boeddhisme, asook die godsdienste van die Kelte van Engeland (met hul druïde-priesters), die Asteke van Mexiko, die Inkas van Peru en baie Amerikaanse inboorlingstamme. |
|||||
|
Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf |