Vroeë mense en antieke beskawings (6)

   

Die daaglikse lewe in
Ou Egipte

 

In muwwe grafkelders sien ons nog die verkrummelende tekeninge teen die mure... dooie getuienis van bedrywige denke in eeue lank verby. En ook uit talle nagelate beelde, reliëfwerke en papirusrolle kan ons vandag ’n taamlike noukeurige prentjie vorm van hoe die ou Egiptenare gedoen en gelewe en geglo het. In die artikel hieronder vertoef ons ’n wyle by die farao’s en veewagters aan die Nyl...  

 

Foto: BIGPHOTO.COM / free

Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

Dit is ’n koel en goeie dag.

Die beeste trek die ploeg met krag,

die weer is nes ons dit begeer

Kom laat ons werk vir ons edele heer!”

H

IERDIE liedjie (ietwat vry vertaal) was ’n tipiese werklied van die ou Egiptiese landvolk agter die ploeg. Dit weerspieël iets van die gees van hierdie ywerige mense van weleer. Hulle het geglo hul arbeid het groot betekenis.

 

Om op die lande te swoeg, of om die piramides of tempels te bou, sou—só het hulle gereken—tot groot voordeel van die land en die mense van Egipte strek.

 

Om te werk was om te wen.

 

En deur hul arbeid is ons beloon. Die antieke Egiptenare het ’n rykdom van uitvindsels en ontdekkings nagelaat wat in geen geringe mate nie bygedra het tot die beskawing wat ons vandag geniet.  

 

Landbou

 

   LANDGOEDERE in Ou Egipte is deur die vorstehuis, landhere of tempels besit. Die landerye is deur arbeiders bewerk wat ’n rapsie van die oes as betaling ontvang het.

 

Die hoofgewasse was onder meer koring, gars, vlas, vrugte en groente, en die diere was vleis- en melkbeeste, bokke, eende, ganse en donkies. Ons weet ook uit nagelate tekeninge dat bye vir heuning aangehou is.

 

Voordat saad gesaai is, is die grond bewerk met óf ’n skoffel óf ’n houtploeg wat deur osse getrek is. Graan is met ’n sekel gesny, ’n werktuig wat blykbaar sowel in Egipte as Mesopotamië ontwikkel het.

 

LINKS: ’n Boer met sy sekel in Ou Egipte.

 

Illustrasie: Kopiereg © KingTutOne.com, wat vrye gebruik vergun mits daar na hul webwerf geskakel word

 

Die dorsery is deur beeste, skape en bokke gedoen, wat oor die are gejaag is en die korrels uitgetrap het. Die kaf is moeisaam deur uitwanning en sifting geskei.

 

Die Ou Egiptenare het wel besproeiingskanale gebou, maar die enigste meganiese hulpmiddel wat hulle gehad het om hul gewasse te besproei, was die sjadoef. Dié is ’n primitiewe en enigsins ondoeltreffende prakseersel wat vandag nog in sekere wêrelddele gebruik word om water na hoër grond te bring. Daarmee kon die Egiptenare egter wel water uit die Nyl lig om gesaaides aan die oewers nat te lei.

 

REGS: ’n Sjadoef.

 

Illustrasie:

http://www.mathsnet.net/courses/dome/

shaduf.gif



Die sjadoef bestaan uit ’n lang horisontale paal wat soos ’n wipplank gemonteer is met ’n emmer of ander waterhouer aan die een kant en ’n gewig aan die ander. ’n Werker trek die paal af totdat die skepding in die water is, waarna die gewig die emmer ophys en die water in ’n kruik of selfs hoër liggende watervoor gegooi word. In party gevalle is ’n reeks sjadoefs nodig om die water tot op ’n stuk land te bring wat baie hoog lê.

Die stut vir die sjadoef ( Engels shaduf of shadoof ) is ’n regopstaande stellasie. Hierop rus ’n lang paal of boomtak, soos ’n skewe wipplank wat aan die een kant sowat ’n vyfde van die lengte van paal is en min of meer vier vyfdes aan die ander kant.

Aan die kort kant word ’n gewig geheg. Dit kan ’n klip of iets anders wees, en die Egiptenare het sommer die modder van die Nyl as gewig gebruik. Naby die ander punt, aan die paal se lang kant, word ’n tou
vasgemaak en onderaan die tou hang ’n emmer, ’n biesiemandjie wat met pik dig gemaak is of ’n velsak.

As die sjadoef behoorlik gebalanseer is, sal die gewig (teëwig) ’n waterhouer ondersteun wat halfvol water is. ’n Sekere hoeveelheid krag is dus nodig om ’n leë waterhouer tot by die watervlak af te trek, maar dan lig die teëwig die vol houer só uit die water op dat slegs dieselfde hoeveelheid krag nodig is om dit tot by die gewenste vlak te bring.

Hoewel sekere bronne aandui dat hierdie eenvoudige apparaat deur die Egiptenare uitgevind is, vertel ander dat die eerste sjadoefs vir besproeiing reeds omstreeks 3000 v.C. in Mesopotamië gebruik is.

 

 

Vlyt en ambagte

 

   DIE ambagte in Egipte is so doeltreffend bedryf dat dié ou volk geleidelik ál meer gesofistikeerd geraak het. Huisvlyt het later na werkwinkels uitgebrei.

 

Ambagslui het ’n lisensie nodig gehad om hul ambag te beoefen en daar was talle regulasies in verband met die gehalte van hul werk. Omdat daar geen geldstelsel was nie, is goedere en dienste vir ander goedere of dienste geruil.

 

Ambagte het weef, glasblasery, beeldhou, skilder, steenmakery, toumakery, skrynwerk, leerwerk, bootbou en argitektuur ingesluit.

 

Skrifgeleerdes en skrif

 

   HOEWEL die idee van skrif blykbaar in Mesopotamië ontstaan het, wil dit voorkom of die stelsel van hiërogliewe  (soos dié hier langsaan),  waarin klanke of begrippe deur prente weergegee word, in Egipte ontwikkel het. Dit verskil heeltemal van die Sumeriese wigskrif.

 

Skrifgeleerdheid was een van die hoë beroepe in Ou Egipte en vir kinders was geletterdheid die sleutel tot ’n suksesvolle loopbaan. Leerlinge het leer skryf deur passasies van klassieke letterkundige tekste te kopieer en deur neer te skryf wat vir hulle gedikteer is. Daar is voortdurend op arbeidsaamheid gehamer.

 

Die antieke Egiptenare het ook papirus uitgevind, ’n papieragtige skryfmateriaal wat van dun stroke papirusriet gemaak is. Ongelukkig is papirus nie baie duursaam nie en het baie geskrifte verlore gegaan.  

 

LINKS: ’n Egiptiese vrou met riete.

 

Illustrasie: Kopiereg © KingTutOne.com, wat vrye gebruik vergun mits daar na hul webwerf geskakel word

 

Vervoer

 

   VANWEË Ou Egipte se ongewone geografiese vorm—lank en smal met die Nylrivier wat daardeur vloei en alle belangrike plekke verbind—was die boot in antieke tye die belangrikste vervoermiddel.

 

Dit lyk of die Egiptenare die eerste volk was wat seewaardige skepe gebou het. Handelaars het koring, gars, papirus en goud en ander minerale vir sederhout, yster, silwer en perde geruil en moes na lande aan die Egeïese See, Middellandse See en Rooi See seil.

 

Die meeste bote is egter vir die Nyl gebou. Die vroegste was eenvoudige vlotte van papirusbondels wat met tou aanmekaar gebind is. Mettertyd het hulle meer gesofistikeerd geraak.

 

Kleiner bote is gemaak van kort planke van plaaslike hout waarvan die gehalte maar swak was. Vir groter vaartuie en seevaartuie moes ingevoerde hout gebruik word.

 

Dié vaartuie het verskillende vorms gehad afhangende van wat hul doel was—hetsy om passasiers of vrag te vervoer, vir seremonies gebruik te word of om mee te veg.

 

REGS: ’n Ou Egiptiese seilboot van omstreeks 2000 v.C. en dieselfde illustrasie gesuperponeer op ’n foto van die Nyl (INLAS). 

 

Illustrasie: BiblePictureGallery.com / free

 

Wiskunde

 

   SAAM met die vooruitgang van die landbou en die boukuns het wiskundige uitvindsels gekom.

 

Om ’n behoorlike landsadministrasie te hê en seker te maak dat die koning kry wat hom toekom, moes allereers ’n wiskundige stelsel vir sake soos die berekening van belastings ontwerp word.

 

Boonop was presiese metings nodig om die piramides te bou en ook om die landerye op te meet, veral ná die jaarlikse vloed. Die Nyl het elke jaar die grense uitgewis en dié moes dan opnuut getrek word, want elke boer moes vir belastingdoeleindes presies weet hoe ver sy grond strek.

 

Hoewel hul wiskundige sisteem vandag nie juis as besonder omvattend beskou word nie, kon die skrifgeleerdes nogtans met breuke en vierkantswortels werk en die oppervlakte van ’n sirkel of die volume van ’n silinder bereken. Dit was die begin van wat ons vandag meetkunde noem.

 

LINKS: Twee Egiptenare van weleer.

 

Illustrasie: Kopiereg © KingTutOne.com, wat vrye gebruik vergun mits daar na hul webwerf geskakel word

 

Geneeskunde

 

   DIE ou Egiptiese gebruik om lyke te mummifiseer het die kennis omtrent die menslike anatomie verbreed. Egiptiese dokters en chirurge was regoor die antieke wêreld beroemd.

 

n Aantal mediese verhandelings wat uit dié tyd behoue gebly het, beskryf in besonderhede die diagnoses vir sekere gevalle, die aanbevole behandeling en die gevolge van die behandeling.

 

In baie gevalle was towerkrag betrokke, en sekere kwale wat nie verklaar kon word nie, kon met duiwelbeswering "genees" word. Ander siektes is met natuurlike stowwe soos kruie en die opium-papawer behandel.

 

Baie van die behandelings is al deur moderne medici onderskryf. Op een strook papirus is daar byvoorbeeld ’n geskrif oor gebreekte beendere wat ’n merkwaardige gevorderde kliniese kennis weerspieël.

 

Tyd

 

   ONS kalender van 365 dae is na alle waarskynlikheid ’n nalatenskap van die ou Egiptenare.

 

Hul jaar het by die verskyning van die ster Sirius begin en is in twaalf gelyke maande van dertig dae elk ingedeel. Die oorblywende vyf dae het spesiale name gehad.

 

Hulle het ook besef dat hul berekenings elke vier jaar met een dag uit was—omdat ’n jaarsiklus eintlik 365 en ’n kwart dag is—en kon dus die nodige aanpassings doen.

 

Die antieke Egiptenare het dit voorts nodig gevind om die tye van die dag en nag noukeuriger te bereken. Dié is in twaalf ure elk ingedeel.

 

Sowel die Egiptenare as die Mesopotamiërs het twee soorte tydinstrumente uitgevind—die sonwyser en die obelisk—sodat die tyd met behulp van die son en skaduwees deur die loop van die dag gelees kon word.

 

REGS: Raar maar waar, selfs voor die totstandkoming van die Egiptiese beskawing—trouens, omtrent duisend jaar voor dit—was daar al mense in Egipte wat blykbaar klippe volgens die son of sterre gerig het. Die plek staan bekend as Nabta. Hier het sekere herders meer as 6000 jaar gelede ’n kring van klippe en ander klipstrukture opgerig aan die oewer van ’n meer wat lank reeds opgedroog het. Hulle het klippe van drie meter hoog meer as ’n kilometer ver na die terrein aangesleep. Weinig is egter bekend oor hoekom hierdie mense dit gedoen het en presies wie hulle was.

Krediet: J. M. Malville (U. Colorado) & F. Wendorf (SMU) et al / via NASA / GSFC

Einde van ’n era

 

   HOEWEL die Egiptiese lewenswyse grootliks van dié in Wes-Asië verskil het, het die antieke koninkryk nooit in afsondering bestaan nie. Daar was voortdurende handel met die Feniciërs, Hetiete, Babiloniërs, Assiriërs en Israeliete en ’n verwisseling van kultusse en godsdienstige denke.

 

Ondanks al die maatskaplike baanbrekerswerk van Ou Egipte, het die koninkryk nooit die kuns van oorlogvoering bemeester nie. En omdat sy mag ál swakker geword het, moes hy oplaas sy onafhanklikheid inboet.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor vroeë mense en antieke beskawings

Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf