Vroeë mense en antieke beskawings (7)

Ou Griekeland
— wêreld van die wyse manne

Voorstellings van Aristoteles, Sokrates en Plato, met die Parthenon op die Akropolis in Athene as agtergrond

BO: Drie van die vername wyse manne wat Ou Griekeland opgelewer het, met die Parthenon op die Akropolis in Athene as agtergrond.

Die vroeë Griekse geskiedenis is deur oorloë, plundering en menseslagting gekenmerk. Tog het dieselfde drif wat die mense tot oorlogvoering aangespoor het, tot die vorming van ’n beskawing vol vindingrykheid gelei...

   Kyk ook verskillende ander artikels oor Ou Griekeland (artikels wat nie dele van hierdie reeks vorm nie) op die Mieliestronk-werf
  


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

ILLUSTRASIE REGS ONDER: Die ster dui die ligging van Griekeland op ’n wêreldkaart aan.
Krediet: U.S. Geological Survey

G

Die ligging van Griekeland op ’n wêreldkaartRIEKELAND—land van pragtige seë en verblindende wit huise wat teen skotige heuwels aanvly; van olyfboorde en soet, rooi wyn; van tavernas en vissersbote; land van warm, stil nagte en skadu-dae en van ou vroue in swart gewade; van Griekse mandoliene.

 

Sy stede is vandag bymekaarkomplekke vir mense van heinde en ver, waar die gedreun van die verkeer en masjiene met die krassende krete van die straatsmouse vermeng.

 

Maar in die stilte van ’n wingerd of tussen die sonverbleikte suile van ’n tempelbouval is daar die weerklanke van die verlede—die dreunsang van lank vergete poësie, die woorde van wyse manne, die voetegerommel van marsjerende leërs en die rumoer van groot gevegte...  

 

Moderne Griekse dorpieREGS: Rustige moderne Griekse dorpies soos hierdie een rep, oppervlakkig beskou, weinig van die land se onstuimige verlede. Maar by die ruïnes van vergange eeue kan ’n mens jou maklik verbeel dat jy steeds die skimme van 'n roemryke tyd sien rondwaal.
 
Foto: FREEPHOTO

 

Griekeland is ’n land wat op legendes gebou is—die geboorteplek van die Westerse beskawing, tuiste van die demokrasie, filosofie, geneeskunde, wetenskap, argitektuur, teater en uitmuntende geskrewe werke.

 

Die antieke Griekeland was nie ’n staatkundige eenheid nie, maar ’n versameling stadstate—klein koninkrykies wat opgeskiet het om paleisvestings in die vrugbare valleie van ’n grotendeels bergagtige en onvrugbare land.

 

Maar uit hierdie fel onafhanklike en dikwels mededingende stadstate het ’n verenigde ideaal van skoonheid, wysheid, patriotisme en die strewe na kennis gekom.

 

Hoewel die Griekse gebiede gestrek het van die weskus van Klein-Asië (tans Turkye) langs die kuste aan die Middellandse See en Swart See tot in die hoofland van moderne Griekeland, is die Griekse invloed tot in Spanje en Rusland gevoel.

 

Alle Grieke het dieselfde taal, godsdiens en kultuur gedeel. ’n Griek waar ook al ter wêreld sou altyd deur ’n ander Griek verstaan en aanvaar gewees het as deel van ’n magtige volk. Geen wonder dat hierdie mense alle vreemdelinge barbaroi of barbare genoem het nie—die woord beteken eenvoudig "hulle wat nie Grieks praat nie".  

 

HoplietLINKS: In Ou Griekeland moes burgers wat hul eie wapens en wapenrusting kon bekostig in die leër diens doen. Hulle is hopliete genoem en hul swaar wapenrusting was kenmerkend. Hopliete het die heersende rol in Griekse oorlogvoering gespeel van hul ontstaan in die sewende eeu v.C. tot die tyd van Alexander die Grote (356-323 v.C.).

Illustrasie: Johnny Shumate, shumate_j@bellsouth.net, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwyde web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het.

 

Geskiedenis

 

   DIE antieke Griekse geskiedenis begin omstreeks 3000 v.C. op die eiland Kreta in die Middellandse See. Hier het die Minoërs (na koning Minos genoem) gewoon. Hulle was uitstekende matrose en ryk handelaars. Die Minoërs het ’n soort skrif gehad, maar geleerdes kon nog nie vasstel wat se taal hulle gepraat het nie.  

 

Kaart van Ou Griekeland met sekere belangrike plekke en streke

MSKARG

 

Ruimtefoto van die Ou Griekse wêreldREGS: ’n Ruimtefoto van die Ou Griekse wêreld wat op die kaart hierbo aangedui word.

 

Foto: GSFC / NASA

 

Teen om en by 2000 v.C. het mense van Indo-Europese afkoms die hoofland van Griekeland uit die noorde begin binnesypel en teen 1600 v.C. was hulle besig om versterkte nedersettings in die vernaamste valleie te vestig.

 

Hulle is Miceners genoem—na die plek Micene op die suidelike hoofland.

 

Hulle het onvermydelik met die Minoërs van Kreta in aanraking gekom en hulle in 1450 v.C. verower. Baie aspekte van die Minoïese kultuur, waaronder hul skrifstelsel wat op die Feniciërs s’n gegrond was, is oorgeneem en aangepas.

 

Die Minoïese geskiedenis was ook die inspirasie vir talle klassieke letterkundige werke. Om die groot gevegte van weleer, soos veral gedurende die Trojaanse Oorlog (in die jare 1200 vC in wat vandag Turkye is), is legendes geweef.

 

Maar die beskawing het raaiselagtig tot ’n val gekom, en die Doriërs van Noord-Griekeland het die gebied binnebeweeg. Daarmee is die Griekse Donker Eeue ingelui wat tot omstreeks 800 v.C. geduur het. In dié tyd het gemeenskappe ál meer geïsoleer geraak en het skrif byna verdwyn, hoewel die geskiedenis en tradisies in liedere en stories lewend gehou is.

 

Dit was in dié tyd dat die eerste stadstate hul verskyning gemaak het. Dié het gewoonlik bestaan uit ’n tros boerderygemeenskappe rondom ’n sentrale paleis met ’n koning. Teen 750 v.C. is baie van dié heersers egter onttroon deur ontevrede adellikes wat die beste land vir hulself geneem en die regering totaal beheer het.

 

Die magtigste van hierdie state—soos Sparta—het grootliks deur aggressie in omvang gegroei en baie van hul buurmense is verslaaf.

 

Uiteindelik het die mense teen die streng en dikwels wrede heerskappy van die adellikes in opstand gekom en hulle vervang deur sogenaamde tiranne (hulle wat mag met geweld oorneem), van wie baie vir ’n sekere mate van hervorming gesorg het—byvoorbeeld die billiker verdeling van grond.

 

Hulle is self deur ’n stelsel van oligargie vervang—die bewind van ’n paar ryk burgers—wat oplaas tot demokrasie gelei het.

 

Dié regeringstelsel, waarna beskaafde volkere vandag strewe, het in 594 v.C. in Athene begin toe die Atheners ’n sekere Solon gekies het om hul wette te hervorm.

 

Hy het die gebruik afgeskaf om slawe te maak van mense wat nie hul skuld kon betaal  nie. Hy het ook burgers in klasse ingedeel, elk met sy eie voorregte en pligte, en ’n wetboek opgestel.

 

Dié hervormings is in 508 v.C. deur Cleisthenes uitgebrei, wat die stemreg aan alle manlike Atheners gegee het om ’n bestuur van 500 te kies.

 

Athene se doeltreffende regering en sterk leër het van hom die magtigste van die stadstate gemaak, met Sparta as die enigste uitdager. Die Atheense leër het in 490 v.C. ’n oormag van Perse in die bekende slag van Marathon verslaan, en die voortgesette stryd teen Persiese uitbreiding in Griekeland was die oorsprong van baie van die land se kleurryke oorlewerings.

 

Dit was dié oorlog teen Persië wat die stadstate onder Spartaanse leierskap verenig het. Athene self is deur die vyand verower, maar die Griekse vloot, onder aanvoering van Themistocles, het die Perse verslaan, die helfte van hul vloot gekelder en hul leier, koning Xerxes, gedwing om te vlug. Die oorblywende Persiese magte is in 479 v.C. verdryf.

 

Nou het die Griekse Goue Eeu aangebreek, met Athene as die hart. In dié tyd het die letterkunde en kunste geblom: die meesterstukke van Sophocles en Euripides is geskep, die Parthenon is gebou...  

 

Parthenon

BO: Die Parthenon (hier aangedui met ’n pyl) op die Akropolis in Athene was ’n antieke tempel wat opgedra is aan Athena, die beskermgodin van die stad.

Foto: U.S. Library of Congress

Maar ’n oorlog teen Sparta in 431 v.C. en ’n ernstige pes het Athene gedaan gelaat, en Sparta het die botoon begin voer. Dit was die einde van die Goue Eeu—toenemende gevegte tussen die stadstate, ’n afname in die lewenspeil en ’n ekonomiese insinking het die weg gebaan vir Griekeland se verowering  in 338 v.C. deur koning Philippus van Macedonië.

 

Philippus se seun, die legendariese Alexander die Grote, het sake verder gevoer en ’n enorme Persiese ryk gevestig, wat lande van Griekeland tot Indië ingesluit het. Ná sy dood het Griekeland onder Macedoniese heerskappy gebly tot 146 v.C., toe die Romeine die beheer oorgeneem het.

 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor vroeë mense en antieke beskawings
  


Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf