|
Vroeë
mense en antieke beskawings (7) Ou
Griekeland
|
|
G |
RIEKELAND—land
van pragtige seë en verblindende wit huise wat teen skotige heuwels
aanvly; van olyfboorde en soet, rooi wyn; van tavernas en vissersbote;
land van warm, stil nagte en skadu-dae en van ou vroue in swart
gewade; van Griekse mandoliene.
Sy
stede is vandag bymekaarkomplekke vir mense van heinde en ver, waar
die gedreun van die verkeer en masjiene met die krassende krete van
die straatsmouse vermeng.
Maar
in die stilte van ’n wingerd of tussen die sonverbleikte suile van ’n
tempelbouval is daar die weerklanke van die verlede—die dreunsang
van lank vergete poësie, die woorde van wyse manne, die voetegerommel
van marsjerende leërs en die rumoer van groot gevegte...
REGS:
Rustige moderne Griekse dorpies soos hierdie een rep, oppervlakkig
beskou, weinig van die land se onstuimige verlede. Maar by die ruïnes
van vergange eeue kan ’n mens jou maklik verbeel dat jy steeds die
skimme van 'n roemryke tyd sien rondwaal.
Foto: FREEPHOTO
Griekeland
is ’n land wat op legendes gebou is—die geboorteplek van die
Westerse beskawing, tuiste van die demokrasie, filosofie, geneeskunde,
wetenskap, argitektuur, teater en uitmuntende geskrewe werke.
Die
antieke Griekeland was nie ’n staatkundige eenheid nie, maar ’n
versameling stadstate—klein koninkrykies wat opgeskiet het om
paleisvestings in die vrugbare valleie van ’n grotendeels bergagtige
en onvrugbare land.
Maar
uit hierdie fel onafhanklike en dikwels mededingende stadstate het ’n
verenigde ideaal van skoonheid, wysheid, patriotisme en die strewe na
kennis gekom.
Hoewel
die Griekse gebiede gestrek het van die weskus van Klein-Asië (tans
Turkye) langs die kuste aan die Middellandse See en Swart See tot in
die hoofland van moderne Griekeland, is die Griekse invloed tot in
Spanje en Rusland gevoel.
Alle
Grieke het dieselfde taal, godsdiens en kultuur gedeel. ’n Griek
waar ook al ter wêreld sou altyd deur ’n ander Griek verstaan en
aanvaar gewees het as deel van ’n magtige volk. Geen wonder dat
hierdie mense alle vreemdelinge barbaroi of barbare genoem het
nie—die woord beteken eenvoudig "hulle wat nie Grieks praat
nie".
LINKS:
In Ou Griekeland moes burgers wat hul eie wapens en wapenrusting kon
bekostig in die leër diens doen. Hulle is hopliete genoem en hul
swaar wapenrusting was kenmerkend. Hopliete het die heersende rol in
Griekse oorlogvoering gespeel van hul ontstaan in die sewende eeu v.C.
tot die tyd van Alexander die Grote (356-323 v.C.).
Illustrasie: Johnny Shumate, shumate_j@bellsouth.net, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwyde web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het.
•
DIE antieke Griekse geskiedenis begin omstreeks 3000
v.C. op die
eiland Kreta in die Middellandse See. Hier het die Minoërs (na koning
Minos genoem) gewoon. Hulle was uitstekende matrose en ryk handelaars.
Die Minoërs het ’n soort skrif gehad, maar geleerdes kon nog nie
vasstel wat se taal hulle gepraat het nie.

MSKARG
REGS:
’n Ruimtefoto van die Ou Griekse wêreld wat op die kaart hierbo
aangedui word.
Foto: GSFC / NASA
Teen
om en by 2000 v.C. het mense van Indo-Europese afkoms die hoofland van
Griekeland uit die noorde begin binnesypel en teen 1600 v.C. was hulle
besig om versterkte nedersettings in die vernaamste valleie te vestig.
Hulle
is Miceners genoem—na die plek Micene op die suidelike hoofland.
Hulle
het onvermydelik met die Minoërs van Kreta in aanraking gekom en
hulle in 1450 v.C. verower. Baie aspekte van die Minoïese kultuur,
waaronder hul skrifstelsel wat op die Feniciërs s’n gegrond was, is
oorgeneem en aangepas.
Die
Minoïese geskiedenis was ook die inspirasie vir talle klassieke
letterkundige werke. Om die groot
gevegte van weleer, soos veral gedurende die Trojaanse Oorlog (in die
jare 1200 vC in wat vandag Turkye is), is legendes geweef.
Maar
die beskawing het raaiselagtig tot ’n val gekom, en die Doriërs van
Noord-Griekeland het die gebied binnebeweeg. Daarmee is die Griekse
Donker Eeue ingelui wat tot omstreeks 800 v.C. geduur het. In dié tyd
het gemeenskappe ál meer geïsoleer geraak en het skrif byna verdwyn,
hoewel die geskiedenis en tradisies in liedere en stories lewend gehou
is.
Dit
was in dié tyd dat die eerste stadstate hul verskyning gemaak het. Dié
het gewoonlik bestaan uit ’n tros boerderygemeenskappe rondom ’n
sentrale paleis met ’n koning. Teen 750 v.C. is baie van dié heersers
egter onttroon deur ontevrede adellikes wat die beste land vir hulself
geneem en die regering totaal beheer het.
Die
magtigste van hierdie state—soos Sparta—het grootliks deur
aggressie in omvang gegroei en baie van hul buurmense is verslaaf.
Uiteindelik
het die mense teen die streng en dikwels wrede heerskappy van die
adellikes in opstand gekom en hulle vervang deur sogenaamde tiranne
(hulle wat mag met geweld oorneem), van wie baie vir ’n sekere mate
van hervorming gesorg het—byvoorbeeld die billiker verdeling van
grond.
Hulle
is self deur ’n stelsel van oligargie vervang—die bewind van ’n
paar ryk burgers—wat oplaas tot demokrasie gelei het.
Dié
regeringstelsel, waarna beskaafde volkere vandag strewe, het in 594
v.C.
in Athene begin toe die Atheners ’n sekere Solon gekies het om hul
wette te hervorm.
Hy
het die gebruik afgeskaf om slawe te maak van mense wat nie hul skuld
kon betaal nie. Hy het
ook burgers in klasse ingedeel, elk met sy eie voorregte en pligte, en
’n wetboek opgestel.
Dié
hervormings is in 508 v.C. deur Cleisthenes uitgebrei, wat die stemreg
aan alle manlike Atheners gegee het om ’n bestuur van 500 te kies.
Athene
se doeltreffende regering en sterk leër het van hom die magtigste van
die stadstate gemaak, met Sparta as die enigste uitdager. Die Atheense
leër het in 490 v.C. ’n oormag van Perse in die bekende slag van
Marathon verslaan, en die voortgesette stryd teen Persiese uitbreiding
in Griekeland was die oorsprong van baie van die land se kleurryke
oorlewerings.
Dit
was dié oorlog teen Persië wat die stadstate onder Spartaanse
leierskap verenig het. Athene self is deur die vyand verower, maar die
Griekse vloot, onder aanvoering van Themistocles, het die Perse
verslaan, die helfte van hul vloot gekelder en hul leier, koning
Xerxes, gedwing om te vlug. Die oorblywende Persiese magte is in 479
v.C. verdryf.
Nou
het die Griekse Goue Eeu aangebreek, met Athene as die hart. In dié
tyd het die letterkunde en kunste geblom: die meesterstukke van
Sophocles en Euripides is geskep, die Parthenon is gebou...
BO: Die Parthenon (hier aangedui met ’n pyl) op die Akropolis in Athene was ’n antieke tempel wat opgedra is aan Athena, die beskermgodin van die stad.
Foto: U.S. Library of Congress
Maar
’n oorlog teen Sparta in 431 v.C. en ’n ernstige pes het Athene
gedaan gelaat, en Sparta het die botoon begin voer. Dit was die einde
van die Goue Eeu—toenemende gevegte tussen die stadstate, ’n
afname in die lewenspeil en ’n ekonomiese insinking het die weg
gebaan vir Griekeland se verowering
in 338 v.C. deur koning Philippus van Macedonië.
Philippus
se seun, die legendariese Alexander die Grote, het sake verder gevoer
en ’n enorme Persiese ryk gevestig, wat lande van Griekeland tot
Indië ingesluit het. Ná sy dood het Griekeland onder Macedoniese
heerskappy gebly tot 146 v.C., toe die Romeine die beheer oorgeneem het.
Klik
hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf