|
Roemryke
Rome
Rome is nie in een dag gebou nie, lui die ou gesegde. Baie beslis nie...
Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
LLES
het so mooi begin—as ons die legende kan glo! Die tweelingboeties
Romulus en Remus is in ’n mandjie geplaas en langs die Tiber-rivier
gelos. Die mandjie het stroom af gedryf en, toe dit op die land
uitspoel, het ’n wolvin die babas gekry en grootgemaak.
Krediet: Openbare besit (“in the public domain”) vanweë ouderdom
Later
het ’n skaapwagter hulle huis toe geneem en soos sy eie kinders
versorg. Toe
hulle jong mans word, het die tweeling besluit om hul eie stad te bou.
Maar hulle kon nie saamstem oor die beste plek daarvoor nie. Hulle het
aan die baklei geraak en Remus is dood. In
753 v.C., só lui die verhaal, het Romulus ’n stad begin bou en na
homself genoem—Rome. Die
waarheid is nie so kleurryk nie. Die eerste mense van Rome was
eenvoudige boere—vermoedelik Latyne genoem—wat omstreeks 1000 v.C.
op ’n paar heuwels langs die Tiber gaan kamp opslaan het. Op
’n geskikte plek het hulle ’n brug oor die rivier gebou en begin
handel dryf. Dit was die begin van Rome. Teen
600 v.C. het die Etruriërs uit die noorde gekom en beheer oorgeneem van
Rome en ander dorpe in die streek. Hulle het Rome opgebou van ’n
dorpie van herders
en
boere tot ’n bedrywige stad met groot geboue, paaie en tempels waar
die handel gefloreer het. Vreemd
genoeg het Rome onder die Etruriërs so magtig geword dat die inwoners
skaars ’n eeu later dié vreemdelinge kon verdryf en ’n republiek
gestig het—’n staat sonder ’n koning. Republikeinse
Rome
•
IN die eerste jare van die republiek was daar baie opstande.
Die burgers van Rome was in twee klasse verdeel. Daar was die patrisiërs,
die ryk grondbesitters, en die plebiërs, burgers sonder regte wat
lelik uitgebuit is. In die jare 400 en 300 v.C. het hulle hard gestry om
gelyke regte te verwerf.
Die
onrus het nie gekeer dat Rome vooruitgaan nie. Die stad het vriende
gemaak met mededingers en oor Italië begin heers. Teen 275 v.C. was die
grootste deel van die Italiaanse skiereiland onder Romeinse beheer. Op
soek na nuwe handelsbande het Rome ál verder uitgebrei en uiteindelik
te staan gekom voor die groot magte van daardie tyd. Een van hulle,
Carthago aan die kus van Noord-Afrika, was ’n ryk staat met ’n
reuse-vloot en baie kolonies. In
die drie Puniese oorloë het Rome en Carthago dit uitgespook om die
heerskappy oor die Middellandse See. Teen die einde van die derde
oorlog, waarin Carthago vernietig is, het Rome ook Spanje en Afrika in
sy mag gehad. Teen
140 v.C. is Griekeland en Macedonië ook ingeneem, en ’n paar jaar
later het koning Attalus van Pergamum gesterf en sy koninkryk aan sy
bondgenoot, Rome, bemaak. Oor
die Rubicon
•
AL dié welslae het ook probleme geskep. Belasting, slawe en
buit het ingestroom uit die verowerde lande, plantasies het groter
geword en die kleinboere moes padgee. Die rykes het ryker geword en
die armes armer. Die
mense het opstandig geraak en burgeroorloë het uitgebreek. In
die jare 60 v.C. het Rome weer oorsee uitgebrei. Pompejus, ’n Romeinse
generaal, het Oos-Turkye, Sirië en Palestina binnegeval. Nog
’n Romeinse leier, Julius Caesar, het Gallië ingepalm.
MSKARG Pompejus
en die Romeinse senaat was lugtig vir Caesar en het geëis dat hy sy
mag prysgee. Maar in 49 v.C. het hy met sy soldate die Rubicon-rivier,
die suidelike grens van Gallië, oorgesteek. Dit was teen die wet, wat
bepaal het dat elke Romeinse goewerneur in sy streek moes bly. Onmiddellik
het Pompejus probeer terugslaan, maar kort voor lank het Caesar hom
oorwin en teen 45 v.C. was hy in beheer van Rome en kon hy die vrede
herstel. Maar ’n groepie edelmanne was bang hy sou homself koning
maak en hulle het Caesar met messe doodgesteek. Imperiale
Rome
•
NÁ Caesar se dood het die een burgeroorlog op die ander
gevolg, totdat sy aangenome seun, Octavianus, saam met die offisier
Marcus Antonius die vyande van Caesar verslaan het. Nou
het dié twee weer gespook om beheer van Rome. Antonius het gaan hulp
soek by koningin Cleopatra van Egipte, op haar verlief geraak en met
haar getrou. Maar selfs saam kon die twee nie Octavianus beteuel nie
en in 31 v.C. is hulle verslaan. Die volgende jaar het Octavianus ook
Egipte verower. Nou
was Octavianus die onbetwiste heerser van Rome. Hy het homself
Augustus genoem—dit beteken verhewe—en later die eerste Romeinse
keiser geword. Daar was steeds ’n senaat, konsuls en tribunes, maar
die oppermag was syne.
Dit
was die begin van byna 200 jaar van vrede waarin die keisers mekaar
vinnig opgevolg het. Dié tyd word die Pax Romana genoem—"die
vrede van Rome". Die
orde in die weermag en regering is herstel en die verdediging van die
Romeinse Ryk is versterk. Die mense van die Romeinse Ryk was versprei
reg om die Middellandse See, deur Europa, Afrika en die Midde-Ooste,
maar hulle is almal deur Rome beskerm. Dit
het hulle kans gegee om te vergeet van opstand en vooruit te strewe.
Hulle het in grond belê. Plase
is ontwikkel en dorpe en stede is gebou. Daar was nuwe paaie en beter
kommunikasie. Die handel het gebloei en die kuns en letterkunde het ’n hoogtepunt bereik in die sogenaamde eeu van Augustus.
REGS: Die vulkaniese uitbarsting van die berg Vesuvius in 79 n.C. was beslis katastrofaal vir die mense wat aan sy voet gelewe het—maar die verskriklike ramp het ook veroorsaak dat belangrike inligting oor die verlede vir ons behoue gebly het.
Die groot nedersetting Pompeji is deur die eeue wonderbaarlik “gepreserveer” in vulkaan-as waarin dit destyds begrawe is. Gevolglik bied dit ons vandag die merkwaardige geleentheid om te sien hoe die inwoners van ’n Romeinse stad gelewe het in die tyd toe die Romeinse Ryk sy grootste bloeityd belewe het.
Die rekenaar-gegenereerde voorstelling van die rampdag (hierby) het in die BBC se Pompeii: The Last Day verskyn.
Nadat Pompeji (in die Baai van Napels in Italië) sowat 1600 jaar lank ongestoord onder die vulkaanpuin gelê het, is in die 1700’s met opgrawings begin, waardeur die ou stad en ander buurnedersettings uiteindelik weer blootgelê is.
Hier is dinge nog soos hulle van ouds was: mure, strate, openbare monumente en geboue, winkels, indrukwekkende en eenvoudige wonings.
Gelukkig
het die meeste van die inwoners destyds daarin geslaag om aan die uitbarsting
te ontkom, maar dit het steeds die sombere massagraf geword van ’n paar
duisend versmoorde en verkoolde mense, wat in hul huise skuiling gesoek het,
maar nogtans in hul eie wonings oorweldig is. • Die rekenaar-beeld hierbo is oorgeneem uit die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web, waar ’n groter weergawe by hierdie skakel gevind kan word. Daar is wel kopiereg op, maar die kopiereghouer vergun enigiemand die reg om dit vir enige doel te gebruik. Media van die Discovery Channel se Pompeii: The Last Day, met vergunning van Crew Creative, Ltd.
Foto met vergunning van FreeStockPhotos.com
Val
van die Ryk
•
VAN keiser Aurelius se tyd (161 n.C.) en veral in die jare 200
n.C.
is die Romeine knaend aangeval deur die barbare—mense soos die Gote,
Vandale en Hunne, wat buite die Ryk gewoon het. Romeinse
leërs het hul eie leiers tot keisers verklaar. Dit het die Ryk
verswak en tot sy ondergang gelei. In
306 het Konstantyn die keiser van Rome se westelike provinsies geword.
Anders as Diocletianus voor hom, wat die Christene vervolg het, het
Konstantyn besef dat die Christendom met sy baie volgelinge die Ryk
kon red. In 313 het hy hulle vryheid van geloof gegee. In
330 het Konstantyn besluit Rome met sy heidense gelowe is nie ’n
goeie hoofstad vir ’n Christelike Ryk nie en het hy sy hoofkwartier
verskuif na die ou Griekse handelstad Bisantium. Eers wou hy dit Nuwe
Rome noem, maar die stad was gou bekend as Konstantinopel. Die
mense wat hom soontoe gevolg het, het ’n skatryk stad opgebou wat
dekades en eeue lank—’n volle 1100 jaar—die welvarende
Bisantynse Ryk gevorm het. In die jare 400 is die Romeinse Ryk uit die weste aangeval deur Germaanse stamhoofde wat die grond in verskeie ryke verdeel het. Die laaste heerser, Augustulus, is in 476 uitgeskop. Dit was die einde van die grootste ryk van die mense van die antieke tyd
|
|
|
Klik
hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf |