|
Die
geboorte LINKS: Charlemagne, oftewel Karel die Grote, wat vir die Middeleeuse mense ’n figuur van legendariese luister was. Hy het ’n groot deel van Wes-Europa verower en die volkere in ’n magtige ryk verenig. Hy was ook ’n voorvegter vir die Christendom en het die grondslag gelê vir die Europese beskawing wat in die latere Middeleeue verrys het...
Gedeelte van ’n portret van Karel die Grote wat eeue ná sy dood geskilder is deur die Duitse skilder Albrecht Dürer (1471-1528) — Openbare besit (“in the public domain”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom |
|
|
Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto: GSFC / NASA
OEM
die woord barbaar, en ’n
mens dink dadelik aan ’n primitiewe wese, ’n woestaard. Maar
eintlik is die woord bloot afgelei van die ou Griekse woord
"babaros". Dié het aanvanklik verwys na iemand wat ’n
taal gepraat het wat die Grieke nie kon verstaan nie (straks het
hulle gesê die persoon praat so "bar-bar-bar"). Later het
dit ook na ’n buitelander, ’n onbekende mens, verwys. Toe
kom die Romeine en leen die woord om te verwys na die ruwe,
onopgevoede nasies soos die Hunne, die Gote, Franke en Vandale, wat
buite die grense van die Romeinse Ryk gewoon het. Dié mense het in
die "Donker Eeue" geleef en al stropende hul pad oor
Europa oopgeveg. Die
naam barbaar het mettertyd ’n woord geword wat met ’n woeste
leefwyse
en bloedvergieting vereenselwig word. Maar voordat ons die Barbare
te kwaai oordeel, moet ons onthou dat dié hul eie wette, tradisies,
tale en kulture aan ons oorgedra het. Dit
was veral hulle wat die Europa van vandag gevorm het. Dis van hulle
dat lande soos Brittanje, Frankryk, Duitsland, Nederland, België en
die Skandinawiese lande hul beslag gekry het. Die
teenwoordigheid van die Barbaarse stamme is reeds in die tyd van
Julius Caesar gevoel nadat hulle die grense van die Romeinse ryk
oorgesteek het. Hulle
was weliswaar nie juis ’n bedreiging vir die magtige Rome nie, in elk
geval nie in daardie stadium nie. Maar in 176 n.C. het die eerste
volskaalse Barbaarse inval plaasgevind. Keiser Markus Aurelius met
sy weermag, onder wie duisende Germaanse soldate, het daarin geslaag
om die meeste Barbare oor die Donaurivier terug te dryf.
BO: Die Donaurivier in die huidige Oostenryk.
Digitale verkleuring van ’n swart-wit foto wat verskaf is deur die Oostenrykse Nasionale Toeristekantoor in New York / U.S. Library of Congress Country Studies
Maar
dit was nie die laaste inval nie. Die Barbare het ongeag die
bloedvergieting en lewensverlies die ryk dikwels binnegeval. Markus
Aurelius sou nie kon raai dat die Romeinse Ryk in minder as
driehonderd jaar sou swig, dat Europa deur die Barbare geregeer sou
word nie. Die
Hunne
•
DIE wildste woestaards van die Barbaarse stamme was die Hunne—hordes
nomade wat Europa in die vierde eeu te perd binnegeval het. Hulle
het gebrand en geplunder net waar hulle gekom het. Mense het voor
hulle uit gevlug tot buite die grense
van die Romeinse Ryk om van die aanstormende bedreiging te probeer
wegkom. Die
Hunne kom oorspronklik uit Asië. Hulle het Mongoolse gelaatstrekke
gehad—’n plat gesig met klein oë en ’n swak profiel. En die
mense van Europa het hulle as die duiwel se gesante beskou. "Hulle
het nie ’n gesig nie. Dit lyk eerder soos ’n vormlose knop met
speldekoppies vir oë," het een Westerling geskryf. "Dié
mense lyk soos mense, maar leef soos wrede diere." Die
Europeërs het ook gereken dat hierdie "Satanskinders" hul
vyande met towery oorwin het. Daar is gesê die Hunne eet hul kos
rou, drink bloed, leef en slaap op hul perde en is so lelik dat ’n
mens hulle tweebeen-diere kan noem. In
Hunse grafte wat opgegrawe is, is dan ook inderdaad kopbene gevind wat doelbewus
verwring is deurdat babas se koppe met doeke vasgedraai was. Die Hunne het onder hul bekendste leier, Attila—deur slagoffers die Gesel van God genoem—die Romeinse Ryk van oos tot wes byna verwoes.
Detail van ’n foto deur "Alensha", wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het
In 370 het
die Hunne die Alane (’n Iraanse volk) oorval. Tussen 433 en 441
het Oos-Europa onder hul plundertogte en massamoord deurgeloop.
Daarna het hulle die Gote oorwin, hulle uitgedryf en Gallië
binnegeval. Ná Attila se dood in 453 het die onderdane in opstand gekom en hul Hunse veroweraars oorval. Mettertyd het die verskillende Europese volke die Hunne in hul samelewings opgeneem.
Openbare
besit (“in the public domain”) vanweë die verval Die
Gote
•
DIE Gote, Germaanse stamgenote wat vermoedelik van Swede kom,
het die noordoostelike grense van die Romeinse Ryk in die derde eeu
binnegeval. Hulle het grootliks tot die val van die ryk bygedra.
BO: Inval van die Gote—hierdie laat negentiende-eeuse skildery deur O. Fritsche is ’n hoogs geromatiseerde voorstelling waarin die Gote as berede soldate voorgestel word.
Oorgeneem
uit die Wikikpedia-ensiklpedie op die wêreldwye web, waar dit
aangedui word as openbare besit (“in the public domain”) vanweë
die verval
In
die vierde eeu het die Gote in twee hoofgroepe—die Wes-Gote en
Oos-Gote—verdeel. In
376 het die Wes-Gote wat voor die Hunne uitgevlug het, op die grens
van die Donaurivier saamgedrom en die Romeinse keiser om asiel
gevra. Hulle is tot die ryk toegelaat, maar het twee jaar later teen
die Romeine se behandeling in opstand gekom. Feitlik ’n hele
Romeinse leër is in dié opstand by Adrianopel uitgewis. In
382 het die Wes-Gote hulself tot ’n onafhanklike Barbaarse volk
verklaar—die eerste in sy soort in die Romeinse Ryk. Hul koning,
Alarik, het hulle in die begin van die vyfde eeu Italië binnegelei
en in 410 het hulle Rome verwoes. Daarna
het hulle Gallië en Spanje binnegeval, maar is laat in die vyfde
eeu in Gallië deur die Franke verslaan. Die
Oos-Gote het slegter gevaar. Hulle is in die jare 370 deur die Hunne
verslaan en was onder die Hunse mag tot met die dood van koning
Attila in 453. In 493 het die Oos-Gote Italië verower, onder
leiding van Theodorik, maar hulle is in die middel van die sesde eeu
verslaan deur die Bisantynse Ryk. Die
Franke
•
DIE Franke word oor die algemeen beskou as die suksesvolste
van die Germaanse invallers. Hulle het in die derde eeu die Laer- en
Middel-Rynland binnegeval, en in 486 die goed ontwikkelde
Noord-Gallië—vandag Frankryk—waar hulle die plaaslike Latyn
aangepas het. Dié taal het tot Frans ontwikkel. Die
Frankiese geskiedenis word in twee dele verdeel: Merowingies (van
omstreeks 481 tot 751), genoem na ’n Frankiese kaptein genaamd
Meroweus, en Karolingies (van 751 tot 987). Die
Merowingiese konings was almal bekend om hul lang, blonde hare, hul
vegvermoëns, hul wreedheid, die gewoonte om hul ouers en kinders te
vermoor, en hul rykdom. Toe
die graf van een van die konings, Childeric, in die sewentiende eeu
opgegrawe is, is vragte waardevolle skatte ontdek. Childeric
se seun, Clovis, het homself ’n gunstige plek in die
geskiedenisboeke besorg deurdat hy die eerste Barbaarse leier was
wat ’n Christen geword het. Hy is in 496 gedoop. Kort daarna is
die hele Frankiese volk tot die Christendom bekeer.
Openbare besit (“in the public domain”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom Clovis
se koninkryk het van oos van die Rynrivier tot teenaan die Pireneë
gestrek. Toe hy dood is, het die Franke so ’n sterk houvas op
Gallië gehad dat Frankryk na hulle genoem is. Eers
nadat Frankryk behoorlik gevestig was, het die Franke hul visiere op
Spanje en Italië gerig. ’n Enkele strooptog in Spanje het twee
miljoen goue munte na die Franse koffers laat stroom. Maar
anders as die meeste ander Barbaarse groepe, het die Franke nie net
gevat wat voorkom en laat spat nie en ook nie alles wat Romeins was
voor die voet verwerp nie. Hulle het die Romeinse taal, die kerk en
stedelike nedersettings help behou. Die beroemde Karel die Grote—Charlemagne—het in 768 koning geword (kyk die voorstelling van hom reg bo-aan hierdie bladsy). Hy het met ’n ystervuis geregeer en ’n magtige ryk uit die Frankiese koninkryk opgebou. In 800 is hy gekroon tot keiser van wat toe die Heilige Romeinse Ryk genoem is—’n politieke entiteit van lande in Wes- en Sentraal-Europa.
Die Heilige Romeinse Ryk het op sy hoogtepunt die grootste deel van die gebied beslaan waar België, Duitsland, Italië, Nederland, Oos-Frankryk, Oostenryk, Switserland, die Tsjeggiese Republiek en Wes-Pole vandag is.
Tog was die ryk bestem vir ondergang. Met die verloop van tyd het die keiser se mag ál meer simbolies geraak, terwyl die eintlike mag by verskillende plaaslike heersers berus het. En toe die laaste Heilige Romeinse keiser in 1806 van sy titel afstand doen, was die gebied lank reeds wat die Franse skrywer Voltaire so sprekend beskryf het as "nòg heilig, nòg Romeins, nòg ’n ryk". |
|
|
Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf |