|
Vroeë
mense en antieke beskawings (13)
Maja
en Asteke —
beskawings in die oerwoud
Foto met vergunning van National Oceanic and Atmospheric Administration Paleoclimatology Program / U.S. Department of Commerce
Ses eeue lank het die Maja ’n verstommend gesofistikeerde beskawing in die oerwoude van Sentraal-Amerika in stand gehou—en toe is hulle skielik verslaan. Die Asteke, wat wes van die Maja gewoon het, het ’n selfs korter geskiedenis gehad het...
Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
ULLE
het na ons skepe toe uitgeswem en vir ons papegaaie, bolle
katoengare, spiese en baie ander goed gebring... Ek het geen
dierlikes onder hulle gesien nie... Inteendeel, hulle was baie
eerbiedig en vriendelik." Só
het Christopher Columbus op 12 Oktober 1492 in sy skeepsjoernaal
geskryf. Dit was die eerste opgetekende kontak tussen Europeërs
en inwoners van die Nuwe Wêreld.
Krediet: An Ongoing Voyage Exhibition, U.S. Library of Congress Teen
die tweede dekade van die 1500’s het die Spaanse veroweraars
egter deeglik besef dat die inwoners van wat ons nou as Mexiko en
Sentraal-Amerika ken, glad
nie die "edele barbare" is soos hulle aanvanklik gedink
het nie. Só
was daar byvoorbeeld Hernán Cortés, ’n ywerige Spaanse kolonis.
Hy
was
eers verblind deur die rykdom en weelde van die Asteekse stede en
al die skatte waarmee die Asteke hom en sy avonturiers belaai het.
Maar ’n skok het op hom gewag toe hy op hul hooftempel afkom.
Maar
wie was hierdie vreemde, bloeddorstige mense dan? Geskiedenis
van die Maja
MET die koms van die Spanjaarde het veral twee beskawings
ver bo die ander in Sentraal-Amerika uitgetroon: die Maja en die
Asteke. Die
Maja het in die Yucatan-skiereiland in Mexiko gewoon, in ’n
gebied wat vandag feitlik heeltemal deur Guatemala, Belize,
Honduras en El Salvador in beslag geneem word. Die
Maja-kultuur het sy bloeityd tussen omstreeks 250 en 900 nC beleef—vandag
bekend as die
Klassieke
Tydperk. In dié tyd het hulle groot stede gebou en vinnige
vooruitgang in die kunste, argitektuur en wetenskappe gemaak. Godsdiens
het hul kultuur oorheers en tot die oprigting van reusagtige
seremoniële geboue gelei.
Foto: Department of Petén, Guatemala / David A. Hodell, Department of Geology, University of Florida / National Oceanic and Atmospheric Administration Paleoclimatology Program / U.S. Department of Commerce Die
Maja-tydperk is onderbreek met die inval in 950 deur die
Tolteek-Indiane van Mexiko. Die Tolteke het in die tyd van hul
oorheersing, bekend as die Mexikaanse tydperk, ’n groot invloed
op die Maja-kuns en -argitektuur gehad. Die Maja-kultuur het
herleef met die einde van die Tolteek-oorheersing in 1200, maar
die handel het ’n baie groter rol as godsdiens begin speel. Die
Maja-stede het florerende handelsentrums geword en die seehandel
het vinnig vooruitgegaan. Die
rede vir die ineenstorting van die Maja-beskawing
in die
sestiende eeu bly ’n raaisel. Al wat bekend is, is dat interne
struwelinge in die middel van die vyftiende eeu die volk se
weermag uitgeput het. Dit het daartoe bygedra dat die Spanjaarde
hulle kon oorrompel. Wat
die Maja vermag het
•
DIE Maja-kultuur verteenwoordig die toppunt van die
Sentraal-Amerikaanse lewenswyse. Hulle het ’n eie skrif
ontwikkel wat uit baie simbole bestaan het. Die simbole het
kombinasies van klanke en idees weergegee, soortgelyk aan die
Egiptiese hiërogliewe. Die Maja het hul skrif gebruik
om
gebeurtenisse in die daaglikse lewe van hul leiers en dié se
familielede neer te skryf, om sterrekundige waarnemings op te
teken, en belangrike datums aan te teken. Daar
is geskryf op mure, op groot klipmonumente of stelae,
geboue en selfs meubels. Die Maja het tot boeke van gevoude
papierblaaie gehad wat van vesels van die maguey-plant
gemaak was. Ongelukkig
is baie van
dié
boeke deur die Spanjaarde vernietig.
Die
Maja het selfs twee kalenders ontwikkel. Een is gebaseer op die
bewegings
van die aarde om die son (al het hulle dit nie werklik besef nie).
Dit het 365 dae gehad, wat verdeel is in agttien maande van
twintig dae elk. Aan die einde van ’n kalenderjaar het vyf
"ongelukkige dae" oorgebly. Die
ander kalender is in 260 dae verdeel. Dit het twintig name vir
verskillende dae gehad. Dié name is met die name van gode en
godinne geassosieer. Priesters het dié kalender gebruik om iemand
se goeie
of slegte geluk te bepaal. Die
Maja het talle akkurate sterrekundige waarnemings gedoen deur die
bewegings van die son en die planete relatief tot die horison dop
te hou deur ’n paar gekruiste stokkies. Boonop was die Majas se
wiskundige vermoëns van ’n besonder hoë standaard. Hulle
het ’n getallestelsel met net drie simbole uitgevind: ’n skulp
was ’n nul, ’n strepie was die getal vyf, met ’n kolletjie
vir elke eenheid tot met die getal vier. Alle getalle is as ’n
kombinasie van strepies en kolletjies geskryf. Die posisie van die
skulpie het die waarde aangedui. Die
Maja was ook uitstekende skilders, pottebakkers en beeldhouers.
Hulle het mure met kleurryke tekeninge versier en beelde van klei
en klip gemaak. Hulle het hoë piramides gebou met tempels bo-op
en steil trappe teen die kante uit. Hulle het die oënskynlike
hoogte van hul geboue verder verhoog met versierings wat op die
hoogste punt van die dak aangebring is. Die
godsdiens van die Maja het om die aanbidding van groot aantal
natuurgode gesentreer. Geskiedenis
van die Asteke
VOLGENS Asteek-oorlewering het hul voorvaders van ’n
gebied ver noord van Mexiko, genaamd Astlan, suidwaarts geswerf en
is hulle eers in 1345 toegelaat om hulle permanent op die
Mexikaanse hoogland te vestig.
Foto:
Kopiereg © 2007 National Gallery of Art, Washington D.C. (foto
slegs vir persoonlike, opvoedkundige, nie-kommersiële gebruik) Die
Asteke het dié gebied Tenochtitlan genoem, die "Plek van die
turksvy-kaktus". Tenochtitlan is uitgelê volgens ’n
spesifieke rooster met kanale en strate—baie soos Venesië. Die
stad het gefloreer, sy onafhanklikheid verkry en ’n stadstaat
geword. Tenochtitlan en vyftig ander onafhanklike stadstate het mettertyd verenig.
BO: Tenochtitlan (oos is bo)—van ’n muurskildery in die Nasionale Museum vir Antropologie in die stad Mexiko (1930).
Krediet: Die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web, waar dit as openbare besit (“in the public domain”) aangedui word
Foto: Cortina Ramírez Andrés Samael, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het
Een
van die bekendste Asteek-heersers was Montezuma I, ’n man wat
baie gebiedsgrond vir die Asteke verower het. Sy opvolgers het ook
nie op hul louere gerus nie, en met die kroning van Montezuma II
in
1502 tot keiser, was die Asteekse ryk op sy hoogtepunt. Die
meeste Sentraal-Amerikaanse volke het menslike offerandes gebring,
maar die Asteke het dit tot
’n fyn kuns verhef. Een Spaanse veroweraar het glo 136 000
skedels langs die tempel van Huitzilopochtli getel. Tog het die
Asteke menslike offerandes as ’n heilige daad beskou. Cortés
en sy troepe—versterk deur oorwonne Indiane wat omgekrap was
oor die swaar belasting-las op hulle—het in 1519 na die Asteekse
hoofstad opgeruk en Montezuma II gevange geneem. In 1520 het die
Asteke die Spanjaarde verdryf, maar die Europeërs het teruggeveg
en uiteindelik geseëvier. Wat
die Asteke vermag het
•
DIE meeste van die Asteekse geboue is deur hul Spaanse
veroweraars vernietig. Tenochtitlan is gelyk gemaak met die grond
en die stad Mexiko oor die bouvalle gebou. Gelukkig
het argeoloë voorbeelde opgegrawe van Asteekse juwele,
pottebakkersware en beeldhouwerke—van die fynste kunsskatte wat
deur Sentraal-Amerikaanse volke gemaak is. Hul
skrif het uit klein prentjies bestaan, en skrifgeleerdes het
gedigte en volksverhale daarin geskryf. Die
Asteke het ook twee kalenders gebruik. Een was gegrond op ’n
siklus van 365 dae en is gebruik om geskikte saai- en oestye vas
te stel. Die ander kalender het 260 dae gehad en is vir
godsdienstige geleenthede gebruik. Baie van vandag se inwoners van Mexiko is afstammelinge van die Asteke. En ’n groot deel van die bevolking van Guatemala stam van die Maja af.
Klik
hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf |