|
|
||
|
REGS: Shaka, grondlegger van die Zoeloevolk, volgens ’n skets deur James King (1781 - 1828). Die skets is digitaal verkleur.
IT was ’n tyd van groot omwentelinge in Suid-Afrika—droogte, hongersnood, outokratiese leiers, oorloë, hele bevolkingsverskuiwings—kortom, ’n era van geweldige ellende en chaos. Mensebeendere het plek-plek gesaai gelê oor die dor en verlate vlaktes, en paniekbevange vlugtelinge het in die berge of elders ver weg gaan skuil. Die uitwerking wat hierdie bloedige warboel op die swart volkere van ons wêrelddeel gehad het, was enorm. Hul politieke, ekonomiese en maatskaplike strukture is daardeur onherroeplik verander. Hierdie “tyd van moeilikhede”, soos ook soms daarna verwys word, het van omstreeks 1815 tot diep in die 1830’s geduur. Die Zoeloes verwys daarna as Mfecane en die Sotho’s as Difaqane of Lifaqane. Dit beteken iets soos Die Breking, Die Verstrooiing of dan wel Die Geforseerde Migrasie. In hierdie tyd het ’n verskeidenheid van swart gemeenskappe met mekaar in botsing gekom, wat ’n kettingreaksie van oorlogvoering met gepaardgaande ontwortelings en hergroeperings van mense veroorsaak het. Die Mfecane het tussen die riviere Tugela en Pongola in Zoeloeland ontstaan. Dit is die wêreld waar Shaka sy militaristiese Zoeloe-koninkryk gevestig het, maar die ontwrigting het inderdaad al voor die opkoms van Shaka begin. Van Zoeloeland af het die Mfecane uitgekring en dit het daartoe gelei dat volkere soos die Matebele en ’n land soos Lesotho uit en deur die verstrooides gevorm is.
’n Kombinasie van plaaslike faktore—bevolkingsgroei, die uitputting van natuurlike hulpbronne en ’n verwoestende droogte en hongersnood—was op sigself genoeg om tot ’n droewige ramp te lei. Maar gepaard met daardie ekologiese katastrofe het oorlogvoering ook nog ’n menigte lewens geëis. Waar in dié wêrelddeel voorheen net klein politieke groeperinge was waarin geen hoofman die absolute mag gehad het nie, het groot, gesentraliseerde state van tienduisende mense ontstaan met outokratiese leiers en leërs van tot 40 000 man. AAN die einde van 1700’s was die grondslag vir die Mfecane reeds gelê. Mensegetalle in die gebied het dramaties toegeneem en gemeenskappe wat voorheen verspreid gewoon het, het al hoe meer saamgetrek en gekonsentreerd geraak. Hul kennismaking met mielies uit die Amerikas, deur middel van die Portugese in Mosambiek, was een rede vir hierdie toedrag van sake. Mielies het meer kos as die inheemse grasse op dieselfde lappe grond gelewer en kon dus ’n groter bevolking onderhou. Handel in ivoor met die Portugese in Delagoabaai was eweneens ’n dryfveer vir mense om hulle direk suid van Mosambiek te vestig. Dit sou ’n tekort aan grond veroorsaak, maar toe volg daar boonop ’n uitmergelende droogte wat omstreeks 1800 begin en tien jaar lank geduur het. Die mielies, ’n stapelvoedsel vir die bewoners, het meer water nodig gehad as die plaaslike graansoorte en die plante het verskrompel toe die reën wegbly.
Oorloë het uitgebreek en twee koninkryke—die Ndwandwe onder aanvoering van Zwide en die Mthethwa onder Dingiswayo—het om die besit van die kwynende hulpbronne geveg. Altwee koninkryke het meer gesentraliseerd en gemilitariseerd geraak en die jong soldate se konings het meer outokraties geword terwyl hulle vir oorlewing gebaklei het. Dit het in 1818 gelyk of die Ndwandwe die botoon sou voer toe Dingiswayo gedood en sy magte verstrooi is, maar die eersgenoemde is spoedig oorrompel deur Shaka, die stigter van die Zoeloe-staat. Waar die Mfecane dus die resultaat van die onderlinge botsings tussen die groot kapteinskappe in die gebied van die Noord-Nguni was, was dit veral die veroweringsoorloë van Shaka wat momentum daaraan verleen het. Meer oor Shaka self kan in ’n ander Mieliestronk-artikel gelees word.
SHAKA se staande leër van etlike tienduisende krygsmanne is saamgestel uit regimente wat volgens ouderdomsgroepe ingedeel is. Die gemeenskappe wat hulle oorrompel het, is vir hul beeste en graan geplunder. Die Zoeloe-soldate kon die buit egter nie vir hulself toe-eien nie. Allles sou die eiendom van die oppermagtige Shaka word. Daar moet egter dadelik gesê word dat groter verwoesting gesaai is deur diegene oor wie Shaka geseëvier het as deur sy eie impi’s. Só het die vlugtelinge van Hlubi en die Ngwane—ontneem van alle maatskaplike orde—geroof en gepunder waar hulle ook al gegaan het. Hulle het die landskap van Natal en ’n groot deel van die Vrystaat as.’t ware in ’n woesteny verander. Die aanslag van die Hlubi en Ngwane op die Sotho-kapteinskappe in Transoranje het verskeie van die groepe ontwortel. Voorts het die Mfecane ’n groot toevloei van hawelose mense na die oostelike dele van die Kaapkolonie veroorsaak. Talle het oor die Oranje of vanuit Natal na die gebied getrek om na kos en woonplek te soek. Die grootste groep was die Mfengu (of Fingo’s), wat ’n samevoeging van etlike Nguni-groepies was. Maar die verwoesting wat die Mfecane onder die gemeenskappe in die binneland aangerig het, het ook ander belangrike gevolge gehad. Toe die blanke trekboere van die laat jare twintig van die 1800’s en die Voortrekkers van 1836 af oor die Oranjerivier begin beweeg het, was groot dele van die gebied feitlik onbewoon. Dit het veroorsaak dat die blankes hulle betreklik vinnig in die gebied kon vestig. Andersyds het die blankes ’n nuwe mag verteenwoordig wat, in
die onstabiele omstandighede van die Mfecane, deur die groot swart
magsblokke as ’n bedreiging beskou is.
DIE Ndebele was
oorspronklik ’n vertakking van die Zoeloes wat onder aanvoering van
Mzilikazi weggebreek en weswaarts uitgewyk het om teen die oewers van
die Vaal langs verskrikking te saai en hele gemeenskappe oor te neem of
te verdryf. Die meeste van hierdie state is weliswaar opgebou deur die samevoeging van verskeie etniese groepe wie se taal en tradisies dikwels verskil het—Mzilikazi se Ndebele was byvoorbeeld ’n konglomeraat van Nguni, Sotho, Tswana, Pedi en ander. Moshoeshoe se Sotho is ook uit ’n groot verskeidenheid van uiteenlopende groepe saamgevoeg. Opsommend: aan die einde van die Mfecane het
enkele groot politieke eenhede—die Zoeloe, die Ndebele, die Swazi, die
Sotho en die Mpondo, asook enkele
kleineres soos die Pedi en Bhaca—die binneland oorheers. Dit is hulle
met wie die Voortrekkers sou kennis maak om ’n belangrike nuwe epog in
die Suid-Afrikaanse geskiedenis in te lui.
|
||