|
UROPA in die Middeleeue! Probeer jou
daardie wêreld voorstel.
Huise met hoë dakke gekluister om ’n kerk. Kloosters teen die
heuwelhange in stille, landelike omgewings. Sober kastele wat op hoë
heuweltoppe hurk.
Ridders met blink wapenrustings wat op perde oor ophaalbrûe rammel
of mekaar onverskrokke met lanse bestorm. Landhere wat kleinwild met
valke jag, of herte met hul pyle en boë agtervolg.
Baie mense het ’n mooi, romantiese idee van die Middeleeue. Maar die
sowat tien eeue waarin hierdie tydperk val, is ook gekenmerk deur
’n jammerlike en patetiese verval van die mens.
Met die “Middeleeue” dui geskiedkundiges die periode aan tussen die
antieke en moderne tyd in Wes-Europa. Nogtans is dit moeilik om
presies te sê waar alles werklik begin of geëindig het. Daar word
egter gewoonlik aanvaar dat dit ingelui is deur die ineenstorting
van die Romeinse Ryk in die jare 400 n.C. en afgesluit is met die
soeke na en die verbreding van kennis in die jare 1500.
Die Middeleeue word soms verkeerdelik die Donker Eeue genoem, weens
die kennelike gebrek aan geleerdheid, veral in die eerste vyf eeue.
Dié term word egter vandag nie juis deur kenners gebruik nie, want
navorsing het getoon dat hulle nie heeltemal so “donker” was nie.
In ons reeks oor antieke beskawings word vertel hoe die Romeinse
Ryk van omstreeks 160 n.C. en veral in die jare 200 n.C. geteister is
deur die invalle van Germaanse volke wat barbare genoem is.
Teen die jare 400 n.C. was die Romeinse Ryk so verswak dat hy nie meer
die invallers kon weerstaan nie. In die loop van die eeu is die ryk
opgekerf in baie koninkryke wat deur barbaarse opperhoofde regeer
is.
Onder Romeinse heerskappy was die mense gewoond aan ’n lewe van orde
en reg. Hulle het sterk sentrale en plaaslike regerings gehad met
die veiligheid en geborgenheid wat daarmee saamgaan, asook billike
verhore.
Onder die barbare is orde en reg vervang deur bygeloof, chaos en
voortdurende oorlogvoering.
Die handel, wat onder die Romeine nuwe hoogtes bereik het, is
heeltemal vernietig en die weë na Rome het verbrokkel. Sonder handel
en geld moes die mense hulle noodgewonge tot ’n landelike lewenswyse
wend om te oorleef.
Landgoedere
NÁ die invalle van die barbare was Wes-Europa se ekonomie op
’n
stelsel van landgoedere gegrond. Teen die jare 800 was die meeste
van die grond verdeel in groot landgoedere wat deur ’n handvol
welgestelde landhere besit en beheer en deur arm landvolk bewerk is.
Biskoppe en ander hoë geestelikes wat hul lewe aan die kerk gewy
het, het ook oor groot stukke grond regeer en baie soos die
landhere geleef.
Op elke landgoed was ’n dorpie van eenvoudige hutte waarin die
landvolk gewoon het. Die dorpenaars het omtrent alles geproduseer
wat hulle, die landheer en die geestelikes nodig gehad het.
Groot dorpe, wat vanweë die Romeinse handel floreer het, het al hoe
onbelangriker geword. Die inwoners het na die plase getrek om werk
te kry, en baie groot dorpe het heeltemal van die toneel verdwyn.
Daarmee saam het die kulturele en opvoedkundige bedrywighede tot
niet gegaan. Die antieke Griekse en Romeinse geleerheid was so te sê
vergete, en vaardighede in die letterkunde, skilderkuns, beeldhou en
argitektuur was daarmee heen.
Wes-Europa is in “duisternis” gedompel...
Christendom
DIE enigste lig in die donker tonnel van die
vroeë Middeleeue was die Christelike kerk. Terwyl die toestande
elders verswak het, het die kerk na vore getree as die enigste
instelling wat in staat was om die klassieke beskawing te beskerm.
Twee instellings van die kerk—die katedraal en die klooster—het belangrike sentrums van geleerdheid geword.
REGS:
Voor ’n Middeleeuse lessenaar sit vermoedelik ’n geestelike wat
besig is om ’n afskrif van ’n antieke manuskrip te maak.
Krediet: Histories; skandering uit ou
boek wat toe digitaal verkleur is
Die monnike van sekere kloosters en die geestelikes van die
katedrale het die lees en skryf van Latyn lewend help hou en antieke
manuskrifte gekopieer, waardeur baie klassieke letterkundige werke
behou gebly het wat andersins heeltemal sou verdwyn het.
Hulle het ook baie skole in Europa opgerig en voortreflike
biblioteke gebou.
Met verloop van tyd is die barbare tot die Christendom bekeer, wat
die geografiese invloed van die kerk grootliks verbreed het. Die
barbare het geleidelik die Romeinse begrippe van owerheidsgesag en
geregtigheid aanvaar.
Die kerk het ’n toenemend belangrike rol in staatsbestuur gespeel,
en kerklui het burgerlike take oorgeneem met die insameling van
belastings en die instandhouding van geregshowe om misdadigers te
straf.
Feodalisme
TUSSEN die middel van die jare 700 en 987 is
Wes-Europa regeer deur sekere Frankiese konings wat die Karolingers
genoem word. In die laat 700’s het die heersende koning, Karel die
Grote, Wes-Europa verenig—die eerste keer sedert die
ineenstorting van die Romeinse Ryk.
Die heersers het besef dat hulle nie hul onderdane sonder soldate
kon beheer of beskerm nie, en in die loop van die agtste eeu het ’n
regeringstelsel wat as die feodale stelsel bekend staan, in Europa
ontstaan.
Dit was allereers ’n stelsel van grondbesit waarin mense grond
verkry het in ruil vir dienste. Só byvoorbeeld kon ’n lyfeiene
(iemand wat met lyf en lewe aan ’n heer behoort en dus eintlik net
’n soort slaaf was) van sy leenheer verlof ontvang om ’n bepaalde
stuk grond vir sy eie gewin te bewerk. Die voorwaarde was dat hy sy
leenheer se grond ploeg.
REGS:
Feodale gemeenskap... landvolk aan die ploeg en arbei voor ’n
kasteel, soos uitgebeeld in ’n Franse manuskrip van omstreeks 1415.
Die feodalisme was egter ook ’n lewensvorm, waarin ’n mens se
geboorte geheel en al bepaal het watter status jy in die lewe sou
beklee. ’n Lyfeiene sou byvoorbeeld nooit eens daarvan gedroom het
om ’n ridder te wil word nie, en hy het feitlik geen hoop gehad om
ooit iets anders as ’n lyfeiene te wees nie.
Die Middeleeue het onder Karel die Grote die grootste opgang beleef.
Hy het die onderwys verbeter en ’n skool gevestig met leerkragte
wat ander skole en biblioteke ingerig en antieke manuskrifte
gekopieer het. Hierdie hernieude belangstelling in geleerdheid word
die Karolingiese Renaissan.C.e genoem.
Maar ná Karel die Grote se dood het Europa weer in koninkryke
verbrokkel.
In die jare 900 en 1000 was die grootste deel van Wes-Europa in
feodale state verdeel. In party, soos Engeland en Frankryk, is sterk
regerings gevestig, wat ’n mate van vrede en veiligheid vir hul
volkere gebied het. Ander, soos in Duitland en Italië, het
ondoeltreffend gebly.
Feodalisme is op elke vlak van die gemeenskap bedryf. Konings kon
nie hul lande regeer sonder die steun van hul ridders nie. Here kon
nie hul landgoedere beheer sonder die landarbeiders nie. Die
landvolk kon nie lewe sonder dat hulle die beskerming van hul here
teen die gevare en onsekerhede van daardie tyd gehad het nie.
Jammerlik gebrekkig soos die stelsel was—met al die onreg en
lyding wat dit vir die laer stande meegebring het—is dit algemeen
beskou as die beste manier om ’n staat te bestuur wat van die
landbou afhanklik is.
Daarby het dit ’n skyn van orde in Europa help vestig waar daar
voorheen slegs chaos was.
Riddertyd
ONS woord ridder hou sigbaar verband
met die woord ruiter (iemand te perd), en die Engelse
knight kom weer van die Angel-Saksiese cniht, wat berede
dienskneg beteken.
Ridders se plig in oorlogtyd was om te perd as gewapende soldate te
veg, en in vredestyd moes hulle huishoudelike pligte vervul.
Aanvanklik kon elkeen ’n ridder wees. Maar namate wapenrusting en
oorlogsperde duurder geword het, kon slegs die rykes dit bekostig,
en dit het geleidelik ’n eer en onderskeiding geword.
Van ’n ridder is verwag om eerbaar en dapper in die stryd te wees en
om sy koning, sy kerk en sy dame te dien.
In tye van vrede het hulle dikwels te veel vrye tyd gehad en hul
vaardighede in twee algemene speletjies vertoon: steekspele, waarin
twee gewapende ridders mekaar met hul lanse bestorm het in ’n
wedywering om glorie en eer; en toernooie of miniatuur-gevegte,
waarin groepe ridders op hul perde oor die landskap gery en mekaar
met hul lanse uit die saal probeer gooi het.
Hul bloeddors is dikwels in plaaslike gevegte geles. Hul slagoffers
was meestal onskuldige landvolk.
Dis te verstane dat die ridders sowel geliefd as gehaat was.

BO: Allerhande
fanatasieverhale is om ridders geweef. In sekere van die
legendes is hulle selfs deur drake geteister, soos hier waar een
van die gedrogte ’n ridder op ’n lys vaskeer.
Krediet: Illustasie uit Charlemagne
& His Knights, deur Katharine Pyle, J.B. Lippincott Co., 1932 /
U.S. Library of Congress
|