Die Middeleeue (2): Die Kruistogte

Klik hier onder op die skakel na enige hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

BO: ’n Middeleeuse miniatuurskildery van die Beleg van Antiochië ten tyde van die Eerste Kruistog.

Bron: Histories (“PD Old”); datum 1490

Die Kruistogte


Dit was een van die heel uitsonderlikste episodes in die geskiedenis van die mens... ’n epos van woeste drama, maar nie sonder ’n titseltjie romantiek nie. Dit het twee eeue oorspan—en legendariese helde opgelewer, soos Richard Leeuehart en Saladin. Hoe anders sou die wêreld se beloop nie sonder die Kruistogte gewees het nie...

 


REGS: ’n Voorstelling van Middeleeuse kruisvaarders.

Bron: Karen’s Whimsy Public Domain Images
  

D

IE skare raak stil, baie stil. Dis die soort swanger stilte wat ’n mens baiemaal kry net voordat iets enorm groots aangekondig word. Pous Urbanus II, ’n man van groot gesag, tree in sy ampsklere vorentoe na die rand van die platform. Hy wend hom tot die duisende wat in die veld buitekant die ou stad Clermont in Frankryk vergader het.

Toe—op hierdie dag van 27 November in die jaar 1095—lewer hy ’n toespraak wat ’n geweldige invloed op die gang van die geskiedenis sou hê.

“Ons Christen-broers en -susters in die Ooste het my om hulp gesmeek,” sê die pous. “Hul land word deur die Turke binnegeval, hul kerke ontheilig en onskuldige mense mishandel.”

LINKS: Pous Urbanus II.

Bron: Histories (“PD Old”)


“Erger nog,” bulder hy, “pelgrims na die Heilige Land word beroof. Die tyd het aangebreek dat Christene in die Weste in ’n gewapende pelgrimstog verenig en die Heilige Land van die ongelowiges terugwen.

“Hou op om teen mekaar oorlog te maak,” gaan hy voort. “Hier is julle arm en ongelukkig; daar sal julle gelukkig en voorspoedig en ware vriende van God wees.”

En asof uit een mond dreun die skare in antwoord op die pous se oproep: “Dieux Ie veut, Dieux Ie veut”, God wil dit so...

Maar watter gebeurtenisse het tot hierdie merkwaardige geestelike drif gelei? En wat sou die gevolge van dit alles wees? Sonder die Kruistogte sou die wêreld se beloop noodwendig baie anders gewees het.

Agtergrond

IN DIE sesde eeu is ’n groot deel van die lande aan die Middellandse See onder die beheer van die Bisantynse Ryk. In die sewende eeu word Palestina, die Heilige Land van die Bybel, deur Arabiese Moslems beset.

In die daaropvolgende eeue bly woon Moslems, Christene en Jode betreklik vreedsaam langs mekaar in Palestina, en Wes-Europese Christene kan die 4000 km lange pelgrimstog oor land en see na Jerusalem ongehinderd voltooi.

Toe, in die elfde eeu, ruk die Seldjoekse Turke, verwoede vegters van Midde-Asië, op deur die Nabye Ooste, Klein-Asië, Sirië en Palestina. In 1071 verdryf hulle die Bisantynse troepe in die Slag by Manzikert in Klein-Asië, en in 1078 word Jerusalem verower.

Anders as die Arabiese Moslems minag die Turkse Moslems die Christen-pelgrims. Hulle word óf gelas om om te draai óf doodgemaak. Die handelsroetes tussen Italië en die Midde-Ooste word ook ontwrig.

In 1095 vra die Bisantynse keiser Alexius Comnenus vir pous Urbanus II van die Rooms-Katolieke Kerk om die nie-Christelike Turke uit Jerusalem te help verdryf.

Urbanus stem in, en die volgende twee eeue word gekenmerk deur leërtogte wat die Kruistogte genoem word.
 

Eerste Kruistog (l096-’99)

DAAR word bepaal dat die Eerste Kruistog op 15 Augustus 1096 (die Katolieke Maria-Hemelvaart) sal begin.

Voordat ’n behoorlike leër egter nog op die been gebring kan word, spring ’n sameraapsel van volgelinge van ’n Franse monnik, Pieter die Kluisenaar, die amptelike opmars voor.

Hierdie ongedissiplineerde spul plunder en dring oral op gratis kos en blyplek aan. Maar baie word deur ontstoke Europeërs en die meeste van die res deur Turke in Klein-Asië doodgemaak.

 

BO: Pieter die Kluisenaar wys die kruisvaarders die pad na Jersusalen—detail van ¹n Franse geïllumineerde (versierde) manuskrip op perkament uit omstreeks 1270.

Bron: Histories (“PD Old”)


Die vier amptelike leërs wat deur Urbanus II uitgestuur word, bestaan uit hoogs gedissiplineerde Franse en Normandiese ridders onder aanvoering van sulke edellui soos Godfried van Bouillon, Raymond van Toulouse, Robert van Normandië (die oudste seun van Willem die Veroweraar, die koning van Engeland), Robert van Vlaandere en Bohemond van Taranto.

In Konstantinopel word hul geledere deur Bisantynse magte aangevul.

Die eerste oorwinning is in 1097 toe die gekombineerde magte die Moslems naby Nicaea in die huidige Turkye verslaan. Die leërs verdeel toe, en die Wes-Europeërs ruk na Jerusalem op. Vroeg in Junie 1098 kom die Europese kruisvaarders in die stad Antiochië, ook in die huidige Turkye, aan.

Sowat sestig ridders bestyg ’n muur teen een van die stadstorings en maak die stadshekke oop. Antiochië word ingeneem. Teen die aand is daar geen enkele lewende Turk meer in die stad oor nie.

Kort daarna word die kruisvaarders deur Turke omsingel. Waterverskaffing word afgesny en ’n maand lank staar hulle ’n hongerdood in die gesig.

Toe bring een van die landvolk, ene Pieter Bartholomeüs, ’n ysterlans te voorskyn wat hy beweer dieselfde een was wat Jesus gewond het. Opnuut begeester, marsjeer die kruisvaarders dapper uit Antiochië en laat die oorblufte Turke in alle rigtings skarrel.

’n Jaar later kom die Europeërs in Jerusalem aan. Sowat 1300 ridders en 12 000 voetsoldate val die stad binne en dwing die hekke oop. Hulle maak amok in die strate, en mans, vroue en kinders word doodgemaak. Die Jode, wat in hul hoofsinagoge gaan skuil, word lewend verbrand.

 

 

BO: Die inname van Jersusalem.

 
Bron: Uit ’n Middeleeuse manuskrip (“PD Old”)


Pous Urbanus II het nie bly lewe om die nuus van die val van Jerusalem te verneem nie. Hy sterf op 29 Julie, net twee weke daarna.

Die meeste van die kruisvaarders gaan terug huis toe. Die verowerde land word in vier state verdeel wat die Latynse State van die Kruisvaarders genoem word: die koninkryk Jerusalem, die graafskap Edessa, die graafskap Tripoli en die prinsdom Antiochië.

   
Tweede Kruistog (1147-’49)

IN 1144 word die Kruisvaarder­state ernstig aangeveg toe die Turke die graafskap Edessa verower. In antwoord op die oproep van die Franse monnik Bemardus van Clairvaux, word die Tweede Kruistog geloods.

Kruisvaarders marsjeer Klein-Asië binne onder aanvoering van koning Lodewyk VII van Frankryk en koning Konrad III van Duitsland.

Die uiteinde is ’n volslae ramp. Konrad se leër word deur die Turke uitgewis. Lodewyk se leër val Damaskus aan, pleks van om na Edessa op te ruk. Teenaanvalle deur die Damaskus-leër dwing die kruisvaarders om die aftog te blaas.

  
Derde Kruistog (1189-’92)

 

REGS: Die sultan Saladin—’n voorstelling die Islamitiese leier wat die Europese Kruisvaarders teengestaan het, ’n verset wat uiteindelik tot die herowering van Palestina van die Kruisvaarderskoninkryk van Jerusalem gelei het. As sodanig is beklee Saladin ’n belangrike plek in die Arabiese en Islamitiese kultuur.

 


DIE Moslem-aanvalle op die Christene duur onverpoos voort. Teen 1183 is al die Moslem-lande wat aan die Kruisvaarderstate grens, onder beheer van die sultan van Egipte en Sirië, die kragdadige Saladin.


In 1187 verslaan sy leër van 100 000 manskappe die Christen-magte, wat tot die Derde Kruistog lei.

Engelse, Franse, Duitse en Skandinawiese troepe ruk op onder leiers soos koning Richard I (Richard Leeuehart) van Engeland, koning Filips Augustus van Frankryk en keiser Frederik l Barbarossa van Duitsland.

 

REGS: Koning Richard I (Richard Leeuehart) van Engeland.

 

Bron: Histories (“PD Old”)
 


Die kruistog word deur terugslae geteister. Frederik verdrink in ’n rivier in Armenië. Richard en Filips se troepe word deur siekte geteister en op die koop toe stry die twee konings byna gedurig.

Hulle slaag wel daarin om die Palestynse stede Acre en Jaffa in te neem, maar te midde van bitter twiste tussen die Christen-leiers besluit verskeie leiers, onder wie Filips, om met hul leërs terug te keer huis toe.

Richard hou aan veg. Hy slaag nie daarin om Jerusalem te herower nie, maar kan wel ’n verdrag met Saladin sluit waarkragtens die oorlog beëindig en beperkte getalle Christen-pelgrims toegelaat word om Jerusalem binne te gaan.
   

Latere Kruistogte

DIE mislukking van die Derde Kruistog lei tot die Vierde Kruistog (1202-’04). Die bedoeling was om na die Heilige Land te gaan, maar pleks daarvan verkies die leiers om Egipte aan te val ten einde die Moslem-mag te breek. Dit word eindelik gevolg deur die verowering van Konstantinopel.

In 1212 begin sowat 50 000 Franse en Duitse kinders met die Kinderkruistog, ongetwyfeld die treurigste en mees patetiese episode in die hele verhaal van die kruistogte.

Aangespoor deur volwassenes verlaat hulle hul ouerhuise in die oortuiging dat hul geloof en armoede hulle in staat sal stel om die Heilige Land terug te wen. In ’n onkeerbare golf trek hulle na die Mediterreense kus waar—só is aan hulle gesê—die waters van die Midellandse See voor hulle sal wyk, sodat hulle droogvoets na die Heilige Land kan trek waar ’n onbloedige triomf op hulle wag.

Toe die wonder uitbly, beland die hawelose kinders in allerhande intriges, wat tot baie se dood lei. Sekeres word selfs as slawe aan die Turke verkoop. Slegs ’n paar duisend sien weer hul ouerhuise.

 

BO: Detail en digitale verkleuring van “Die Kinderkruistog” deur die Franse kunstenaar en graveur Gustave Doré (1832-1883). Hierdie kruistog van nagenoeg 50.000 kinders het beslis vir die droewigste hoofstuk in die verhaal van die kruistogte gesorg.

Bron: Histories (“PD Old”)



Tydens die Vyfde Kruistog (1217-’21) word die dorp Damietta in Egipte ingeneem. Die kruisvaarders verwerp ’n aanbod vir die ruil van Jerusalem vir Damietta, en gee kort daarna in elk geval Damietta prys.

As gevolg van die Sesde Kruistog (1228-’29), gelei deur Frederick II van die Heilige Romeinse Ryk, gee die Moslem-sultan Jerusalem aan die Christene. Maar die oorgawe is van korte duur, want in 1244 word dit deur die Turke herower.

Dit lei tot die Sewende Kruistog (1248-54), maar die leier, koning Lodewyk IX van Frankryk, word gevange geneem en ’n losprys word vir hom geëis. Hy lei toe die Agtste (en laaste) Kruistog, maar sterf aan buikloop voordat enigiets bereik kan word.

Hierna staan die Christene ál meer grond aan die Moslems af: Antiochië in 1268, Tripoli en Acre in 1291. Pogings vir verdere kruistogte in die volgende twee eeue misluk.

     
Gevolge

DIE kruisvaarders kon nie bereik wat hulle wou nie. Die Heilige Land is slegs vir betreklike kort tydperke deur hulle beheer—en dit alles teen ’n geweldige prys.

Die motiewe vir die kruistogte was dikwels verdag. Hoewel baie mense deur ware godsdienstige ywer geïnspireer is, is sommige aangetrek deur die vooruitsig van persoonlike wins, mag, bloedvergieting en plundering. Die reputasie van die pous het gevolglik ernstig daaronder gely.

Pleks van om die vriendskap tussen Oosterse en Westerse Christene te verstewig, is die betrekkinge tussen hulle versuur.

Maar alles was nie negatief nie. Die nuwe dinge wat die kruisvaarders deur hul aanraking met die Arabiere leer ken het, het ook die Westerse kultuur bevrug en die horison van die Wes-Europeërs verbreed.

Die kruistogte het tot ’n groei in die handel en ekonomie gelei, en die Wes-Europeërs het beter skepe leer bou, asook geleer hoe om juister kaarte te maak. Hulle het ook begin koers hou met magnetiese kompasse.

 

REGS: ’n Ou kompas.

 

Foto: U.S. Geological Survey



Ten slotte was die kruistogte ’n manifestasie van die krag van die Christelike geloof waarvoor hierdie mense bereid was om alles—selfs hul lewe—op te offer.
  
  

Jy is nou by hoofstuk 2 van Mieliestronk.com se reeks oor die Middeleeue. Klik hier onder op die skakel na enige verdere hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad