Die Middeleeue (3): Die latere Middeleeue

Klik hier onder op die skakel na enige hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Die latere Middeleeue

BO: Die Boerebruilof deur die Nederlandse Renaissance-skilder Pieter Bruegel de Ouere (ca. 1525–1569) bied ons ’n kykie in die lewe van die landvolk in die latere Middeleeue en vroeë Renaissance. Die bruilof word in ’n skuur gehou, en die bruid sit voor die muurbehangsel, maar wie die bruidegom is, is ’n ope vraag. Miskien is dit die man in swart klere, links van die groot tafelbediende op die voorgrond. Musikante sorg vir meer vrolikheid. Die vernaamste kos op só ’n huweliksfees was brood, pap en sop.

Bron: Histories (“PD Old”)

 
Die latere Middeleeue is deur sowel vordering as agteruitgang gekenmerk. Daar was vrede en veiligheid—én burgeroorlog. Vakmanne het hulle tot groot voordeel in gildes verenig... én die ekonomie het verswak. Maar toe die “donker” tyd uiteindelik sy einde nader, was die grondslag gelê vir ’n nuwe, verligte tydvak...
  

G


EBEIER van klokke kondig die geleentheid aan. Die dorpsroeper, ewe swierig in sy wapenrok, verklaar in ’n dawerende stem dat die kermis geopen is.

“Kom koop goedkoop, baie goedkoop!” snater ’n voortvarende venter onderwyl hy sy keurigste groente omhoog hou. Talle kraampies met vleispasteie, bier, speserye, haartoebehoorsels en nog wat begin ywerig sake doen. Ook dié met bottels water van die Jordaanrivier—gewaarborg om rigor mortis te genees, die kenmerkende verstywing wat by lyke intree.

Goëlaars goël, dansende bere dans, musikante maak musiek.

Hiér preek ’n priester oor die einde van die wêreld. Dáár gryp ’n sakkeroller ’n onbehoedsame omstander se beurs. In ’n hoek soek ’n klompie kinders skoor met mekaar onderwyl welgestelde handelaars verbydrentel, die oë wyd oop vir moontlike winskopies.

Die markte was kennelik dié groot vermaak van die Middeleeue—die produk van ’n tydperk waarin die Middeleeuse beskawing ’n hoogtepunt bereik het.

Middeleeuse bloeityd

REGS: Middeleeuse musiek en dans, ’n toonbeeld van vrolikheid in tye van voorspoed.

 

Bron: Histories (“PD Old”)

 

 

TUSSEN die jare 1000 en 1200 is soveel tot stand gebring dat daar vandag van dié tyd gepraat word as die Middeleeuse bloeityd.

Die feodale stelsel het in hierdie tyd op baie plekke ’n gevoel van orde en veiligheid gebring, sodat mense hul kragte in nuwe idees en verwagtinge kon kanaliseer.

Een van die eerste tekens van ekonomiese herstel was die hervatting van die handel, wat ook deels deur die Kruistogte teweeggebring is. Handelaars het weer eens die ou land- en seeroetes oor Europa na die Midde-Ooste gevolg.

Dorpe het langs die belangrikste van hierdie roetes begin opskiet. Die bevolking van Europa het in die jare 1000 gegroei, en ál meer mense het na die dorpe gekom om werk te kry. Sodoende is die handel selfs verder gestimuleer.

Die Middeleeuse bloeityd het ook ’n nuwe lewe vir die landvolk beteken. Baie het die landgoedere verlaat en as handelaars of vakmanne na die dorpe verhuis. Ander het aan die buitewyke van die dorpe begin boer en nuwe en verbeterde boerderytegnieke bekom.

Internasionale markte was van groot belang. Hier het handelaars mekaar ontmoet en goedere geruil, asook nuus en nuwe idees omtrent die boerdery, sake en nywerhede verwissel.

Aangesien die dorpe min wette gehad het om handelaars en vakmanne te beskerm, het hulle spoedig organisasies genaamd gildes in die lewe geroep. Die vaklui en handelaars van ’n spesifieke ambag het saamgekom en regulasies opgestel oor toelating tot daardie nering en die vasstelling van die pryse van goedere. Hul doel was om die welsyn van hul lede te beskerm.

 

\

 

BO: Werkers besig om wapenrusting te maak.

 

Bron: Karen’s Whimsy Public Domain Images

 

  
Verval van die feodale stelsel

HOEWEL die feodale stelsel die Middeleeuse beskawing in sy bloeityd tot sy grootste hoogtes gevoer het, het die einste bloeityd uiteindelik die feodale stelsel se verval bewerk.

Met die handel weer aan die floreer, geld weer in omloop en dorpe wat werk gebied het, het mense ál minder afhanklik geraak van die grond om te oorleef.

Die stelsel van landgoedere het begin verbrokkel—en daarmee saam die feodalisme.

In die jare 1100 en 1200 het sterk nasiestate in dele van Europa begin verrys wat die mag van die landhere en adel beperk het. Konings soos Hen­drik II van Engeland en Lodewyk IX van Frankryk het beter regerings tot stand gebring, met volksleërs om die vrede te be­waar en wette en howe om die reg te laat geskied.


Kunste en opvoeding

TUSSEN 1100 en 1300 is die kunste en geleerdheid uitgebrei. In die vroeë Middeleeue was alle onderrig in katedraal- en monnikskole gesetel.

Maar nou is hierdie skole allengs deur universiteite vervang, en die opvoedkundige en kulturele rol van die kerk het afgeneem. Die geneeskunde en die reg is nou ook bestudeer.

Aanraking met die Moslemse en Bisantynse ryke het die belangstelling in Griekse en Romeinse geleerdheid weer laat opvlam.


Die laat Middeleeue

DIE laat Middeleeue is in werklikheid deur agteruitgang gekenmerk. Hoewel die kunste en geleerdheid wel uitgebrei is, het ander sektore van die beskawing tot stilstand gekom of selfs agteruit beweeg.

Dit is tot groot hoogte veroorsaak deur burgeroorlog in Europa ná die verbrokkeling van die landgoedstelsel en feodalisme. Op die koop toe was daar die Honderdjarige Oorlog tussen Engeland en Frankryk, met sy verwoestende uitwerking op die ekonomie.

Tussen 1347 en 1350 het builepes—die sogenaamde Swart Dood—minstens ’n kwart van die Europese bevolking uitgewis. Die vasteland is terselfdertyd deur droogtes en oorstromings geteister.

 

LINKS: Heeltemal anders as die vrolike danstoneel in ’n ander illustasie op hierdie bladsy, is hierdie Dodedans, ’n laat Middeleeuse allegorie (sinnebeeldige voorstelling) van die dood wat elkeen tref en almal verenig, wat ook al die status of posisie van die mens in hierdie lewe. Mense moes daardeur herinner word aan die broosheid van hul lewe en die nietigheid van aardse glorie.

 

Bron: Histories (“PD Old”)


Feodalisme is geleidelik vervang deur konings en koninklikes, wat die middelklasse aan hul kant gekry het deur hulle vrede en sterk regerings te bied in ruil vir belastings—ontwikkelings wat tot die ontstaan van die moderne Europese nasies gelei het.

Die invloed van die kerk is ook verswak, met botsings tussen die kerk en staat.

Die Groot Skeuring, ’n tydperk tussen 1378 en 1417 toe die pousdom in chaos gedompel is, het die kerk enorm baie skade en kritiek besorg.

Franse en Engelse konings kon die pousdom dwing om gedeeltes van kerkbelasting en eiendom aan hulle af te staan, wat alles bygedra het tot die verlies van pouslike mag en die ontstaan van die Protestantse Hervorming in die jare 1500.

Godsdienstige denke is vervang deur die humanisme, waarin die mens op die voorgrond geplaas is. Dit het uitdrukking gevind in die opbloei van die sekulêre (nie-godsdienstige) kuns en argitektuur.

Die reise van Middeleeuse ontdekkingsreisigers soos Marco Polo, Vasco da Gama, Bartolomeu Dias en Christopher Columbus in die laat Middeleeue het ’n wêreld van moontlikhede geopen.

Teen die vroeë 1500’s kon Europa nie meer as Middeleeus bestempel word nie. Die enge grense van die vorige tyd het verdwyn om vir die breë horisonne van ’n nuwe tydvak plek te maak...
   

Jy is nou by hoofstuk 3 van Mieliestronk.com se reeks oor die Middeleeue. Klik hier onder op die skakel na enige verdere hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad