Die Middeleeue (4): Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
 

Klik hier onder op die skakel na enige hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Vroeë Christen-kerke
en Bisantynse en Karolingiese boukuns

(a) Vroeë Christen-kerke

BO: Die bouval van die kerk van St. Simon in Aleppo, Sirië, word as een van die oudste behoue geblewe kerkgeboue op aarde beskou. Simon, ’n skaapwagter van Noord-Sirië, het ’n monnik geword nadat hy ’n openbaring in ’n droom sou ontvang het. Nadat hy in 459 n.C. oorlede is, is die kerk gebou op die plek waar hy gereeld sou gebid het.

Foto: Eyas Hajeh
Kopiëring, verspreiding en/of wysiging van hierdie foto—soos dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-esiklopedie op die wêreldwye web verskyn—word vergun ingevolge die bepalinge van GNU Free Documentation License, weergawe 1,2 of enige later weergawe soos deur die Free Software Foundation gepubliseer.
 
In sy vroeë dae is die Christelike kerk hewig vervolg. Maar pleks van die Christendom uit te wis, het die vervolging die gelowiges versterk en hulle in ’n hoogs georganiseerde liggaam saamgesnoer. Nadat die Christene uiteindelik hul vryheid verkry het, het kerke oral in Europa opgeskiet—bouwerke wat steeds die styl van selfs die modernste kerke van ons tyd beïnvloed..

“D

IE bloed van die martelare is saad,” het die vroeë Christen-skrywer Tertullianus geskryf. “Hoe meer julle ons afmaai, hoe meer groei ons.”

Profetiese woorde.

Vandag is die Christelike godsdiens meer verspreid as enige ander op planeet Aarde met sy enorme geraamde mensebevolking van 6
.677.563.921 (raming vir Julie 2008).  ’n Derde of altesaam 33,32% van hulle is ten minste Christene in naam  (16,99% Rooms-Katoliek, 5,78% Protestants, 3,53% Ortodoks en 1,25% Anglikaans). Tog is die Christelike kerk in sy beginstadium wreed vervolg.


Dit het omstreeks 64 n.C. begin.

Met hul godsdiens gegrond op die lewe en leringe van Jesus, het die Christene geweier om die Romeinse gode aan te hang en hulle na die openbare godsdienspraktyke te skik. Die Romeinse keisers het hierdie weiering as ’n bedreiging vir hul ideologie beskou.

Boonop het die Romeine die Christelike godsdiens verkeerd begryp. Die woorde van Jesus “Neem, eet, dit is my liggaam...” is byvoorbeeld as kannibalisme vertolk.

Vir die Romeine was wreedheid iets normaals en dit was vir hulle niks om Christene genadeloos te martel voordat hulle om die lewe gebring is nie.

 

 Is vroeë Christene wel vir die leeus gegooi in
die Colosseum in Rome?

   

BO: Die bekende bewering dat Christene in die Colosseum in Rome voor Romeinse skares aan honger leeus gevoer is, word deur sekere geskiedkundiges betwis—wat nie wil sê dat die Romeine hul Christen-gevangenes nie op ander maniere wreed om die lewe gebring het nie. Hier is nietemin ’n leeukuil uit ’n historiese skildery oor ’n heeltemal ander tydvak in die geskiedenis toe die Bybelfiguur Daniël wel vir die leeus gegooi is (maar wonderbaarlik met sy lewe daarvan afgekom het). Detail uit “Daniël in die Leeukuil”, 1613–1615, deur die Vlaamse skilder Peter Paul Rubens (1577–1640).

 

Die vroeë Christene het geen openbare geboue gehad waarin hulle kon saamkom om hul geloof met mekaar te deel nie. Uit vrees vir vervolging het hulle in die geheim in private huise byeengekom en soms in ondergrondse katakombes.

Toe, in 313 n.C., het die anti-Christelike optrede tot ’n einde gekom deurdat die Romeinse keiser Konstantyn die Grote met die Edik van Milaan die beoefening van die Christelike geloof amptelik toegelaat het. Hierna het die bou van Christelike kerke begin.


Eerste kerke

DIE eerste belangrike Christelike kerkvorm in die vroeë Middeleeue was die basiliek.

REGS: Plattegrond  (grondtekening) van ’n basiliek in ou Pompeji.

 

Bron: Histories (“PD Old”)

 

Gebou volgens die Romeinse openbare lokale, het dit uit ’n groot, reghoekige sentrale area (middelskip) bestaan, waar mense vir godsdiensbeoefening saamgekom het. Dit is bedek deur ’n hoë dak, gewoonlik van hout.

Aan weerskante, en geskei van die middelskip deur ’n ry pilare of kolonnade, was een of meer sybeuke. Dié is deur laer dakke bedek.

Aan die verste end van die middelskip was ’n groot, halfronde of veelhoekige gebied, die apsis. Die altaar was hier geleë.

Reg aan die teenoorgestelde kant van die altaar was ’n voorhal, wat gebruik is deur dié wat nie ten volle aan die Nagmaal kon deelneem nie.

Waar ’n basiliek ’n besonder groot gemeente moes huisves, is ’n dwarsskip (of transep) aan weerskante tot die middelstuk toegevoeg.

Omring deur al die ruimte op die mure, is die Christene besiel om dit te versier met mosaïeke van glas, marmer of klip en muurskilderings genaamd fresko’s, en om hul nuwe reuse-geboue met ryk offergawes te vul.

• • •
(b) Bisantynse en Karolingiese boukuns
 
In die sesde eeu het ’n afsonderlike Oosterse Christen-kunsstyl sy beslag gekry. Dit is die Bisantynse kuns- en boustyl genoem en het in Konstantinopel ontwikkel. Daarna het dit in alle rigtings versprei waar dit in Christen-kerke tot uitdrukking gekom het...
 

D

IE pragtigste gebou wat hulle nog ooit gesien het... só het die Christen-kruisvaarders die imposante Hagia Sophia bestempel toe hulle Europa oorgesteek het om die Heilige Land vir Wes-Europa te wen. Die Hagia Sophia, of Kerk van die Heilige Wysheid, is gebou in wat toe Konstantinopel genoem is (vandag Istanbul in Turkye).

Die kruisvaarders is oorweldig deur die baie ruimte, hoogte en weelderigheid van die gebou, en is huis toe met die gloeiendste loftuitinge.

In die vroeë dertiende eeu is grootprins Wladimir van Kiëf tot die Christendom bekeer. Volgens oorlewering het hy daarna sy gesante uitgestuur om die godsdienste te bestudeer wat in die buurstate beoefen is.

Die gesante het gekyk hoe Jode, Moslems en Christene van die Rooms-Katolieke Kerk aanbid, maar was nie geïmponeer nie. Toe besoek hulle die Hagia Sophia. Daar, só is vertel, was hulle so geroer deur sy skoonheid “dat hulle nie wis of hulle in die hemel of op die aarde is nie”.

Die Hagia Sophia, vandag ’n Moslem-heiligdom, is inderdaad ’n pragwerk van die Middeleeue. Tussen 532 en 537 nC gebou deur keiser Justinianus, is dit die wêreld se beroemdste voorbeeld van ’n nuwe kuns- en boustyl wat nou in die Christendom te voorskyn getree het.

BO: Die Hagia Sophia in Instanbul, Turkye.

Foto aangedui as openbare besit (“in the public domain”) by Orthodoxwiki.org op die wêreldwye web (rande van foto hier weggesny)


Presies wat was die Bisantynse invloed?

Teen die jare 500 het die Romeinse Ryk in wes en oos verdeel: die weste is oorgeneem deur die barbare, maar die ooste het bly floreer.

Argitekte van die Oos-Romeinse Ryk—die Bisantynse Ryk genoem—het met sirkelvormige basilieke en koepeldakke begin eksperimenteer.

Die reuse-koepel van die Hagia Sophia, op ’n vierkantige basis, is moontlik gemaak deur nuwe geboë driehoek-stutte genaamd pendentiewe.

Die Bisantynse boukuns het lewend gebly totdat Konstantinopel in die vyftiende eeu deur die Turke verower is. Ander voortreflike voorbeelde is onder meer die Basiliek van St. Markus in Venesië, die St. Basilius-kerk in Moskou en die tipiese koepelkerke van Griekeland.

Die binnemure van sirkelvormige kerke was ook met ryk mosaïeke bedek.

BO: Die Basiliek van St. Markus in Venesië, Italië.

Foto: Filip Maljkovic, wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

Karolingiese invloed

TOE Karel die Grote Wes-Europa in die jare 700 verenig het (kyk die eerste artikel in ons reeks), het hy getrag om die belangstelling in die vroeë Christelike Rome te laat herleef. Geskiedkundiges beskryf hierdie hernieude belangstelling in die oudheid as die Karolingiese Renaissance.

Met die vroeë Christelike boukuns as bloudruk, het Karolingiese argitekte betekenisvolle bydraes tot kerke en kloosters gelewer met die toevoeging van kapelle, hoë torings en siergrafte, veral in Frankryk en Wes-Duitsland.

 

BO: Die binnekant van die Palatynse Kapel in Aken, Duitsland, die sentrale monument van die sogenaamde Karolingiese Renaissance. Die oorskot van Karel die Grote word hier bewaar.

Foto: Tobias Helfrich, wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web publiseer ingevolge die GNU Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe soos gepubliseer deur die  Free Software Foundation. ’n Kopie van die lisensie word ingesluit in die afdeling getiteldGNU Free Documentation License.



Karolingiese skrifgeleerdes het antieke Romeinse tekste en tekeninge gekopieer en ’n nuwe soort handskrif ontwikkel.

Kort en hard op die hakke van hierdie periode was daar egter die verwoesting deur die Wikings, en dit is moeilik om vas te stel wat die Karolingers werklik op die gebiede van die boukuns en muurskilderings vermag het.

As dit hul bedoeling was om die Romeinse nalatenskap te herstel, het die Karolingers misluk. Het hulle egter nie so gesloof om antieke tekste te kopieer nie, sou die meeste van die Latynse literatuur nie vir ons behoue gebly het nie...

 

BO: ’n Deel van ’n geskrif in Karolingiese minuskel, ’n handskrif wat as standaard in Europa ontwikkel is sodat die Romeinse alfabet maklik deur die klein klas van geletterdes in die verskillende streke herken kon word.

Bron: Histories (“PD Old”)

 

Jy is nou by hoofstuk 4 van Mieliestronk.com se reeks oor die Middeleeue. Klik hier onder op die skakel na enige verdere hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad