Die Middeleeue (5): Monnike en kloosters

Klik hier onder op die skakel na enige hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Monnike en kloosters

BO: ’n Deel van die Shio-Mgvime-monnikeklooster, ’n Middeleeuse kloosterkompleks in Georgië. Ná sy sluiting onder Sowjet-beheer funksioneer die klooster vandag weer en lok dit baie pelgrims en toeriste. Die ingelaste illustrasie van die monnik is van ’n bekende skildery deur El Greco.

Detail van foto deur Kobervan Georgië wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas en tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)
  

’n Beweerde rib van die dissipel Andreas, ’n veronderstelde klossie hare van die apostel Petrus, ’n deel van ’n skoen wat glo aan die maagd Maria behoort het... die godsdiensbeoefenaars van die Middeleeue was behep met die relieke van heiliges. Maar die Middeleeuse klooster het ook soberheid, ontsagwekkendheid en miskien ’n sweempie romantiek versinnebeeld...
 

V

OOR ’n gehoor van pelgrims in die Abdykerk van Sint Denys word ’n silwerkis tydsaam oopgemaak. Binne-in die kis, verneem die aanwesiges, is ’n kosbare oorskot. Dis die liggaam van die heilige na wie hierdie Franse abdy genoem is.

Die toeskouers wag in doodse stilte. Gespanne sien hoe hulle die verdorde kop uit die kis gehaal word. Nou kan almal dit beskou. Kyk, is dit dan nie die kop van die beskermheilige van Frankryk, die martelaar wat volgens oorlewering in die derde eeu n.C. gelewe het nie?

BO: ’n Voorstelling van die marteldood van die heilige Denys in ’n muurskildery van die Panteon (die Heilige Genoveva), Parys, Frankryk. Sint Denys was die biskop van Parys toe hy omstreeks 250 n.C. onthoof is nadat hy heidense priesters vertoorn het omdat hy soveel mense tot die Christendom bekeer het.  Volgens oorlewering sou Denys, nadat sy kop afgekap was, die kop opgetel en sowat drie kilometer ál prekende daarmee geloop het voordat hy werklik gesterf het.

Foto van muurskildery deur “KJK”, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

Met hierdie bra sombere vertoon op ’n dag in die jaar 1191 word probeer om ’n lang en slepende geskil te beëindig. Sowel die Abdy van Sint Denys as dié van Sint Etienne (Stefanus) in Parys hou vol dat hulle en hulle alleen die heilige Denys se lig­gaams­oor­blyf­sels besit...

Sulke geskille was in daardie jare niks vreemds nie. Die gods­diens­be­oe­fe­naars van die Middel­eeue was immers behep met die relieke van heiliges. Kerke en kloosters het daarop aanspraak gemaak dat hulle aller­hande soorte daarvan het.

Só het die kerke in Amiens en Angers, asook ’n mon­nike­kloos­ter in Konstantinopel, almal beweer dat hulle die kop van Johannes die Doper besit.

Tavaux, ’n klein priory in Frankryk, het aangevoer dat hy dele van die oorskot van meer as dertig heiliges het: ’n tand van sint Maurits, ’n rib van die dissipel Andreas, ’n fragment van die kakebeen van sint Radegonde, ’n vinger van Johannes die Doper, ’n paar stukke been van sint Bemard en ’n klossie hare van die apostel Petrus.

Daar sou ook stukke wees van die krip waarin die baba Jesus gelê het, ’n deel van ’n skoen van die maagd Maria, een van die klippe waarmee Stefanus gestenig is, en ’n skerf van die rots waarop Jesus sou gestaan het toe Hy na die hemel opgevaar het.

Daarteenoor was daar denkende, ernstige kerkmanne wat gedurig teen dié soort onkunde en bygelowe te velde getrek het. Dit is aan hul invloed te danke dat geleerdheid, die geneeskunde, die regspleging en die kunste ondanks alles oorleef het—meestal in die monnikekloosters.

Totdat universiteite ontwikkel het, was die intellektuele lewe van Europa dan ook feitlik geheel en al op die kloosters gegrond.

Ontstaan, bloei en verval

SEDERT die begin van die Christendom het sekere mense geglo dat, as hulle hulle van die wêreld onttrek om van sy verdorwenhede weg te kom en ’n eenvoudige lewe lei deur aan God te dink en te bid, hulle beter Christene sou wees.

Die heel eerste mense wat dit gedoen het, het alleen in die Egiptiese woestyn gewoon. Toe, in die jare 300 n.C., het sekere kluisenaars in groepe saamgekom en gemeenskappe gevorm wat tot ’n lewe van gebed, studeer en werk verbind was.

REGS: ’n Voorstelling van sint Antonius die Grote (ca. 251–356),  wat in Egipte die prominente leier onder die sogenaamde Woestynvaders was.

 

Bron: Histories (“PD Old”)

 


Sulke mans is mettertyd monnike genoem en het in monnikekloosters gewoon; vroue het as nonne bekend gestaan en in nonnekloosters tuis gegaan. Deur die eeue het etlike verskillende Christelike monnike-ordes ontstaan.

Onder die vroegste monnikekloosters was die Ierse tipe, ’n groep hutte en byekorfselle met ’n sloot rondom, soos ’n militêre kamp. Ierse monnike het in volslae armoede en eenvoud gelewe, niks besit nie en so min moontlik geëet, gedrink en gepraat.

Die kloosterwese het met verloop van tyd ál belangriker geraak, en teen die jare 500 n.C. was daar kol-kol talle monnikegemeenskappe regoor Europa.

Tussen die laat 700’s en vroeë 1000’s het die Wikings Suid-Europa en Brittanje binnegeval. Monnike- en nonnekloosters met hul baie rykdomme was vername teikens vir hierdie verwoede vegters, en baie is geplunder en verwoes.

Trouens, een van die eerste opgetekende Wiking-strooptogte was op die monnikeklooster op die gety-eiland Lindisfarne (of Holy Island) langs Engeland se ooskus. Die aanvallers het almal doodgekap wat tussenbeide probeer kom het, en wat hulle nie kon buit nie, het hulle aan die brand gesteek.

 

LINKS: Die kasteel op die gety-eiland Lindisfarne. Die eiland word deur middel van ’n laagwaterbrug met die hoofland verbind, maar die verbinding word twee keer per dag deur die inkomende gety oorspoel.

 

Foto deur “Nommonomanac”, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het  (“released into the public domain”)



Die Romaanse periode (vroeër behandel in hierdie reeks) word soms die “goue eeu” van monnikskap genoem. By gebrek aan geborgenheid onder sterk sentrale regerings en sonder die voordele van bloeiende dorpe en stede, het baie mense gemoedsrus in die abdy gaan soek. Nuwe kloosters is oral gebou of bestaandes herbou.

Van die dertiende eeu af het die Christelike monnikewese (monastisisme) begin verval. Nuwe godsdienstige ordes met wandelende monnike (monnikbroers) het geleidelik die monnike-ordes vervang. Die monnikbroers het geen vaste tuistes gehad nie, maar die land vol geloop om te preek en behoeftiges te help.

Die Swart Dood en die Honderdjarige Oorlog van die veertiende en vyftiende eeu het kwalik toestande geskep waarin die monnikewese met sy lewe van stille oorpeinsing kon gedy.

Die Christelike monnikeklooster sou nooit sy invloed van destyds herwin nie.


Samestelling van ’n monnikeklooster

MONNIKEKLOOSTERS het in mindere of meerdere mate van mekaar verskil en die styl het ook deur die eeue verander.

Party was eenvoudig, met ’n klein, ommuurde groepie hutte; ander was groot en gekompliseerd, het honderde mense gehuisves en baie grond gehad. Sommige was op die platteland, ander in die stede.

Die grondplanne was egter min of meer gestandaardiseer—en wat hulle veral van ander godsdiensgeboue onderskei het, was dat hulle ontwerp is om hul mense van die buitewêreld te isoleer.

Die belangrikste gebou in die monnikeklooster was die kerk. Hier het die monnike gebede opgesê en in die koor gesing.

Die klooster was ’n selfgenoegsame klein dorpie met sy eie werkwinkels, plase, skure, tuine en boorde waarin die monnike self gewerk het.

Hulle het in ’n gemeenskaplike slaapplek geslaap en saam in ’n groot eetkamer, wat ’n refter genoem word, geëet. Binne-in die refter was die kansel, waar Bybelverse tydens die etenstye gelees is.

Die klooster het ook ’n afsonderlike area gehad vir die lekebroeders, godsdienstige mans wat nie werklik as monnike gekwalifiseer het nie, maar daar gewoon en met die werk gehelp het.

Daar was ook gastekamers vir reisigers of pelgrims wat onderdak gesoek het of deur heilige relieke “gesond gemaak” wou word.

Hierdie geboue, wat die eintlike klooster gevorm het, is om ’n oop binnehof gebou waar die monnike hul vrye tyd kon deurbring. Uitgelê om baie sonlig te ontvang, het die binnehof dikwels ’n groentetuin en ’n fontein of put gehad. Party is gebruik as begraafplase vir monnike of belangrike mense wat met die klooster te doen gehad het.

Om die binnehof het ’n oordekte gang geloop wat die monnike teen reën beskerm het. Die dak oor dié sogenaamde kloostergang is deur ’n ry pilare gestut.


’n Groot hospitaal is ook tot die klooster toegevoeg. Monnike (en nonne) het die versorging van siekes en bejaardes as deel van hul godsdienstige plig beskou.

’n Kombuis, bakkery, brouery, wassery en stalle was in kleiner geboue buite die hoofdeel van die klooster.

 

 

Die instelling van kloosters met monnike, nonne en “religieuse susters” het al die baie jare sedert die Middel­eeue steeds ’n integrerende deel van die hele opset en liturgie van die Rooms-Katolieke Kerk gebly. Daar word intern wel ’n onderskeid gemaak tussen nonne en soge­naamde religieuse susters, maar buite die kerk word meestal na al sulke vroue as nonne verwys.
 
Een baie bekende religieuse suster was  nietemin ene sint Katharina van Siena, op die detail LINKS BO van ’n werk deur die Italiaanse  skilder Domenico Beccafumi (1486–1551). Die Middeleeuse Katharina het haar kort lewe daar­aan gewy om die siekes en armes te help en hulle in huise en hospitale versorg. Sy is in 1380, op slegs 33-jarige leeftyd, in Rome aan beroerte oorlede.
 
Die inlasbeeld REGS BO is van ’n non in ’n veel later era—detail van ’n werk deur die Engelse kunstenaar sir John Everett Millais (1829–1896).

Bron: Histories (“PD Old”)

 

Jy is nou by hoofstuk 5 van Mieliestronk.com se reeks oor die Middeleeue. Klik hier onder op die skakel na enige verdere hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad