Die Middeleeue (6): Gotiese katedrale

Klik hier onder op die skakel na enige hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Gotiese katedrale

BO: Die beroemde Keulense katedraal  (op die agtergrond), met die brug oor die Ryn by Keulen, Duitsland, in die nag afgeneem. Die katedraal is een van die hoogste Gotiese strukture in Noord-Europa.

•  Bestel pragtige plakkate soos dié by AllPosters.com: klik hier

Foto deur Gavin Hellier © AllPosters.com


Die Gotiese styl van die middel van die twaalfde eeu tot die vyftiende eeu word deur baie mense as die Christendom se grootste bydrae tot die wêreld se kuns en argitektuur beskou. Dit het stadig ontwikkel namate die mense van die Middeleeue hul godsdiensywer, vindingrykheid, vlyt en raaiwerk saamgevoeg het om monumente te skep wat hulle geglo het die Here waardig moes wees...
  

L

ODEWYK VI van Frankryk is paniekbevange. Hy het pas gehoor dat die gekombineerde magte van Engeland en Duitsland op die punt staan om sy land binne te val.

Vervaard storm hy uit sy koninklike kasteel in Parys op hierdie aand in Augustus in die jaar 1124. Hy haas hom na die Abdy van Sint Denys, waar hy voor die relieke van die heilige kniel en vir die veiligheid van Frankryk bid. Plegtig beloof hy dat hy ’n groot skenking aan die klooster sal maak as sy magte seëvierend uit die stryd tree.

Op raad van ab Suger, owerste van Sint Denys, nader koning Lodewyk vervolgens die invloedrykste kerklui en landeienaars van Frankryk en dring by hulle aan om geld, voorrade en manskappe te verskaf vir ’n leër wat volgens hom ’n “heilige oorlog” moes voer.

LINKS: Ab Suger van Sint Denys, uitgebeeld op ’n Middeleeuste venster.

Bron: Histories (“PD Old”)
 

Dis ’n briljante plan. Binne dae versamel hy ’n formidabele krygsmag wat die invallers halfpad tegemoetgaan. Die Engelse en Duitse magte, wat op algehele wanorde onder die Franse gereken het om sukses te behaal, kies die hasepad.

Hoewel daar geen geveg was nie, beskou Lodewyk homself nogtans as die oorwinnaar en doen hy daarna sy belofte gestand. Hy skenk ’n reuse-bedrag aan die abdy, waarborg ’n aansienlike jaarlikse subsidie en verklaar die plek Sint Denys tot die land se godsdienstige hoofstad. (Saint-Denis, soos die Franse dit skrywe, is vandag steeds ’n sogenaamde kommune in die noordelike voorstede van Parys.)

Die jaar daarna kondig ab Suger aan dat hy ’n nuwe abdykerk by Sint Denys gaan bou. Die publiek se reaksie is oorweldigend.

Almal, van die gewone mense tot biskoppe en edellui, bied geld en geskenke aan. Pelgrims sonder enige aardse goedere begin om karvragte vol klip van ’n steengroef sowat 20 km ver na die bouterrein te sleep.

Maar die ab is glad nie haastig om te begin bou nie. Hy besluit hy gaan die luisterrykste kerk ter wêreld bou en is van plan om oor elke stap toesig te hou.

Hy stel hom die kerk voor as hoog, lig en majestueus, maar warm en uitnodigend—anders as die koue, donker Romaanse kerke wat baie mense nie aangestaan het nie.

Wat Suger wil hê, is hoë, gewelfde plafonne, gesnede altare, gekleurde glas en beelde van heiliges wat hul wonderwerke doen. Omdat Jesus die Lig is, verlang die ab lig, lig en nogmaals lig...

Om hieraan te voldoen word ’n nuwe boustyl ontwerp—’n styl wat later as Goties bekend sou staan. Die wes- en ooseindes van Suger se kerk word in 1144 voltooi. Dit is die wêreld se eerste belangrike Gotiese gebou en sou die Westerse argitektuur heeltemal verander.

BO: DIe Sint Denys-basiliek is ’n argitektoniese landmerk en was die eerste vername bouwerk wat gedeeltelik in die Gotiese styl gebou is.

Foto deur “Gruepig”, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain)


Eksoties Goties

TEEN die middel van die twaalfde eeu, ná die oprigting van Suger se kerk, is katedrale met groot ywer in Europa gebou—’n koors wat tot die jare 1400, en op sommige plekke tot die 1500's, sou voortduur. Die boumeesters van daardie tyd het geglo dat grootsheid die mense tot groter geloof sou besiel.

In die sestiende eeu het skrywers en kunstenaars getrag om die klassieke Romeinse en Griekse kuns en argitektuur te laat herlewe—’n beweging wat die Renaissance genoem word.

Hulle het die boustyl van die laat Middeleeue verbind met die Gote—Germaanse invallers wat, na gemeen word, in die jare 400 klassieke Romeinse kunswerke verwoes het.

Maar die mense wat in die Gotiese tydperk gelewe het, het nie hul argitektuur as primitief beskou nie. Inteendeel, hul werk was hoogs gesofistikeerd en gekompliseerd—beslis nie die produk van barbaarse denke nie.

Wat meer sê, sekere geskiedkundiges glo dat dit die Gotiese styl is wat die hernieude belangstelling in die intellektuele en kunste van die Renaissance ingelui het.

Vergeleke met die Romaanse kerke was die Gotiese kerke groter en sierliker. Onder hul vele interessante kenmerke was hoë, gepunte boë, slanke suile, gewelfde plafonne, reuse kleurvensters en steunboë.

Party van dié word weliswaar ook in die Romaanse styl gevind. Maar die vernaamste verskil tussen die Romaanse en die Gotiese styl is die manier waarop ruimheid verkry is. Die Romaanse argitekte het ruimte geskep deur kleiner eenhede toe te voeg; die Gotiese boumeesters het die volle ruimte geskep en dit dan in eenhede onderverdeel.

Steunboë

DIE steunbeer is ’n pilaar van klippe of stene wat teen ’n muur gebou word om dit te versterk. Daar is baie verskillende soorte steunbere.

Die steunboog, ’n belangrike Gotiese kenmerk, is van omstreeks 1175 gebruik—nadat Suger se kerk gebou is. Hierdie steunboog is, soos sy naam aandui, eenvoudig ’n boogstut wat van ’n pilaar (of ’n groot saamgestelde pilaar van verskeie dun suile) na die muur toe strek.

 

REGS: Die beginsel van die steunboog by Reims in Noord-Frankryk, ’n tekening uit omstreeks 1320–1335.

 

Bron: Histories (“PD Old”)
 


Die bekwame gebruik van die steunboog het dit vir Gotiese boumeesters moontlik gemaak om groter geboue op te rig en minder op soliede muurruimte staat te maak vir steun. Hulle kon met ander woorde soliede mure deur reuse-kleurvensters vervang.

Steunboë het as eenvoudige halfboë begin, maar mettertyd tot uitvoeriger geboë en hoekige strukture ontwikkel.

Die Notre Dame-katedraal in Parys (tussen 1163 en 1250 gebou) is een van die eerste geboue wat sulke steunboë gehad het.

 

Ribgewelwe

DIE ribgewelf is vir die eerste keer in Romaanse geboue gebruik, maar in Gotiese katedrale het dit sy regmatige plek ingeneem.

 

Gotiese argitekte het hoë steunpilare laat oprig wat uit verskeie suile bestaan het en, waar dit die dak bereik het, die afsonderlike suile in verskillende rigtings laat uitbuig, soos die penne van ’n sambreel. Die ruimtes tussen die ribbe is met messelwerk gevul.
 

REGS: Ribgewelwe van Sint Denys, Parys.

Foto deur “Julia”, op die wêreldwye web by The Temerarious Tours of a Traveling Girl
 

 

Die ribgewelf was belangrik omdat dit Gotiese boumeesters in staat gestel het om kerke met dunner mure en groter vensters te ontwerp as wat voorheen moontlik was. Dit het natuurlik weer tot die briljante beligting gelei waarvoor Gotiese katedrale so beroemd is.

Ná die ribgewelf het Gotiese argitekte ál sierliker gewelfstelsels ontwerp. Een daarvan was die waaiergewelf, wat soos ’n hoogs versierde ribgewelf gelyk het.

Veral in Duitsland het laat Gotiese argitekte van die mees fantastiese oorwelwingspatrone geskep.


Vensters wat sing van die Lig

DIE son het deur die kleurglasvensters gestroom. Die orrel het begin speel. En die jonge Emmanuel Viollet-le-Duc was oortuig dat hy die einste vensters hoor sing...

Dié negentiende-eeuse argitek en skrywer het in sy later jare hierdie ervaring uit sy jeug beskryf—’n onvergeetlike belewenis in Parys se Notre Dame-katedraal. Sulke kleurvensters, wat ’n integrerende deel van Gotiese katedrale uitgemaak het, het inderdaad meer gedoen as hul hooffunksie om oorvloedige lig binne te laat.

Hulle het mense soos die landvolk die Bybel in prentjiesvorm laat "lees". Wat meer sê, die glansryke kaleidoskoop van kleure moet ongetwyfeld die emosies geroer het wanneer hulle aanbid het.

Die deurgang van lig deur glas is gesien as die Gees van God wat in die maagd Maria ingaan sonder om haar te ontwy. Die simboliek is versterk wanneer die glas gekleur is.

Die eerste kleurglasvensters dateer uit die jare 1000 en was klein en tot ’n raamwerk van reguit ysterstawe beperk. Maar namate hulle groter geword het, is die tegnieke verbeter en ronde raamwerke kon gebruik word.

Baie algemeen in die jare 1200 was die roosvenster, só genoem weens sy blomagtige voorkoms. Dit was ’n groot, ronde venster wat deur fyn klipwerk in seksies verdeel is.

 

 

BO: Roosvenster, Notre Dame, Parys.

Foto deur “Patik”, wat dit by die Wikipedia-projek op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

Spitsboë (ogiefboë)

HOEWEL die spitsboog in sekere Romaanse geboue voorkom, word dit dikwels as die handelsmerk van die Gotiese boustyl beskou. Die spitsboog—gevorm deur twee boë wat mekaar bo met ’n punt ontmoet—is vermoedelik aan die Ooste ontleen.

 

BO: Spitsboë is kenmerkend in die fasade van die Raadhuis van Münster in Duitsland.

Foto deur Rüdiger Wölk, Münster

Rüdiger Wölk het dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web geplaas en gelisensieer ingevolge die Creative-Commons-Lizenz Namensnennung-Weitergabe unter gleichen Bedingungen 2.0 Deutschland
 

Gesnede beelde

MET die herlewing van monumentskulptuur ná 1100, spog die Gotiese geboue met sommige van die mees gerespekteerde beeldwerke van die Middeleeue.

Die eerste Gotiese beeldwerke is geskep om die fasades (fronte) van katedrale te versier, veral die suile langs deure en die timpaan (die gebied bokant die deur). Beeldhouers het op die figure van heiliges en helde van die Christendom gekonsentreer. Die vroegste voorbeelde is in Sint Denys, Chartres en Parys te sien.

Terwyl die Romaanse beeldhoukuns geneig was om lewendig en abstrak te wees, was die Gotiese stemmiger en mensliker.

Uitdrukkings het byvoorbeeld op die gesigte van die gesnede beelde begin verskyn, teenoor die starende gesigte van die Romaanse beeldhouers.

Gotiese beelde het ook minder afhanklik van argitektoniese stutte geraak, met die gevolg dat die beeldhouers vryer kon werk.

Die vroeëre figure by Chartres was byvoorbeeld beperk tot die vorm van suile en dus onnatuurlik lank en smal. Maar teen die middel van die dertiende eeu het die beeldhouers goed geproporsioneerde figure geskep wat lyk asof hulle vry voor die suile beweeg.

 

LINKS BO en REGS BO: Baie ou langwerpige pilaarfigure en latere goed geprosioneerde beelde van die katedraal van Chartres in Noordsentraal-Frankryk.

 

Foto’s tot openbare besit verklaar deur “Eixo” en “Urban” by onderskeidelik die Wikipedia-projek en Wikimedia Commons op die wêreldwye web


Vir die eerste keer in ’n lang tyd het baie sekulêre (nie-godsdienstige) figure ook hul verskyning begin maak. Konings en ander belangrike mense het hul graftombes met beeltenisse van hulself begin versier.

Baie Middeleeuse katedrale het monsterkoppe gehad waar­uit water gespuit het.

Namate kerkbouery in die vyftiende eeu begin kwyn het, het beeldhouers hulle tot die binnekante van kerke gewend om dit met altare en die beelde van heiliges te versier.

Gotiese beeldhouwerk het sy toppunt aan die einde van die vyftiende eeu bereik, met baie kunstenaars wat nuwe style ontwikkel het, aangemoedig deur die ontwikkeling van die Renaissance. Teen dié tyd het die beeldhoukuns verder van die kerk af wegbeweeg.
 

Jy is nou by hoofstuk 6 van Mieliestronk.com se reeks oor die Middeleeue. Klik hier onder op die skakel na enige verdere hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad