Die Middeleeue (7): Konings en kastele

Klik hier onder op die skakel na enige hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Konings en kastele

BO: ’n Illustrasie van ’n Middeleeuse kasteel.

Bron: Karen’s Whimsy Public Domain Images (ietwat gewysig en digitaal verkleur)

Wat roer in ons gemoed as ons vandag na hulle kyk... die verlate, verkrummelende kastele van Europa? Voor ons geestesoog sien ons miskien dapper, vegtende ridders en hoe hulle skone vroue die hof maak. Bes moontlik bekyk ons daardie kastele met verwondering en welgevalle—altyd gemeng met ’n sweempie weemoed oor ’n lank vergange tyd. Maar vir die mense van die Middeleeue was hulle glad iets anders: simbole van mag... of verdrukking...


V

ERSPREI oor Europa, dikwels op die verstommendste plekke, sal jy vandag nog kastele of die bouvalle daarvan vind. Hier hurk een op ’n steil bult, daar troon ’n ander op ’n bergkruin, doer klou nog een aan ’n rotsagtige strook land wat die see inskiet...


Party is so enorm en ander so flambojant dat dit vreemd is om te dink dat hulle ontwikkel het uit eenvoudige, oeroue, omheinde dorpies en vestings wat deur die Romeine gebou is.

Die oprigting van kastele in Europa gaan hand aan hand met die opkoms en bloeityd van die feodalisme.

BO: Nog ’n voorstelling van ’n Middeleeuse kasteel.

Bron: Karen’s Whimsy Public Domain Images (ietwat gewysig en digitaal verkleur)
 


Voorheen het mense kampe naby hul huise opgerig waarheen hulle kon vlug wanneer gevaar gedreig het. Maar sedert die negende eeu is konings, leenhere en ander adellikes, wat gedurig deur invallers bedreig is, genoop om hul tuistes en vestings saam te voeg. Kastele was dus ’n wesentlike gevolg van die Middeleeuse anargie.

Hulle is meestal deur konings en leenhere besit, af en toe deur ridders, en ’n kasteel het as woning vir die eienaar, sy gesin en knegte gedien. Die koning moes sy toestemming gee dat ’n kasteel gebou kon word.

Die kasteel was ook ’n setel van plaaslike regering en regspleging.

Die woord kasteel kom van die Latynse castellum, wat klein vesting beteken. Die hoofdoel was inderdaad verdediging. Wanneer ’n vyand sy verskyning gemaak het, het die kasteel ’n toevlug vir almal in die buurt geword, ook die vee.
 

Kastele van hout en grond

 

REGS: ’n Illustrasie van ’n tipiese “motte-and-bailey”-kasteel.

 

 

DIE eerste ware kastele was van hout en grond. Ons ken hulle nie in Suid-Afrika nie, maar in Engeland, met sy lang geskiedenis van kastele, is hulle “motte-and-bailey castles” genoem.

In die middel was ’n houtsaal of -toring wat die kasteelbaas, sy gesin, sy knegte en wagte gehuisves het. Dit was die bes beskermde deel van die kasteel.

Dit is opgerig op ’n natuurlike of kunsmatige keëlvormige heuweltjie wat die Engelse ’n “motte” genoem het, en dié is deur ’n sloot water oftewel grag omring. ’n Stewige houtheining of palissade het die toring en soms ook die voet van die heuweltjie omring.

 

 

BO: Die “motte” by Knockgraffon, New Inn, in die distrik Tipperary, Ierland.

 

Foto deur “Sarah777”, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)


Die heuweltjie is gewoonlik met ’n houtbrug met een of meer groter terreine verbind. Só ’n ingeslote terrein of binnehof (Engels “bailey”) is deur ’n grondwal en palissade ingesluit en deur ’n grag omring.

“Motte-and-bailey”-kastele was die burge van die Franse en Normandiërs. Nadat Willem die Veroweraar Engeland ingeneem het, het meer as honderd van hierdie eenvoudige houtstrukture op strategiese punte in die Engelse koninkryk verrys.

Kasteelbouery in Brittanje het gou na Skotland en Ierland versprei.


Van hout tot klip

VAN die einde van die jare 900 af het die eerste klipkastele in Europa begin verskyn. Hoewel hulle sterker as die houtkastele was, was laasgenoemde nog sowat ’n eeu lank oorheersend.

Houtkastele was goedkoop om op te rig. Hout en handearbeid was volop. Klipkastele was egter duur om te bou, want messelaars moes in diens geneem word en geld was skaars.

Houtkastele kon binne ’n paar weke voltooi word—partykeer voordat ’n leenheer selfs daarvan te hore gekom het en kon keer dat dit gebou word. Klipkastele, daarenteen, is oor etlike seisoene gebou.

Selfs as die palissades en torings van die “motte-and-bailey”-kasteel verwoes is, het die grondwerk nog bly staan en kon die houtstrukture gou vervang word.

 

LINKS: Die “motte”, genaamd Ethelfleda’s Mound, van die Warwick-kasteel in die Engelse graafskap Warwickshire, waar die “motte-and-bailey”-kasteel van hout in die twaalfde eeu deur klip vervang is.

Foto deur “Misterweiss”, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot
openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

 

Geleidelik het die voordele van kliptorings egter die nadele begin oortref. Hul mure was sterker. Hulle het nie vlam gevat soos hout nie. Hulle kon veel hoër gebou word, en minder soldate was dus daar nodig.

Omdat hulle sterk was, het hulle ’n stabiliserende uitwerking op die bevolking gehad, veral in gebiede waar die kasteel as ’n oorlogswapen gebruik is om grondgebied te verower.

In 1078 het Willem aan die beroemde Tower of London begin werk (let wel, ons praat ook in Afrikaans van die Londense Tower, nie die “Toring van Londen” nie). Dit is van kalksteen uit Caen in Normandië gebou.

Deur met klip te bou, het Willem ’n beweging van stapel laat loop wat die “motte-and-bailey”-kasteel heeltemal in onbruik laat verval het.

 

BO: Die Londense “Tower” soos gesien van die rivier Teems.

 

Foto: © Viki Male,
wat gebruik vir enige doel vergun mits die kopiereghouer en sy fotobeskrywing na behore erken word
  

Klipkastele

DIE basiese bloudruk van klipkastele was dieselfde as dié van “motte-and-bailey”-tipe—maar talle gesofistikeerde nuwighede is met verloop van tyd toegevoeg.

Die belangrikste was natuurlik dik klipmure pleks van die houtmure. Party van dié mure was tot 10 m dik.

Ander toevoegings was onder meer ’n besonder sterk kasteeltoring of donjon, hoë, ronde torings, ’n ophaalbrug oor die grag en ’n spoggerige ingang, asook bykomende buitevestings.

Party van hierdie nuwighede het in Wes-Europa self ontstaan. Baie was egter die produkte van die Kruisvaarders se togte na die Midde-Ooste, waar hulle die reusagtige, byna onneembare kastele van die Bisantynse Ryk aanskou het. Hulle het met wonderiike idees en ontwerpe teruggekeer.

In die “motte-and-bailey”-kastele was die sentrale kasteeltoring of donjon die kasteel se sterkste plek. Teen die middel van die twaalfde eeu is hierdie funksie na ’n vierkantige donjon oorgedra.

Sekere van dié het so onvernietigbaar geblyk dat hulle vandag nog ongeskonde is. Maar hulle het ook hul nadele gehad, onder meer dat dit nie alte gemaklik was om daar te woon nie. Die vierkantige donjons het in die volgende eeu plek gemaak vir die veelhoekige en ronde torings, hoewel vierkantiges darem nog plek-plek gebou is.

Baie nuwe kastele is oplaas sonder ’n donjon gebou, maar met talle ronde torings wat verbind is deur ’n “gordyn” van hoë klipmure wat ’n binnehof omsluit het. Wagte het op die torings en op die mure langs gepatrolleer, verskans deur kantele.

Dié het bestaan uit blokke met sogenaamde kanteelkepe. Die wagte kon agter die blokke skuil en die vyand daaronder met hul skietgoed bestook.

Die binnehof was ’n veilige toevlug, en die kombuis, kapel, spens, groot saal en pakkamers was hier geleë. Die binnehof is op sy beurt omsluit deur bykomende ringmure wat buitehowe gevorm het.

Nog ’n verfyning was ’n ingang met gewoonlik twee groot torings aan weerskante en een of twee kamers bokant die ingang.

Poortwagters het die deure van die ingang beheer, asook ’n groot metaalhek wat die ingang afgesluit het.

Die ophaalbrug oor die grag kon opgetrek word wanneer die kasteel aangeval is.

Sedert laat in die veertiende eeu het die ontwikkeling van beleëringskanonne—wat kastele van ’n kant af erg kon verniel—die militêre ingenieurs verdere hoofbrekens besorg. Die gevolg was die ontwikkeling van die bastion, ’n lae kasteel versterk met stene en ru-klip wat skokke kon absorbeer.

 

 

 

BO: Die uitleg van ’n ou klipkasteel van weleer.

 

Bron: Boswell, Henry: “The Antiquities of England and Wales” (1786)

  

 

Verval van kastele

TEEN die jare 1500 was kastele min of meer uitgedien. Die ontwikkeling van gevorderde wapens soos kanonne en buskruit—waardeur kasteelmure met groot klippe en ysterballe platgeskiet kon word—het hulle as vestings feitlik nutteloos gemaak.

Met die opbloei van die nuwe style van die Renaissance het die adel geriefliker huisvesting verlang.

In Frankryk, hoewel hulle steeds chateaux genoem is, het kastele van chateau-forte in landpaleise of -huise verander. In England was die opvolgers van die kasteel die “country houses”, die met ’n grag omringde “Tudor house” en die praghuise van die Elisabethaanse tydperk.

Ten slotte het die vorste van Engeland, Frankryk en ander Wes-Europese lande getrag om die mag van die plaaslike leenhere in te kort en het hulle dus die oprigting en gebruik van kastele ontmoedig.

Kastele is steeds in tye van onrus gebruik, maar slegs as toevlugsoorde en nie as ’n basis vir magsuitbreiding nie. Talle kastele het geleidelik in onbruik verval en bouvalle geword.

Teen die sewentiende eeu was kastele—baasskeppings van die Middeleeuse tegnologie—bloot wit olifante.

 

BO: Die Malahide-kasteel, noord van Dublin, Ierland. Die oudste deel van die kasteel dateer uit die twaalfde eeu, maar dit is mettertyd heelwat vergroot en die torings is ook veel later aangebring.

 

 Foto: J. Taljaard

 

 

BO: ’n Kasteeltoring.

 

Foto: A Public Domain Image a Day 
 

Jy is nou by hoofstuk 7 van Mieliestronk.com se reeks oor die Middeleeue. Klik hier onder op die skakel na enige verdere hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad