Die Middeleeue (9): Die Middeleeuse dorp

Klik hier onder op die skakel na enige hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Die Middeleeuse dorp

BO: Carcassonne, ’n herboude Middeleeuse dorp in Frankryk.

Detail en effense wysiging van ’n groter foto deur Harry,
wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie beskikbaar stel ingevolge die Free Art-lisensie, waarvan die bepalings hier uiteengesit word:
http://artlibre.org/licence/lal/en/

Daar is nog heelparty Middeleeuse dorpe wat die eeue oorleef het—maar vandag is hulle gesogte toeriste-attraksies. Die herlewing van die dorpslewe in die Middeleeue het tot die ineenstorting van die feodale stelsel gelei... en die geboorte van die kapitalisme...

T

YD beteken maar altyd verslyt. Baie kastele uit die Middeleeue het dan ook die weg van die meeste ou mensgemaakte strukture gegaan, en net die bouvalle bly nog oor. Trekkers dreun vandag waar herehuise eenmaal gestaan het.

En tog: soos met katedrale en kloosters is daar vandag steeds Middeleeuse dorpe wat nie net die eeue oorleef het nie, maar ewe bedrywig is as in daardie verre dae. Hulle is nou gesogte toeriste-attraksies.

Middeleeuse dorpe het op verskillende maniere ontstaan. Party het as vestings tot stand gekom, ander as handelsentrums. Maar die meeste het vanweë hul strategiese belangrikheid ontwikkel, soos op ’n rivieroewer, langs ’n natuurlike hawe, by besige kruispaaie of naby ’n groot klooster of kasteel.

Die name van baie Europese plekke verraai hul oorsprong. Die woord “burg”—soos in Edinburg en Freiburg—beteken ’n sterk fort. “Cam”—soos in Cambridge—beteken rivier. Die woord “port”—byvoorbeeld Westport—dui aan dat die plek as ’n hawe begin het.

Middeleeuse dorpe het spesiale dokumente of aktes van die koning of ’n edelman ontvang wat hul regte vermeld het, in ruil vir betalings in die vorm van arbeid of geld. Dorpe kon regte koop en hulle ál meer van die heer se beheer bevry.

In die vorige aflewering het ons ’n landelike kasteel besoek. In hierdie aflewering besoek ons nog ’n produk van die vaardige Middeleeuse vakmanne—’n ommuurde stad—en sy kleurryke inwoners soos hulle inderdaad destyds was.

REGS: ’n Aantal Middeleeuse burgers in die kenmerkende soorte kleredrag van daardie tyd.

Bron: Karen’s Whimsy Public Domain Images.
 



NAMATE ons die plek nader, is die hoë skansmure van grond of klip die eerste ding wat opvallend anders is—hoewel nie al die Middeleeuse dorpe mure gehad het nie.

Wagte bekyk ons lugtig uit torings langs die mure. Die pad waarop ons loop, lei deur ’n groot hek die dorp binne. Kleiner hekke gaan op landerye of rivieroewers uit.

Wat ons verder tref, is hoe klein die “stad” is. (Selfs Londen, Engeland se hoofstad, het aanvanklik nie meer as 40 000 mense gehuisves nie. Namate dorpe gegroei het, het hulle oor hul mure gespoel. Eers het klein houthuisies naby die mure opgeskiet, maar later het voorstede en nog later heeltemal nuwe dorpe ontwikkel.)

Ons loop deur die hek. Daar is ’n gedrang soos ons nog nooit in enige dorp of stad gesien het nie. Om van die lawaai en stank nie eens te praat nie.

Die strate is smal en met straatklip gepavlei. Hulle is ook steil en neig om binnewaarts na ’n sentrale dreineringskanaal af te loop.

Die huise is smal en skeef, dog hulle is drie of vier verdiepings hoog. Elke verdieping hang ’n entjie verder oor die straat as die vorige, met die gevolg dat hulle bolangs byna aan die buurhuise raak.

’n Paar huise is van klip, maar die meeste is van hout met ruwe pleister tussen dik houtbalke. Die dakke van die ouer huise is van dekstrooi, die lateres van klip of lei weens die gedurige brandgevaar.

Dis vroegoggend en ons moet dus mooi kyk waar ons loop. Mense gaan hul vullis by die vensters uitgooi. Die vullis sal later versamel en na buite die stadsmure gekarwei word.

Ons loop verby ’n werkwinkel waar die huisbaas, sy seuns en vakleerlinge ywerig ’n ambag beoefen—miskien grofsmidswerk of dalk leerlooiery.

Die gesin deel ook landerye buitekant die stadsmure, wat hulle óf uitverhuur óf met gehuurde arbeiders bewerk.

Ons klim met ’n smal, kronkelende trap op na die gesin se sitkamer. Hier is die huisvrou, haar dogters en knegte—as die gesin dié kan bekostig—besig om die ontbyt se skottelgoed op te ruim.

Die man en vrou slaap snags hier. Die kinders slaap op die volgende verdieping. Naas hul kamer is daar ook ’n stookkamer, waar die huisvrou eenvoudige boererate berei en laventels distilleer.

REGS: ’n Middeleeuse vrou en kinders.

Bron: Karen’s Whimsy Public Domain Images
 


In die somer is die huis warm. Dog in die winter is dit koud, trekkerig en somber. Die vensters het geen glas nie, maar luike wat toegemaak kan word. As die huismense ryk genoeg is, besit hulle dalk sulke luukses soos matrasse, kussings wat met wol opgestop is en gansveer-komberse.

Daar is opmerklik min meubelstukke—’n los bank of stoel, miskien ’n breekgoedkas en boktafels wat opgevou kan word om saans plek te maak om te slaap.

In die een hoek staan ’n spinstok, wat die vrou gebruik om gare te draai en te vleg om kledingstof van te maak.

Eindelik gaan ons by die agterkant van die huis uit waar ’n klein tuintjie trots sy kruie en groente vertoon, en dan loop ons weer verder in die keisteenlaan.

In die strate ding honde, voëls en mense mee om stukkies kos. Oral kom ons beeste, varke en pluimvee teë. Die lug is dik van die walms van kokende kos, verrottende vullis en die rook van steenkoolvure.

Doer anderkant het mense begin handgemeen raak. ’n Geregsdienaar wat met ’n staf gewapen is, gryp in. Ons draai in ’n ander straat in en loop by ’n kerk verby. Bedelaars sit in die buiteportaal.

Ons loop deur ’n buurt waar silwersmede woon. Soort soek soort hier in die Middeleeue, en mense wat dieselfde ambag het, woon dikwels in dieselfde deel van die dorp.

(Hierdie saamhorigheid het juis tot die ontwikkeling van gildes gelei—mans en vroue wat hul kragte saamgesnoer het tot almal se voordeel. Daar was reëls wat die gildes se lede beskerm het. Vakgeheime is bewaar en gehaltestandaarde bevorder, terwyl geld ook uitbetaal is in gevalle van siekte of dood.)

Voorstelling van ’n Middeleeuse bakker aan die werk

BO: Voorstelling van ’n Middeleeuse bakker aan die werk.

Bron: Histories (“PD Old”)


In die verte sien ons ’n perd en kar wat teen mekaar gebots het—geen ongewone toneel nie.

Ons nader die raadsaal, waar ’n openbare vergadering op die voorplein gehou word. Die geleentheid is die jaarlikse verkiesing van ’n burgemeester, ’n raad en magistrale, bygewoon deur die stemgeregtigdes—gesinne wat eiendom besit.

Ander sake word bespreek—miskien hoeveel die armes belas moet word, dalk hoe om nagtelike lawaaimakers te beheer. Die stemming is mondelings met uitroepe van “ja, ja” of “nee, nee”.

Voordat ons uiteindelik die plek verlaat, gaan ons mark toe—die besigste deel van die dorp. Hier word soveel verskillende dinge te koop aangebied dat ons skaars weet waar om te begin kyk. Wol, wyn, leer, tapisserieë, gekleurde kledingstowwe, meubels, skoene, handskoene, saals, perde, beeste, varke...

BO: Die stadsaal van die Duitse stad Bremen. Hierdie illustrasie is van hoe dit in 1837 gelyk het, en dit lyk vandag nie veel anders nie (foto’tjie REGS). Die ou stadsaal is egter reeds tussen 1405 en 1409 in die Middeleeue gebou, met sekere veranderings daarna. Die gebou is ’n belangrike voorbeeld van die sogenaamde Baksteengotiek, ’n vorm van die Gotiese boustyl in Noord-Europa. Sulke geboue bestaan omtrent heeltemal uit bakstene.

Bron: Histories (“PD Old”)

BO: Sogenaamde Misteriespele—voorstellings van Bybelverhale—was onder die vroegste formeel ontwikkelde toneelstukke in die Middeleeuse Europa.

Bron: Histories (“PD Old”)

DIE groter handel het tot nuwe uitvindings en luukses gelei. Van stede soos Brugge en Antwerpen in Vlaandere, Keulen en Augsburg in Duitsland en Florence, Venesië en Milaan in Italië het nuwighede soos horlosies, glas en selfs kanonne gekom.

Geld het ál belangriker geword. Koopmanne het silwer van verskillende lande se konings ontvang om munte daarvan te maak. Ironies genoeg is die mag van die konings bedreig namate die koop- en vaklui ryker geword het.

Die kapitalisme is gebore. En die Middeleeue was geskiedenis!

BO: ’n Hertog nuttig ’n feesmaal—detail van ’n Middeleeuse skildery uit nagenoeg 1410.

Bron: Histories (“PD Old”)

Jy is nou by hoofstuk 9, die slothoofstuk van Mieliestronk.com se reeks oor die Middeleeue. Klik hier onder op die skakel na enige vorige hoofstuk van jou keuse:

(1)   Die vroeë Middeleeue
(2)   Die Kruistogte
(3)   Die latere Middeleeue
(4)   Vroeë Christen-kerke en Bisantynse en Karolingiese boukuns
(5)   Monnike en kloosters
(6)   Gotiese katedrale
(7)   Konings en kastele
(8)   Die lewe in ’n Middeleeuse kasteel
(9)   Die Middeleeuse dorp

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad