Dugeot se Mieliestronk.com

Opskrif -- "Die mielie"

Mieliekop

Die goue bielie!

 Uitgeholde stronke soos vir rookpypeDwarssnee van mieliekop met pitte en stronk
  
Mieliestronk.com moes dit mos darem die een of ander tyd doen:
n artikel laat verskyn oor die merkwaardige plant wat hom sy naam gegee het! Want n bielie van n plant is die mielie beslis..

 

Mielieplant met verskillende deleCHRISTOPHORUS COLUMBUS,  die Europese ontdekker van die Nuwe Wêreld, het dit stellig nooit besef nie—dat die merkwaardige mielie, wat hy na Europa gebring het, baie waardevoller sou word as al die speserye of goud wat hy gehoop het om te vind.

Hy kon nie geweet het dat die voorgeskiedenis van die mielie oor sowat 8000 jaar strek nie. Boonop sou hy dalk verleë gewees het as hy destyds die voorkennis gehad het oor vandag se gewildheid van ’n plant wat ontwikkel is deur mense wat hy as arm en onbeskaaf beskou het.

As hy tot in ons tyd kon gelewe het, sou hy bepaald verbaas gewees het oor die geweldige omvang van mielie-verbouing—en hoe dit kosproduksie en bevolkingsaanwasse regdeur die wêreld beïnvloed het.

REGS: ’n Mielieplant met sy verskillende dele. Die mielie [Zea mays ssp. mays] is ’n eenjarige somergraangewas en ’n lid van die grasfamilie. Blomme word in afsonderlike bloeiwyses op dieselfde plant gedra. Die manlike blomme kom voor in syare in ’n pluim aan die punt van die stam. Die mieliekop, die vroulike bloeiwyse, word op ’n kort sytak gedra wat uit die oksel van ’n Mieliekop met skutblareblaar groei. Die vroulike syare, wat in rye op die bloeias voorkom, bevat gewoonlik elk net een vrugbare blom, wat slegs ’n stamper het. Dié bestaan uit ’n vrugbeginsel, en ’n styl en ’n stempel wat nie van mekaar onderskei kan word nie—hulle vorm een struktuur, wat die baard genoem word.  Die baard van die verskillende blomme groei mettertyd van die punt van die kop af by die skutblare uit en is dan gereed om die stuifmeel te ontvang. Kruisbestuiwing vind merendeels plaas omdat stuifmeelstorting begin voordat die baard verskyn.

  • Mielies vereis ’n warm, sonnige omgewing met genoeg reên. Hulle is nie bestand teen ryp nie. 

Dwarssnee van 'n mieliepit
Dwarssnee van die mieliepit

REGS: Die mieliepit is ’n tipiese grassaad—dit bevat ’n enkele saad. Verskillende varieïteite wissel aanmerklik in grootte, vorm en kleur. As ’n mens die pit in die dwarste deursny, vind jy: (1) die perikarp of vrugwand, wat die pit omhul; (2) die aleuronderlaag, ’n sellaag wat ryk aan proteïenes is; (3) die endosperm, wat die grootste gedeelte van die pit vorm en meestal stysel asook ’n bietjie suiker bevat; (4) en die kiem of embrio, wat ’n nuwe plant sal word as ’n mens die pit plant. Hierdie kiem is ryk aan proteïenes en olie.

 
Die geskiedenis van die mielie

DIE MIELIEPLANT, ’n  soort reuse-gras, se spreekwoordelike wortels lê doer in die gryse verlede in tropiese Mexiko.

Die mielie is blykbaar reeds uit ’n wilde gras veredel nog voor die opbloei van die pre-Spaanse beskawings in Amerika—dus lank voordat die Spanjaarde hulle in daardie wêrelddeel gevestig het.

Een kenner het al selfs na die mielie verwys as ’n kulturele artefak, ’n egte mensvervaardigde voorwêreldlike plant wat nie in die vrye natuur bestaan nie en slegs kan oorleef as die mens dit saai en beskerm. Daarteenoor het die kulturele kompleksiteit van die pre-Spaanse beskawings ook sterk op die verbetering van die mielieplant gesteun.

Die eerste graansoort wat deur die vroeë sogenaamde Mesoamerikaners "mak gemaak" is, was egter blykbaar nie die mielie nie, maar so min of meer ’n familielid van kanarievoëlsaad. Maar teen 1400 vC is mielies al tot aan albei kuste van Mexiko verbou en was die kulturele ontwaking van die mense in daardie streke onderweg.

Vir die Maja, Inka en Asteke van Sentraal- en Suid-Amerika was die mielie ’n stapelvoedsel. Dit was prominent in hul kunste en godsdienstige seremonies. Uitbeeldings van mielies is in die bouvalle van hul stede gevind en mieliepitte in hul grafte gekry. Die Asteke het selfs die praktyk van bemesting verstaan en het buitengewoon goeie graanoeste gehad.

Die Indiane van Noord-Amerika het so vroeg as 700 nC mielies in die suidwestelike deel van die vasteland geplant. Die graansoort het daarna stadig noord- en ooswaarts onder die Indiane versprei.

Vroeë Europese ontdekkingsreisigers het dié graan van die Nuwe Wêreld na Spanje, Frankryk en Italië gebring. Christophorus Columbus het eerste die Europeërs daarmee laat kennis maak. Later is die lewens van die eerste Europese koloniste in Amerika gered deur vriendelike Indiane wat in 1607 mielies na die doodhonger setlaars by Jamestown gebring het.

Die Indiane het die witmense geleer hoe om mielies in hopies te plant deur dooie visse as bemesting te gebruik. Die vinnige groei van die Amerikaanse kolonies was in ’n groot mate aan die kweek van mielies te danke.

Die mielie is deur seevaarders en ander reisigers oor die wêreld heen versprei en was teen die einde van die sestiende eeu regoor die grootste deel van die ontwikkelde wêreld ’n bekende gewas. ’n Chinese tekening van ’n soort mielie dateer uit 1597.

Die bydrae wat dit in Suid-Afrika as voedsel gelewer het, is op sigself onberekenbaar. Wat sou talle van ons mense vandag nog gedoen het sonder hul porsie lekker mieliepap in die oggend?

  
Die verbouing van mielies

MIELIESAAD word in die reël op reën-benatte landerye gesaai waar dit met ploeë in die klam grond ingeploeg word. As dit hierna nog verder lekker reën, kan die jong mielieplante mooi ontluik.

Trouens, die mielieplant het taamlik water nodig en dit bly maar altyd ’n waagstuk om mielies in gebiede te verbou wat aan gereelde droogtes onderhewig is (soos baie dele van Suid-Afrika ongelukkig wel is). Selfs as daar genoeg besproeiingswater is, kan die aanhoudende uitloging die grond só laat agteruitgaan dat dit tot wind-erosie en uiteindelike woestyntoestande kan lei.

Die belangrikste voorwaartse stap in die verbouing van mielies was die bekendstelling van bastermielies teen omstreeks 1933. Plantkundiges het reeds duisende basters ontwikkel om die mielie-oeste in baie wêrelddele te verbeter. Die kruisbestuiwing van geselekteerde plante lei tot ’n groter produksie as wat met die oorspronklike variëteite verkry kan word.

Basters dra egter nie hul verhoogde groeikrag aan hul nakomelinge oor nie, met die gevolg dat moederstapels elke jaar gekruis moet word om ’n nuwe hoeveelheid bastersaad te lewer. Dit word deur saadmaatskappye gedoen, asook deur sekere boere wat in die kweek van bastersaad spesialiseer.

Die mielie word ongelukkig steeds deur ’n aantal plantparasiete en insekteplae geteister, wat mielieboere erg kan tref as hulle nie met gifstowwe en ander middels bestry word nie.

’n Belangrike vonds in 1978 was die herontdekking in Mexiko van ’n soort meerjarige wilde mielie wat as uitgesterf beskou is. Hierdie soort kan die grondslag vorm vir die ontwikkeling van ’n plant wat nie jaar om jaar opnuut gesaai sal hoef te word nie.

Mielie-en-gras-verbasteringEn meer onlangs was daar die beheerde verbastering of kruising REGS van ’n mielie met ’n wilde Amerikaanse grassoort wat oostelike gamagras genoem word. Oostelike gamagras het ’n poel gene wat baie vir die mielie kan beteken, waaronder ’n weerstand teen koue en insekte, asook besondere vermoëns om droogtes en oorstromings te weerstaan. Kyk net hier hoe lyk só ’n grasserige mielie!

Foto: Scott Bauer / USDA /ARS

  
Gebruike van die mielieplant

DIE mielieplant het ’n menigte gebruike. In ons land is selfs die blare vroeër dae gebruik om matrasse op te stop voordat klapperhaar algemeen in gebruik gekom het. In Amerika, die mielie se land van oorsprong, is slaapmatte, mandjies en selfs skoene ("mocassins") deur die ou Indiane van mielieblare gevleg.

En mieliestronke is uitgehol en as rookpype gebruik.

Mielieplante word vandag ook ná die oeste in landerye teruggeploeg waar hulle verrot en die grond verryk.

Maar dis natuurlik die mieliepit wat die grootste kommersiële waarde het. Baie tonne van veredelde mielie-variëteite wat ’n groot pit-opbrengs lewer, word jaarliks geoes. Die pitte word gebruik:
* in ’n gemaalde vorm as mieliepap of in geprosseeerde kosse soos ander ontbytvoedsels—selfs springmielies is ’n belangrike lekkerny;
* in fabrieksprodukte soos bio-afbreekbare plastiekstowwe;
* word verwerk tot etanol-alkohol wat masjiene en motors kan aandryf;
* word verwerk tot ’n soet stroop wat suiker kan vervang in talle produkte van lekkergoed tot koeldrank;
* word verwerk tot veevoer—die dop van die pit het ’n hoë proteïen-inhoud en is ’n belangrike voer;
* word verwerk tot veeldoelige stysel wat self ’n bestanddeel in boumateriaal kan wees;
* ’n ekstrak van die kiem in die pit word as kookolie gebruik.

 
Oorsprong van die naam

DIE Amerikaners praat van die mielie as c o r n , ’n term wat op baie ander plekke ter wêreld slegs vir koring gereserveer word. Daar praat die mense van die mielie as maize. Ons eie benaming vir hierdie graansoort kom van ver af—uit Portugees milho, ’n woord wat in sekere stadiums ook vir manna en later sorghum gebruik is. Die woord hou waarskynlik verband met die Latynse woord mille, meervoud mil(l)ia, "duisend(e)", na aanleiding van die duisende saadkorreltjies in ’n aar van byvoorbeeld manna. By ons het Van Riebeeck al oor die mielie geskryf.  Hy het dit milie of mily gespel.
  


Mielieproduserende lande of wêrelddele

VERGELYKENDE syfers oor die lewering van mielies in 2009 deur die tien top-presteerders verskyn hieronder  (gemeet in miljoene tonne) . Kyk onder meer die geweldige verskil in die oeste van Suid-Afrika en die VSA.
      

Tien vernaamste mielieproduseerders 2009
Land Produksie (in miljoene tonne afgerond tot die naaste miljoen)
 VSA 333
 Asië 234
 China 163
 Europa 84
 Afrika 57
 Brasilië 51
 Mexiko 20
 Indonesië 18
 Indië 17
 Frankryk 15
 Argentinië 13
 Suid
 Afrika
12
 Oekraine 10
 Wêreld 817

Bron: Food and Agriculture Organization of the United Nations, Statistics Division (2009). Maize, rice and wheat : area harvested, production quantity, yield.
  

Oestyd

LINKS: Oestyd op ’n mielieland in Columbia in die Amerikaanse staat Missouri. Die VSA is verreweg die grootste mielieproduserende land op aarde.
.

Foto: Bruce Fritz /  USDA / ARS

 

Carpophilus lugubris op mieliepitte 

LINKS: Die pitte van die mielieplant loop deur onder allerhande insekte wat die mielieboer ernstige skade kan berokken.

Foto: Keith Weller  / USDA / ARS

Mieliekoppe vir Afrika!

BO: Mieliekoppe vir Afrika!

Foto: Free-Pictures-Photos.com

 


 
Mielieverbouing in Suid-Afrika

MIELIES word op baie plekke in Suid-Afrika gesaai, die meeste op enorme plase met hoogs moderne werktuie. Tog is daar ook baie boere van die agtergeblewe gemeenskappe wat net genoeg daarvan plant om hul gesinne te onderhou.

Suid-Afrika se rykste mieliestreek word die someroesgebied genoem,  en die groen gedeelte op die kaart langsaan dui hierdie saaigebied aan.

Dit het tradisioneel as ons land se Mieliedriehoek bekend gestaan, volgens sekere bronne ingesluit deur die dorpe Zastron, Mafeking en Machadodorp, waarvan die liggings ook op die kaart te sien is. Ander bronne dui die punte van die driehoek weer aan as Ladybrand in die Vrystaat, Mafikeng in Noordwes en Carolina in Mpumalanga. Tog verskil dit nie veel van die eersgenoemde drie punte nie en die presiese afbakening kan trouens geen geskilpunt meer wees nie.

Want in der waarheid is daar nie eens meer ’n driehoek nie. Mettertyd het die grense van die gebied naamlik só verander dat dit vandag meer in die vorm van ’n vierkant is.

Hierdie someroesgebied is die groot mielieskuur van Suid-Afrika. By baie dorpe in die streek staan groot graansuiers vir die berging van die mielies, asook meulens waar dit gemaal word.

Mielies word in hierdie streek gevind omdat die mielie as ’n somergewas hier uitstekend aard—as die weer saamspeel, omdat dit uiteraard ’n goeie skeut water nodig het. En dan word dit natuurlik ook aangeplant omdat dit so gewild is by Suid-Afrikaners, nie die minste nie vir gebruik as mieliepap, maar ook as stampmielies, mieliesrys en selfs as springmielies.

Om die waarheid te sê word mielies nie deur net deur miljoene Suid-Afrikaners geniet nie, maar ook deur talle as onontbeerlik beskou en ons noem die mielie dus ons land se stapelvoedsel.
  

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad