|
Mitologie van die Grieke LINKS: Al ooit gedink hoekom jou boek met landkaarte nou eintlik’n atlas genoem word? Dis glo terug te voer na die ou Grieke se mitologiese Atlas, wat veroordeel sou gewees het om die aarde vir altyd op sy rug te dra—soos uitgebeeld met hierdie standbeeld van hom op ’n gebou in Collinsstraat, Melbourne, Australië. Omdat Atlas wat die aarde vashou dikwels op die titelbladsye van vroeë versamelings landkaarte afgebeeld is—só word vertel—is die woord atlas naderhand gebruik vir enige boek met landkaarte. Volgens ’n ander teorie kom dié spesifieke boeknaam egter van Atlas, die mitiese koning van Mauretanië, wat ’n beroemde geleerde, sterrekundige en aardrykskundige sou gewees het. Dit sou eintlik hy wees wie se naam juis vanweë sy aardrykskundige werk verewig is in kaarteboeke. Maar wat ook al die geval is, jou atlas se oorsprong lę in die mitologie! Foto afkomstig van die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web, waar dit deur sy eienaar tot openbare besit (“public domain”) verklaar is (foto gewysig) Luister
maar rondom jou en dalk hoor jy steeds die fluisteringe van die
waternimfe, die suisings van die vlerke van die gevleuelde perd Pegasus,
die veraf geweeklaag van Pandora nadat sy die kis oopgemaak het waaruit
soveel ellende en verskrikkings ontsnap het. Want soos die Grieke van
die Oudheid met hul vernuf, denke en dade die grondslag van die Westerse
beskawing gelę het, so het hul mitologie ook ’n onuitwisbare invloed
op die latere geslagte gehad. In ’n sekere sin is die ou Grieke nog
altyd met ons... en is ons almal die
volgsame kinders van daardie lewenskragtige, avontuurlike en vryheidsliewende mense
van
weleer… |
|
N sy studeerkamer worstel ’n digter met
’n nuwe skepping. Moedeloos gooi hy uiteindelik sy pen neer en sug dat
hy vandag geen inspirasie het om te dig nie. Hy kan "geen greintjie
hulp van die muses" kry nie, bekla hy sy lot. In die Kaapse fynboswęreld staar ’n
groep natuurliefhebbers verwonderd na die ryke verskeidenheid van proteas
wat hulle in hul wandelinge in ’n verskuilde kloof aangetref het. In sy laboratorium probeer ’n skeikundige
om die gas helium uit ’n gasmengsel te isoleer. En ’n skoolkind wat nie weet waar ter węreld
Timboektoe is nie, raadpleeg ’n atlas. Hiermee word gou
vasgestel dat die stad met die vreemde naam in die Afrika-staat Mali lę. Muses, proteas, helium en ’n atlas… wat op aarde kan sulke
uiteenlopende dinge met mekaar gemeen hę? Die antwoord is dat hulle
almal woorde is wat op wesens in die ou mitologieë gegrond is. En
’n mens hoef glad nie veel verder te soek om nog sulke woorde met ’n
mitiese Griekse oorsprong in baie van ons moderne tale te vind nie. Vir die ou Grieke was die muses nege godinne van die kunste en wetenskappe, wat alle kunstenaars sou geďnspireer het, veral digters, filosowe en musici.
Krediet: Openbare domein vanweë verjaring van kopiereg
Proteus was weer vir die ou Grieke die seun van die seegod Poseidon, en hy was in staat om enige vorm
aan te neem soos dit hom behaag het. Die pragtige proteas is na
hom genoem omdat hulle in eweveel verskillende vorms in die natuur
voorkom. Die gas helium (uit die Griekse woord Hęlios vir die son, wat ook die naam van die Griekse songod was) het sy naam gekry omdat dit eers in die spektrum van die korona van die son ontdek is voordat dit op die aarde geďsoleer is. En dan was Atlas op sy beurt ’n mitiese figuur wat veroordeel was om die aarde vir altyd op sy rug te dra. Omdat Atlas wat die aarde vashou dikwels op die titelbladsye van vroeë versamelings landkaarte afgebeeld is, het die woord atlas vir ’n boek met kaarte bly steek, reken die geleerdes. (Daar is wel ook ’n ander teorie, soos by die Atlas-beeld bo-aan hierdie artikel vertel word.) Met die bogenoemde begin ’n mens maar
eers verstaan watter verstommende impak die Griekse mitologie steeds op
die węreld van vandag het. Maar wat word bedoel met mitologie en wat is
daar in die antieke Grieke se besonderse fabels wat hulle deur alle eeue
sedert die Oudheid lewend gehou het? Let wel: Daar word sterk aanbeveel dat die
leser vir agtergrond ook ons artikel oor Ou
Griekeland sal lees. Mites
en legendes—wat
is dit? MITES en legendes is
tradisionele vertellings van onbekende oorsprong wat uit die vroegste
tye aan latere geslagte oorgedra is. Hoewel baie mense voel dat dié
woorde sinonieme en dus omruilbaar is, het mites in die korrekte sin van
die woord met gode te doen, terwyl legendes met mense te doen het. Mites
en legendes is albei deel van die sogenaamde volksoorleweringe. In mites word die primitiewe gelowe van volkere beliggaam. Hulle het
romantiese verklarings vir die wonders van die natuur gebied in ’n tyd
toe geen wetenskaplike verklarings daarvoor nog bestaan het nie.
Natuurkragte is verpersoonlik en vergoddelik. Só het die ou Grieke geglo dat die donder en weerlig ’n uiting was van die ontevredenheid van die groot god Zeus, wat op die berg Olympus (ook Olimpus gespel) geheers het. Zeus is deur mindere gode en godinne omring, wat verskeie fases van die natuur en die bedrywighede van die mens beheer het.
Foto uit Engelse weergawe van die Wikipedia-ensiklopedie waar dit deur sy eienaar, J.F. Kennedy, tot openbare besit verklaar is ("in the public domain") ’n Versameling van verwante mites vorm
’n mitologie of mitologiese sisteem. In die meeste
mitologieë tref ’n mens ’n panteon, of godehemel, aan met ’n
oppergod aan die spits daarvan. In ’n legende, daarenteen, is daar
dikwels ’n god of gode, maar die hoofkarakter is ’n sterflike mens.
Partykeer kan hierdie karakter wel van goddelike afkoms wees. Die
supersterk Griekse held Heracles, wat deur die Romeine Hercules genoem
is, het byvoorbeeld ’n goddelike vader en sterflike moeder gehad. Die gode kan boonop wisselende rolle in die
lotgevalle van mense speel. ’n Aantal gode het helde van die Trojaanse
Oorlog beskerm of hulle andersins met hulle bemoei. Gode was ook
betrokke by die Argonoute, Griekse helde wat onder leiding van Jason
gevaar het om die Goue Vlies te gaan haal. Hoe ook al, in ’n legende
val die klem primęr op die menslike węreld en nie op die gode nie. Lank nadat wetenskaplike ontdekkings die mitologiese interpretasies van
natuurkragte verkeerd bewys het, bly die mites van die weleer steeds
verhale wat ons aangryp en boei. Mites vertel ons nie net van die
vroegste gelowe en gebruike van die mens nie, maar onthul ook iets van
die diepste begeertes en emosies van die mens deur alle eeue. Die
grondslag vir die klassieke Griekse en Romeinse letterkunde is deur
mites en legendes gelę. (Toe die Romeinse die hoofkenmerke van die
Griekse mitologie oorgeneem het, het hulle hul eie gode met dié van die
Grieke geďdentifiseer.) Mitologiese sinspelings is volop in die
Afrikaanse letterkunde en in dié van stellig die meeste ander tale. Die
musiek, skilderkuns en beeldhoukkuns is eweneens ontsaglik baie aan die
mitologie verskuldig. Griekse
mites en legendes
DIE Griekse mitologie is, soos hierbo
geblyk het, die versameling tradisionele verhale oor die gode,
helde en rituele van die antieke Grieke. Kritiese Grieke, soos Plato in
die 5de-4de eeu v.C., het weliswaar besef dat die mites ’n enorme
element van onwaarhede bevat het, maar die meeste Grieke het hulle as
die waarheid aanvaar. Die mitologie was immers die
enigste manier waarop die mense destyds die onverklaarbare kon
verduidelik. Die Grieke het gode gehad vir
enigiets van oorlog tot die kunste en ambagte, en godinne van die liefde
tot jaloesie. Ons lees ook in die Bybel (Handelinge 17:15-34) hoe die
apostel Paulus in Athene gekom en die stad vol afgodsbeelde gevind het.
Daar was selfs een altaar waarop geskrywe was: Aan ’n onbekende
God—en Paulus het in sy beroemde rede op die Areópagus die kans benut
om aan die Atheners die Een te verkondig wat hulle, te midde van al die
ander, vereer het sonder om Hom te ken. Die ou Grieke het so baie gode vereer omdat
hul kultuur soveel erkenning aan verskeidenheid gegee het. Die Griekse
kultuur het immers nie slegs een besondere waarheid of kode aanvaar nie
en daar was geen heilige, geskrewe teks soos ons Bybel nie. Wat meer sę,
daar was selfs groot verskille in die verhale oor die oorspronge en dade
van die Griekse goddelikes, afhangende daarvan of die vertelling
byvoorbeeld in ’n komedie, tragedie of epiese gedig voorgekom het. Die
Griekse mitologie was soos ’n komplekse en ryk taal, het iemand al
geskryf, waarin die Grieke
’n hele reeks persepsies oor die węreld kon verwoord. Maar hoe sou hulle dan, sę maar, die ontstaan van die węreld probeer
verklaar het? In een Griekse mite word vertel dat Erebus
(Duisternis) en Nyx (Nag) geskep is uit die oorspronklike
verwarring wat bestaan het voordat die węreld gevorm is. Hierdie
verwarring is soms verpersoonlik as Chaos, die god van wanorde. Daar is ook vertel dat die voorwęreldlike
newels saamgetol het tot in ’n eier, wat oopgebreek het. Liefde het
uit die middel daarvan gekom; die een helfte het Hemel (Uranus) geword
en die ander helfte Aarde (Gaea). Hemel en Aarde het twaalf kinders
gehad, wat Titane genoem is. Prometheus, een van die Titane, het die
mens uit klei gemaak, hom vuur gegee en hom die kunste geleer. Cronus, die hoof-Titan, is uiteindelik deur sy seun Zeus onttroon, met die hulp van Poseidon en Hades. Om hulle te beloon het Zeus die see aan Poseidon gegee en die onderwęreld aan Hades.
Die gode het in hul tuiste op die berg Olympus saam beraadslaag om menslike gebeurtenisse te bespreek en oordele oor menslike dade te fel. Hulle het die beheer oor die węreld en die natuur gehad, maar moes hulle onderwerp aan Noodsaak (Ananke). Die Skikgodinne het oor die lengte van ’n persoon se lewe besluit en selfs die ander gode kon nie hul verorderinge in hierdie verband verander nie.Sekere gode is veral in verskillende stede vereer. Athena, die godin van
wysheid, was die hoofgodin in Athene, omdat sy, soos destyds geglo is,
gehelp het om daardie stad tot stand te bring.
Foto deur Jastrow, wat dit in die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web tot openbare besit (“public domain”) verklaar het. Daar is baie verskillende natuurmites van die Grieke. ’n Natuurmite is ’n mite waarin probeer word om die oorsprong van natuurverskynsels te verklaar. Só is daar die verhaal van die pragtige godedogter Persephone, wat deur Hades, die god van die onderwęreld, na die onderwęreld meegevoer word. Persephone se moeder Demeter, godin van die landbou en vrugbaarheid, is so verbysterd omdat haar dogter nie meer daar is nie dat sy alle oeste laat mislukOm die grond weer vrugbaar te kry word
Hades aangesę om Persephone aan haar ma terug te besorg. Maar terwyl sy
in die onderwęreld was, het Persephone die pitte van die granaat geëet,
'n vrug wat die huwelik versinnebeeld. Dit beteken sy mag nie haar
eggenoot verlaat nie. As kompromis word Persephone toegelaat om
’n deel van die jaar by haar ma te bly, wanneer die gesaaides goed
groei (somer), en die res van die jaar moet sy dan weer by Hades
deurbring, wanneer die aarde onvrugbaar word (winter). Met haar
jaarlikse terugkeer na die aarde was Persephone ’n verpersoonliking
van die herlewing van die natuur in die lente. Die Griekse mitologie het verskeie
kenmerkende eienskappe gehad. Die Griekse gode was baie soos mense sover
dit hul vorm en emosies aangegaan het, en hulle het in ’n gemeenskap
met vlakke van mag en gesag soos dié van mense gewoon. Daar was egter
een kardinale verskil tussen gode en mense: mense het gesterf en gode
was onsterflik. Helde het ook ’n belangrike rol in die
Griekse mitologie gespeel en die verhale oor hulle het ernstige temas
bevat. Die Grieke het gevoel dat menslike helde van die verlede nader
aan hulself was as die onsterflike gode. Die legendes van Griekeland is dus van
groot belang. Die heldedigte van Homerus, die Griekse dramas en ’n
groot deel van ou Griekeland se kunswerke is op die wedervaringe van
legendariese helde gegrond. Onder die beroemdste legendes is dié oor
die avonture van die Argonoute, die reuse-take van Hercules, die
omswerwinge van Ulysses en die Trojaanse Oorlog. Die verhaal van die Trojaanse Oorlog is so
interessant dat dit verdien om ’n bietjie van nader bekyk te word. Die
oorlog is lank as niks anders as ’n legende beskou nie, maar geleerdes
het later op grond van argeologiese vondste aanvaar dat dit werklik
gebeur het. Presies wat waar en wat verdigsel is, kan egter nie so
maklik uit die behoue geskrifte afgelei word nie, want die ou Griekse
oorlewerings is vermeng met die legendariese. Na wat vertel is, het die Grieke ’n
manier gevind om die stad Troje binne te gaan deur ’n reuse-houtperd
te bou wat hol van binne was en waarin gewapende manne weggekruip het.
Die Trojane het die perd voor hul stadshek gevind en dit in die stad
ingesleep. Daardie nag het die gewapende manne uit die perd geklim en
die stadshek vir die res van die Grieke oopgemaak—met die gevolg dat
Troje verwoes is. Die
betekenis van die Griekse mitologie vir ons tyd VAN die Griekse mitologie word dikwels vertel dat dit ons insae gee in
die manier waarop die menseras in die verre, gryse verlede gedink en
gevoel het. Daardeur sou ons op die spore kan terugloop van die mens met
sy teenswoordige "onnatuurlike" beskawingsvlak tot waar hy nog
naby aan die natuur gelewe het—na ’n tyd toe die węreld jonk was en
mense verbind was aan die aarde, die bome, die seë, blomme en berge op
’n wyse wat ons ons vandag beswaarlik kan voorstel. Toe die verhale vorm aangeneem het, word
vertel, is nog bloedmin onderskeid gemaak tussen dit wat waar en dit wat
onwaar was. Die verbeelding was geweldig sterk en die rede kon dit nie
in bedwang hou nie, sodat elkeen wat in die bos gewandel het ’n
vlugtende nimf tussen die bome sou kon gewaar of ’n najade (waternimf)
se gesig sou kon sien in die dieptes van ’n helder waterpoel waar hy
gebuk het om sy dors te les. Dit was ’n heeltemal ander tyd met ’n
heeltemal ander denkwyse, só word ons baiemaal wysgemaak. En tog lę
soveel daarvan steeds ingegrif in ons moderne lewe en lewensbeskouinge,
soos ons reeds vroeër in hierdie artikel verneem het. Die invloed van
die Griekse mitologie op die Westerse kuns, musiek en letterkunde, tot
vandag toe nog, kan kwalik oorskat word. Baie van ons grootste skilderye
en beeldhouwerke het die mites as temas. Boonop lyk dit op die invloed van die
Griekse mitologie geen teken van afname toon nie. Rekenaarspeletjies en
wetenskap-fiksie maak dikwels gebruik van gevegs- en verhaalpatrone wat
duidelik met dié in die klassieke mitologie ooreenstem. Die Griekse
mites het in ’n bepaalde antieke samelewing ontwikkel, maar die
emosionele en intellektuele inhoud van die verhale is baiemaal nog net
so toepaslik op die węreld van vandag. In ’n sekere sin is ons gevolglik almal kinders
van die ou Grieke... van hul lewensbeskouinge en ook van hul mitologie.
Hierdie lewenskragtige, avontuurlike en vryheidsliewende mense, wat so
uitmuntend prakties en intellektueel vernuftig was, het met hul konsepte
die wonderlikste fondamente geskep waarop ons vandag steeds voortbou. Dankie dus Archimedes, Hippokrates,
Pythagoras, Perikles, Homerus en al die baie ander. Ons is so
onberekenbaar veel aan julle verskuldig. En dit, om die woord oordragtelik te
gebruik, is beslis geen mite nie. |
|