|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
MATERIE:
Maar
wat gebeur wanneer ’n gas verhit word tot temperature wat warmer is as
dié wat op die son bestaan? Wanneer ’n gas tot meer as 10
000° verhit word, bots sy molekules so hewig teen mekaar dat hulle
in individuele atome opgebreek word. Die negatief gelaaide elektrone word
heeltemal van die atome afgestamp. Dit is by hierdie punt dat die
plasma-toestand bereik word. Benewens
die feit dat ’n plasma baie, baie warm is, word dit ook van ’n gas
onderskei deurdat ’n plasma se bewegings deur elektriese en magnetiese
velde beïnvloed word. Metdat die elektrone in ’n plasma van die atome
afgemoker word en positief gelaaide ione ontstaan, kan hulle elektriese
velde skep wat oor lang afstande strek. Voorts vorm die interaksie tussen
die ione en die elektrone ’n elektriese stroom; dié is op sy beurt ’n
bron vir ’n magnetiese veld. Die
feit dat ’n plasma elektriese en magnetiese velde kan genereer en boonop
deur hulle beïnvloed kan word, lei tot verskeie nuwe verskynsels waarvoor
daar geen gelyke in die ander drie toestande van energie is nie. Die
aarde is uit al die vier toestande van energie saamgestel. Ons is vertroud
met soliede gesteentes en vloeibare oseane. Die lug wat ons atmosfeer
vorm, is in ’n gasagtige toestand. Bokant die atmosfeer bestaan massa
egter in die plasma-toestand. Die plasma wat deur die aarde se magneetveld
beheers word, maak die magnetosfeer uit. Deur die dinamika van die plasma
in die magnetosfeer te bestudeer, begin ons die verskynsel begryp wat vir
die sogenaamde auroras (poolligte) verantwoordelik is. |