|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
|
MOEDERLIEFDE:
Samegestelde illustrasiefoto’s: MSKARG x2 (uit foto’s van o.a. HvD en
NPS) VERBLUF
met sy rooibruin, verkreukelde vel lę die pasgebore olifantkalfie in die
Afrika-veld. Strompelend probeer hy orent kom op sy wankele pootjies. Sy
ledemate wil-wil hom maar net nie gehoorsaam nie. Die
kleintjie leer nietemin vinnig. Ure later staan hy reeds stewig en suip
onder sy mamma se pens, en ’n mens sou dalk dink dat hy kort voor lank die
lewe alleen sal kan aandurf. Maar moenie glo nie. In die eerste aantal weke
moet sy ma hom vrou-alleen versorg, waarna al die koeie in die trop ’n
groepsmoederliefde teenoor die kalfie ontwikkel. Eers
ná meer as tien jaar se groei en opvoeding is hy ’n volwasse olifantbul
uit eie reg. Kyk
daarteenoor na ’n arme skilpad wat in dieselfde stuk węreld ronddool. Sy
ma het hom as ’n eier verlaat wat sy onder die sand toegekrap en net so
gelaat het vir die son om te broei. En vandat hy die eerste lewenslig
aanskou het, was hy slegs op homself aangewese. Moederbeskerming
het hy nooit geken nie. Maar gelukkig het hy darem daardie harde dop om hom.
Dit het hom reg van die begin af oorgenoeg beskerming gebied. Só
verskil diere. By party soorte is die kleintjies reeds by geboorte klein
volwaardige volwassenes, by ander sorg die ma’s alleen vir die kleintjies of
kry hulle dalk ook hulp van ander diere in die trop. By nog ander (baie van
die voëls) sorg die ma’s en pa’s so saam-saam vir hul nasate, en dan is
daar nog die mannetjies onder byvoorbeeld die seeperdjies wat as
alleenouer-pappas moet opsnork. In die natuur is daar geen vaste reël wat
vir alle skepsels geld nie.
Maar
ook liefdevolle dieremoeders en hul kleintjies sal nie altyd aan mekaar
verknog bly nie. Daar kom ’n tyd, vroeër of later, dat die kinders
afgespeen en selfs “verwerp” word om hul eie potjie te gaan krap. Iets
wat ons by die mens vind, maar nie eintlik by baie diere nie, is die
lewenslange besef van ’n tere bloedverwantskap wat sal bestaan tot in die
dood. Een
opvallende uitsondering is die bonobo, ’n sjimpanseeagtige aap van die
bedompige woude suid van die Kongorivier in Midde-Afrika. Ook ’n
bonobo-mannetjie bly aan sy ma verbind vir solank as wat sy lewe. Trouens,
sy hele status in die ape-gemeenskap word deur die sosiale stand van sy ma
bepaal.
Diere
weet instinktief wanneer om te trek (te migreer), wanneer en hoe om mekaar
die hof te maak en ook wanneer om hul kleintjies te voed. By die meeste is
hierdie vermoëns bloot gedragseenhede, wat aan- en afgeskakel word soos dit
die diere pas. Ganse
sal byvoorbeeld net in die broeityd—sowat ’n week voor die eierlęery
tot ’n week nadat die klein gansies uitgebroei het—eiers
in hul neste inrol. Op ander tye het eiers vir hulle geen betekenis nie.
|
|