|
’n Laslappie van Mieliestronk |
||||
Mallee-hoender: die vreemde voël wat sy eiers in die warmte van verrottende takkies en blare laat uitbroei Hiert, ek is gebore in ’n komposhoop!
|
||||
Foto
van mallee-broeines (kante deur ons weggesny) deur Glen
Fergus, wat
kopiëring daarvan in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web
vergun ingevolge die Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5 License
DIT
kan nie wees nie, het die mense die ou reisbeskrywer tot leuenaar
gemaak. ’n Voël wat sy eiers in die grond begrawe om deur die son
warm gebak te word? Ag nee wat, man, gaan vertel dit vir die voëls!
H.J.
Frith, ’n bekende Oostenrykse wetenskaplike, meld dat die destydse
Europeërs geredelik aanvaar het dat meerminne en ander onwaarskynlike
wesens wel bestaan, maar tog die seeman se verhaal as verdigsel afgemaak
het. Dog mettertyd het dit geblyk dat Gemelli Careri wel die waarheid
gepraat. Want
in Australië en dele van Indonesië is daar inderdaad ’n voëlfamilie
wat hul eie ''broeikaste'' in die grond maak. Van die negentien
megapode-spesies—die naam beteken ''groot voet''—is die
mallee-hoender van Australië miskien die merkwaardigste. Die meeste ander megapodes hou in tropiese reënwoude en op eilande en het oorvloedige hulpbronne waarmee hulle hul broeineste kan bou. Daar is selfs party soorte wat hul eiers naby stoomgate en warmwaterbronne lê sodat hul eiers deur die hitte daar uitgebroei kan word. Maar
die mallee-hoender (Leipoa ocellata) is in die binneland van
Suid- en Wes-Australië aan ’n veel strawwer en droër omgewing
blootgestel en moet net soveel harder werk om die oorlewing van sy
nakroos te verseker. Wat meer sê, die haan, wat die hoofbouer en
bewaker van die broeines is, is sowat 300 dae per jaar met hierdie taak
besig. In
die herfs of vroeë winter kom die haan en hen saam en maak ’n gat in
die grond deur met hul sterk pote agteruit te skrop. Sodra die gat groot
genoeg is—sowat vyf meter breed en ’n meter diep—vul hulle dit met
los sand, blare, takkies en stukkies bas wat hulle oor ’n groot gebied
versamel en maak ’n kratervormige hoop wat bokant die grond uitsteek. Wanneer
dit reën, syfer water deur die hoop en die plantegroei begin verrot,
waardeur die hoop warm raak. Die haan gaan dan in die hoop in om daar ’n
broeikamer vir die eiers te vorm. Teen
die tyd dat die broeikamer reg is, gewoonlik in die vroeë lente, is die
temperatuur aan die binnekant sowat 33 of 34 grade C. Die haan ondersoek
dit met sy sensitiewe snawel en maak ’n koubeweging asof hy die grond
proe. As
die temperatuur te hoog of te laag is, maak hy verstellings deur die
hoop oop of toe te maak sodat die hitte van die verrottende plante
verlore kan gaan of behou kan word.
Wanneer hy tevrede is, word die hen toegelaat om haar eiers te lê,
hoewel sy ook eers die temperatuur nagaan. Sy lê in die volgende vier
maande tussen vyf en 35 eiers, met tussenpose van tussen twee en
sewentien dae. Sodra sy klaar is, verminder haar betrokkenheid by die
broeiery, maar die arme pa moet maar aanhou swoeg. Hy
besoek die hoop een keer per dag om seker te maak dat die temperatuur in
die broeiplek konstant bly. Dis geen maklike taak nie, want buite wissel
die nag- en dagtemperatuur en dié van die seisoene geweldig. Raak
dit te warm, maak hy die hoop oop sodat van die hitte kan ontsnap. Word
dit te koud, maak hy dit selfs groter oop sodat die son kan inskyn. Dit
kan tot nodig wees om die buitekant van die hoop met ’n laag grond te
bedek om dit te help isoleer. Ondanks
sy toewyding by die broeihoop, speel die haan geen rol in die grootmaak
van die kuikens nie. Wanneer ’n eier uitbroei—ná sowat vyftig dae
in die broeikamer—stoei die kuiken self om die oppervlak te bereik, ’n
reis wat ’n verstommende vyftien uur kan duur. Sodra
die klein koppie sy verskyning maak, skep die kuiken ’n paar teue vars
lug en skarrel dan teen die hoop af. Hy laat vat na die naaste skaduwee
waar hy ’n dag lank rus voordat hy die wêreld in alle erns pak. Die mallee-hoender word egter bedreig. In 1845 is vosse na Australië gebring vir ''sportjag'' en, soos so dikwels met vreemde diere in ’n nuwe wêreld gebeur, het die vosse gefloreer en oor die platteland versprei. Volwasse mallee-hoenders is sterk genoeg vir die vosse, maar die kuikens is uiters kwesbaar en na raming word tot 80 persent van hulle doodgemaak binne twee weke nadat hulle uitgebroei het. Behalwe
dat hulle prooidiere geword het, verklein die mallee-hoender se habitat
ook ál meer weens die mens se landboubedrywighede. Die kolletjies
bosland wat oorbly, is in wildtuine omskep, maar dié is vermoedelik te
klein om werklik hierdie voëlbevolking te kan onderhou. Omdat
hulle vrees dat die mallee-hoender dalk kan uitsterf, het ’n span
navorsers van Nieu-Suid-Wallis se National Parks and Wildlife Service al
’n projek aangepak waarin die eiers van hul ondergrondse broeineste
weggevat en in beskermende omstandighede uitgebroei is. Wanneer die
kuikens oud genoeg was om self die mas op te kom, is hulle vrygelaat in
gebiede waar daar nie vosse is nie. |
||||
|
|
||||