’n Laslappie van Mieliestronk

Mallee-hoender: die vreemde voël wat sy eiers in die warmte van verrottende takkies en blare laat uitbroei

 

Hiert, ek is gebore in ’n komposhoop!

 

Mallee-hoenderLINKS: Die mallee-hoender is, om die minste te sê, ’n baie eienaardige voël. Want anders as die meeste ander voëls, wat self in neste op hul eiers sit, maak hierdie hoenderagtige Australiese voëls ’n interessante "broeikas" sodat die hitte van verrottende plantegroei en die son hul eiers kan uitbroei...

  
   


 

REGS: ’n  "Komposhoop" wat as broeines vir mallee-hoendereiers dien. Die haan is die hoofbouer en bewaker van die broeines, maar uiteindelik speel hy geen rol in die grootmaak van sy kroos nie. Wanneer ’n eier uitbroei, stoei die kuiken self dalk vyftien uur lank om uit die broeines te kom.

Mallee-hoender se broeines

 

Foto van mallee-broeines (kante deur ons weggesny) deur Glen Fergus, wat kopiëring daarvan in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web vergun ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5 License

  

    

DIT kan nie wees nie, het die mense die ou reisbeskrywer tot leuenaar gemaak. ’n Voël wat sy eiers in die grond begrawe om deur die son warm gebak te word? Ag nee wat, man, gaan vertel dit vir die voëls!

 

Ferdinand MagellaanIn 1519 het die Portugese skeepskaptein Ferdinand Magellaan op die eerste vaart rondom die wêreld vertrek, maar hy is self in ’n skermutseling gedood en het nooit teruggekeer nie. ’n Medematroos, Giovanni Francesco Gemelli Careri, het egter sy herinneringe neergeskryf en van die rare voël vertel wat hy op die Indonesiese eilande gesien het.

 

H.J. Frith, ’n bekende Oostenrykse wetenskaplike, meld dat die destydse Europeërs geredelik aanvaar het dat meerminne en ander onwaarskynlike wesens wel bestaan, maar tog die seeman se verhaal as verdigsel afgemaak het. Dog mettertyd het dit geblyk dat Gemelli Careri wel die waarheid gepraat.

 

Want in Australië en dele van Indonesië is daar inderdaad ’n voëlfamilie wat hul eie ''broeikaste'' in die grond maak. Van die negentien megapode-spesies—die naam beteken ''groot voet''—is die mallee-hoender van Australië miskien die merkwaardigste.

Die meeste ander megapodes hou in tropiese reënwoude en op eilande en het oorvloedige hulpbronne waarmee hulle hul broeineste kan bou. Daar is selfs party soorte wat hul eiers naby stoomgate en warmwaterbronne lê sodat hul eiers deur die hitte daar uitgebroei kan word.

 

Maar die mallee-hoender (Leipoa ocellata) is in die binneland van Suid- en Wes-Australië aan ’n veel strawwer en droër omgewing blootgestel en moet net soveel harder werk om die oorlewing van sy nakroos te verseker. Wat meer sê, die haan, wat die hoofbouer en bewaker van die broeines is, is sowat 300 dae per jaar met hierdie taak besig.

 

In die herfs of vroeë winter kom die haan en hen saam en maak ’n gat in die grond deur met hul sterk pote agteruit te skrop. Sodra die gat groot genoeg is—sowat vyf meter breed en ’n meter diep—vul hulle dit met los sand, blare, takkies en stukkies bas wat hulle oor ’n groot gebied versamel en maak ’n kratervormige hoop wat bokant die grond uitsteek.

 

Wanneer dit reën, syfer water deur die hoop en die plantegroei begin verrot, waardeur die hoop warm raak. Die haan gaan dan in die hoop in om daar ’n broeikamer vir die eiers te vorm.

 

Teen die tyd dat die broeikamer reg is, gewoonlik in die vroeë lente, is die temperatuur aan die binnekant sowat 33 of 34 grade C. Die haan ondersoek dit met sy sensitiewe snawel en maak ’n koubeweging asof hy die grond proe.

 

As die temperatuur te hoog of te laag is, maak hy verstellings deur die hoop oop of toe te maak sodat die hitte van die verrottende plante verlore kan gaan of behou kan word.  Wanneer hy tevrede is, word die hen toegelaat om haar eiers te lê, hoewel sy ook eers die temperatuur nagaan. Sy lê in die volgende vier maande tussen vyf en 35 eiers, met tussenpose van tussen twee en sewentien dae. Sodra sy klaar is, verminder haar betrokkenheid by die broeiery, maar die arme pa moet maar aanhou swoeg.

 

Hy besoek die hoop een keer per dag om seker te maak dat die temperatuur in die broeiplek konstant bly. Dis geen maklike taak nie, want buite wissel die nag- en dagtemperatuur en dié van die seisoene geweldig.

 

Raak dit te warm, maak hy die hoop oop sodat van die hitte kan ontsnap. Word dit te koud, maak hy dit selfs groter oop sodat die son kan inskyn. Dit kan tot nodig wees om die buitekant van die hoop met ’n laag grond te bedek om dit te help isoleer.

 

Ondanks sy toewyding by die broeihoop, speel die haan geen rol in die grootmaak van die kuikens nie. Wanneer ’n eier uitbroei—ná sowat vyftig dae in die broeikamer—stoei die kuiken self om die oppervlak te bereik, ’n reis wat ’n verstommende vyftien uur kan duur.

 

Sodra die klein koppie sy verskyning maak, skep die kuiken ’n paar teue vars lug en skarrel dan teen die hoop af. Hy laat vat na die naaste skaduwee waar hy ’n dag lank rus voordat hy die wêreld in alle erns pak.

 

Die mallee-hoender word egter bedreig. In 1845 is vosse na Australië gebring vir ''sportjag'' en, soos so dikwels met vreemde diere in ’n nuwe wêreld gebeur, het die vosse gefloreer en oor die platteland versprei. Volwasse mallee-hoenders is sterk genoeg vir die vosse, maar die kuikens is uiters kwesbaar en na raming word tot 80 persent van hulle doodgemaak binne twee weke nadat hulle uitgebroei het.

 

Behalwe dat hulle prooidiere geword het, verklein die mallee-hoender se habitat ook ál meer weens die mens se landboubedrywighede. Die kolletjies bosland wat oorbly, is in wildtuine omskep, maar dié is vermoedelik te klein om werklik hierdie voëlbevolking te kan onderhou.

 

Omdat hulle vrees dat die mallee-hoender dalk kan uitsterf, het ’n span navorsers van Nieu-Suid-Wallis se National Parks and Wildlife Service al ’n projek aangepak waarin die eiers van hul ondergrondse broeineste weggevat en in beskermende omstandighede uitgebroei is. Wanneer die kuikens oud genoeg was om self die mas op te kom, is hulle vrygelaat in gebiede waar daar nie vosse is nie.

 
Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser
   

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad