MANATEES
EN DOEGONGS:
Meer minsaam
as meermin!
In
die mitologie was hulle die sirenes van die see. Fantastiese wesens—half
vrou, half vis of voël—wat deur hul bekoorlike sang matrose gelok en
skepe laat strand het. Hoe baie verskil die manatees en doegongs, om wie
dié mites geweef is, egter nie van hierdie sirenes nie. Pleks van pragtig
te sing, uiter hulle net af en toe ’n snork. Boonop is hulle vet en
lelik, maar so vreedsaam en onskadelik dat hulle hulself of hul kleintjies nie eens
verdedig wanneer hulle bedreig word nie...
LINKS:
’n Manatee...
hy lyk amper onwêrelds, maar sal geen spreekwoordelike vliegie seermaak
nie. Dis nietemin moeilik om jou in te dink dat so ’n lelikerd as die
oorsprong van die legende van die meerminne beskou word.
Foto:
U.S. Environmental Protection Agency (EPA)
DIE
Engelse noem hulle "sea cows", maar met seekoeie het hulle
weinig gemeen. Veel minder sal jy hulle ooit met meerminne vereenselwig.
Die
lywe is log, die gesigte harig en verrimpel, en hul lang, lang kake laat
hulle alte treurig lyk. Hulle swem lui-lui in die water rond en hulle
vreet soos varke—letterlik. Kortom, hulle is vet en lelik.
Maar
die sogenaamde "sea cows", oftewel soogdiere van die orde
Sirenia, word werklik as die oorsprong van die legende van die meerminne
beskou. Vermoedelik het hulle van ver af soos dié fabelagtige juffers
gelyk, in die ou dae toe geen seevaarder nog ooit van ’n verkyker gehoor
het nie!
Daar
is vandag nog twee soorte seediere in hierdie orde: die manatees en die
doegongs. ’n Derde lid van die orde, Steller se "seekoei", is
so meedoënloos gejag dat hy in die agttiende eeu uitgesterf het.
REGS:
’n Illustrasie van ’n doegong.
Illustrasie:
Kopiereg verstreke vanweë ouderdom (openbare domein)
Die
manatee word in die warm kus- en binnelandse waterweë van Virginië in
die Verenigde State tot by Brasilië in Suid-Amerika aangetref, asook aan
die weskus van Afrika. Hy is gewoonlik enkellopend, hoewel manatees in die
winter in groot getalle in die warmer waters versamel.
Hy
is ’n trekdier wat met die seisoene en agter seegras aan in sy hougebied
verhuis. Die seegras is sy stapelkos. Hy kan tot 4 m lank word en weeg by
die 1400 kg. Ofskoon hy in die water leef, rnoet hy boontoe kom om asem te
kry.
REGS:
Boontoe om lug te skep... die manatee is ’n waterdier, maar hy het nie
kieue soos ’n vis nie. As soogdier het hy longe wat nie die opgeloste
suurstof in die water kan benut nie.
Foto:
U.S.Geological Survey: Sirenia Project
Daar
is al dikwels gesien hoe manatees mekaar "soen". Die sensitiewe
snoete word teen mekaar gedruk, vermoedelik om mekaar te groet.
Die
doegong hou naby die kuste van Oos-Afrika, Asië, Australië en
Nieu-Guinee. Hy lyk baie soos die manatee, maar is kleiner met ’n groter
kop. Die mannetjie het twee lang slagtande aan die bokaak.
Die
doegong vreet ook waterplante. Hy soek kos deur met sy neus in die seegras
te vroetel, terwyl sand en slik in dié proses opgeskop word. Dit is dus
moeilik om foto's van die doegong te neem.
LINKS:
Twee doegongs ondersoek die paaie van die see.
Foto:
Marine Mammal Commission / U.S. Gov.
Sowel
die manatee as die doegong is bedreigde diere. Hulle is vir hul vleis, vet
en velle gejag en reeds in sekere van hul hougebiede uitgewis. Die Chinese
beskou die vleis van die doegong as ’n liefdesprikkel.
|