’n Laslappie van Mieliestronk

­MARCO POLO (ca. 1254-1324):
Die fantastiese reise van die avontuurlike Venesiër

Marco PoloLINKS: Marco Polo... ’n portretskildery in die Kunsmuseum van Monsignor Badia in Rome.

 

Krediet: Kopieregvry (openbare domein)

 

DIE grootste luukses in die Middeleeuse Europa—speserye en sy-ware —het uit die Verre Ooste gekom. Hoewel die Ooste toe al eeue lank met die Weste handelgedryf het, het die twee beskawings min van mekaar geweet.

 

Asiatiese handelaars het goedere uit die Verre Ooste tot so ver as die Persiese Golf of die Swart See vervoer, oor land op die ou Sy-roete of seelangs om die kuste van Suid-Asië. Goedere is daarna na hawens aan die Middellandse See gestuur, waar Europese handelaars dit gekoop het.

 

Handelaars het geen ander keuse gehad as om dié ompaaie te gebruik nie, omdat die reguitste pad, oor Sentraal-Asië, versper is deur Islamitiese lande wat geen vrye deurgang wou toelaat nie. Dit het in die dertiende eeu verander toe die Mongole, onder aanvoering van die Djingis Khan, ’n groot gebied van Oos-Europa af tot in China verower het. Dit het vrede vir hierdie wêrelddeel beteken, en handelaars kon oplaas vrylik oor Asië reis.

 

Die Italiaanse Polo-broers was onder die eerste Europeërs wat in die pad geval het.

 

In 1260 het Niccolo en Maffeo Polo uit Venesië vertrek na die Mongoolse hoofstad Kambaloek (vandag Beijing), waar hulle verwelkom is deur die Mongoolse keiser Koeblai Khan, die kleinseun van die Djingis Khan.

 

In 1271 het die Polo’s ’n tweede reis na die Ooste onderneem, maar dié keer Niccolo se jong seun, Marco, saamgeneem. Marco het twintig jaar lank in Koeblai Khan se ryk vertoef, waartydens hy wyd en syd in die enorme Mongoolse Ryk gereis het. Met sy terugkeer na Europa het hy vir ’n voortreflike boek gesorg waarin hy beskryf het wat hy gesien het.
  

Ou kaart van Marco Polo se reise

 

BO: Ou kaart van Marco Polo se reise.

 

Krediet: Kopieregvry (openbare domein)

 

In 1298, kort nadat hy weer tuis was, is Marco Polo—toe ’n kaptein in die Venesiese vloot—deur die Genuese gevange geneem wat teen Venesië oorlog gemaak het. Hy het in die tronk die verhaal van sy reise aan ’n medegevangene, ene Rustichello, vertel, wat dit in Frans neergeskryf het. Rustichello was die skrywer van romantiese verhale, en sekere van die "wolhaarstories" in Marco Polo se weergawe van sy reise, kon dalk deur Rustichello bygevoeg gewees het om die verhaal boeiender te maak.

 

Marco Polo se vertellings oor die lande en gebruike van die Ooste het die Europeërs verbaas, ofskoon hulle maar langtand daaraan gebyt het en nie juis wou glo dat dit waar kan wees nie (baie daarvan is egter deur latere reisigers bevestig).

 

Hy het sy lesers vertel van die "soutwatermeer", wat ons vandag weet die Kaspiese See is. Hy het die woestyne en berge van Persië en Afganistan beskryf en melding gemaak van die vreemde vetstert-skaap wat hy gesien het (die karakoel) en die wilde ras wat tans Marco Polo-skape genoem word. Hy het vertel van die lugspieëlings wat reisigers gesien het wat die dorre Gobi-woestyn oorgesteek het.

 

Hy het in besonderhede vertel van China en die keiser se luuksieuse hof, asook van die geskiedenis en gebruike van die Mongole. Hy het papiergeld beskryf, maar niks van drukwerk gesê nie. Hy het wel melding gemaak van "swart klippe" wat verbrand is (steenkool).

 

Marco Polo het die renoster en krokodil van Oos-Indië beskryf. In Wes-Indië het hy Hindoe-gebruike aanskou en pêrel-visserye gesien. Hy het ook beskryf wat hy oor Zanzibar en Oos-Afrika gehoor het.

 

Kambaloek het, as Koeblai Khan se hoofstad in China, die ou Mongoolse hoofstad Karakoroem vervang. Die stad is deur ’n wit reuse-muur van sowat 30 km lank omring. Marco Polo het dit as ’n ryk en besige stad beskryf, met strate wat so breed en reguit was dat jy aan die een kant van die stad die ander kant kon sien. Die strate het die stad soos die blokke op ’n skaakbord verdeel, elke blok met ’n pragtige huis, binnepleine en tuine.

 

Marco Polo by Koeblai KhanREGS: Marco Polo by die Mongoolse keiser Koeblai Khan... ’n historiese voorstelling.

 

Krediet: Kopieregvry (openbare domein)
  
  

Marco Paulo is in 1299 uit die gevangenis vrygelaat en het na Venesië teruggekeer, waar hy getrou en drie dogters gehad het. Daar word vertel dat hy gemaklik gelewe het totdat op sewentigjarige leeftyd oorlede is. Hy is langs sy pa in die kerk van San Lorenzo begrawe.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad