MARCO
POLO (ca.
1254-1324):
Die fantastiese reise van
die avontuurlike Venesiër
LINKS:
Marco Polo... ’n portretskildery in die Kunsmuseum van Monsignor Badia in
Rome.
Krediet:
Kopieregvry (openbare domein)
DIE
grootste luukses in die Middeleeuse Europa—speserye en sy-ware
—het uit die Verre Ooste gekom. Hoewel die Ooste toe al eeue lank met
die Weste handelgedryf het, het die twee beskawings min van mekaar geweet.
Asiatiese
handelaars het goedere uit die Verre Ooste tot so ver as die Persiese Golf
of die Swart See vervoer, oor land op die ou Sy-roete of seelangs om die
kuste van Suid-Asië. Goedere is daarna na hawens aan die Middellandse See
gestuur, waar Europese handelaars dit
gekoop
het.
Handelaars
het geen ander keuse gehad as om dié ompaaie te gebruik nie, omdat die
reguitste pad, oor Sentraal-Asië, versper is deur Islamitiese lande wat
geen vrye deurgang wou
toelaat
nie. Dit het in die dertiende eeu verander toe die Mongole, onder
aanvoering van die Djingis Khan, ’n groot gebied van Oos-Europa af tot
in China verower het. Dit het vrede vir hierdie wêrelddeel beteken, en
handelaars kon oplaas vrylik oor Asië reis.
Die
Italiaanse Polo-broers was onder die eerste Europeërs wat in die pad
geval het.
In
1260 het Niccolo en Maffeo Polo uit Venesië vertrek na die Mongoolse
hoofstad Kambaloek (vandag Beijing), waar hulle verwelkom is deur die
Mongoolse
keiser Koeblai Khan, die kleinseun van die Djingis Khan.
In
1271 het die Polo’s ’n tweede reis na die Ooste onderneem, maar dié
keer Niccolo se jong seun, Marco, saamgeneem. Marco het twintig jaar lank
in Koeblai Khan se ryk vertoef, waartydens hy wyd en syd in die enorme
Mongoolse Ryk gereis het. Met sy terugkeer na Europa het hy vir ’n
voortreflike boek gesorg waarin hy beskryf het wat hy gesien het.

BO: Ou kaart van Marco
Polo se reise.
Krediet:
Kopieregvry (openbare domein)
In
1298, kort nadat hy weer tuis was, is Marco Polo—toe ’n kaptein in die
Venesiese vloot—deur die Genuese gevange geneem wat teen Venesië oorlog
gemaak het. Hy het in die tronk die verhaal van sy reise aan ’n
medegevangene, ene Rustichello, vertel, wat dit in Frans neergeskryf het.
Rustichello was die skrywer van romantiese verhale, en sekere van die
"wolhaarstories" in Marco Polo se weergawe van sy reise, kon
dalk deur Rustichello bygevoeg gewees het om die verhaal boeiender te
maak.
Marco
Polo se vertellings oor die lande en gebruike van die Ooste het die Europeërs
verbaas, ofskoon hulle maar langtand daaraan gebyt het en nie juis wou glo
dat dit waar kan wees nie (baie daarvan is egter deur latere reisigers
bevestig).
Hy
het sy lesers vertel van die "soutwatermeer", wat ons vandag
weet die Kaspiese See is. Hy het die woestyne en berge van Persië en
Afganistan beskryf en melding gemaak van die vreemde vetstert-skaap wat hy
gesien het (die karakoel) en die wilde ras wat tans Marco Polo-skape
genoem word. Hy het vertel van die lugspieëlings wat reisigers gesien het
wat die dorre Gobi-woestyn oorgesteek het.
Hy
het in besonderhede vertel van China en die keiser se luuksieuse hof,
asook van die geskiedenis en gebruike van die Mongole. Hy het papiergeld
beskryf, maar niks van drukwerk gesê nie. Hy het wel melding gemaak van
"swart klippe" wat verbrand is (steenkool).
Marco
Polo het die renoster en krokodil van Oos-Indië beskryf. In Wes-Indië
het hy Hindoe-gebruike aanskou en pêrel-visserye gesien. Hy het ook
beskryf wat hy oor Zanzibar en Oos-Afrika gehoor het.
Kambaloek
het, as Koeblai Khan se hoofstad in China, die ou Mongoolse hoofstad
Karakoroem vervang. Die stad is deur ’n wit reuse-muur van sowat 30 km
lank omring. Marco Polo het dit as ’n ryk en besige stad beskryf, met
strate wat so breed en reguit was dat jy aan die een kant van die stad die
ander kant kon sien. Die strate het die stad soos die blokke op ’n
skaakbord verdeel, elke blok met ’n pragtige huis, binnepleine en tuine.
REGS:
Marco Polo by die Mongoolse
keiser Koeblai Khan...
’n historiese voorstelling.
Krediet:
Kopieregvry (openbare domein)
Marco
Paulo is in 1299 uit die gevangenis vrygelaat en het na Venesië
teruggekeer, waar hy getrou en drie dogters gehad het. Daar word vertel
dat hy gemaklik gelewe het totdat op sewentigjarige leeftyd oorlede is. Hy
is langs sy pa in die kerk van San Lorenzo begrawe.
|