’n Laslappie van Mieliestronk

MARKS, SAMMY (1844-1920):
Vindingryke vriend van Oom Paul

 

Sammy MarksREGS: Sammy Marks.

 

SONDER die spreekwoordelike duit op sy naam het hy in Suid-Afrika aangekom—die groot entrepreneur wat hom binne ’n paar jaar tot ’n skatryk man sou opwerk, invloedryk en geëer in die hoë kringe en iemand wat onuitwisbare spore as nyweraar sou nalaat.

 

En in die nuwe Suid-Afrika waarin daar, net soos destyds, groot waarde aan goeie entrepreneurs geheg word, is dit ook gepas dat ons ’n man soos Samuel Marks sal uitsonder.

 

Maar presies wie was hierdie man, wat ’n goeie vriend van pres. Paul Kruger was, en hoe het hy hom hier so besonderlik as vrye ondernemer onderskei? Sy interessante suksesverhaal lees plek-plek soos ’n storieboek.

 

Samuel was sy regte naam, maar in die wandel was hy bekend as Sammy. Hy is op 11 Julie 1844 in ’n Joodse gesin in Litaue gebore, waarvandaan hy na Engeland geëmigreer het om ’n klein messlyp-werkwinkeltjie in Sheffield te vestig.

 

In 1868 vestig hy hom in Suid-Afrika, waar hy eers as nederige smous siel en liggaam aanmekaar hou, maar die nuwe diamantvelde bied aan hom die geleentheid om met ’n algemene handelaarswinkel in Kimberley te begin. Sy neef Isaac Lewis, ook van Litaue, sluit by hom aan en hulle word lewenslange vennote.

 

Mettertyd begin hulle hulle toespits op die ontginning van en handel in diamante. In 1878 stig hulle een van die eerste maatskappye wat diamantkleims besit en bedryf in die Kimberley-omgewing. In 1880 verkoop hulle die meeste van hul kleims en Lewis keer na Engeland terug om daar na hul sake om te sien.

 

Sammy wend hom nou tot steenkool en koop sy eerste plaas met steenkoolneerslae aan die oewers van die Vaal. In November 1880 stig hy De Zuid-Afrikaansche en Oranje Vrystaatsche Kolen en Mineralen Mijn Vereeniging wat steenkoolmyne in hierdie gebied bedryf. Die dorp Vereeniging kry sy naam van hierdie maatskappy.

 

Vandag is Vereeniging steeds ’n vooruitstrewende plek, met nywerhede wat kennelik die gevolg is van Sammy se inisiatief. Die Union Steel Corporation (gestig 1911) was byvoorbeeld ’n voorloper van Yskor.

 

IN 1882 vestig Sammy hom permanent in Transvaal, en koop in 1884 die plaas Zwartkoppies, waar hy ’n groot huis in die Victoriaanse styl laat bou. Hy noem dit Zwartkoppies Hall.

 

Op 16 Desember van daardie jaar trou hy met Bertha Guttmann in Sheffield. By haar man in Zwartkoppies Hall, moet die jong bruid bra baie verlore voel in hierdie nuwe land, waar sy omring word deur vreemdelinge, en met die naaste dorp, Pretoria, sowat 23 kilometer ver. Wat meer sê, haar man is dikwels dae lank weg vir sake.

 

Bertha begin dus haar tuiste so gerieflik moontlik inrig, met meubels, silwer, glas, breek- en messegoed en linnegoed wat per skip van Engeland kom en dan per ossewa Transvaal toe gebring word.

 

Spoedig is die huis ryklik versier met voortreflike meubels, dik flu­weel- en brokaatgordyne en baie ander duur voorwerpe, Bertha bewys haar vermoë om die groot huishouding te behartig met talle elegante onthale. Terselfdertyd maak sy ook nog sewe kinders groot—darem bygestaan deur ’n groot personeel en diensmeisies wat hulle uit Engeland saamgebring het.

 

Byna al die meubels is vandag steeds ongeskonde. Danksy Bertha se presiese inventaris weet ons waar alles in die huis gestaan het, en die Sammy Marks-museum lyk net soos die huis gelyk het toe die gesin daar gewoon het.

 

SAMMY se ywer en ondernemingsgees het nie ná sy troue afgeneem nie en hy het verskeie ander projekte aangepak. In 1891 het hy en sy vennoot ’n vername rol gespeel in die stigting van die Nationale Bank, voorloper van vandag se Eerste Nasionale Bank.

 

In 1894 word die vennote aansienlike aandeelhouers in die SA United Breweries, waaruit SA Brouerye ontwikkel het. Daar is ook verskeie ander projekte.

 

Daarbenewens is Sammy op sy stil manier ook aktief betrokke in die politiek. Een van die interessantste aspekte van sy lewe is dat hy en "Oom Paul" sulke groot vriende is. Die president vertrou sy oordeel só dat hy hom dikwels om raad vra.

 

Pres. Paul KrugerREGS: Pres. Paul Kruger.

 

In sekere opsigte is die twee eenders. Nie een van hulle het formele skoolopleiding gehad nie, maar altwee is vlymskerp denkers. Tog verskil hul agtergrond en lewenstyl hemelsbreed.

 

Sammy Marks sterf op 18 Februarie 1920. Bertha bly in Zwartkoppies Hall tot haar dood in 1934, en ander gesinslede woon daar tot vroeg in 1978.

 

Deur die jare is die huis binne gemoderniseer en buite verander. In 1984 is die Sammy Marks-museum in Zwartkoppies Hall gevestig.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad