|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|||
|
MARMER:
WANNEER
Ma ’n koek bak, meng sy die meel, suiker, eiers, botter, bakpoeier en
ander bestanddele, en dan bak sy die mengsel in ’n warm oond. Wat daar
uitkom, is iets heeltemal anders as die klewerige massa wat sy daar
ingesit het! Die
aarde is bra baie soos ’n warm oond. Intense hitte en druk binne-in die
aardkors "bak" en pers die soliede gesteentes saam wat daar
begrawe lê, met die gevolg dat die oorspronklike tekstuur en samestelling
daarvan verander
word. Die resultaat is ’n heeltemal nuwe soort gesteente, wat metamorfe
gesteente genoem word ("metamorf" dui op gedaantewisseling of
vormverandering).
Foto: U.S. Geological Survey
Wanneer
kalksteen—’n afsettingsgesteente wat meestal uit die mineraal kalsiet
bestaan—aan groot hitte, druk en bewegings binne-in die aarde
blootgestel word, herkristalliseer die kalsiet en vorm die metamorfe
gesteente wat ons marmer noem. (Marmer kan ook gevorm word wanneer
dolomiet—’n gesteente soortgelyk aan kalksteen—aan hoë temperature
blootgestel word.) Die
kleure en patrone in marmer is vanweë onsuiwerhede in die kalksteen
wanneer die kalsiet herkristalliseer. Kleure kan wissel
van
sneeuwit tot wit met are wat rooi, pienk, groen, geel, bruin of grys kan
wees. Sneeuwit
marmer bestaan uit suiwer kalsiet. Sy kenmerkende glans word veroorsaak
deurdat lig die gesteente so ’n entjie binnedring voordat dit van die
oppervlakke van die kristalle aan die binnekant teruggekaats word. Marmer word op baie plekke op aarde aangetref, veral in Italië, Spanje, Frankryk, België, Switserland, Brittanje, Indië, Amerika (Vermont) en dele van Suid-Amerika. In
antieke tye het marmer van die beste gehalte van Griekeland gekom. Pariese
marmer, ’n suiwer wit gesteente wat vir die elegantste standbeelde
gebruik is, is by die berg Parpessa op die eiland Paros uitgegrawe.
Phidias, die ou meester van die vyfde eeu vC, het Penteliese marmer
verkies, wat van die steengroewe van die berg Pentelikon in Attika gekom
het. Vandag
kom die voortreflikste marmer van die Carrara-steengroef in Toskane, Italië.
Klip
van hierdie streek word al honderde jare lank deur beeldhouers gebruik.
Die ou Romeine het dit in hul argitektuur aangewend en, veel later in die
sestiende eeu, het die groot beeldhouer Michelangelo ook daarvan gebruik
gemaak.
Foto: U.S. Library of Congress (detail)
Marmer
word vandag steeds as die elegantste bousteen beskou. Dit word
algemeen
in geboue, monumente, as grafstene, suile en vir beeldhou gebruik. Ook
trappe, kaggels en vloere word daarmee versier. Van kleiner stukke kan tafelblaaie, lessenaars, lampstaanders en ander voorwerpe gemaak word. Uitskotmarmer kan verpoeier word om as boumateriaal, as kunsmis of as ’n skuurmidddel gebruik te word.
|
|||