|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|||
|
DIE woord Mesopotamië beteken tussen twee riviere. Hierdie vrugbare landstreek, wat in Wes-Asië tussen die riviere Tigris en Eufraat gelê het, was die geboorteplek van ’n paar antieke beskawings. Mesopotamië was ’n gebied in die huidige Irak. Die hoofstad van Irak is Bagdad, aan die Tigris—’n stad wat in die Amerikaans-Irakese oorlog van 2003 erg onder die bomme deurgeloop het en steeds in onrus verkeer.
Die
Sumeriërs het hulle omstreeks die vierde millennium vC noord van
Mesopotamië naby die Persiese Golf gevestig. Die mense van die Sumeriese
beskawing was waarskynlik die eerste wat die wiel gebruik het. Sumeriese
strydwaens het die vyandelike troepe geterroriseer. Die
Assiriese beskawing het in die tweede millennium vC in die Tigris-vallei
gefloreer (waar die stad Assur opgerig is) en die Babiloniese beskawing
het in die Eufraat-vallei ontwikkel. (Volgens party geleerdes was die
toring van Babel van die Ou Testament in die stad Babilon, ofskoon ander
reken dit is elders gebou.) Die
Babiloniese koning Hammurabi (1792—1750 vC) het ’n stel wette opgestel
en hulle op ’n plat swart basaltsteen laat uitkerf. In die agtste eeu vC
is die Babiloniërs deur die Assiriërs verslaan, wat op hul beurt in 539
vC deur Cyrus die Grote van Persië oorwin is. Die toring van Babel: In Genesis 11 in die Bybel word vertel hoe “die mense ooswaarts getrek” en besluit het om “ ’n stad met ’n toring” te bou “waarvan die punt tot in die hemel reik”. God het egter hierdie arrogransie gestraf deur ’n spraakverwarring onder die mense te bring—hulle verskillende tale te laat praat sodat hulle mekaar nie kon verstaan nie. Die naam “Babel” en “in verwarring bring” klink amper eenders in die Hebreeus.
Foto’s: U.S. Library of Congress
Die Sumeriërs het wigskrif uitgevind deur met wigvormige tekens afdrukke in vars kleitablette te maak. Die Akkadiërs (einde van die derde millennium vC) het hierdie skrif uitgebou en die Assiriërs-Babiloniërs het gehelp om dit na ander beskawings oor te dra. Wigskrif, soos die Egiptiese hiërogliewe, was egter nie ’n ware alfabet nie, omdat dit bestaan het uit ideogramme, die voorstelling van begrippe deur middel van afbeeldings pleks van deur lettertekens.
|