|
MINERALE:
’n Fees van kristalle
REGS:
Minerale van sag tot hard volgens die Mohs-skaal: A talk; B gips; C kalsiet;
D fluoriet; E veldspaat; F kwarts; G topaas en H diamant. Die twee minerale
op die skaal wat nie op ons foto’s verskyn nie, is apatiet (wat tussen fluoriet
en veldspaat inpas) en korundium (’n baie harde mineraal wat net voor die
diamant by die skaal inskakel). Die toename in hardheid is egter nie na
verhouding nie, want waar byvoorbeeld gips en kalsiet se hardheid nie
besonderlik baie verskil nie, is ’n diamant in der waarheid meer as
tien keer harder as korundium (foto ONDER).
Foto’s:
U.S. Geological Survey en ander bronne
LINKS:
Korundium, ook korund genoem, die hardste natuurlike stof ná ’n diamant.
Dié mineraal bestaan uit aluminiumoksied en vorm gewoonlik kristalle of
korrels wat grys, grysblou of bruin is. Wanneer dit egter deurskynende
kristalle van juweel-gehalte vorm, kry ons saffiere en robyne. Verpoeierde
gewone korundium, ook saam met onder meer magnetiet, is ’n baie goeie
skuurmiddel wat nuttig in slypstene of slypwiele aangewend word.
MINERALE
is natuurlike stowwe in ’n soliede kristaltoestand. Gesteentes bestaan uit
verskeie soorte minerale, wat saam die aarde se kors vorm. Daar is meer as 2
000 bekende minerale, maar slegs ’n paar, soos marmer
en kwarts, word in hul suiwer toestand gevind.
Klassifikasies:
Een van die algemeenste klassifikasies van minerale is volgens die
Mohs-skaal, wat op hardheid gegrond is. Van die sagste tot die hardste
is: 1 talk; 2 gips ; 3 kalsiet; 4 fluoriet; 5 apatiet; 6 veldspaat ; 7
kwarts ; 8 topaas ; 9 korundium ; 10 diamant. Jou vingernael het volgens die
skaal ’n hardheid van nagenoeg 2.
Die Moh-skaal is in 1812
deur die Duitse mineraloog Frederick Mohs ontwerp, maar ander skale is
sedertdien ontwikkel om die hardheid van minerale noukeuriger te bepaal.
Minerale
word geklassifiseer volgens hul kleur, hardheid, splytbaarheid (hul
geneigdheid om skoon in gladde dele af te splits) en pletbaarheid (hul vermoë
om gerek of gevorm te word sonder dat hulle breek).
|