’n Laslappie van Mieliestronk

Die Moche, volk van gruwels, goud en glorie
’n Beskawing van vindingryke mense wat eeue gelede in die hedendaagse Peru gefloreer het

 
In die kurkdroë dorsland aan die noordkus van Peru word die nalatenskap blootgelę van ’n reeds lank uitgestorwe Suid-Amerikaanse gemeenskap. Dié volk het ontstaan omstreeks in die tyd toe Jesus op die aarde gebore is—hoogs vernuftige mense wat selfs as die “ou Grieke” van hul eie węrelddeel beskryf word. Maar hul koning was ook hul god, en hy het sy mag behou deur vrees in te boesem. Só het hy nie geskroom om van sy onderdane as offerandes om die lewe te laat bring nie…
 

Voorstelling van “kruisiging” aan ’n boomstomp

Goue halssnoergespe wat in opgrawings gevind is 
REGS BO: Die behoue geblewe beeldjie van ’n mens wat met toue aan ’n boomstomp vasgemaak is waar ’n aasvoël besig is om sy regteroog uit te pik, getuig van die gruwels wat in hierdie ou Suid-Amerikaanse kultuur moet bestaan het. Maar daar was ook die goud en die glorie. Die goue halssnoergespe REGS is verteenwoordigend van die Moche se wonderlike voorwerpe van goud, silwer en koper.

Foto regs: Hearst Museum of Antropology (“fair use assumed as it is being used here at near thumbnail size and also solely for educational purposes”)

Kaart wat ligging van die ou Moche-beskawing in die huidige Peru, Suid-Amerika, aantoonLINKS: Die swart vierkantjie toon die plek aan waar die Moche-beskawing destyds in Suid-Amerika bestaan het—een van die grootstes in die Amerikas voor die koms van Columbus.

 

Illustrasie: MSKARG
 
  

 

’N MENS kan jou kwalik indink dat enige beskawing ooit hier kon gedy het—hier tussen die barre waaisandduine aan die noordkus van Peru.

Maar van die eerste tot in die agtste eeu n.C. het ’n hoogs gestruktureerde volk hier gewoon. Hulle het uit heersers, soldate, vakmanne, vissers en boere bestaan en, wat meer sę, daar word selfs aan hulle gedink as die "ou Grieke’’ van hul besondere węrelddeel.

Hulle het nie net belangrike veranderings aangebring nie, maar ook die besondere tegnologie vervolmaak wat reeds deur hul voorgangers geskep is.

Hierdie volk word die Moche genoem (spreek uit Motsjei of, in Engels, Mochay).

Hulle kon roem op besproeiingskanale, piramides, paleise en tempels, met pragtige keramiekhouers, fyn afgewerkte weefwerk, kleurryke muurskilderinge en wonderlike voorwerpe van goud, silwer en koper.

Dis weliswaar tot groot nadeel van die navorser dat hulle geen skrif gehad nie. Ons weet selfs nie eens wat hulle hulself genoem het nie, want die moderne naam vir hulle is bloot dié van een van die riviere wat deur dié streek vloei. Tog is baie omtrent die Moche bekend danksy die besondere kunsvoorwerpe en argitektuur wat hulle nagelaat het.

Die Moche-beskawing was een van die grootstes in die Amerikas voor die koms van Columbus. Die volk is vermoedelik deur ’n koning geregeer wat as ’n god beskou is. Hy het sy mag behou deur mense as offerandes om die lewe te bring.

 

Afbeelding van ’n menskop wat tydens opgrawings gevind isREGS: Afbeelding van ’n menskop wat tydens opgrawings gevind is.

Foto: Museo Larco
(“fair use assumed as it is being used here at near thumbnail size and also solely for educational purposes””)


Tog was menslike offerandes op die ou end nie genoeg om ’n reeks natuurrampe te keer wat tot die ondergang en uiteindelike ineenstorting van die Moche-ryk gelei het nie.

Die kundighede van die Moche het daarna in die vergetelheid versink en, tot oormaat van ramp, is ’n groot deel van hul erfenis tydens die Spaanse Verowering verwoes. Die Spaanse veroweraars het die nedersettings van die pre-Columbiaanse Amerika gestroop en geplunder.

Een monument, die Huaca del Sol oftewel Tempel of Heiligdom van die Son—340 m lank en 40 m hoog en die grootste rousteen-bouwerk in die Amerikas—is byna deur die Spaanse skattejagters totaal vernietig. Om by die goud daarbinne uit te kom, het hulle die loop van ’n nabygeleë rivier verlę ten einde die mure van die struktuur te laat wegkalwe. Só het meer as die helfte van die Huaca del Sol saam met ’n groot deel van sy geskiedenis weggespoel.

 

 Huaca del Sol

BO: Die Huaca del Sol, oftewel Heiligdom van die Son, wat erg beskadig is tydens die Spaanse verowering.

 

Foto deur “Gsd97jks”,
wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

 

 

Max UhleNaby die Huaca del Sol is daar ook die Huaca de la Luna (Tempel of Heiligdom van die Maan). Die bouvalle van altwee hierdie heiligdomme is uiteindelik tussen 1898 en 1899 deur die Duitse argeoloog Max Uhle, die “vader van die Peruaanse argeologie”, onder die aandag van die węreld gebring. Maar die maatskaplike organisasie en staatkundige geskiedenis agter die Moche se prestasies het nog lank ietwat duister gebly.

 

 

Huaca de la Luna

BO: Die Huaca de la Luna of Heiligdom van die Maan (bouval op hierdie foto) is kleiner as die Huaca del Sol, maar het beter bewaar gebly .

 

Foto (waarvan ’n deel deur ons weggesny is) deur Chiwara,
wat die oorspronklike weergawe op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die web uitgeplaas en gelisensieer het ingevolge
die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie. Daarvolgens word deling en die skep van afgeleide werke op sekere voorwaardes vergun

 

Eers in nagenoeg die afgelope dekade of twee het ons begrip van hierdie merkwaardige ou gemeenskap ingrypend begin verander. ’n Reeks nuwe opgrawings het hul verstommende artistieke en tegnologiese suksesse blootgelę en gelei tot ’n dramatiese hersiening van die gegewens oor die sofistikasie en mag van die Moche.

Verbasende nuwe vondste van erdewerk is dan ook ’n aantal jare gelede aan die media vertoon, saam met buitengewone goue artifakte. Dit toon die verlore glorie van ’n staat waarvan die gebruike, rituele en mites vir die moderne mens vreemd en selfs verskriklik kan voorkom.

Maar vir die Moche was dit die lewe. En alles deel van hul fassinerende, eeue-oue voortbrengsels en verwikkelde geestelike besit.
 



Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad