|
IE eerste moderne Olimpiese Spele is deur ’n Britse skoolmeester
geïnspireer, deur ’n Fransman georganiseer en in Griekeland gehou. Dit
was die jaar 1896—iets meer as honderd jaar gelede. Daarmee is die droom
bewaarheid om die historiese Spele van die
antieke Griekeland op ’n luisterryke manier te laat herleef.
Natuurlik verskil die moderne sportfees aanmerklik van dié van honderde
jare gelede. Die Spele van die Oudheid is naamlik slegs tussen die
atlete van verskillende Griekse stadstate onderling besleg. Met die
moderne Spele is die visie geweldig verbreed en sportlui van alle
uithoeke van die aarde word betrek.
Maar die ideaal bly dat verskille tussen nasies gedurende die Spele
vergeet sal word—net soos die Grieke van weleer hul geskille tydelik
bygelê het wanneer hulle al om die vier jaar by Olimpia saamgetrek het.
LINKS:
Baron Pierre de Coubertin, die vader van die moderne Olimpiese Spele.
Die Fransman deur wie se ywer die moderne sportfees tot stand gekom het,
was ’n lewendige aristokraat genaamd baron Pierre de Coubertin, wat
Brittanje in 1887 besoek het en daar deur ’n onderwyser, Thomas Arnold,
begeester is. Arnold het as opvoedkundige hervormer die waarde van sport
vir karakterontwikkeling gepredik.
Coubertin het self in ’n kruisvaarder vir liggaamlike opvoeding
ontwikkel en ’n paar jaar later die Internasionale Olimpiese Komitee in
die lewe geroep. Die eerste Olimpiese Spele sou oorspronklik in 1900 in
Parys, Frankryk, plaasvind, maar Coubertin het ongeduldig geraak en dit
tot 1896 vervroeg.
Daar is boonop besluit dat dit meer gepas sou wees om die eerste Spele
in Athene te hou—Griekeland was immers die tradisionele tuiste van die
Spele. Geld was egter ’n probleem, want die Griekse regering was in die
skuld. Tog het ’n Griekse miljoenêr met ’n donasie uitgehelp en ’n arena
is op die fondamente van die lank verdwene Panathenaïese Stadion gebou.
Die eerste moderne Olimpiese Spele is op 6 April 1896 geopen.
Dit het atlete van Brittanje, Amerika en nog elf lande gelok.
Vroue-atlete is nie genooi nie en daar sou slegs 42 nommers in nege
sportsoorte wees.
Wanneer ’n mens dit vergelyk met die duisende atlete uit die
menigte lande wat aan 2004 se byeenkoms in Athene deelgeneem het, klink
daardie nederige begin byna lagwekkend.
Die standaarde was ook nie naastenby wat dit vandag is nie. Die
oppervlak van die nuwe renbaan was byvoorbeeld so los dat die tye in die
rennommers glad nie waffers was nie. Die swemnommers is in die see naby
Piraeus gehou. Die water was so koud dat een Amerikaanse deelnemer
geskreeu en na die wegspringplek teruggevlug het nadat hy in die water
gespring het.
Die volgende aantal Olimpiese Spele—wat voortaan elke vier jaar in
verskillende stede oor die wêreld gehou sou word—het meer deelnemers
gelok en by die Spele van 1912 in Stockholm was daar reeds meer as 2500
atlete. Dit het darem 57 vroue ingesluit, wat sedert 1900 aanvanklik net
aan sportsoorte soos golf, tennis en daarna swem kon deelneem. Later is
hierdie soort diskriminasie geskrap.
Weens die Eerste Wêreldoorlog is die Spele van 1916, wat in Berlyn in
Duitsland moes plaasvind, afgestel. In die jare twintig was daar die
fenomenale verrysenis van ’n groep atlete van Finland, wat in die Paryse
Spele van 1924 tweede ná Amerika geëindig het met veertien goue
medaljes, dertien silwermedaljes en tien bronsmedaljes.
LINKS:
’n Duiknommer by die Spele van 1908.
Die Spele van 1936 is aan Berlyn toegestaan en die Duitse Nazi-leier
Adolf Hitler, wat gedink het dat dit die oppermag van die Germaanse ras
sou bevestig, het stellig sleg op sy neus gekyk toe die swart
Amerikaanse naelloper Jesse Owens ’n ongehoorde vier goue medaljes
inoes.
Ondanks die strewe na vrede tussen nasies wat die Olimpiese Spele sou
moes versinnebeeld, het diepgaande politieke verskille dikwels hierdie
ideaal verydel. Só het Palestynse ekstremiste in 1972 elf Israeliese
atlete in die Olimpiese dorp in München, Duitsland, vermoor. Suid-Afrika
is weens sy destydse rassebeleid van 1960 tot 1988 enige deelname aan
die Spele verbied. Voorts het Amerika en baie ander lande in 1980 die
Olimpiese Spele in Moskou geboikot uit protes teen die Sowjet-Unie se
inval in Afganistan. Moskou het teruggekap deur nie atlete na die Spele
van 1984 in Los Angeles te stuur nie.
DIE
Tweede Wêreldoorlog het weer ’n onderbreking in die vierjaarsiklus van
die Spele gebring, wat nie voor 1948 in Londen, Engeland, hervat is nie.
REGS:
Mark Spitz.
Namate die een Spele op die ander gevolg het, het ál meer atlete die oë
van die wêreld op hulle gevestig. Só het Münchense Spele van 1972 aan
die Amerikaanse swemmer Mark Spitz behoort, wat aan sewe nommers
deelgeneem en sewe goue medaljes gewen het. Boonop het hy al die nommers
in wêreldrekordtye gewen. In 1976 in Montreal het die veertienjarige
Romeense gimnassie Nadia Comaneci die wêreld verstom deur met ’n
volmaakte 10 beloon te word.
LINKS:
Nadia Comaneci.
Die kwessie van verbode stimulante is in 1988 op die spits gedryf toe
Kanada se Ben Johnson die 100 meter in ’n wêreldrekordtyd gewen het, net
om daarna van sy medalje gestroop te word weens spore van ’n verbode
steroïed in sy urine. Sedertdien het die Olimpiese base die skroef hard
aangedraai om die euwel van verbode middels te probeer hokslaan—ook weer
in 2004 in Athene.
Die kommersialisasie van die grootste sportbyeenkoms op aarde het veral
begin duidelik geword met die Spele van 1992 in Barcelona toe die strate
vol was van plakkate waarop produkte met atlete gekoppel is.
Televisieregte is ook, en word steeds, vir soveel honderde miljoene
dollars verkoop dat ’n gewone salaristrekker net daarvan kan duisel.
Die moderne Spele het hul honderdste verjaardag in 1996 met groot
fanfare—en meer as 10.300
deelnemende atlete—in Atlanta gevier. Daarna was Sydney (met ’n toe
ongehoorde 10.651
atlete) en in 2004 Athene aan die beurt. Dit lyk steeds of die
gasheerlande mekaar wil troef om die grootste, beste en luisterrykste
Spele aan te bied wat daar nog ooit was.
Op 2004 se byeenkoms in Athene is byvoorbeeld 11.099
atlete van 202 lande gehuisves, meer as vir enige sportbyeekoms wat nog
gehou is. Sowat 3.581.080
kaartjies is verkoop, terwyl vier miljard (vierduisend miljoen)
TV-kykers die nommers kon sien, twintig persent meer as met die Spele in
Sydney. Van minder belang maar tog insiggewend is die beweerde sowat 40.000
asbakkies wat net vir joernaliste op verskillende plekke by hierdie
Spele geplaas is!
REGS:
Michael Phelps.
Athene 2004 sal vir baie dinge onthou word, nie minste nie vir die
negentienjarige Amerikaanse veteraan-swemmer Michael Phelps se agt
Olimpiese
medaljes—waaronder
ses goues—wat
meer is as die ses medaljes wat al Suid-Afrika se atlete gesamentlik kon
verower.
Maar, nou ja, soos baron Pierre de Coubertin destyds gesê het: “Die
belangrikste ding in die Olimpiese Spele is nie om te wen nie maar om
deel te neem... die essensiële ding in die lewe is nie om te oorwin nie
maar om goed te veg..."
Viva die Olimpiese droom!
Opdatering 2008: Die Olimpiese
Spele van Augustus 2008 in Beijing, China, sal deur die wêreld
onthou word as ’n besonder luisterryke byeenkoms, waarin altesame 10.500
atlete van 28 sportsoorte in 302 nommers meegeding het. Dit sou
beslis ook sekere geykte persepsies verander oor hoe dit werklik
vandag in China lyk.
Medaljes is deur altesame 87 van die 204 deelnemende lande gewen.
Die gasheerland, China, se atlete het 51 van die 302 goues ingeryg,
Amerika 36 en Rusland
23.
Die groot sterre op die Spele was die Amerikaanse swem-fenomeen
Michael Phelps, wat agt goue medaljes
ingepalm en
dus Mark Spitz se prestasie van 1972 oortref het,
asook die naelloper Usain Bolt van Jamaika, wat hom as “Die
Vinnigste Mens op Aarde” gevestig het met
drie nuwe
wêreldrekords.
Altesame pryk meer as 40
nuwe wêreldrekords en meer as 100 nuwe Olimpiese rekords agter die
deelnemers se name.
Suid-Afrika se Natalie du Toit het ook
groot belangstelling gewek as die eerste gestremde swemster wat vir
die Olimpiese Spele kon kwalifiseer. Hoewel sy nie so goed kon vaar
in die 10k-swemnommer waaraan sy deelgeneem het nie, is sy nooit
verneder nie en het sy ons land se naam bloot met haar deelname hoog
gehou. Natalie se een been is ’n aantal jare gelede by die knie
geamputeer nadat sy met haar bromponie in ’n ongeluk betrokke was.
Andersins het Beijing maar beroerd verloop vir die Suid-Afrikaners.
Ons verspringer
Khotso Mokoena kon darem ’n silwer huis toe bring, maar dit was ook
die enigste medalje. Die swak vertoning van ons atlete het ’n
beroering tuis veroorsaak en sou tot indringende nabetragtings lei
oor wat verkeerd geloop het.
Beplanning is reeds aan die gang vir die volgende Olimpiese Spele in
2012 in Londen, Engeland, en almal hoop dat Suid-Afrika dan baie
beter sal vaar.
|