|
Die
Hector Pieterson-gedenkteken, Soweto
Skote klap.
Die skoliere spat in paniek uiteen. ’n Bloedjong tiener, nog nie
eens op die drumpel van volwassenheid nie, syg neer op die ruwe
aarde, waar bloed en stof vermeng in die verskriklike chaos. ’n
Medeleerling gryp sy slap liggaam en begin hardloop en hardloop.
Langs hom hardloop die gewonde se ousussie. Haar oopgesperde
hande vertel hul eie verhaal... van volslae skok en wanhoop in
’n verdeelde land met soveel onnoemlike pyn...
|
• Let wel, Hector se van is ná sy dood ook
Peterson en Pietersen in die pers gespel, maar sy
familie dring daarop aan dat dit Pieterson moet wees.
Die van was oorspronklik Pitso, maar is deur die familie
na Pieterson verander, in die hoop dat hulle as
Kleurlinge sou kon deurgaan, wat in die tyd van apartheid op
ietwat meer voordele as die swartmense kon reken.
|
DAAR
is na verhouding min monumente en gedenktekens waarin die verlede
van die swartmense in Suid-Afrika gehuldig word. Dit is omdat daar voor die
afskaffing van apartheid veelal op die geskiedenis van die
Afrikaans- en Engelssprekende blankes gekonsentreer is—ook sover dit
die oprigting van monumente aangegaan het.
’n Gedenkteken wat veral in swart geledere groot emosie gaande maak,
is dié vir die twaalfjarige Hector Pieterson. Hector is op 16 Junie 1976
doodgeskiet tydens die Soweto-opstand teen die gedwonge gebruik
van Afrikaans in swart skole. Die gedenkterrein met ’n museum
daarby is in Orlando-Wes,
Soweto, nie ver van die plek waar hy geskiet is nie.
By
die gedenkteken, wat buite die museum staan, is ook ’n vergroting
(LINKS)
aangebring van ’n aangrypende foto wat indertyd die wêreld ingestuur is. Dit toon hoe die sterwende
Hector deur ’n medeleerling gedra word, terwyl Hector se suster
langsaan haar hand paniekbevange voor haar uitsteek. Die foto is geneem deur
Sam Nzima, destyds ’n fotograaf van die koerant The World in
Johannesburg. Hector is daarna in persmotor na ’n nabygeleë kliniek
gebring, maar is met sy aankoms dood verklaar.
Skoliere het op daardie dag op verskillende plekke regdeur Soweto
bymekaargekom met die doel om by die Orlando-Wes- sekondêre skool
te vergader. Die Buro vir Staatsveiligheid, wat in beheer van
binnelandse veiligheid was, is onverhoeds betrap. Die polisie is
ontbied om die marsjeerders te keer.
Hulle het die jong skare beveel om uiteen te gaan en, toe hulle
weier, is polisiehonde losgelaat en traangas afgevuur. Joernaliste
het later berig dat hulle gesien het hoe ’n polisieman sonder
waarskuwing met sy rewolwer op die skare skiet. Ander polisiemanne
het ook begin skiet. Hector was een van die jong slagoffers.
Die skoliere het simbole van apartheid, soos regeringsgeboue en
munisipale biersale, asook die voertuie van blanke ondernemings aan
die brand begin steek. Voertuie vir die bestryding van onluste het
opgedaag en leërhelikopters het traangas op groepe skoliere
afgegooi. Die gevegte tussen skoliere en die polisie het tot in die
nag voortgeduur.
Toe die dag op 17 Junie breek, sou tonele van uitgebrande motors en
vragmotors wat die paaie versper en afgebrande drankwinkels,
biersale en gemeenskapsentrums die waarnemers begroet. Nog erger:
mense het in die strate doodgelê. Die amptelike dodesyfer was
23—ander het dit so hoog as 200 gestel.
Baie honderde mense is beseer.
Die Hector Pieterson-Gedenkteken en –Museum is in 2002 geopen. Die Soweto-opstand word vandag deur
die histories benadeeldes
beskou as ’n simbool van die verset teen ’n onregverdige heerskappy,
en 16 Junie is tot Nasionale Jeugdag verklaar om jong mense te
vereer.
Die gedenkterrein en museum is befonds deur die Department van
Omgewingsake en Toerisme, wat R16 miljoen bygedra het, en die
Johannesburgse stadsraad, wie se bydrae R7,2 miljoen beloop het.
Die plek het intussen ’n
groot toeriste-attraksie geword.
Daar is in ’n stadium
berig dat Hector se suster Antoinette, wat saam met hom op die bekende
foto verskyn en destyds sewentien jaar oud was, as toergids by die
museum begin werk het.

BO: Die Voortrekkermonument.
Foto deur H Wyer /
Kopiereg © South
African Tourism, Suid-Afrikaanse Toerisme
Die
Voortrekkermonument,
Pretoria
• ’n
Bondiger beskrywing verskyn in die afdeling “Die monument vir die
Voortrekkers” in die Mieliestronk-artikel
Verewig in klip
DIE
Voortrekkermonument by Pretoria wat in 1949 ingewy is, is opgerig om
die
Groot Trek (1835-1843) in die Afrikaner se geskiedenis te
gedenk. Dit ’n imposante granietstruktuur en ons land se grootste
gedenkteken. Maar ondanks die haas gewyde eerbied waarmee dit deur
talle bejeën word, was dit in die verlede ook al in omstredenheid
gedompel toe die ontwerp skerp gekritiseer en as “outyds” bestempel
is. Dit is selfs vernederend afgekraak en met iets soos “die kassie van ’n ou draadloos” vergelyk.
Ander sê weer dit is in meer as een opsig merkwaardig onder die
monumente van die wêreld.
Die gedagte om ’n monument te bou om die Voortrekkers te huldig, is
reeds in die 1800’s deur
pres. Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek (die
Transvaalse Boererepubliek) uitgespreek. Die bal is egter eers in
1931 aan die rol gesit toe die sogenaamde Sentrale
Volksmonumentekomitee in die lewe geroep is met die doel om
uitvoering aan die gedagte te gee.
Daar is in Julie 1937 met die bouwerk begin en die monument se
hoeksteen is op 16 Desember 1938 gelê. Toe die Voortrekkermonument
op 16 Desember 1949 amptelik ingewy is, het Afrikaners in hul
menigtes van wyd en syd oor die land na Pretoria gestroom vir die
plegtigheid.
Dit het sowat £360
000 gekos om die monument te bou. Die Suid-Afrikaanse regering het
die meeste daarvan betaal.
Die argitek was Gerard Moerdijk (1890-1958), die Suid-Afrikaans-gebore seun van ’n Nederlandse immigrant. Moerdijk het in sy
loopbaan ook meer as tagtig opdragte vir kerkgeboue ontvang, terwyl
die Reserwebank in Bloemfontein en die Merensky-biblioteek
(Universiteit van Pretoria) onder sy ander argitektoniese prestasies
tel.
Sy ontwerp vir die Voortrekkermonument is met E.C. Pienaar en A.C.
Bouman se ontwerp van ’n Voortrekkerlaer gekombineer. Binne ’n laer
van 64 ossewaens staan die monument sowat 40 meter hoog, met ’n
basis van 40 meter by 40 meter.
Moerdijk het, volgens die biograaf J.C. Steyn, self vertel hoeveel
hy geleer het van die bouers van bouwerke van Afrika soos die
Zimbabwe-ruïnes. Hy het hul tegniek bewonder en later in sy
bekendste bouwerke soos die Voortrekkermonument toegepas.
Die gebou toon nietemin ’n sterk argitektoniese ooreenkoms met
Duitse monumente, veral die Völkerschlachtdenkmal in Leipzig (wat
op 91 meter die hoogste monument in Europa is).
REGS:
Die Völkerschlachtdenkmal (Geveg-van-die-Nasies-monument) in
Leipzig, in die Duitse deelstaat Sakse. Die Voortrekkermonument toon
’n sterk argitektoniese ooreenkoms met die
Völkerschlachtdenkmal.
Foto deur
Webster,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge
die
GNU Free Documentation License,
Weergawe 1.2 of enige later weergawe wat deur
die Free Software Foundation
gepubliseer word. Daarkragtens word
kopiëring, verspreiding en/of modifisering
vergun
mits aan
bepaalde voorwaardes voldoen word.
Die twee
belangwekkendste besienswaardighede binne-in die Voortrekkermonument
is die Geskiedkundige Fries en die Senotaaf.
Deur die hoofingang betree die besoeker die
30 meter hoë gewelfde
Heldesaal, waarvan die mure bedek is met 'n fries van 27
terrazzowerke. Dit beeld die geskiedenis van die Groot Trek uit met
verwysings na die Voortrekkers se daaglikse lewe en handelinge. In
die middel van die vloer van die Heldesaal is ’n groot ronde opening
waardeur die Senotaaf in die Senotaafsaal gesien kan word.
Die Senotaaf in die middel van die Senotaafsaal is veral om een rede
besonder interessant. Elke jaar om twaalfuur op 16 Desember skyn ’n
sonstraal deur ’n opening in die gewelf aan die bokant van die gebou
en val dit in die middel van die Senotaaf op die woorde “Ons vir Jou,
Suid-Afrika”. (Die sestiende dag van Desember—tans Versoeningsdag—is
vroeër Geloftedag en nog vroeër Dingaansdag genoem en in ere gehou.
Dit was om die Voortrekkers se gelofte gestand te doen om dit as ’n
dankdag te vier indien hulle die Zoeloe-magte van Dingaan sou verslaan—wat
dan ook op 16 Desember 1838 by Bloedrivier gebeur het.)
Die Senotaafsaal is met die vlae van die Boererepublieke versier en
bevat muurtapisserieë en verskeie vertoonkaste met artefakte van die
Groot Trek. Teen die noordelike muur is ’n naaf met ’n lantern wat
sedert 1938 brandend gehou word toe die Simboliese Ossewatrek
gehou is. Om die Groot Trek van honderd jaar vroeër te gedenk, was
daar in 1938 weer verskillende geselskappe wat met ossewaens deur
die land getrek het en daarom is dit die Simboliese Ossewatrek genoem. Ontleders sê hierdie eeufees het ’n besondere rol gespeel om
die Afrikaners as ’n volk te herenig. Die wawiele het sinnebeeldig
op die spore van die Voortrekkers voortgerol na Monumentkoppie in
Pretoria, waar die fondamentsteen van die Voortrekkermonument gelê
is.

BO: Die Vrouemonument.
Foto: Kopiereg © Leo Koolhoven,
met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com. Besoek Leo
Koolhoven se indrukwekkende foto-album op flickr by
hierdie skakel.
Die Nasionale
Vrouemonument,
Bloemfontein
• Lees ook Mieliestronk-artikel
Naald van onreg
DIE
Nasionale Vrouemonument, wat op 16 Desember 1913 onthul is, gedenk
die tragedie van sowat 26 000 Afrikanervroue en -kinders wat enkele
jare tevore in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 gesterf het. Die
Britse militêre se drastiese plan om die voortslepende oorlog te
beëindig, was om die Boere se plase af te brand en hul vroue,
kinders, bejaarde mans en werkers kamma “vir hul eie beskerming” in
konsentrasiekampe aan te hou. Die haglike omstandighede daar het tot
die dood van duisende gelei.
Eers veel later sou besef word hoeveel swartmense ook as gevolg van
die oorlog oorlede is—en die monument staan vandag eweneens as ’n
somber herinnering aan die lyding in alle konflikte wat met brute
geweld besleg is sonder om onskuldiges in ag te neem.
Nadat Marthinus Theunis Steyn, gewese president van die Vrystaat,
die oproep gedoen het dat ’n monument opgerig moet word ter
nagedagtenis van die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe
dood is, is in Februarie 1907 op ’n konferensie in Bloemfontein
besluit om £10 000 vir die oprigting van ’n gedenknaald in te samel.
Die hoogs
verarmde Afrikanervolk het gereageer ondanks die geringe middele tot
sy beskikking en vier jaar later was meer as die vasgestelde bedrag
bymekaar.
Die beeldhouer Anton van Wouw en die argitek Frans Soff het opdrag
gekry om die ontwerp uit te voer wat hulle voorgelê het.
Indrukwekkend in sy eenvoud, is die Nasionale Vrouemonument ’n 37
meter hoë obelisk (gedenknaald) van sandsteen aan die suidekant van
Bloemfontein, met historiese panele weerskante op die voetstuk en
twee halfmaanvorige uitbousels wat ’n ringmuur na voor vorm.
Aan die voorkant van die naald is die roerende beelde van twee
vroue, een wat ’n sterwende kind vashou. Die as van die Britse
skryfster en filantroop Emily Hobhouse (1860-1926), wat soveel vir
die lydende Boerevroue beteken het, rus in ’n urn in die basis van
die naald.
Daar is ook enkele grafte binne die ringmuur, onder meer dié van
pres. M.T. Steyn, wat in 1916 oorlede is kort nadat hy ’n toeval
gekry het terwyl hy besig was om ’n kongres van die
Oranje-Vrouevereniging toe te spreek. Ook genl. Christiaan de Wet,
wat hom besonder onderskei het in die Boere se beweeglike
guerrillastryd teen die Britte, is hier aan die voet van die
Vrouemonument begrawe.

BO: Die
Rhodes-gedenkteken.
Foto deur Don
Bayley,
wat dit tot openbare besit
verklaar het (“donated to the public domain)
Die
Rhodes-gedenkteken,
Kaapstad
LINKS:
Cecil John Rhodes.
DIE
Rhodes-gedenkteken is opgerig ter ere van Cecil John Rhodes (1853–1902), Brits-gebore sakeman,
mynmagnaat en politikus, wat in sy leeftyd ’n groot rol in die
Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het. Hy was onder meer eerste
minister van die Kaapkolonie (vandag die provinsies Wes-Kaap,
Oos-Kaap en Noord-Kaap) en die stigter van die internasionaal
belangrike diamantmaatskappy De Beers. Hy is indertyd as een van die
rykste mense op aarde beskou.
Rhodes wou die Britse Ryk uitbrei omdat hy geglo het dat die
Angel-Saksiese ras (die Engelse) tot grootheid bestem was. Dit was
sy droom dat die Britse vlag van die Kaap tot Kaïro moes wapper.
Vanselfsprekend moes die Boererepublieke van die Vrystaat en Transvaal
dus ook onderwerp word.
Rhodes was die grondlegger van Rhodesië (later Noord-Rhodesië en
Suid-Rhodesië; die laasgenoemde het nog later self bloot Rhodesië
geword en vandag is die twee lande onderskeidelik Zambië en
Zimbabwe). Die Rhodes-universiteit in Grahamstad is na Rhodes
genoem, asook die Rhodes-studiebeurs, wat uit sy boedel befonds
word.
Die Rhodes-gedenkteken is teen Duiwelspiek in Kaapstad opgerig, in
’n deel van die Kaap waar Rhodes groot dele grond besit het waarvan
hy die meeste as erflating aan die nasie bemaak het. Dit staan op
die plek waar Rhodes ’n houtbank gehad het van waar hy na Tafelbaai
in noorde, Valsbaai in die suide en die Hottentotsholland-berge in
die ooste kon tuur.
Die argitek van die gedenkteken was sir Herbert Baker, die bouwerk
het in 1906 begin en dit is in 1912 amptelik aan Rhodes opgedra.
Die gedenkteken, gebou met Kaapse graniet wat op Tafelberg
uitgegrawe is, het ’n tempelagtige vorm en is sonder ’n bepaalde
funksie ontwerp, behalwe dat dit die besoeker tot heroïese denke en
patriotiese emosie moes aanspoor. Altesaam 49 trappe, een vir elke
jaar van Rhodes se betreklik kort lewe, lei op tot ’n U-vormige
monument van pilare, met ’n borsbeeld van Rhodes deur John Macallan
Swan.
Aan
die onderpunt van die stel trappe is ’n brons standbeeld van ’n
ruiter en perd, genaamd Energy, wat deur George Frederic
Watts gebeeldhou is. Agt bronsleeus, ook deur John Macallan Swan,
pryk op die granietrelings weerskante van die trappe.
Die
Hugenote-monument,
Franschhoek
• Lees ook Mieliestronk-artikel
Die Hugenote—hul belangrike erflating in SA
REGS:
Die Hugenote-monument.
Foto deur Walter Knirr
/
Kopiereg © South
African Tourism, Suid-Afrikaanse Toerisme
DIE
Hugenote-monument op Franschhoek gedenk die Franse immigrante wat
hulle veral 1688-’89, maar ook daarvoor en daarna, aan die suidpunt
van Afrika kom vestig het en wie se nasate baiemaal so ’n belangrike
rol in ons geskiedenis gespeel het en hulle tot vandag toe laat
geld. Afrikaners met vanne soos Du Toit, Du Plessis, Celliers,
Rousseau, De Villiers, Roux, Joubert, Le Grange, Jordaan, Theron,
ens. is almal van hul afstammelinge.
Die Hugenote-monument is op 7 April 1948 ingewy. Nadat mense gevra
was om ontwerpe vir die beoogde monument voor te lê, is die
eenvoudige maar treffende ontwerp van J.C. Jongens, ’n Nederlandse
immigrant, aanvaar. Die drie hoë boë van die monument stel die
Goddelike Drie-Eenheid voor—die Vader, Seun en Heilige Gees. Daar
bo-op is die son van geregtigheid met op die bopunt die kruis wat
die Hugenote se Christelike geloof voorstel.
Die beeld van die sentrale vrouefiguur is deur befaamde
Suid-Afrikaanse beeldhouer
Coert Steynberg
geskep. Sy
versinnebeeld godsdiensvryheid deurdat sy ’n Bybel in haar een hand
en ’n gebreekte ketting in haar ander hand vashou.
Die Hugenote wat hier gehuldig word, was minder as 200, slegs ’n
Gideonsbendetjie as ’n mens hulle vergelyk met die meer as 400 000
Franse Hugenote wat vanweë hul Protestantse godsdiens vervolg is,
uit Frankryk gevlug het en hulle elders ter wêreld gevestig het.
Maar vir die jong Kaapse nedersetting was die sowat 200 destyds ’n
aansienlike groep.
Die
Afrikaanse Taalmonument, Paarl
REGS:
Suile van die Afrikaanse Taalmonument.
Foto deur
Chell Hill,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution 2.5-lisensie, wat vrye gebruik
vergun mits die nodige erkenning gegee word.
DIE
Afrikaanse Taalmonument, teen die suiderhang van Paarlberg in die
Boland-streek van die Wes-Kaap, is op 10 Oktober 1975 amptelik
onthul. Dit gee erkenning aan die kleurryke wortels van Afrikaans en
die mense wat die taal praat.
Die Paarl was die aangewese plek om só ’n monument op te rig, omdat
die stryd hier begin het om Afrikaans as
skryf- en kultuurtaal te
vestig. Hoewel
die taal reeds lank in Suid-Afrika gepraat is nadat dit in die
latere 1600’s en vroeë 1700’s hier uit Nederlandse dialekte ontstaan
het en ook deur ander invloede gevorm is, wou baie mense eenvoudig
nie aanvaar dat dit ’n afsonderlike taal is nie. Vir hulle was dit eerder ’n “agterlike”
dialek.
’n Klompie begeesterde Paarliete sou egter die aanvoorwerk doen om
die teendeel te bewys en te toon dat Afrikaans nie terug hoef te
staan vir enige ander taal as dit by seggenskrag en die verwoording
van edel gedagtes kom nie. Lees meer hieroor in die
Mieliestronk-artikel oor die
oorsprong van Afrikaans.
Die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl self was die huis waarin die
veldtog op 14 Augustus 1875 sy beslag gekry het om Afrikaans uiteindelik
as volwaardige letterkundige, wetenskaplike en teologiese taal erken
te kry. Byna presies ’n eeu daarna is die Afrikaanse Taalmonument
onthul. Die onthulling was ook ’n halfeeu ná die amptelike
erkenning van die Afrikaanse taal in Suid-Afrika in 1925.
Die argitek Jan van Wijk (1926-2005) is in sy ontwerp deur die
bergterrein geïnspireer, asook deur wat twee beroemde Afrikaanse
skrywers oor Afrikaans te sê gehad het.
C.J. Langenhoven het naamlik
in 1914 reeds die opgang van Afrikaans as skryftaal vergelyk met ’n
ry pale wat ’n snelstygende boog beskryf. Vir N.P. van Wyk Louw was
Afrikaans weer onder meer “die taal wat vir Wes-Europa en Afrika
verbind; dit suig sy krag uit die twee bronne; dit vorm ’n brug
tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika...”
Die monument bestaan gevolglik uit groter wordende suile en
holvormige en bolvormige strukture wat die verskillende invloede op
Afrikaans versinnebeeld. Die Europese oorsprong, die
Afrika-invloede en die Maleise taal en kultuur word betrek, terwyl
die Republiekwording van Suid-Afrika in 1961 en die Afrikaanse taal
self ook in die simboliek verteenwoordig word. Die argitek het
destyds in sy openingstoespraak gesê: “Hierdie is nie ’n monument
vir mense nie, hierdie is ’n lewende simbool vir ’n lewende taal,
Afrikaans.”
Dr. Ben Ngubane, gewese minister van kuns, kultuur, wetenskap en
tegnologie, het die monument in September 1994 in die geselskap van
die argitek, Jan van Wijk, besoek. Nadat Van Wijk die inklusiewe
simboliek daarvan aan Ngubane verduidelik het, het dié gesê hy hoop
dat dit eendag die Taalmonument vir alle Suid-Afrikaners sal word.
Dit spreek boekdele van ’n struktuur wat in die verlede al so
neerhalend ’n monument
vir die
Afrikaner-nasionalisme genoem is eerder as ’n monument vir die
Afrikaanse taal.

LINKS BO: Die
1820-Setlaarsmonument met die standbeeld van ’n
setlaarsgesin (REGS BO) wat by die ingang tot die monument
aangebring is.
Foto links
bo met dank oorgeneem uit die webtuiste van Makana
Tourism, 63 High Street, Grahamstown 6139. Webtuiste:
www.grahamstown.co.za
Foto regs bo deur
Kleinz1 (Clive Reid),
wat ’n groter weergawe daarvan op
hierdie bladsy by flickr op die
wêreldwye web gepubliseer en gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons Attribution-Non-Commercial-No Derivative
Works 2.0 Generic-lisensie. Clive
Reid se foto-album is op flickr by
hierdie skakel.
Nasionale 1820-Setlaarsmonument,
Grahamstad
DIT
moes geen gedenkheiligdom wees nie. Ook nie ’n monument wat
groepsbelange sou bevorder of vyandskap laat voortbestaan nie. Só is
besluit toe besin is oor die oprigting van ’n monument ter ere van
die sowat 4000 setlaars van Brittanje wat hulle in 1820 in die
Oos-Kaap kom vestig het en wie se nasate deur die jare so ’n groot
rol in Suid-Afrika gespeel het.
Die oogmerk met die monument was om ’n konferensie-, opvoeding- en
kulturele sentrum daar te stel, wat nie slegs een groep sou
bevoordeel nie, maar die opvoedkundige en kulturele ontwikkeling van
alle bevolkingsgroepe sou bevorder.
In hierdie doel het 1820 Foundation, die liggaam wat vir die
1820-Setlaarsmonument verantwoordelik is, kennelik geslaag, want
sedert sy opening op 13 Julie 1974 is dit ’n vergaderplek vir baie
soorte aanbiedings en opvoerings.
Nie die minste nie is die monument, wat as ’n “lewende monument”
bestempel word, heg gekoppel aan die jaarlikse Nasionale Kunstefees,
wat sommer ook bloot die Grahamstad-fees genoem word. Feitlik alle
vergaderplekke in Grahamstad word gedurende die fees gebruik, maar
die monument is die sentrum en anker.
Die monument is herbou ná ’n verwoestende brand in 1994, en dit is in
1996 weer in gebruik geneem.
Die sogenaamde 1820-setlaars wat daarmee vereer word, was groepe
Britse koloniste wat deur die Britse regering en die
Kaapse koloniale owerheid aan die Oos-Kaap gevestig is, onder meer
om die Kaapkolonie se oosgrens teen die Xhosas aan die ander kant
van die grens te verdedig. Dit was een van grootste Britse
vestigings in Afrika.
|