|
Kar-ikature & tjorrie-morries
Die
ontstaan van die motor
Foto: Mesa Verde National Park / U.S. National Park Service |
|
IS 4 Januarie 1897 en hoogsomer in Transvaal. Pres. Paul Kruger staan in ’n Pretoriase straat en kyk na ’n lawwe gevaarte wat pas uit Duitsland hierheen gebring is. Dit is ’n perdelose rytuig wat die Pretorianers John P. Hess en A.E. Reno vandag hier aan die waardige ou staatsman demonstreer—’n waentjie sonder trekdiere wat sommerso op eie stoom voortsnork (illustrasie hieronder).
Waarop die geamuseerde
Transvaalse president met ’n wantrouige "nee, dankie"
reageer en lakoniek byvoeg: "Netnou blaf ’n hond en dan skrik die ding en
gooi my af! Hulle moet hom eers verbeter voordat ek daarin ry." Pres. Kruger was destyds
lank nie die enigste mens wat die nuwe soort ryding met ’n sekere mate
van agterdog bejeën het nie. In daardie jare het mense nog in alle dele van
die wêreld daarmee die spot gedryf en kon talle maar net nie aanvaar
dat dit veel meer as ’n blote kuriositeit en selfs ’n oorlas kan
wees nie. In Brittanje is tot ’n wet
uitgevaardig dat iemand met ’n rooi vlag voor ’n bewegende motor
moes loop om te waarsku dat ’n gevaarlike ding in aantog is en om te
keer dat perde skrik. Tog het die versiende Oom
Paul darem ook die belangrikheid van daardie eerste motor in sy land
besef. Hy het die eienaar Hess en die koerantbaas Reno (wat die
demonstrasierit gereël het) bedank deur ’n goue medalje ter
herdenking van die geleentheid te laat munt. Dié geskiedkundige motor uit Duitsland was ’n Benz. Dit het ’n enjin van een en ’n halwe perdekrag gehad en kon "darem" ’n topsnelheid van iets oor die 20 km/h haal. Dit het soos ’n perdewaentjie gelyk. Die bande was van soliede rubber en die wiele is met ’n ketting aangedryf. Trouens, as ’n mens na die foto HIERONDER kyk, lyk dit nogal half na ’n kruising tussen ’n fiets en ’n kar!
Wanneer ’n mens vandag—net iets meer as as ’n eeu later—die magtige dreunings van
motorvoertuie en die massiewe verkeersopeenhopings op ons paaie ervaar,
is dit moeilik om jou ’n wêreld voor te stel waarin motors nog die
absolute uitsonderings eerder as die reël was. Waar het die omwenteling dan begin?
Hoe het die motor ontstaan? Interessant genoeg is daar geen spesifieke
persoon wat die krediet kan kry vir die uitvindsel wat die mens se lewe
soos geen ander verander het nie. Die motor het oor honderde jare
stuk-stuk ontwikkel—uit die idees, drome, fantasieë en gepeuter van
honderde individue. Só het Engelse
wetenskaplike Roger
Bacon (1212?-1294) reeds in die Middeleeue voorsien
dat ’n perdelose rytuig nog ontwikkel sou word. "Cars can
be made so that without animals they will move with unbelievable
rapidity," het hy voorspel. En
die Italiaanse kunstenaar Leonardo da Vinci (1452-1519) het op sy beurt
sketse van stoomaangedrewe masjiene gemaak en die moontlikheid oorweeg
dat sulke masjiene aangepas kon word om voertuie aan te dryf. In die sestiende,
sewentiende en vroeë agttiende eeu het ingenieurs in Europa met
verskeie soorte kragbronne geëksperimenteer om wielvoertuie sonder
perde of ander diere te laat beweeg, waaronder met stoom, wind en
saamgeperste lug. Terloops, die
rede dat ons vandag van motorkarre of kortweg karre praat,
lê genadiglik by die perdekarre van weleer, maar ons kon ewe
goed ’n ander naam vir hulle gehad het. Ene Oliver Evans het
byvoorbeeld in 1792 in Philadelphia aansoek gedoen vir die Amerikaanse
patent van ’n stoomaangedrewe voertuig
wat hy die "oruktor amphibolos" genoem het. Ons
kon dalk vir altyd met daardie naam opgesaal gewees het, as dit nie vir
redeliker individue was wat aan dieselfde konsep gewerk het nie... Stoomkrag
IN
1769 bou Nicholas Joseph Cugnot, ’n Franse leëroffisier, ’n affêring
wat vandag as die wêreld se eerste selfaangedrewe landvoertuig beskou
word. Dit is ’n driewiel-trekker wat teen minder as 5 km/h aankruie,
maar op sy eerste toetslopie as ’n wrak eindig.
Britse uitvinders
begin in die laat 1700’s swaar stoomaangedrewe koetse bou wat
passasiers vervoer, maar tolhek-eienaars skrik hulle met hoë tolgeld af
omdat die logge voertuie die paaie verrinneweer. Boonop kla boere oor
die lawaai en rook, terwyl operateurs van perdewaens hulle nie net as
opposisie beskou nie, maar ook as ’n gevaar op die pad. Daar
is soveel teenkanting teen die aanstomende gevaartes dat verskillende
wette aangeneem word om hulle aan bande te lê. Mettertyd ontwikkel
stoomvoertuie toe darem in iets wat nie openbare paaie nodig het nie—hulle word suksesvolle stoomlokomotiewe wat op treinspore beweeg. Elektriese
krag
THOMAS
DAVENPORT (1802-1851), ’n Amerikaanse uitvinder, het die eerste werkende
model van ’n elektriese motorkar vervaardig, maar nie genoeg geld
gehad om sy idee te ontwikkel nie. Ander
ingenieurs het volhard en teen die 1880’s is elektriese motorkarre in
Europa gemaak en teen die 1890’s in Amerika. Die elektriese motor het
nog tot omstreeks 1910 gewild gebly, veral onder vroue en bejaardes wat
gevind het dat hulle dit maklik kon hanteer.
Die
nadele van elektriese motors was egter dat hulle traag, swaar en duur
was, asook dat hul batterye herhaaldelik herlaai moes word. Dit was eers
dekades later dat daar opnuut na elektriese motors gekyk sou word—as
’n skoon alternatief vir besoedelende petrolaangedrewe motors en weens
’n verlammende olietekort wat die wêreld onvermydelik in die gesig
staar. Maar vandag se elektriese motors word gerugsteun deur moderne
tegnologiese ontwikkelings waarvan die ontwikkelaars van die destydse
koddige waentjies nie eens kon droom nie. Petrolkrag
EUROPESE
uitvinders was die eerstes wat binnebrandmasjiene gebruik het om motors
aan te dryf. Die eerste masjiene is egter deur gas voortgestu en nie
deur petrol nie. Die
binnebrandmasjien word só genoem omdat dit krag lewer deur ’n mengsel
van lug en brandstof in ’n silinder te verbrand. Dit verskil in ’n
belangrike opsig van die stoommasjien wat steenkool in ’n afsonderlike
oond buite die eintlike masjien verbrand. Die stoommasjien is dus ’n buitebrandmasjien. ’n
Ruwe soort motorkar met ’n eensilinder-gasenjin is so vroeg as 1860
reeds deur
Jean Étienne Lenoir van Frankryk gebou. Die mees betekenisvolle
vordering in hierdie tydperk is deur dr. Nicholas A. Otto in Duitsland
gemaak. Sy vierslag-gasenjin is ’n regstreekse voorsaat van vandag se
motorenjins. Karl Benz en Gottlieb Daimler, altwee
Duitsers, het in die middel-1880’s Otto se beginsels in petrolmasjiene
toegepas. Hulle het twee van die wêreld se eerste vervaardigers van
petrolaangedrewe motors geword. In Frankryk is Daimler-masjiene in karre
gemonteer wat deur die firma Panhard & Levassor gebou is. Die
ingenieur Émile C. Levassor het in 1891 ’n motorkar ontwerp wat die
basis vir alle verdere ontwikkeling was. Ander
Franse uitvinders—mense soos Albert de Dion en Armand Peugeot—het
ook belangrike bydraes gelewer. Die invloed van die Franse vervaardigers
was so sterk dat sekere van
hul terme vandag steeds gebruik word—woorde soos garage,
chauffeur en limousine
is van Franse oorsprong.
Selfs die
leenwoorde automobiel / automobile / Auto, soos die motor in
verskillende tale bekend staan, kom uit Frans. Die bakke en enjins van die
vroeë petrolmotors was eksperimenteel. Die meeste het fietswiele of
perdekar-agtige wiele gehad en was óf heeltemal blootgestel aan die
elemente óf is deur ’n voukap beskerm. Die masjiene het agter gesit
en die krag is na die agterwiele oorgedra deur middel van kettings, bra
soos die kettings van fietse. Die stuurmeganisme was toe nog nie ’n stuurwiel nie, maar
’n stuurstok, waarna grappig as ’n "beesstert" verwys is. Boonop kon ’n mens jou oor ’n mik
spook om die motor met ’n slinger aan die gang te kry. John
W. Lambert was moontlik die eerste Amerikaner wat ’n petrolaangedrewe
voertuig ontwerp en gebou het. Sy petrolkarretjie met een silinder en
’n vierslag-enjin kon 24 km/h haal. Hy het beweer dat hy dit in 1890
in Ohio toetsbestuur het. Die
eerste kommersieel suksesvolle petrolaangedrewe motors is deur die
broers Charles E. en J.
Frank Duryea van Massachusetts gebou. Hul eerste motor, met twee
silinders en ’n tweeslag-enjin, het sy verskyning in 1893 gemaak. In
die daaropvolgende jaar is ’n motor wat deur Elwood G. Haynes ontwerp
is, met welslae in Kokomo, Indiana, getoets.
Geboorte
van die bedryf
IN
September 1895 het die broers Duryea die eerste Amerikaanse maatskappy
gevestig wat petrolaangedrewe motors vervaardig het. In 1896 het die
Duryea Motor Wagon Company dertien motors volgens dieselfde planne gebou—die eerste keer dat meer as een motor in Amerika volgens dieselfde
ontwerp gemonteer is. In die jaar 1896 was daar ook ander betekenisvolle
ontwikkelings. Ransom E. Olds (wat
later Oldsmobile en Reo gevestig het) en Henry Ford het hul eerste
motors gebou en Charles King het sy eerste motor in Detroit gemonteer,
wat later die wêreld se motorhoofstad sou word. In
daardie vroeë dae kon enige bedrewe werktuigkundige ’n motor in ’n
smidswinkel aanmekaarflans en nuwe vervaardigers het soos paddastoele
regoor Amerika opgeskiet. Meer as drieduisend verskillende fabrikate is
in die Verenigde State gebou en die intense medediging het baie firmas
laat ondergaan en talle met ander maatskappye laat saamsmelt. In
1895 het ’n regsgeleerde, George B. Selden, ’n patent bekom wat
enige wesenlike deel van ’n petrolaangedrewe motor gedek het. Feitlik
alle vervaardigers moes hom vergoed vir elke motor wat hulle vervaardig
het. Henry Ford het Selden jare lank in die howe beveg. Ford het
uiteindelik in 1911 gewen, toe beslis is dat Selden se patentregte nie
die vierslag-Otto-enjin gedek het, wat die soort was wat in die meeste
motors gebruik is nie. Die
motor het tussen 1900 en 1920 geleidelik sy moderne vorm aangeneem. Die
stuurwiel het die stuurstok in 1900 vervang. Snelheidsmeters,
skokbrekers, staalrame, toebakke, windskerms en H-ratverwisseling was
teen 1905 in gebruik. In 1908 is die standaardisasie van motoronderdele
deur die Cadillac Motor Company ingestel. Die elektriese aansitter, wat
sy verskyning in 1912 gemaak het, het die moeilike handslinger vervang
en vroue aangemoedig om motors te koop en te bestuur. Daar was nog baie
ander toevoegings. Een
van die eerste motorvervaardigers wat van ’n monteerwerkplaas gebruik
gemaak het, was Olds, wat die stelsel in 1901 aanvaar het. In 1913 het
Ford ’n vervoerband geprakseer om onderdele na sy monteerdery te
bring. Ford
het die konsep van die motor as ’n noodsaaklikheid eerder as ’n
luukse ontwikkel. Sy Ford Motor Company, wat in 1903 gestig is,
het in 1908 met die produksie van die beroemde Model T-Ford, of Tin
Lizzie, begin. Deur
middel van massaproduksie waardeur omruilbare standaardonderdele per
vervoerband na werkers gebring is, kon Ford sy produksiekoste só sny
dat motors baie goedkoper verkoop kon word as wat vroeër moontlik was.
REGS: Nog ’n Model T Ford... die toermotor van 1917. Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
Ná
1900 het Amerika die toon aangegee in die ontwikkeling van die motor en
die motorbedryf. Onder die manne wat belangrike rolle in dié verband
gespeel het, was die einste Ford, maar ook Olds, Charles F. Kettering,
Walter P. Chrysler, William C. Durant, William S. Knudsen, Louis Chevrolet,
Charles W. Nash, David D. Buick, Henry M. Leland, die broers Dodge, die
broers Studebaker, Roy D. Chapin, die broers Fisher en Henry Bourne Joy. Die motorbedryf het in die Eerste Wêreldoorlog tot wasdom gekom en teen die vroeë 1920’s was die motoreeu in volle swang. En aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog was die luuksheid lank reeds ’n moet vir elkeen wat dit kon bekostig, soos die swierige Plymouth op die ou advertensie hieronder... Krediet: Histories (“Public Domain Old”) |
|
|
BONUS-ARTIKEL Die eerste motors
DIE koms van die eerste motors op plattelandse
dorpies het ’n hele beroering veroorsaak. Maar hulle was nie altyd
welkom nie. Hulle kon immers die perde op loop jaag en het boonop baie
stof opgeskop.
Foto: Histories (“Public Domain Old”) Vir die
luukse-motors van voor die Eerste Wêreldoorlog is die beste tegnologie
en vakmanskap ingespan. Geen koste is ontsien nie, en hierdie
weeldemotors—Hispano-Suizas, Benze, Delauney-Belvilles en
Rolls-Royce’e—is gebou volgens standaarde wat daarna selde in
motorvervaardiging geëwenaar is.
BO: ’n Rolls-Royce Silver Ghost. Gewysigde foto van ’n
oorspronklike deur
Malcolma,
|
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |